Suid-Afrika se Wildekus is een van die mees ongerepte dele van die land en sy pragtige natuurskoon lok reisigers van heinde en verre. Gxarha, voorheen bekend as Morganbaai, staan as die Wildekus-paradys bekend en dit neem net sowat ’n uur op die goue wig tussen die see en die strandmeer om te besef hoekom so baie gesinne kies om hul vakansies in hierdie kusdorpie deur te bring. Van die skaduryke karavaanpark op die strandmeer se oewer en die kilometer lange strand, tot die skilderagtige kranse en die rivierwoude — hierdie kusdorpie het alles om ’n onvergeetlike wegbreek te verseker.

Die Wildekus-paradys is nie net ’n kort entjie se ry vanaf Oos-Londen vir ’n vinnige wegbreek nie, dit is ook ’n wonderlike plek vir ’n welverdiende vakansie. Of jy net wil ontspan of ’n paar aktiwiteite wil geniet, dit is beslis ’n bestemming wat jy vanjaar sal wil besoek!

Waar om te eet?

Geniet hierdie uitsig vanaf The Deck Restaurant and Bar. Foto: LekkeSlaap

The Deck Restaurant and Bar

Hierdie gewilde restaurant by die Morgan Bay Hotel het sekerlik een van die beste uitsigte in dié kusdorp en spog met ’n dek waar julle kan sit en kyk hoe die branders breek terwyl julle aan ’n lekker skemerkelkie of koffie teug. Die restaurant het ’n verskeidenheid disse en is veral vir hulle vis en tjips bekend. 

Yellowwood Tea Garden & Pizzeria

Yellowwood Forest is die tuiste van Yellowwood Forest Camping and Accommodation en het ’n rustige boeremark wat elke Saterdag van 09:00 tot 14:00 oop is. Die restaurant en kroeg onder die bome is elke dag oop en dis ’n lekker kuierplek waar julle heerlike pizza en plaaslike bier kan geniet terwyl die jongspan op die klimraam klouter. Hier is verskeie kampeerplekke en ander selfsorgverblyfopsies om van te kies. Die Bushbuck-roete is ’n gewilde voetslaanroete van 700 meter deur die magiese kuswoud vol interessante skatte en dis die ideale aktiwiteit saam met kinders — julle mag dalk net ’n feetjie langs die pad teekom. 

Bay View Farm

Op die pad na Morganbaai wag daar ’n verrassing op julle. Bay View Farm is ’n interessante venue met ’n Kaaps-Hollandse gebou wat ietwat ver uit die Kaap geleë is. Die plaas bied ’n restaurant, kroeg en ’n trouvenue en julle kan na Italiaanse geregte uitsien wat met plaaslike bestanddele en kruie en groente uit die plaas se tuin voorberei is. Plaaslike wyn en bier is ook beskikbaar. 

The Seaspray Restaurant & Bar

Die Mitford Hotel is die tuiste van The Seaspray Restaurant waar julle ’n ononderbroke uitsig oor die see en op die ongelooflike kranse kan bewonder terwyl julle lekker kuier. Hulle bedien smullekker disse en het ’n kroeg vir diegene wat ’n drankie wil drink terwyl die branders in die agtergrond breek. 

Wat om te sien? 

Daar is ’n uitkykpunt in die Double Mouth Natuurreservaat met hierdie uitsig! Foto: Daniëlle Terblanche

Double Mouth Natuurreservaat

Die Double Mouth Natuurreservaat is ’n skilderagtige kusreservaat net vier kilometer van Morganbaai af. Hierdie ontmoetingsplek van twee riviere vorm ’n pragtige riviermonding tussen beboste duine. Een van die skouspelagtigste terreine is Bead Beach of Treasure Beach, waar honderde gebreekte porseleinstukke, krale en munte van ’n 16de eeuse Portugese skeepswrak gevind kan word. Bederf jouself met hierdie seldsame stukkie geskiedenis in een van die mooiste hoekies aan die Wildekus.

Perdry op die strand

Een van die beste maniere om ’n nuwe omgewing te verken, is te perd en in Morganbaai kan julle sommer op die strand perdry. Dit is ’n gewilde tydverdryf op die Wildekus se strande en kranse, so kontak een van die perdrymaatskappye in die omgewing om hierdie unieke aktiwiteit saam met ‘n groep vriende te ervaar.

Veilige strand en strandmeer

Morganbaai se lang sandstrand is die ideale plek om lang wandelings te neem en van die besige stadslewe te vergeet. Danksy die warm Indiese Oseaan sal jy waarskynlik die meeste van jou tyd in die water wil deurbring en die strand is veral gewild onder vissermanne. Die strandmeer is ’n veilige swemplek vir die kleingoed en ideaal vir kajakvaar, staanroei en ander watersportsoorte. Voëlkykers kan ook na die ryk voëllewe by die riviermonding uitsien.

Waar om te bly? 

Morganbaai bied ’n verblyfopsie vir elke sak en smaak — of julle nou op soek is na ’n luukse selfsorghuis vir ’n groep, ’n sakpaskothuis, kampeerplek of ’n gerieflike hotel, daar is iets vir almal. 

Bespreek sommer nou julle volgende seevakansie in Morganbaai, dié kusdorpie vol karakter, ongerepte natuurskoon en vriendelike inwoners sal julle beslis nie teleurstel nie!

Hooffoto: Daniëlle Terblanche