In die hartjie van Montagu wag daar ’n besonderse blyplek op jou ─ Monte Vista Boutique Hotel! Dié boetiekhotel is meer as net ’n plek om jou kop neer te lê en as jy kies om hier te kom kuier, sal jy ná ’n dag van verkenning daarna uitsien om na jou luukse en gerieflike kamer terug te keer. 

LekkeSlaap is onlangs genooi om ’n paar nagte hier te vertoef en die omgewing te verken en dit was voorwaar ’n onvergeetlike ervaring. Vanaf die intrapslag het ons verskriklik tuis gevoel en die huislike atmosfeer van die boetiekhotel en die vriendelike diens geniet. Die boetiekhotel bied luukse verblyf aan reisigers wat die bekoorlike dorpie vir ’n naweek besoek, of dit as ’n oornagstop gebruik op pad na hulle volgende bestemming op Roete 62

Die pragtige ingang en stoep waar jy rustig kan sit en ontspan.

Soos ons met aankoms ons aan die pragtige, historiese geboue in Kerkstraat verkyk, staan Monte Vista Boutique Hotel statig onder groen bome en wag om ons vir die naweek te verwelkom. Ons word vriendelik ontvang en na ons kamers geneem waar ons sommer gou besluit om die lieflike sonskynweer in die Klein-Karoo te benut en langs die swembad op die netjiese perseel te gaan ontspan. Ten spyte daarvan dat die boetiekhotel sentraal in die dorp geleë is, is dit lekker stil op die erf en ons hoor slegs die voëltjies wat in die agtergrond sing en die gewerskaf in die tuin. 

Koel in die swembad in die tuin af en ontspan op die sonstoele.

Voor ons té gemaklik op ons swemhanddoeke raak, verruil ons gou die swembad vir ’n olyfplaas buite die dorp en bak verder daar in die son. Soos ons die plaas verlaat is ons al drie opgewonde om terug te keer na ons oase in die dorp en maak vinnig gereed vir aandete. 

Pauline, die bestuurder, was gaaf genoeg om vir ons ’n tafel vir aandete by die gewilde restaurant op in die straat te bespreek en toe die son agter die berge begin sak, wikkel ons vinnig-vinnig na langsaan om ’n heerlike maaltyd te geniet. Ná ete, en met trommeldik mae, stap ons terug na Monte Vista en geniet die vars Karoolug en stil straat wat vroeër van die mense krioel het ─ vir ons stadsmeisies is dit maar ’n rare verskynsel. 

Terug by die hotel wag ons pragtige, ruim koninginkamers op ons en dis nét die plek om af te saal na ’n besige dag van verkenning. Ons ontspan eers ’n rukkie in ons sagte, wit kamerjasse, maak ’n lekker koppie koffie met die koffiekapsules wat voorsien word en geniet ’n heerlike nagrus op baie gemaklike beddens! 

Die luukse kamers is pragtig versier.

Die volgende oggend is ons vroeg uit die vere om nog ’n besige dag af te skop en ons geniet eers ’n heilsame ontbyt met varsgebakte brood, spek, eiers, sampioene en worsies, en ’n koppie boeretroos in die eetkamer langs ons kamers. Die kaggel in die middel van die eetkamer brand om die ergste byt uit die lug te neem en ons kuier alte lekker om die etenstafel terwyl ons geselsies met die personeel aanknoop. Die eetkamer spog ook met ’n eerlikheidskroeg vol voorraad waar jy self vir jou ’n drankie kan skink en in die eetkamer, jou kamer, die tuin of langs die swembad kan geniet en later vir dit betaal. 

Geniet ’n heilsame ontbyt in die eetkamer.

Die ontspannende atmosfeer maak hierdie boetiekhotel die ideale bestemming vir sakereisigers wat stilte en gerieflike verblyf verlang, maar dit is ook geskik vir wittebroodpaartjies wat op hierdie deel van Roete 62 ’n romantiese naweek wil geniet. Die wittebroodsuite is apart van die ander kamers vir ekstra privaatheid en spog met sy eie stoep waar die personeel vir julle twee ’n heerlike ontbyt kan kan voorsit. 

Die netjiese tuin skep ’n rustige atmosfeer in die dorp.

So, as jy nog altyd gewonder het wat in Montagu aangaan of vir die soveelste keer wil terugkeer na hierdie bekoorlike dorpie, is Monte Vista Boutique Hotel net die plek om te bly. ’n Bederfnaweek hiér sal jou beslis nie teleurstel nie, bespreek sommer vandag nog jou verblyf! 

Baie dankie aan Monte Vista Boutique Hotel vir die uitnodiging en die gasvryheid wat ons tydens ons besoek ervaar het!

Hooffoto: Monte Vista Boutique Hotel (LekkeSlaap)