Suid-Afrika se tweede oudste dorp het ’n spesiale manier om besoekers te bekoor. Die Eikestad spog met kunsgalerye, restaurante en wynkroeë om elke hoek en draai. Hiér is iets vir elke keur en geur. Hiér in Stellenbosch kan jy jou verbeel jy sit in ’n systraatjie iewers in Europa agteroor, maar gelukkig is dit ietwat meer bekostigbaar!

Ons het vir ’n paar dae hierdie unieke dorp verken en al ons gunstelingplekke bymekaargemaak sodat jy met jóu volgende besoek presies kan weet waar om te eet en drink, wat om te doen, en, natuurlik, waar jy lekker kan slaap.

Waar om te eet en drink

Basic Bistro

Basic Bistro is ’n Stellenbosch-instelling wat reeds in 2003 hul deure oopgemaak het. Hierdie restaurant het ’n huislike en warm atmosfeer wat jou dadelik laat tuis voel en saans heers daar ’n magiese gevoel met ’n Franse flair wanneer die feëtjieliggies begin flikker.

Basic Bistro

Volgens Julian, die eienaar, is alles op die spyskaart lekker en kan hy self nie ’n gunsteling kies nie. Ons het toe die pregohoenderpasta en die boksombende-burger bestel en, sjoe, ons het lekker gesmul. Die porsies is rojaal en beslis waarde vir geld.

Die pasta is ’n absolute geurontploffing met ’n klomp kaas en ’n effense byt. Die burger is die wenner van Woordfees se “Burger War” en dit is heeltemal verstaanbaar, want dit is massief en word met ’n romerige sampioensous, cheddarkaas, gekaramaliseerde uie en spek afgerond. Natuurlik moes ons ’n plekkie vir nagereg maak en die sjokoladekoek het al die boksies getiek. Die enorme stuk sjokoladekoek word saam met ’n sjokoladesous en vanieljeroomys bedien en is lipleklekker!

Basic Bistro

Beyerskloof Wynbar

Beyerskloof is sinoniem met Pinotage en bied wêreldklas-wyne. By hulle wynkroeg in die middedorp word hul topklaswyne bedien, asook burgers, broodjies, pizza en ’n hele rits ander smaaklike opsies. Ons gunsteling-bestelling is ’n glas rooiwyn en die Salami Sarmie-toebroodjie wat saam met aartappelskyfies voorgesit word. Een, twee, drie en jy is in die sewende hemel!

Beyerskloof

Eerstekafeeversameling

Hierdie unieke koffiewinkel het in November 2022 hul skeepsvraghouerdeure reg langs die Eersterivier oopgemaak en het vinnig-vinnig ’n gewilde plekkie onder Stellenbossers geword. Die naam is ’n samestelling van die Eersterivier, die feit dat dit hulle eerste kafee is en omdat hulle beoog om nóg ’n koffiewinkel oop te maak – daarom die “versameling”.

Eerstekafee

Daar is ’n vreedsame atmosfeer en ons het geurige koffie gedrink terwyl ons die asemrowende uitsig oor die Eersterivier inneem en ons aan al die heerlike eetgoed verkyk. Hulle verkoop toebroodjies, wraps, fyngebak en slaaie en ons bestel toe oornaghawermout met klapper, sade en piesang en ’n geroosterde ham-en-kaas-croissant. Ons het behoorlik gesmul! Hierdie koffiewinkel is beslis ’n besoek werd – kom kyk self!

Eerstekafee

Monarch Coffee Cartel

Hierdie helderpienk koffiewinkel het die Barbie-gier vooruitgeloop en is reeds ’n gewilde opsie onder studente. Die pienk binnekant is vrolik en iets anders en skep die perfekte plek om ’n bietjie te swot of te werk.

Monarch

Hulle leuse is “live fast, kiss slow, drink coffee” en hiér sal báie koffie gedrink word, want dit ís heerlik! Daar is ook ’n groot verskeidenheid varsgebak, broodjies en slaaie om aan te smul, én ’n mens kan ’n koffieproe-sessie bespreek! Tydens die proesessie kan jy vier verskillende koffies proe en meer leer oor die agtergrond daarvan.

Monarch

Toebroodjie

Ten spyte van die alledaagse naam, bedien hierdie prettige restaurant nie alledaagse toebies nie, maar toebies wat jy as kind gewens het pouse in jou kosblik sal wees. Sjef Hilde-Lee Olivier het juis dié Afrikaanse woord gekies om die taal te vier en die speelsheid daarvan uit te beeld.

Die toebroodjies word met shokupan, Japanese melkbrood, gemaak en is propvol heerlike bestanddele. Die brood is sag en dik sodat dit die vulsel behoorlik kan omhels. Ons het die Chicken Sando met gekrummelde hoender, peri-peri-sous, gepekelde komkommer en kropslaai, asook The Big Boi met ’n aartappelkoekie, halloumi-kaas, geroosterde soetrissies en peppadew-aioli verorber.

