Daar is net een pad in en uit Steytlerville en dit is ook reg so, want as jy eers in dié Karoodorp is, wil jy in elk geval bly. Dít kan aan die wapens van Steytlerville se gevestigde families wat in die hoofstraat hang gesien word, asook aan die sestal doodgelukkige “nuwe” inwoners wat ons tydens ons kort kuier op die dorp ontmoet ─ mense wat almal ná een of twee besoeke verlief geraak het op Steytlerville en hiér ’n mooi lewe vir hulself kom skep het.  

LekkeSlaap is op ’n weeklange tog van die Kaap tot die Groot-Karoo en ná ons ’n aand in Willowmore deurgebring het, vat ons die R329 na Steytlerville. Dié stukkie pad, amper Bybels, is die smalle weg: ’n grondpad met ’n sement-enkelbaan in die middel. Kom ’n voertuig van voor, moet albei voertuie links hou met een band op die grondskouer om mekaar verby te steek. Dit bevorder sekerlik buurskap, want ’n mens waai maar so al aan die een kant.

Soos jy in Steytlerville aankom, word jy met die breedste hoofstraat wat jy in jou dag des lewens sal sien beloon. Die pad is glo só breed gelê sodat ossewaens destyds sonder moeite aan weerskante kon omdraai. Vir Hestè se VW Polo is dit basies ’n renbaan.

Soos jy in Steytlerville aankom, word jy met die breedste hoofstraat wat jy in jou dag des lewens sal sien beloon. Die pad is glo só breed gelê sodat ossewaens destyds sonder moeite aan weerskante kon omdraai. Vir Hestè se VW Polo is dit basies ’n renbaan. Met die statige Edwardiaanse en Victoriaanse geboue wat aan beide kante van die straat toeskouer staan en die talle familiewapens wat van die lamppale bo die bougainvilleas hang, hou ons ons egter ordentlik en kyk of ons die vanne op die pale herken.

Steytlerville se familiewapen-projek is in 2003 van stapel gestuur om ’n gevoel van trots en eienaarskap onder families wat al vir generasies ’n band met dié dorp het te bevorder en is een van die dorp se groot trekpleisters. Baie van die families van Europese herkoms het reeds wapens gehad, maar nadat daar familienavorsing gedoen is, het die inheemse families wat al vir jare in die omtrek bly, ook wapens ontwerp wat vandag in die hoofstraat pronk.

Corné Henderson, wat ons dorpstoer gereël het, saam met Hestè in Steytlerville se hemelsbreë hoofstraat.

Ons stop eerste voor The Veranda, die dorp se enigste koffiewinkel, en word vriendelik deur Corné Henderson van die toerismekantoor en ’n handjievol dorpenaars ontvang. Dan slaan ons ’n Coke en drie windpompsjerries in die koelte van die stoep weg.

The Veranda is die dorp se koffiewinkel. Hier is ook ’n motormuseum en ’n paar ander verrassings op die perseel.

Jurie en Michelle, The Veranda se eienaars, is egter besig met baie meer as net koffie. “Lyk my ek’t nie vir jou genoeg speelgoed gekoop as kind nie,” het Jurie se pa op ’n keer gesê toe hy sy seun se indrukwekkende motormuseum agter op die erf sien. Al die motors is self deur Jurie opgebou en is in ’n werkende toestand. Ek is net ’n bietjie spyt dat ons nie in die dorp is op ’n dag wat hy die motors vir ’n toetsrit neem nie en ek dink weer aan die renbaanbreedte-hoofstraat. Toegang tot die motormuseum is gratis indien jy by die koffiewinkel kuier, anders is ’n donasie welkom.

Jurie het self die motors in sy motormuseum opgebou.

Michelle en Jurie is ook geakkrediteer om beseerde wilde diere te rehabiliteer. Hulle het al ondermeer ’n bloukraanvoël, slange, ’n koedoe en ’n wildebees gerehabiliteer en het op die oomblik twee bakoorjakkalsies, Jakkalsie en Jellybean, vir wie ons rosyntjies voer.

