Spierwit strande lê eindeloos voor jou uitgestrek, ’n swart tobie vlieg laag oor jou kop en jy hoor hoe branders ritmies teen die rotse klots … Klink dit vir jou idillies? Dan is dit hoog tyd dat jý ook jou rugsak pak, stapskoene aantrek en die Weskus te voet gaan verken! Ek en ’n paar kranige stappers het onlangs die Swart Tobie-slenterstaproete aangedurf en in dié blog vertel ons jou alles van dié skilderagtige sesdag-staptoer.

Knap ná 17:00 op ’n snikhete middag kom ons stapgroepie by die Boesmangrot anderkant Lutzville naby Koekenaap bymekaar. Ons skud blad met oom Wynie, die baas van die Swart Tobie, en sy vrou, Ronel, wat geduldig verduidelik hoe dié 64 km lange staproete werk. Oom Wynie en sy getroue bakkie karwei smiddae al ’n mens se kamptoerusting en proviand tot by die kampterrein sodat jy saans salig kan kuier, smullekker kan eet en snoesig kan slaap sonder om bedags onder ’n rugsak se gewig te kreun. Al wat jy in jou dagsak hoef saam te dra is middagete en snoephappies  — dís immers wat “slenterstap” beteken!

Ons slaap vanaand in ’n oeroue Boesmangrot aan die oewer van die Olifantsrivier en word sommer al op Dag 1 met ’n asemrowende sonsondergang bederf. Kort voor lank word daar vuurgemaak en ’n vleisie op die kole gegooi. Die opwinding bruis deur die groep en ons klets en kuier tot laataand. Ons slaap sommer sonder tente op die grotvloer en die dapperes lê met hulle koppe buite om die verskietende sterre te aanskou …Is daar ’n beter manier om ’n staptoer af te skop?

Die uitsig oor die Olifantsrivier vanaf die Boesmansgrot | Foto: Melissa Smook.

Wenke:

– Bring ’n koelboks vir Aand 1 se braaivleis saam en pak sommer Dag 2 se middagete en snoephappies daarin. ’n Glasie wyn is ook altyd gesellig.

– Daar is nie elektrisiteit by die grot nie, so bring ’n kopliggie en ’n gaslampie saam.

– Jy parkeer jou motor by oom Wynie se huis, ’n entjie vanaf die Boesmangrot. Los sommer ’n ekstra sak met skoon klere en stortgoed in die kar, want daar is selde geleentheid om te stort op hierdie staproete.

Ons is vroeg uit die vere en gereed vir ons eerste dag se avontuur. Koffiewater kook op die vuur en ons maak hawermout vir ontbyt terwyl ons luister hoe die veld wakker word. Die laaste Ziploc-sakkies vol peuselhappies word in die dagsakke gepak, sonroom word in dik lae aangesmeer en waterbottels word volgemaak voor oom Wynie ons kom oplaai. Veertig minute later arriveer ons by Jakkalshok en die stap begin!

Só stap ’n mens heeldag op die strand | Foto: Wilhelm van Zyl.

Vandag stap ons sowat 17 km al langs die see. Dis ’n smoorwarm dag, maar ’n seebriesie sorg darem vir effense verligting. Moenie dat die plat terrein jou flous nie — 17 km op die sand is nie vir sissies nie! Plek-plek moet ’n mens oor die rotse klouter as die gety dit onmoontlik maak om strandlangs te stap. Om elke hoek en draai wag daar gelukkig ’n ongelooflike uitsig wat dié geswoeg en gesweet die moeite werd maak!

Rondom middagete-tyd kom ons op ’n gehuggie af waar ons ’n koelte-ruskansie benut. Vandag is daar tuna, soutbeskuitjies en Melrose-kasies op die spyskaart — ’n absolute koningsmaal ná 5 uur se stap!

’n Paar van ons pas ook ’n blitsvinnige middagslapie in voor ons weer aanstaltes maak. Ons weet nie presies waar ons eindbestemming is nie, maar blykbaar sal ons weet as ons daar kom … Die hele groep slaak ’n gemeenskaplike sug van verligting toe ons die kampeerterrein op die strand in die verte sien wink. Oom Wynie het reeds ons kamptoerusting en proviand afgelaai! Ons slaan tent op en maak vuur voordat ons met ’n glasie wyn in die hand die sonsondergang op die rotse geniet.

Só lyk Dag 2 se kampplek | Foto: Melissa Smook.

Wenke:

– Onthou jou sonhoed en genoeg sonskerm — die Weskus-son is sommer van vroegoggend af fel.

– Een van ons kranige stappers het ’n opvoubare driepootstoeltjie in haar dagsak saamgedra — ’n ieder en elk was jaloers op haar slim plan, so skaf vir jou ook só enetjie aan.