Toebroodjie

Art & Wine Lounge

Art & Wine Lounge is ’n unieke wynwinkel wat maar net vier maande gelede in Dorpstraat oopgemaak het. Hiér kan jy interessante wyne drink terwyl jy die pragtige kuns aanskou en jou in die knus en gesellige atmosfeer verlustig.

Art and Wine Lounge

Hulle beoog om wyne te verkoop wat Stellenbossers nie gereeld in die hande kan kry nie. Daar is wyne van die Sederberge, Riebeekvallei, Robertson en Tulbagh wat soms nét te ver is om te ry as jy vinnig ’n glasie wyn wil geniet. Die tipe wyne wat verkoop word, ruil ook gereeld sodat daar altyd ’n groot verskeidenheid beskikbaar is. Jy kan selfs ’n kaasbord saam met die wyn geniet, maar onthou net om dit vooraf te bespreek.

Boonop is daar ’n opsie waar jy geld op ’n spesiale kaart kan laai en só al die wyne na jou hart se begeerte kan proe. Die masjien werk so: Jy laai geld op die kaart, druk die kaart in die wynmasjien, kies jou wyn en kies die hoeveelheid. Wil jy die wyn proe, ’n lekker teug drink of sommer ’n hele glas – kies, kliek en voilà!

Art and Wine Lounge

4TEA

4TEA het vinnig opslae vir hul Bubble Tea en Japanese fyngebak in Stellenbosch gemaak en is deur vier oud-Maties van China gestig. Die bubble tea-drankie het in Taiwan ontstaan en is ’n verfrissende drankie met tee as die basis wat saam met tapiokaballetjies (“pearls”) in ’n oneindige hoeveelheid geure bedien word.

4TEA

By 4TEA kan jy tussen geure soos matcha, Biscoff, aarbei en mango kies, en ook lekkernye soos fluweelsagte Basque-kaaskoek, mochi gevul met gegeurde roomkaas en tiramisu bestel. Al hulle lekkernye word elke dag vars en ook met minder suiker gemaak.

Kristen’s Kick-Ass Ice Cream

Jy kan nie Stellenbosch besoek en nié Kristen’s se bekende roomys proe nie! Die roomyskettingwinkel is na Kristen vernoem, wat die besigheid in 2015 in Noordhoek gestig het. Daarna het hulle winkels in Constantia, Nuweland, Stellenbosch en selfs in Mauritius oopgemaak. Vandat die Stellenbosche tak in die middedorp oopgemaak het, bars hulle behoorlik uit hul nate weens die stroom studente, gesinne en toeriste wat ook ’n happie wil proe.

Kristen's Kick-Ass Ice Cream

Voel weer soos ’n kind in ’n lekkergoedwinkel (letterlik) en smul aan die hemelse geure soos tripelkaramel, Biscoff, appeltert, Creme Soda, geroosterde pistasieneute en Turkish Delight. Daar is iets vir elke persoon se smaakpallet, selfs vegan-opsies, én wegneemroomys as jy in die gemak van jou eie huis die roomys wil verslind.

Minari Korean Kitchen

Minari bedien Koreaanse disse in die lewendige Simonsplein-binnehof. Dié restaurant is ’n familiebesigheid en die eienaar, Dane Hong, wou ’n proesel van Korea na Stellenbosch toe bring.

Die spyskaart is eg Koreaans en ons het gimbab (rys met groente gevul en in seewier toegedraai), tteok bokki (ryskoekies in ’n Gochujang-sous), japchae (roerbraaigroente met glasnoedels) en kimchi (gefermenteerde kool) geëet. Die restaurant het ’n lekker lewendige atmosfeer, pers neonligte en interessante kuns wat ’n onvergeetlike aand optower.

Minari

Oude Werf

Oude Werf is ’n hotel en restaurant in die hartjie van Stellenbosch. Kom geniet ’n heerlike middagtee hiér! Oude Werf bedien heerlike happies in ’n pragtige, elegante vertrek. Appeltertjies, skons met room en aarbeikonfyt, ligte en dekadente sjokoladekoekies, fluweelsagte kaaskoekies en souttertjies was op die spyskaart. ’n Verskeidenheid tees en koffies word saam met die lekkernye bedien en natuurlik moes ons ’n pot Engelse tee bestel.

Die gebou se geskiedenis het in 1686 begin toe ’n kerk op dié stuk grond opgerig is. Vandag kan jy die kerk se bewaarde, historiese begraafplaas onder die hotel se kombuis sien. Die restaurant bedien ook ontbyt, middagete en aandete en jy kan jouself lekker in die binnehof onder die wingerdprieel gemaklik maak. Dit is ook die perfekte plek om ’n geurige Sondagmiddagete te geniet en gaste kan tussen ikoniese disse soos wildspastei met slaphakskeentjies en soetwortels, bobotie en ’n Maleise groentekerrie kies.