Jellybean is in vervoering oor die rosyntjie in Hestè se hand. Jakkalsie is nie so seker oor die saak nie.

Skuins oorkant die straat is Johan Trollip ─ geen verwantskap aan Athol nie ─ se kunsateljee en -galery. Johan is ’n kranige skilder wat in sy vorige lewe in die bankwese gewerk het en ons kry die kans om ’n paar van sy skilderye wat in Maart in Calitzdorp uitgestal word te sien. Johan bestuur ook die dorp se Royal Hotel met sy gesellige kroegrestaurant, geskenkwinkeltjie en pynlik netjiese kamers. Daar staan heelwat motors voor die hotel geparkeer ─ duidelik een van die dorpenaars se gunstelingplekke en dié plek om ’n lekker storie of twee te hoor.

Een van Johan Trollip se skilderye en die Royal Hotel Steytlerville wat hy bestuur.

Die koster, ’n jong man in sy Saterdagklere met ’n groot bakkie, kom sluit die NG-kerk vir ons oop, want hierdie kerk, met die grootste vloeroppervlakte in die Suidelike Halfrond, móét ons sien. Oukei, so blykbaar het die Moedergemeente in die Kaap galerye bygevoeg en toe dié titel by Steytlerville weggeraap (ons voel dis ’n bietjie skelm), maar die NG-kerk Steytlerville, met sy enorme orrel (dit het 1046 pype!) en gedetailleerde preekstoel van Amerikaanse eikehout, is nietemin indrukwekkend. ’n Skildery van Dominee Steytler, na wie die dorpie vernoem is, hou wag oor die teekamer en in die kindersaal is daar ’n groot Kerstoneel ─ dié Josef is sweerlik op Stian Bam gegrond.

Dit lyk nie of enigiemand met Dominee Steytler sou skoor soek nie. Die NG-kerk Steytlerville is enorm en pragtig onderhou.

Ons maak dan eers ’n draai in die Vallei van Vlae in Noorspoort soos jy Steytlerville van Jansenville se kant af op die R329 nader. Hier is elke vlag wat Suid-Afrika al ooit landsvlag genoem het, al was dit ook hóé kortstondig of hóé omstrede, in Technicolour op die rotswand aangebring. En, glo ons, daar was báie! Hieruit, en uit die familiewapens wat al langs die hoofstraat hang, is dit duidelik dat Steytlerville se inwoners breëbors oor erfenis is en dit is ’n leersame ervaring vir enige gesin met kinders; ’n bederf vir enige amateur-geskiedkundige.

In die Vallei van Vlae is ál Suid-Afrika se vlae van die jare toet tot nou op die rotswand aangebring. Dit is voorwaar ’n leersame ervaring.

Vir diesulkes sal dit dan ook interessant wees om te let dat dié dorpie vir sewe jaar die tuiste van die digtende dokter A.G. Visser was wie se spreekkamer en huis nog in die hoofstraat te sien is. Hy het ook die kerkkoor gelei en sou Sondae die inleidende gesange dirigeer, uitglip om na ’n pasiënt om te sien, en later terugglip vir die slotpsalms. Ons glo ook Steytlerville se hoofstraat was breed genoeg vir Tant Sien in Visser se bekende gedig Vet.

Nog ’n bekende inwoner is die Springbokspeler en -breier, Dr. Danie Craven, wat rondom 1980 die dogter van ’n gesiene lid van die Steytlerville-gemeenskap die hof gemaak het.

Nog ’n bekende inwoner is die Springbokspeler en -breier, Dr. Danie Craven, wat rondom 1980 vir Beyera Johanna Hayward, die dogter van ’n gesiene lid van die Steytlerville-gemeenskap, die hof gemaak het. Doc Craven en Beyera se seun woon steeds op die plaas in Noorspoort waar hy die Vallei van Vlae onderhou.

