In die weermag of in die koshuis het omtrent niemand mekaar se regte name geken nie ─ jy’s op jou van of op jou bynaam aangespreek. En as jy eers ’n bynaam het, kry jy hom nie sommer afgeskud nie. Vra maar vir Baksteen Labuschagne, Brieke van Tonder of Bakkies Botha … Nét so het die stede van Suid-Afrika ook oor die jare byname gekry, en elke bynaam het ’n storie.

Kaapstad staan wyd en syd as die Moederstad bekend, maar min mense weet waar dié bynaam vandaan kom. Daar word beweer dat ’n Kapenaar in die 1930’s in ’n lesersbrief aan die koerant aangevoer het dat Kaapstad die enigste stad in Suid-Afrika is wat ’n metropool genoem kan word. ’n Metropool is ’n groot stad met ’n belangrike sake- en nywerheidsentrum. Die woord ‘metropool’ se wortels lê in die Griekse woorde metros, wat moeder beteken, en polis, wat stad beteken ─ vandaar die bynaam!

Daar word ook soms na Kaapstad as Slaapstad verwys, aangesien dinge in die Kaap dikwels ’n bietjie langer vat as in ander dele van die land.

Johannesburg is die Goudstad en dit word ook Egoli, “plek van goud” in Zoeloe, genoem. Die Witwatersrand-goudrif is in 1884 hier ontdek en mense het van heinde en verre na die area gestroom. Johannesburg het dus sy oorsprong aan goud te danke so dis geen wonder dat die stad sy bynaam by dié edelmetaal gekry het nie.

Verder word daar ook na die stad verwys as Jozi en Jo’burg en daar is niks wat lekkerder van die tong afrol as dié verkorte byname nie.

Bloemfontein se naam is van Nederlands afkomstig en dit beteken “fontein van blomme”. Om die naam gestand te doen, is daar ’n magdom rose regoor die stad geplant ─ onder andere meer as 4000 roosbome by King’s Park! Dis natuurlik waarom Bloemfontein se bynaam Rosestad is. Bloemfontein het ook elke jaar ’n Roosfees waar ongeveer 15 000 rose vertoon word.

Port Elizabeth het twee byname: die Winderige Stad en die Vriendelike Stad. Met dié dat die wind so gereeld hier waai, is dit goed dat die inwoners so vriendelik is! Min mense sou die stad besoek het as PE se mense net so koud soos die windjie was … Jy hoef net een keer in die stad  te  kom kuier om te sien dat daar waarheid in die bynaam steek. Die inwoners is inderdaad baie vriendelik en gasvry.

Die ander bynaam, die Winderige Stad, is eintlik effe onregverdig. Hoewel die suidooster byna elke dag in PE waai, is dit darem nie so woes soos wat dit soms in Kaapstad te kere gaan nie.

Gedurende Oktober en November ondergaan Pretoria ’n gedaanteverwisseling en word die strate en parke in lieflike, pers bloeisels getooi. Die jakarandabome blom dié tyd van die jaar behoorlik en die stad lyk soos ’n sprokieswêreld. Jakarandastad is die voor die hand liggende bynaam vir ’n stad waar daar tussen 40 000 en 70 000 jakarandas staan.

Kimberley is die Diamantstad. In 1866 het Erasmus Jacobs ’n diamant van 21,25 karaat aan die oewer van die Oranjerivier gekry en drie jaar later is ’n diamant van 83,5 karaat net ’n entjie daarvandaan gevind. Tussen 1871 en 1914 is 2 722 kg se diamante hiér uitgedelf en Kimberley se Gat het in die proses ontstaan.

Durban het ’n warm, subtropiese klimaat en eindelose strande, so dis geen wonder dat dié stad met die titel Vakansiestad spog nie. Met sy palmbome, suikerriet en volop piesangs is daar deurgaans ’n heerlike vakansie-atmosfeer in dié prettige stad. Op Durban se promenade sal dit voel asof jy in Miami is wanneer die rolskaatsers verbykom en die palmbome bo jou uittroon.

Polokwane staan bekend as die Stad van Sterre, aangesien verskeie noemenswaardige persone in dié stad gebore is. Retief Goosen, Caster Semenya, Frederik van Zyl Slabbert, John Smit, Peter Mokaba, Marthinus van Schalkwyk, Victor Matfield en baie ander bekendes kom van Polokwane af.

Die Stad van Sterre het ook tydens die 2010-Wêreldbeker-sokkertoernooi sy naam gestand gedoen toe spanne mekaar in die Peter Mokaba Stadion onder die sterre die stryd aangesê het.

Mahikeng het al vele naamsveranderings gehad. Eers was dit Mafeking, toe Bophuthatswana bykom was dit Mafikeng, en nou is dit amptelik Mahikeng. Die meeste mense verwys egter steeds daarna as Mafikeng. In 1998 het die stad besluit om ’n slagspreuk te kry en Die Stad van Welwillendheid is gekies uit 400 inskrywings. Dit het toe sommer ook die stad se bynaam geword.

As jy in omtrent enige rigting uit Nelspruit ry, sal jy hordes en hordes lemoenboorde aantref en die bedwelmende geur van sitrus sal jou neusgate vul. Dis te danke aan die feit dat Nelspruit een van die beste areas ter wêreld is om met sitrusvrugte te boer. Daarom is die stad se bynaam ook Sitrusstad.

***

Met watter bynaam spog jou dorp of stad? Ons hoor graag van jou!

Hooffoto: Leigh Langman (Flickr)