Oude Werf

Wat om te doen

The Pottery

Kom hou jou lyf Vincent van Gogh en laat jou kreatiwiteit by The Pottery in die middedorp vloei. Hiér kan jy uit ’n verskeidenheid keramiekware soos koppies, borde, glase en blompotte kies en dit na jou hart se wense verf. Hulle gebruik slegs die bekende Suid-Afrikaanse Wonki Ware se keramiekware en die verf en verfkwaste word voorsien.Wanneer jy klaar jou “kunswerk “opgetower het, word dit in ’n oond gebak en kan jy dit binne twee weke weer kom optel.

The Pottery

The Pottery bedien ook burgers, vrugteskommels, skemerkelkies en koffie sodat jy nie honger lei ná al jou harde werk nie. Die pryse vir die keramiekware begin by R150* en alles, die keramiekware, verf en die bak daarvan, is by die prys ingesluit. The Pottery het ook takke in Kampsbaai, Jeffresybaai, Ballito en George.

The Pottery

Voetslaan by Coetzenburg

Niks kom naby ’n Coetzenburg-stappie nie – trek jou tekkies aan en neem die asemrowende natuur in. Hierdie gratis staproete is gewild onder studente en Stellenbossers. Parkeer by die Coetzenburg-atletiekstadion en durf die Stellenboschberg aan. Daar is ’n paar roetes (maklik en meer uitdagend) om van te kies en ná die tyd kan jy selfs in die dam swem. Die roetes bied asemrowende uitsigte op die omliggende berge en oor die dorp en wynplase en jy word permanent deur fynbos en bome omring. Jou viervoetvriende is ook welkom!

Coetzenburg

Botaniese Tuin

Die Universiteit Stellenbosch Botaniese Tuin is ’n juweel in die middedorp. Dit is gratis vir studente en R15* vir ander besoekers. Wandel deur die tuin en verkyk jou aan al die verskillende plantspesies wat fynbos, varings, ’n groot versameling bonsais, lelies en broodbome insluit.

Botaniese Tuin

Jy kan selfs rustig jou boek lees of by die restaurant, Katjiepiering, ietsie lekkers eet en drink. Katjiepiering bedien ligte maaltye, slaaie, snye koek, melkskommels en koffie in die skadu van ’n pragtige, eeu oue bloekomboom.

Botaniese Tuin

Stellenbosch Books

Stellenbosch Books is nie sommer net jou gewone boekwinkel nie. Hierdie onafhanklike boekwinkel is in die hartjie van Stellenbosch geleë en word al vanaf die 1940’s as ’n boekwinkel gebruik. Die boekwinkel is vol plante en kunswerke wat eintlik kerse is en daar heers ’n kunstige en rustige atmosfeer. Kom gryp ’n boek, bestel koffie en sit lekker op die bank en lees.

Hulle repertoire boeke sluit anderste boeke in wat jy nie by elke Jan Rap en sy maat se boekwinkel sal kry nie. Dit sluit interessante kunsboeke, oulike kinderboeke, boeke oor sielkunde en filosofie, reisboeke en koffietafelboeke in. Hier word ook gereeld boekbekendstellings gehou wat jy nie moet misloop nie, so hou gerus hulle Instagram-profiel dop.

Stellenbosch Books

Jan Marais-park

Hierdie prentjiemooi park is in 1916 gestig en is net ’n katspoegie vanaf die universiteit en koshuise. Dit is propvol interessante kunswerke van ’n groot verskeidenheid kunstenaars soos Dylan Lewis, Strijdom van der Merwe en Terry de Vries.

Jan Marais-park

Daar is selfs ’n lekker speelparkie vir die jongklomp. Wandel deur die park, vat ’n draffie, pak ’n piekniekmandjie in of kom geniet sommer net die natuur. Toegang tot dié park is verniet.

Jan Marais-park

Rupert Museum

Dié pragtige kunsmuseum in die middedorp spog met ’n wye verskeidenheid Suid-Afrikaanse en internasionale kuns en toegang is gratis. Kom bewonder die 28 skilderye wat Pierneef destyds vir Johannesburg se treinstasie geverf het, Irma Stern se “Storeroom Series” en talle ander uitstallings. Elke Woensdag en Vrydag om 11:00 en 13:00 is daar gratis begeleide toere wat een uur duur en Donderdae om 13:00 is daar selfs ’n gratis jogaklas!

