Is jy ’n avontuurlustige reisiger? Hou jy daarvan om die skatte op pad na jou bestemming te verken? Dan is hierdie LekkeSlaap-blog net die gids wat jy moet raadpleeg as jy van plan is om tussen Johannesburg en Durban te reis. 

Afhangend van jou roete, kan hierdie rit meer as ses ure duur, maar met ons voorstelle hoef die langpad nie ’n uitmergelende ervaring te wees nie. Ons het ’n paar lekke dorpies saamgestel waar jy jou bene kan rek, kuier of sommer oornag.


Harrismith

Harrismith is ’n bekoorlike plattelandse dorpie wat in 1849 gestig is, en is boonop halfpad tussen Johannesburg en Durban geleë. Die dorp is vir sy fabriekswinkels, veldblomtuine, ’n militêre begraafplaas en ’n agt putjie-gholfbaan, wat die derde oudste van sy soort in Suid-Afrika is, bekend. Aktiwiteite in die omgewing sluit forelhengel, watersport op die Sterkfonteindam (derde grootste dam in die land), voëlkyk en die besoek aan wildplase in. Verder spog die dorp ook met besienswaardighede soos die Royal Natal Park, die basis van die Drankensberg Sentinel en die Golden Gate Highlands Nasionale Park. Jy kan ook gewilde eetplekke soos The Phatt Chef Roadside Diner and B&B en Skylight Lodge besoek.

Afstand vanaf Johannesburg: 275,7 kilometer via die N3

Afstand vanaf Durban: 300,9 kilometer via die N3


Newcastle

Newcastle word as die hoofstad van Noord-KwaZulu-Natal beskou en het ’n groot rol in die wol- en steenkoolbedryf gespeel. Die dorp is die skakelpunt van drie provinsies en is op die hoofpad en spoorlyne tussen Johannesburg en Durban geleë. Julle kan die Chelmsford Natuurreservaat besoek, wat met ’n verskeidenheid visvang- en  voëlkykgeleenthede, watersport en ’n 1000 hektaar-wildtuin, waar wild soos sebras, renosters en springbokke besigtig kan word, spog. Newcastle het ook restaurante soos Pint and Piguot en Ogqokweni Traditional Eatery waar julle kultuurkos kan proe.

Afstand vanaf Johannesburg: 292,6 kilometer via die R23

Afstand vanaf Durban: 345,9 kilometer via die N11 en N3


Ladysmith

Ladysmith is in die Uthukela-distrik van KwaZulu-Natal geleë en is een van die belangrikste industriële en kommersiële sentrums in dié provinsie. Verder is dit net ’n uur, of sowat 80 kilometer vanaf die Sentrale en Noordelike Drakensberge geleë. Ná ’n besoek deur die groot Koning Shaka het hy die gebied Emnambithi genoem, omdat namibitheka iets lekker in Zoeloe beteken, en dit is hoe hy die Kliprivier-water ervaar het. Vakansiegangers kan die Siege Museum, Mahatma Gandhi-standbeeld of die Ladysmith Black Mambazo Museum besoek. Sekere tonele van die Amerikaanse reeks Resident Alien is ook in dié dorp verfilm en dele van die derde seisoen word later vanjaar ook hier geskiet. Plaaslike restaurante sluit onder meer Saboroso, Malibu Palms en Maharaj’s Van Reenen Curries in.

Afstand vanaf Johannesburg: 352,4 kilometer via die N3

Afstand vanaf Durban: 237,9 kilometer via die N3


Pietermaritzburg

Pietermaritzburg is die hoofstad van KwaZulu-Natal en is in die munisipale grensgebied van Msunduzi geleë. Vandag word hierdie stad deur meer as 600 000 mense van diverse kulture bewoon. Bekende sportbyeenkomste, soos die Comrades of Dusi Maraton, word ook hier gehou. Die dorp spog met ’n aantal museums, galerye en monumente en bekende geboue sluit onder meer die Macroriehuis, Ou Regeringshuis en Voortrekkerhuis in. Dié dorp is boonop slegs ’n uur se ry van die The New King Shaka Lughawe af. Jy kan ook by restaurante soos KaMawala Restaurant, Jimmy’s Killer Prawns Pietermaritzburg en atasca Portuguese Restaurant PMB gaan eet.

Afstand vanaf Johannesburg: 488 kilometer via die N3

Afstand vanaf Durban: 77,9 kilometer via die N3


Howick

Howick is in die hartjie van die UMngeni Plaaslike Munisipaliteit van KwaZulu-Natal geleë. Dié dorp is 1050 meter bo seevlak en sowat 88 kilometer van die hawestad Durban af. Die Howick-waterval, bekend aan die Zoeloe-mense as KwaNogqaza wat Place of the Tall One beteken, is ongeveer 95 meter hoog (310 voet) en word deur die Umgeni-rivier gevoed. Ander bekende dorpies wat in hierdie omgewing gevind kan word sluit Karkloof, Merrivale en Lion’s River in. Diegene wat smag na ’n bietjie fynproe kan gerus by The Treatery at Yard 41, Corner Post Restaurant & Bar en Yellowwood Café inloer.

Afstand vanaf Johannesburg: 468,5 kilometer via die N3

Afstand vanaf Durban: 102,6 kilometer via die N3


Hierdie dorpies bied die avontuur wat elke reisiger of vakansieganger se langpad meer kleurvol kan maak. So waarvoor wag jy? Besluit waar jy gaan stilhou en loer sommer watter verblyfopsies daar in elke dorpie vir jou reisdatums beskikbaar is.

Hooffoto: Unsplash