Vandag stap ons weer sowat 18 km al langs die see en ’n miswolk bring ’n heerlike vroegoggend-lafenis. Dis maar ’n sanderige staptog en jou skoene raak maklik vol sand, so jou kamaste kan ingespan word. Plek-plek word die sand deur skulpe afgewissel — en vir kilometers hoor ’n mens net die girts-garts van stapskoene op ’n growwe mat van derduisende mosselskulpe. Langs die pad kom jy verskeie kampeerders teë wat sommer met hul woonwaens of tente direk langs die see kamp opgeslaan het. Dié mense is behoorlik ingerig, hoor. Sommige strandkampeerders spog selfs met warmwaterstorte!

Aanstap Rooies! | Foto: Izak de Wet.

Teen 13:00 is Luck se Baai nog nêrens in sig nie en ons besluit om in die skaduwee van ’n verlate karavaan uit te span. Ons kook water vir koffie en Two Minute Noodles, en iemand is selfs dapper genoeg om sojamaalvleis op te warm! Ná middagete durf ons ’n grondpad bergop aan. Die pad raak baie lank en swaar, so die verligting is groot toe ons die stofwolk agter oom Wynie se plaasbakkie in die verte sien! Vanaand, soos meeste aande in Desember en Januarie, is die kampeerterrein by Luck se Baai stampvol, en oom Wynie karwei ons weer na die Boesmangrot om te oornag.

’n Mistige strand onderweg na Luck se Baai | Foto: Melissa Smook.

Die storte by die grot is baie welkom, en vanaand kuier ’n baie skoon groep stappers om die vuur. Ons hou ook ons eerste Grotvergadering en elke stapper word ingehuldig as ’n minister. Die minister van vroegopstaan moet, byvoorbeeld, sorg dat ons die volgende oggend 6:00 wakker is, die minister van hout en hitte sorg saans vir ’n bobaas-braaivleisvuur, die minister van opskudding en aanhitsing verseker dat die drentelaars bybly en die minister van vermaak sorg natuurlik vir eindelose vermaak wanneer die energievlakke laag is!

Wenke:

– Dag 4 verg nogal baie inspanning, so dis slim om jou sommer vroegaand al in jou slaapsak in te wikkel.

– Daar is lopende water by die grot, so dis die ideale dag om wasgoed uit te was.

“Vandag is julle mooiste dag op hierdie staproete,” sê oom Wynie toe hy ons douvoordag kom oplaai. En hy was beslis nie verkeerd nie! Onderweg na Dag 4 se beginpunt laai ons vir Raven en Whitey op — hulle is ons gidse vir die dag. Ons besef gou dat Raven hierdie wêreld soos die palm van sy hand ken, want hy pak die rotsagtige paadjie sommer kaalvoet aan en wys tientalle fossiele uit sonder om eers te soek. Ons klim steil heuwels uit, maar word telkens beloon met ’n uitsig wat ons woordeloos laat!

Hiér word lekker oor die rotsheuwels geklouter | Foto: Wilhelm van Zyl.

Raven vertel dat dié area miljoene jare gelede onder water was en hy wys ons waar warmwaterstrome diep groewe in die rotse gekerf het. Ons hou by ’n skilpad-begraafplaas stil en bewonder die eeue oue skilpaddoppe wat in die rotse verewig is.

Plek-plek was dit mistig, maar ons kon tog die uitsigte waardeer | Foto: Wilhelm van Zyl.

’n Entjie verder kom ons by die imposante Voëlklip aan en ons neem ’n groep-selfie op die kruin van nóg ’n hemelhoë krans.

’n Klomp uitgelate stappers bymekaar | Foto: Wilhelm van Zyl.

Teen middagete spog Whitey met sy kreefduikvernuf en haal sommer ’n hele rits krewe uit ’n rotspoel! Ná middagete in ’n grot kies ons koers verby Robeiland waar daar honderde robbe in die water rinkink en die swart tobies volop is. Die kampplek is gelukkig nie meer ver nie en ons slaan weer reg langs die see tent op!

Wenke:

– Kreefpermitte kan by die poskantoor op Klawer aangeskaf word.

– Vanaand slaap ’n mens by die heel mooiste kampplek, maar dis redelik stowwerig, so ’n grondseil kom handig te pas.

– Sodra ’n mens by die kamp aankom, moet jy sommer dadelik jou waterbottel vir die volgende dag volmaak — sodoende weet ’n mens hoeveel opwaswater die aand gebruik kan word.

– As jy ná vandag se stap lekker vuil voel, kan jy jou inseep met bio-afbreekbare seep en sommer in die see duik om effens skoner te voel.

Vanoggend kan ons ’n bietjie inlê, want die tente is lekker nat van die seesproei. Niemand wil ’n klam tent opslaan nie, so ons laat hulle toe om eers ’n bietjie in die sonnetjie te bak voor die minister van opskudding en aanhitsing bevel gee om te vertek.