Rupert Museum
Foto: Rupert Museum

Dylan Lewis Sculpture Garden

Die Dylan Lewis Sculpture Garden is ’n inheemse tuin met meer as 60 van die kunstenaar, Dylan Lewis, se pragtige kunswerke. Lewis is ’n wêreldbekende Suid-Afrikaanse beeldhouer wat meer as 10 jaar gelede aan hierdie unieke tuin begin werk het. Die tuin is in verskillende areas verdeel soos voëls, Afrika-diere, wildekatte en mensfigure.

Foto: Dylan Lewis Sculpture Garden

Wandel deur paadjies wat meer as 4 km ver strek en verdiep jouself in die magiese tuin. Jy kan self deur die tuine stap of ’n privaat begeleide toer bespreek, maar gaste moet albei opsies vooraf bespreek.

Foto: Dylan Lewis Sculpture Garden

Die Neelsie

Die Neelsie is Universiteit Stellenbosch se studentesentrum en na die skrywer en digter C.J. Langehoven vernoem. Hiér kry jy alles van koffie, roomys en varsgebak tot lekker, behoorlike borde kos. Daar is selfs ’n fliekteater, Neelsie Cinema, vroeër bekend as Pulp, wat ’n groot verskeidenheid flieks vertoon. Moenie Mariam’s Kitchen se samoesas, DCM se kraakvars donuts of My Brew se melktertpannekoek en heerlike koffie misloop nie. Daar is selfs ’n retro restaurant, Moody Blue, wat 24 per dag uur oop is en smullekker sakpas-wafels bedien.

Die Neelsie

Waar om te bly

Van Der Stel Manor

Van Der Stel Manor is ’n pragtige, gerestoureerde Kaaps-Hollandse huis wat in 1910 gebou is en in ’n stil woonbuurt geleë is – hiér ervaar jy werklik saligheid. Daar is ’n verskeidenheid suites met koningingrootte-beddens, privaat badkamers, yskassies, koffiemasjiene, soetwyn, TV’s en WiFi.

Van Der Stel Manor

Die goed versorgde tuin het ietwat van ’n koninklike gevoel en is die perfekte plek om te ontspan, op die sonstoele agteroor te lê en in die swembad af te koel. Terwyl jy in die tuin ontspan, kan jy gerus jou oë vir die inwonende kat oophou. Sy maak gereeld ’n verskyning om te kom proe of die swembadwater nog reg is.

Van Der Stel Manor

Stap op met die trappe tot op die dak om Stellenbosch in haar volle glorie te ervaar. Hiér kan jy die Simonsberge, Jonkershoekberge en die Helderberge vanaf die gemaklike sitarea op die dak aanskou.

Van Der Stel Manor

Elke oggend word die ontbyt van jou drome bedien! Eerste word vars skons en croissants voorgesit, dan is dit tyd vir tuisgemaakte muesli, jogurt en vars vrugte en om dit af te eindig, word die warm ontbyt met spek, avokado, roosterbrood, sampioene en wors bedien. Hierna sal ’n mens sommer nóg ’n aand moet oorbly!

Van Der Stel Manor

Koetsiershuis

Hierdie pragtige woonstel is in die hartjie van Stellenbosch geleë. Die groot balkon spog met ’n pragtige uitsig oor die dorp en op die Stellenboschberg. Hiér kan jy heerlik sit, ’n wyntjie geniet (dis immers Stellenbosch), die sonsondergang bewonder en Stellenbosch se lewendige atmosfeer inneem. Daar is slaapplek vir twee gaste in die slaapkamer met ’n koninggrootte-bed en dit voel of jy tussen die eikebome woon. In die sitarea is daar ’n TV met DStv en lugversorging, en, die beste van als, die woonstel bied onderdakparkeerplek op die perseel — om parkeerplek in die middedorp te kry, is soos om ’n naald in ’n hooimied te soek.

Koetsiershuis
Foto: LekkeSlaap

Die woonstel is ook stapafstand vanaf die meeste besienswaardighede en restaurante in die middedorp en die ligging is werklik ’n luuksheid vir diegene wat die dorp vir ’n naweek besoek. Stap net oor die pad vir wafels by De Warenmarkt, iets te ete by Meraki, ’n wyntjie by The Wine Glass of stap net by die trappe af en kry ’n koffie by Bootleggers.

Koetsiershuis
Foto: LekkeSlaap

Daar het jy dit – kies Stellenbosch as jou volgende bestemming en verken hierdie dorp se skatkis vol juwele. Bespreek een van ons rits verruklike verblyfopsies en bring jou geliefde, gesin of vriend saam. Hetsy jy van kos, kuns of wyn hou, die Eikestad het iets vir almal.

*Prys is onderhewig aan verandering.

Hooffoto: Karla de Bod

Alle ander foto’s, tensy anders vermeld: Dominique Fuchs

Lees ook

Beleef swierige Stellenbosch by Coopmanhuijs Boutique Hotel and Spa

Dis feestelik op die Franschhoek Wine Tram

’n Aand in die Eikestad