Maak herinneringe in Margate: Die topverblyf vir jou
Dominique Fuchs, 10 April 2026
Leestyd: 6 minute
Daar is ’n rede hoekom die Suidkus so ’n spesiale plekkie in vakansiegangers se harte het. Hierdie deel van KwaZulu-Natal staan ook as die Hibiskuskus bekend en is vir heerlike subtropiese weer regdeur die jaar en die warm waters van die Indiese Oseaan bekend. Margate is al sedert die 1920’s ’n geliefde vakansiebestemming met Blouvlagstrande en ’n onmiskenbare vakansie-atmosfeer.
Pak solank jou baaibroek, sonroom en avontuurlus in. Ons het die lekkerste blyplekke bymekaargemaak – van rustige verblyf langs die strandmeer tot dakwoonstelle op die seefront.
Waarom almal van Margate hou
Margate se reputasie as ’n top-vakansiebestemming is niks nuuts nie – dit is al vir jare en jare een van Suid-Afrikaners se gunsteling-vakansiebestemmings. Dit lê in die hartjie van die Hibiskuskus waar dit soos ’n eindelose somervakansie voel en waar elke besoeker tuis voel, of jy nou op soek is na die lekker atmosfeer op die strand of ’n rustige plekkie om walvisse dop te hou.
Die klimaat: Met subtropiese weer en die warm Indiese Oseaan is Margate ’n idilliese bestemming regdeur die jaar.
Blouvlagstatus: Margate-hoofstrand en die nabygeleë Lucien-strand is wêreldklas en bied veilige, skoon en goed bestuurde sandstrande vir eindelose gesinspret.
Die atmosfeer: Van die bedrywige seisoenale straatfeeste tot die lewendige kuierplekke heers daar ’n aansteeklike vakansie-atmosfeer wat deur die hele dorp bruis.
Toeganklikheid: Dit dien as die perfekte sentrale basis vanwaar besoekers die laer Suidkus kan verken – alles van gholfbane tot natuurreservate is net ’n entjie se ry ver.
Topdoendinge in Margate
Margate-pier en die hoofstrand: Geniet die dag in die son, baljaar in die branders of stap op die ikoniese pier om te kyk hoe die plaaslike vissermanne lynnatmaak.
The Waffle House: ’n Beroemde Suidkus-instelling net ’n paar minute se ry ver in Ramsgate – geen reis is voltooi sonder een van hul bekende soet of soutige wafels nie.
Riverbend Crocodile Farm: ’n Fantastiese uitstappie vir die hele gesin waar jy hierdie oeroue reptiele van naby kan beskou en die pragtige voëllewe kan bewonder.
Skyline-natuurreservaat: Neem ’n blaaskans van die strand en verken die lowerryke kuswoudroetes en geniet ’n piekniek tussen die inheemse bome en wild.
Southcoast Mall: Selfs op daardie skaars reënerige dae sal jy nooit verveeld wees nie, want dié mall is ideaal vir ’n bietjie inkopieterapie of ’n fliek by Ster Kinekor.
Lekke verblyf in Margate
Om die perfekte plekke in Margate te vind, is sommer baie maklik, danksy die groot verskeidenheid verblyf-opsies wat vir elke begroting en groepgrootte voorsiening maak. Daar is iets vir almal – van luukse dakwoonstelle met panoramiese uitsigte oor die Indiese Oseaan tot gesellige, gesinsvriendelike woonstelle net ’n paar tree van die sand af.
Penthouse @ Stirling Place

Hierdie dakwoonstel met ’n subtropiese tema is in ’n veilige kompleks net ’n entjie se stap vanaf die kuslyn geleë. Daar is slaapplek vir ses gaste en die woonstel beskik oor drie slaapkamers, elk met ’n en suite-badkamer.
Die hoogtepunt is die skuifdeure wat na die groot balkon lei. Daar is ’n etenstafel, gasbraai en sonstoele en hier kan julle selfs alfresco-maaltye geniet terwyl julle die see-uitsig inneem. Die kompleks bied ook ’n gemeenskaplike swembad waarin julle heerlik kan afkoel.
The Beach Palace

The Beach Palace doen beslis sy naam gestand en bied luukse suites wat slaapplek aan twee tot vier gaste bied. Hierdie verblyf spog ook met ’n asemrowende uitsig oor die Indiese Oseaan en direkte toegang tot die ikoniese Ramsgate-strand.
Elke suite het ’n koninggrootte-bed en ’n en suite-badkamer (die gesin-suite het ook twee enkelbeddens vir kinders). Ontspan by die swembad, gooi ’n tjoppie oor die kole of maak ’n draai by die gimnasium op die perseel om ’n bietjie te oefen.
Santorini 401A

As jy op soek is na die perfekte woonstel vir ’n groep vriende of ’n familie is Santorini 401A die ideale keuse. Hierdie woonstel in ’n veilige kompleks naby Margate se hoofstrand is sentraal naby restaurante en die visvangpier geleë.
Die woonstel bied slaapplek aan vier volwassenes en twee kinders en beskik oor drie slaapkamers en twee badkamers. Daar is ook ’n wasmasjien en ’n tuimeldroër om die verblyf nog meer gerieflik te maak. Die leefarea het ’n kroeg en lei na die balkon met ’n eetarea en ’n braai waar ’n mens lekker agteroor kan sit.
Bondi Beach 1

Bondi Beach 1 is die perfekte keuse vir ’n aktiewe gesin. Hierdie selfsorgwoonstel is in ’n gewilde kompleks wat met direkte strandtoegang, ’n gemeenskaplike swembad, ’n tennisbaan en ’n klubhuis met vermaak vir die jongklomp spog.
Daar is slaapplek vir ses gaste (maksimum vier volwassenes word toegelaat) en die woonstel beskik oor drie slaapkamers en twee badkamers. Die kombuis is goed toegerus vir diegene wat graag kosmaak en die sitarea lei na ’n stoep waar julle die pragtige see-uitsig kan inneem.
Summer Lodge Villa 1

By Summer Lodge Villa 1 is jy dubbel bevoorreg – dié huis spog met ’n uitsig oor Uvongo se strand én die strandmeer. Die ruim vakansiehuis het slaapplek vir agt gaste (maksimum vier volwassenes) en bied ook maklike toegang tot die strand.
Daar is vier slaapkamers, twee badkamers, ’n goed toegeruste kombuis en ’n etenstafel waar julle saam maaltye kan geniet. Buite op die stoep kan daar lekker gebraai word terwyl ’n mens na die golwe se gedruis in die agtergrond luister.
Lucien Sands 401

Lucien Sands 401 is ’n helder en moderne drieslaapkamerwoonstel wat slaapplek aan vier volwassenes en twee kinders bied. Die woonstel is in ’n kompleks geleë en spog met ’n see-uitsig vanuit die meeste van die kamers.
Die sitarea lei na die balkon waar daar ’n braai en ’n uitsig oor die see is. Wanneer julle nie op die strand agteroorle nie, kan julle ook die gemeenskaplike swembad in die kompleks benut.
Margate is ’n plek waar onvergeetlike herinneringe geskep word. Maak nie saak watter een van hierdie pragtige verblyfopsies jy kies nie, die Suidkus sal jou beslis betower. Is jy gereed om herinneringe te maak? Bespreek vandag nog jou tropiese wegbreek na Margate!
Hooffoto: Penthouse @ Stirling Place