Uitgerus en lekke verfris | Foto: Wilhelm van Zyl.

Vandag volg ons die strandpad tot by die Olifantsriviermonding. Ons stap lekker rustig, want dis net 10 km tot daar, en ons hou nabetragting oor die afgelope paar dae se avontuur. Vir middagete hou ons in die koelte van ’n krans stil en daar is kans vir ’n strandspeletjie of twee — die minister van sport en ontspanning is sommer baie in sy noppies hieroor! Ons arriveer gelukkig vroegmiddag al by ons lêplekkie langs die Olifantsriviermonding: Camp David. 

Camp David langs die Olifantsrivier | Foto's: Melissa Smook.

By Camp David is daar ’n houthuis met verskeie slaapkamers, maar ons het dié week só lief geraak vir ons tente dat ons sommer vir oulaas onder die seile inkruip. Daar is ook ’n paar bostoilette, sodat ’n mens darem nie jou lyf meer Bear Grylls hoef te hou nie.

Dis die perfekte geleentheid vir die minister van gesondheid om te wys dat sy haar sout werd is — daar is blase op voete om te lawe, seer enkels om te verbind en selfs ’n groottoonnael om te verwyder. Die Swart Tobie het duidelik sy tol geëis.

Teen sononder bou die minister van hout en hitte weer ’n reuse-vuur en ons gesels en speel speletjies tot diep in die ounag!

’n Stoeltoilet kan nogal handig te pas kom (links); ’n Gesellige kampvuurkuier (regs bo); Goeie samesyn op die Swart Tobie (regs onder) | Foto's: Izak de Wet.

Wenke:

– Camp David het nie vreeslik baie koelte-areas nie, so dis sinvol om ’n strandsambreel agterop oom Wynie se bakkie te gooi sodat hy dié kan aflaai saam met die ander toerusting.

– Vir Dag 5 se aandete kan ’n mens sommer al jou orige snoephappies vir poeding eet.

Die laaste dag se stap het aangebreek! Ons stap sowat 3 uur vanaf Camp David tot by die Withuis waar ons met ’n boot teruggeneem word na die Boesmangrot — ons laaste oorslaapplek. Van daar ry ons tot by die dorpie, Strandfontein om dié kusjuweeltjie te verken. Ons sluit die staptoer op ’n hoë noot af met aandete by oom Wynie se huis — daar was genoeg skaaptjoppies vir ’n hele weermag!

Só lyk die prentjiemooi Strandfontein | Foto: LekkeSlaap.

Algemene wenke:

– Tannie Ronel vries die proviand vir elke aand, so ’n mens kan maar lekker eet op hierdie staproete. Pak gerus braaivleis vir elke aand in. ’n Voorafbereide pasta-dis werk net so goed.

– Daar is meer as genoeg pakplek agter op oom Wynie se bakkie, so bring gerus geriefsitems, soos ’n opvoutafeltjie en kampstoele, saam.

– Onthou om gereeld sonbrandroom aan te smeer, selfs al is dit mistig en bewolk. ’n Breërandhoed is ononderhandelbaar!

– Pak ten minste ’n skoon broek vir elke dag in. Hemde kan nog uitgespoel word, maar ’n broek word nie vinnig droog nie.  

– Onthou om genoeg plastiese sakkies saam te bring, want daar is altyd iets wat uitloop in ’n mens se sak.

– Dis dalk warm bedags, maar saans kan die windjie nogal geniepsig wees, so onthou jou warm slaapklere en ’n baadjie.

 – Bring strandplakkies saam om jou voete saans ’n blaaskans te gee.

– Bespreek een van dié lêplekke as jy voor én na die staproete ’n salige nagrus wil geniet:

Rietrylaagte Accommodation and 4×4Belle Ombre GastehuisMelkboomsdrift Lodge | Rooms With a View

Rietrylaagte Accommodation and 4x4 (links bo); Belle Ombre Gastehuis (regs bo); Melkboomsdrift Lodge (links onder); Rooms With a View (regs onder) | Foto's: LekkeSlaap.

Die Swart Tobie se uitsigte is ongeëwenaard, die terrein ongerep en dis heerlik om tydens só ’n stap-avontuur lekker naby te voel aan Moeder Natuur! Kontak Jacana Travel om jóú plek te bespreek: 041 378 1439.

Hooffoto: Izak de Wet.

Vrywaring: Let dat die lengte van ’n roete mag verskil afhangend van hoe julle die roete aanpak en watter beginpunt julle kies. Die meeste roetes het verskeie begin- en eindpunte. Dit is daarom raadsaam om altyd met roete-administrasie of die geskikte kontakpersoon vir die roete in verbinding te tree om seker te maak julle verstaan die uitdagings van die roete ten volle.