Wanneer ons verby al die vlae gery het, maak ons ’n Kaapse draai – ons is darem nog nie op pad uit Steytlerville uit nie ─ en stop onder die koeltebome by die Steytlerville Villa Guest House. Hier kuier ons die res van die middag op die stoep langs die swembad en smul aan eet- en drinkgoed uit die omgewing, waaronder yskoue gin en tonic wat met ’n granaatstroop en aarbeie bedien word, en happies deur die Royal Hotel en Karoo Flavours.

Die Steytlerville Villa Guest House waar ons op die stoep kuier.

Rosie, die gastehuis se eienaar, het vir 35 jaar in ’n laboratorium in die Kaap gewerk, maar ná sy een keer in Steytlerville kom kuier het, het sy besluit om te bly, die villa gekoop en ’n gastehuis oopgemaak. Die villa se geel fasade verwelkom jou en wanneer jy eers binne is, is die lowerryke tuin en Rosie se gasvryheid net ván die redes om te bly.

Rosie, die gastehuis se eienaar, het vir 35 jaar in ’n laboratorium in die Kaap gewerk, maar ná sy een keer in Steytlerville kom kuier het, het sy besluit om te bly, die villa gekoop en ’n gastehuis oopgemaak.

Tog moet ons aanstaltes maak, want ons slaap die aand by die Karroo Theatrical Hotel en is gelukkig dat daar vanaand, soos elke Saterdagaand by dié hotel, ’n vertoning van formaat en flair te sien is. Die eienaars, Mark en Jacques, het in die Kaap gewoon toe hulle sien dat daar ’n hotel net buite Steytlerville te koop is. Hulle het die kans gewaag, sak en pak getrek, die gebou as ’n tipe Karoo-oase vir hulself ingerig ─ en toe klop daar verdwaalde Duitse toeriste aan en vra of hulle kan oorslaap. Vandaar is die Karroo Theatrical Hotel as sulks gebore.

Die Karroo Theatrical Hotel is ’n toweragtige plek vol flair en feestelikheid.

Jacques maak die kos en lewer ’n skouspelagtige vertoning in ’n rits asemrowende nommers wat hy, as ontwerper, self gemaak het en Mark, wat in sy vorige lewe klassieke klaviere gestem het, speel seremoniemeester en konsertpianis. Lees meer oor ons ervaring by dié gewilde hotel hiér.

Ons geniet ’n vertoning deur Layla Lamborgini (aka Jacques) en ’n heerlike ete.

Die volgende oggend val ons douvoordag in die pad na die volgende dorp. Dis met effense spyt dat ons dié Karoodorpie so vinnig moet groet, want ons het dit leer ken as ’n heerlike hutspot waar elke ding tot eie reg kom: van follies-fopdossers tot tradisievaste gesinsmense, kerkgangers tot kunstenaars, bang en beseerde diere tot gefrustreerde renjaers, en die geskiedenis van toentertyd tot teenswoordig, in Steytlerville kry jy alles onder die son in ’n poskaartperfekte pakkie.

Die breë hoofstraat is stil wanneer ons verby die Oorlogsmonument ry. Oor drie ure sal die dorpenaars begin om na die indrukwekkende kerk te keer, maar hulle slaap hopelik almal nog. In hulle plek staan die wapens van Steytlerville se groot families op aandag in die vars oggendluggie om ons af te sien en wuif tot ons om die draai is.   

Die Oorlogsmonument in die middel van die dorp is opgerig ter nagedagtenis aan almal wat gesneuwel het in die Eerste en Tweede Wêreldoorlog.

Bedankings

Baie dankie aan Corné Henderson wat ons in die dorp rondgewys het, aan Johan Trollip van die Royal Hotel, Rosie van Steytlerville Villa en Karoo Flavours vir die heerlike eetgoedjies, Jurie en Michelle van The Veranda vir hulle gasvryheid en aan Mark en Jacques van die Karroo Theatrical Hotel vir die lekker verblyf en vertoning.

Let asb. dat die Karroo Theatrical Hotel tot einde Februarie toe is aangesien die eienaars darem ook moet vakansie hou.

Hooffoto en alle ander foto’s: Adriëtte le Roux, behalwe die Royal Hotel se foto.