Wou jy nog altyd ’n staptoer aanpak sonder die beslommernis van ’n swaar rugsak, slaapsak en kamptoerusting? Dan is dié slenterstaptoer (of slack packing) net die ding vir jou!

Chokka Trail is ’n unieke vier dag lange slenterstaptoer tussen Oesterbaai en St Francisbaai in die Oos-Kaap, ideaal vir enigiemand wat nie ál hul bagasie wil saamdra nie! Ontbyt, middag- en aandete word daagliks voorsien en wat is ’n besoek aan Suid-Afrika se tjokka-mekka sonder ’n kalamari-proe?

Verken dié somer die Oos-Kaapse kuslyn te voet met die luukse van ’n sagte bed saans.

15

Besoek SANCCOB se seevoël-rehabilitasiesentrum waar siek en beseerde pikkewyne en ander seevoëls versorg word. Die roete is ryk aan voël- en dierlewe, en otters en kleinwild is gereeld te sien.

Die pasgemaakte toer bied jou die ideale geleentheid om dié ongelooflike kuslyn te leer ken. Alles is ingesluit en jy hoef slegs te betaal vir jou drankies en klein ekstras wat jy bestel.

Copy of Graffiti

Stappers ontmoet by die Cape St Francis Resort waar daar veilige parkeerplek vir hul voertuie is. Dan vertrek almal na Oesterbaai, sowat 20 kilometer na die weste, om by die Oyster Bay Beach Lodge in te klok.

7

Die roete begin op die luisterryke, ongerepte stukkie kuslyn  tussen Oesterbaai en Thysbaai. Dié stuk van Suid-Afrika se kus is ’n fees vir natuurliefhebbers met die Kaapse otter wat graag kom gesig wys en verskeie voëlsoorte wat hier te sien is. As jy gelukkig is, kan jy selfs ’n bokkie of twee sien en jy sal beslis hulle spoortjies in die sand gewaar!

9

Die roete tot by Thysbaai is 18 kilometer, maar jy kan enige tyd omdraai. Hou net jou horlosie dop sodat jy nie té ver draal nie en maak seker jy is voor sononder terug by die lodge waar jy ’n heerlike fynproewersdis uit Nick Bornman, die eienaar, se kombuis kan geniet.

dag 2

Ná ’n heilsame ontbyt by Oyster Bay Beach Lodge kan jy jou middagetepakkie en water inpak voor jy die volgende deel van die roete aandurf. Dag 2 behoort sowat ses uur te neem om te voltooi en neem jou oor die Oesterbaai duineveld, wat onder die plaaslike inwoners as die Sandrivier bekendstaan ─ ’n wonderlike lang sand-oseaan.

10

As die wind waai, onthul die duine hul verborge skatte en jy kan groot skulpe en ander argeologiese stukke uit die eeue langs die pad gewaar. Die vleilande, wat onder die duine skuil, wemel van voëls tydens die reënseisoen en bied ’n gans anderse natuurtoneel.

8

Sodra jy die see in die verte kan sien, het jy die tien kilometer-merk verbygesteek, en is jy meer as halfpad met die toer se mees uitdagende roete.

Dag 2 eindig by die Dune Ridge Country House, ’n luukse vierster-gastehuis in St Francisbaai waar jy in weelde kan ontspan na ’n lang dag in die son.

dag 3

Dag 3 loop deur ’n twee kilometer lange inheemse kuswoud, oor ’n paar stewige duine en deur ’n stukkie ruigte tot in Mostertshoek.

1

Die kuslun, bekend as Wild Side, is ’n ongerepte kuslyn wat sy naam kry  by die onbeteuelde branders wat hier teen die rotse breek. Kyk gerus of jy die otters, wat dié lieflike oase hul tuiste noem, kan sien. Hier kan jy op die uitkyk wees vir tobies, seemeeue, seeswaeltjies en steenlopers, asook die tweede grootste blaasgat in Suider-Afrika.

12

Maar dis nie al wat jy op dié roete te wagte kan wees nie. Skeepswrakke, antieke puinhope, die Seal Point-vuurtoring en die SANCCOB Seevoël- en Pikkewyn-rehabilitasiesentrum is ook deel van Dag 3 se besienswaardighede.

4

Sluit die dag af met ’n heerlike maaltyd by Cape St Francis Resort se restaurant, Joe Fish, waarna jy ’n snoesige nagrus in dié driester-oord kan geniet.

dag 4

Dag 4 begin by Kaap St Francis se strand na Shark Point. Rondom die punt sal jy Port St Francis se woelige hawe sien waar die tjokkavloot tussen luukse seiljagte ankergooi. Geniet vars tjokka en leer hoe om dit self skoon te maak met ’n demonstrasie by die Balobi Seekosmark.

3

Vanaf Port St Francis volg jy die Two Harbours Walk tot by Granny’s Pool en ’n laast 1 of 2 km op die hoofstrand bring jou by St Francisbaai se kanale. Dié dag sluit af met ’n bootvaart op die St. Francisbaai-kanale en ’n smullekker middagete by die Quaysyde Restaurant.

2

As jy eers wil uitrus voor jy weer die lang pad huis toe aandurf, is LekkeSlaap daar met ’n groot verskeidenheid opsies in en om St. Francisbaai, soos BriSan on the Canals, nóg ’n vierster-gastehuis reg op die kanaal.

’n Spesiale vyfdag-pakket, wat een dag se gholf insluit, is ook beskikbaar vir gholfliefhebbers. Daar is ook spesiale pasgemaakte pakkette beskikbaar. Lees gerus meer hier.

As die Oos-Kaap ’n bietjie ver is, kan jy gerus ook op Silent Steps se webblad gaan loer. Hulle bied ’n soortgelyke slenterstaptoer teen die Weskus aan.

So, waarvoor wag jy? Die duine roep!


– Foto’s:  Esti Stewart, Chokka Trail