Hoe het jy vanjaar jou verjaarsdag gevier? As jy, soos ek, vroeg in die grendeltydperk verjaar het, dan het jy dit heel moontlik voor ’n rekenaarskerm deurgebring en tien teen een nog sonder ’n bottel sjampanje ook! Ons moes dié jaar baie goed prysgee, maar die ergste was sekerlik die groot mylpale wat ons graag saam met vriende en familie sou wou vier en toe nie kon nie. Gelukkig is die jaar nog nie verby nie en ons kan nou weer lekker partytjie hou. 

Natuurlik wil ’n mens ook nie nou hope geld spandeer nie, daarom het LekkeSlaap gaan soek waar jy jou verjaarsdag gratis in Kaapstad kan vier! Hier is selfs ietsie vir diegene wat reeds hul spesiale dag saam met hul katte moes deurbring. Sekere plekke gee nog kans tot einde September om van hierdie gratis aanbiedinge gebruik te maak, maar as jy dit nie hierdie jaar kan benut nie, kan jy sommer nou al aan die perfekte verjaarsdagnaweek vir volgende jaar begin beplan! 

Ons wys jou waar jy jou verjaarsdag gratis in Kaapstad kan vier!

Die beste van als is dat jy meer as een van hierdie plekkies op een dag kan besoek en omdat die meeste van hulle vir ’n hele week ná jou verjaarsdag geldig is, kan jy sommer ’n naweek daarvan maak. Ons wys ook waar jy saam met ’n groep vriende, jou gesin of lewensmaat kan bly.

Ster-Kinekor

Skop die verrigtinge met ’n fliek in die bioskoop af! Jy kry ’n gratis fliekkaartjie by Ster-Kinekor wat vir sewe dae ná jou verjaarsdag geldig is. Maak net seker jy sluit by die SK-klub aan en die fliek wat jy wil kyk moet ook reeds ’n week op die doeke wees. As ’n spesiale vergunning kry diegene wat voor 28 Augustus verjaar het nog kans tot einde September om hul gratis kaartjie te gebruik. 

’n Heerlike fliekviering (Foto: Bigstock)

Tafelberg

Bring die oggend saam met ’n paar vriende op Tafelberg deur. Wanneer jy verjaar gee die Tafelberg-kabelkarretjie een gratis retoerkaartjie wat vir sewe dae geldig is, maar hulle gee ook nog tot einde September kaartjies vir mense wat reeds verjaar het. 

Sekerlik die beste verjaarsdagtafel (Foto: Bigstock)

Om seker te maak dat jy lekker vroeg by die kabelweg uitkom, kan jy en sewe vriende by Table Mountain Eco Retreat oornag aangesien dit net 1,3 kilometer van die Tafelberg-kabelkarretjie af is. Dit het ook ’n lieflike binnehof met ’n rotsswembad en ’n braai-area waar jy behoorlik partytjie kan hou. 

Hou partytjie in Tafelberg se skadu (Foto: LekkeSlaap)

Krispy Kreme

’n Verjaarsdag is ook nie volmaak sonder ’n lekker soetdingetjie nie en as jy ’n dosyn van enige tipe oliebolle by Krispy Kreme koop, kry jy nóg ’n dosyn Original Glazed-oliebolle gratis! Jy hoef net die Krispy Kreme app af te laai om jou gratis boks te kry. 

’n Soettand se droom (Foto: Bigstock)

Die Kaapse wiel

As jy lus is vir ’n kleiner, intieme en romantiese viering kan jy vir ’n rit op die Kaapse wiel gaan. Hierdie geskenkbewys is vir ’n hele maand na jou verjaarsdag geldig en as jy gou-gou spring kan jy ook jou gratis rit tot einde September kry indien jy reeds verjaar het. 

Sing veels geluk hoog in die lug (Foto: Bigstock)

Om die dag nog meer romanties te maak, kan julle die aand in die moderne en elegante Old Foundry Hotel in De Waterkant deurbring. Dit is ongeveer twee kilometer van die V&A Waterfront af. 

Hier hoef jy net te ontspan! (Foto: LekkeSlaap)

Die Akwarium

Terwyl jy jou in die V&A Waterfront bevind, kan jy sommer jou gratis kaartjie vir die Two Oceans Akwarium ook gebruik. Die akwarium se verjaarsdagkaartjie is vir sewe dae geldig en moenie dink jy moet nog ’n jaar wag as jy reeds jou verjaarsdag gevier het nie, want hier kan jy ook nog tot einde September gratis toegang kry. 

Baljaar tussen die visse (Foto: Verskaf)

Die City Sightseeing-bus

Die City Sightseeing-bus in die Kaap gee gratis kaartjies aan kinders van vyf tot vyftien jaar as hulle aan die Kids’ Club behoort. Jy kry ’n kaartjie vir jouself en twee maatjies wat die week voor jou verjaarsdag en vir nog drie weke daarna geldig is. Dié verjaarsdagaanbod is weer van 1 Oktober af beskikbaar. 

Saam met die opwindende rit kry die kinders ook ’n verrassingspakkie (Foto: Bigstock)

Vir die heel beste kinderpartyjie kan ma en pa die kleinspan ná ’n lekker dag in die stad na Table View Villas in Bloubergstrand neem. Dié kompleks het ’n swembad, speletjieskamer met ’n pooltafel, ’n speelarea en ’n putt-putt-baan. 

Die kinders sal nie vir ’n oomblik verveeld wees nie! (Foto: LekkeSlaap)

Sorbet

As jy nie lus is vir uitgaan of die dag saam met ’n klomp mense wil deurbring nie en eerder net jouself wil bederf, kan jy ’n lekker bederfie by Sorbet gaan geniet. Sluit net aan by dié skoonheidsalon se lojaliteitsprogram om tot 50%-afslag op ’n behandeling van jou keuse te kry wat jy enige tyd tydens jou verjaarsdagmaand kan gebruik.  

Laat doen jou naels of kry ’n heerlike lyfmassering (Foto: Bigstock)

Kaapstad is propvol lekker doendinge vir groot en klein en met hierdie aanbiedinge kan jy meer van die Kaap teen ’n goedkoper prys ervaar. Almal verdien om ten minste een keer per ’n jaar ekstra spesiaal te voel en jy sal beslis jou gate uit geniet by hierdie fantastiese plekke op jou spesiale dag. 

Let asseblief dat hierdie aanbiedinge elke jaar plaasvind, maar dat die verlengde aanbiedinge slegs vir 2020 geld. Let ook daarop dat alle inligting korrek was teen die tyd van publikasie, maar dat dit sonder ons kennis kan verander. Maak dus altyd eers seker by die betrokke organisasie oor die aanbieding.

Hooffoto: Bigstock