KwaZulu-Natal lok jaarliks duisende besoekers en ons kan maar net raai waarom — die son, see en sand natuurlik! Dié provinsie het immers een van die mooiste en mees gewilde kuslyne, sonskyn regdeur die jaar en die warm Indiese Oseaan wat dit die ideale swemplek maak. Dit loop ook oor van ongelooflike natuurtonele vir opwindende doendinge in die buitelug. Daar is dus legio doendinge wat die adrenalien behoorlik deur jou are sal laat bruis in dié streek met sy majestueuse berge, indrukwekkende watervalle, waterweë en goue strande! LekkeSlaap het gaan ondersoek instel oor alles wat jy hiér kan aanpak, hetsy jy ’n avonturier, vakansieganger of ’n plaaslike inwoner is.

Branderplankry in Durban

KwaZulu-Natal se kuslyn spog met puik watersportgeleenthede en is wêreldwyd bekend as ’n uitstekende branderplankbestemming. Dié streek het ’n subtropiese klimaat en lieflike strande wat al die pad van Durban tot by Mosambiek se grens strek — enige branderplankryer se droom! Durban se sogenaamde Goue Myl is die ideale plek om jou branderplank tussen vriendelike en plaaslike inwoners nat te maak, en dan is daar ook die gewilde Bay of Plenty en Cave Rock. ’n Besoek aan KwaZulu-Natal is tog nie volmaak as jy nié in die see was nie!


Abseil by die Shongweni-dam

Die Shongweni-dam en -wildreservaat naby Durban is nie net ’n Nasionale Erfenisgebied nie, maar die ideale bestemming vir ’n avontuurlustige dag saam met jou familie of vriende. Hulle bied verskeie doendinge, maar ons stel voor jy gaan abseil teen die damwal af. Ja jy het reg gelees, die damwal!

Kontak Spirit of Adventure:

☎ 0861 333 919 of 082 736 3651
✉ info@spiritofadventure.co.za

A post shared by Calvin Goge (@calvin4walls) on


Big Swing by Moses Mabhida Stadion

As jy die wêreld vanuit ’n ander oogpunt wil bekyk, is Big Rush Big Swing by die Moses Mabhida Stadion in Durban net die ding vir jou! Dis die enigste stadionswaai in die wêreld en is ’n allemintige 106 meter bo die grond. Voor jy spring sal jy jou vergaap aan die asemrowende uitsig oor Durban en die Indiese Oseaan — dis nou as jy nie jou oë styf toeknyp nie. En dan staar die groot 60 meter na die grond jou in die gesig en jy swaai teen ’n blitsige 120 kilometer per uur!

Kontak Big Rush:

☎ 031 312 9281
✉ bookings@bigrush.co.za

A post shared by BigRushDurban (@bigrushdurban) on


Duik by uShaka Marine World

uShaka Marine World in Durban is die grootste akwarium in Afrika en spog met unieke ervarings en baie pret in die water. Drie van dié unieke ervarings wat jy beslis moet probeer is The Snorkel Experience, The Xpanda Shark Dive en The Oceanwalker Experience. Hierdie onderwater-ervarings laat jou toe om visse, ’n skeepswrak, haaie en ander seediere van nader te aanskou! Een van die hoogtepunte is sekerlik die Oceanwalker ─ jy loop lekker tussen die seelewe onder die water rond én jy het nie ’n duiklisensie nodig nie, jy kan net jou swembroek en handdoek saambring!

Kontak uShaka Marine World:

☎ 031 328 8097


Boomtoptoere in Karkloofwoud

Wou jy nog altyd soos Tarzan en Jane in die boomtoppe rondswaai en die natuurskoon vanuit ’n ander oogpunt aanskou? Dan is ’n boomtoptoer in die pragtige Karkloofwoud naby Howick net die ding vir jou! Dié Zipline bevat 12 dekke en 10 glykabels en die langste een is 200 meter lank. Die dekke is hoog bo die bome opgerig sodat jy die mooiste uitsigte kan geniet ─ jy gly selfs verby ’n 20 meter hoë waterval. Dié doending is geskik vir enigiemand van 5 jaar en ouer, so die hele gesin kan deel in die pret. As jy ’n bietjie adrenalien deur jou are wil laat bruis is hierdie boomtoptoere die ideale doending vir jou!

Kontak Karkloof Canopy Tour:

 033 330 3415
✉ info@karkloofcanopytour.co.za


Skubaduik by Sodwanabaai Nasionale Park

Sodwanabaai is ’n beskermde area met ’n ongerepte kuslyn in die iSimangaliso-vleilandpark en spog met skouspelagtige koraalriwwe en puik diepsee-duikgeleenthede. Dié koraalriwwe laat dit soos ’n tropiese duikplek in Suid-Afrika lyk en duikers kom van heinde en verre om die visse en interessante seelewe hiér van nader te bekyk. Triton Dive Charters & Lodge bied skubaduikgeleenthede saam met ervare duikers en jy kan boonop by hulle lodge op die perseel bly. Dié lodge skuil in ’n dennewoud in Sodwanabaai en is gerieflik naby ander doendinge in die iSimangaliso-vleilandpark.

Kontak Triton Dive Charters & Lodge:

☎ 082 494 8761


Wild Slide en Gorge Swing by die Oribikloof

Die Oribikloof Natuurreservaat naby Port Shepstone is een van die mees skouspelagtige natuurtonele in KwaZulu-Natal en spog met hoë kranse, woude, watervalle, riviere en klowe. Dit is dus die ideale speelplek vir avonturiers. Wild 5 Adventures bied onvergeetlike doendinge in die kloof, soos die Wild Gorge Swing, Wild Water Rafting, Wild Abseil, Zip-line Oribi Gorge én die gewilde Wild Bridge. Die Wild Swing van 165 meter is die hoogste van sy soort in die wêreld en jy swaai vanaf die bo-punt van die Lehr’s-waterval in Oribikloof. En as jy jou nie so ver kan kry om te spring nie en op soek is na iets minder senutergend is die Wild Bridge ideaal! Dié 84 meter lange brug hang 100 meter bo Oribikloof en bied die mooiste uitsigte oor die omgewing.

Kontak Wild 5 Adventures:

☎ 082 566 7424 of 082 337 3746
✉ info@wild5adventures.co.za


Sanipas 4×4-roete

Diegene wat dié streek met vier wiele wil verken én so bietjie opwinding wil ervaar kan die skouspelagtige 4×4-roete op die Sanipas aandurf. Dié rotsagtige grondpas begin 20 kilometer buite Underberg en kronkel deur die majestueuse Drakensberge na Lesotho se grens. Die roete is 45 kilometer lank en bied soms uitdagings met rotse, modder en sneeu in die winter. Nadat jy die pas baasgeraak het moet jy beslis jou dors by die hoogste kroeg in Suidelike-Afrika aan die bo-punt van die pas gaan les!


Soos jy sien is daar ’n opwindende doending vir elkeen ─ hetsy jy in die lug wil rondswaai, saam met interessante seediere wil swem óf een van die mees uitdagende bergpasse wil baasraak! Beplan solank jou volgende wegbreek na die pragtige KwaZulu-Natal en pak gerus een van hierdie onvergeetlike doendinge aan, jy sal beslis nie spyt wees nie!

Hooffoto: Karkloof Safari Spa (LekkeSlaap)