Uniondale het ’n diep waardering vir grassnyers by my aangewakker. Jy het reg gelees, nie vir spoke nie maar vir grassnyers, alhoewel Rico Claassen, toerismebeampte van dié dorpie op die N9 waar Roete 62 en die Tuinroete in ’n pragtige dans van vrugteplase en berge bymekaarkom, my en Hestè meedeel dat 99% van mense wat by sy kleurvolle toerismekantoor stop na Uniondale se wêreldbekende spook vra. 

Dit help ook nie dat Uniondale se toerismekantoor (eintlik ’n uitspattige kafeeteater met ’n lessenaar in die hoek) rég agter die polisiekantoor is nie. Dit beteken dat elke Jan Bang wat met hygende asem ’n spookvoorval kom rapporteer dit binne gehoor van die toerismekantoor doen en uiteindelik deel van Rico se spooklêer vorm. Só ’n lêer is nodig, want inderwaarheid het Uniondale nie net één spook nie; dit het verskeie — maar dis nou ’n blog vir ’n ander dag.

Uniondale se toerismekantoor is eintlik ’n uitspattige kafeeteater waar die storie van die dorp se spook en ander konserte opgevoer word.

Met aankoms in Uniondale sien nie ek óf Hestè ’n wasige gestalte nie; net ons eie bleek selwe in die motor se spieëltjies, want daar was nog nie nat of droog oor ons lippe sedert ons douvoordag uit Glentana weg is nie. Uniondale se breë hoofstraat is geraam deur restaurante, ’n slaghuis, ’n Standardbank en antiekewarewinkels in meestal ou, pragtig versorgde geboue. Ná ons vir Rico by die toerismekantoor ontmoet, ry ons ’n entjie verder tot by African Aloe Café vir (genadiglik) ’n koppie koffie en ontbyt. 

African Aloe Café in die hoofstraat, Voortrekkerstraat, is ’n lekker plek vir koffie en ontbyt.

Hier kry ons ’n vinnige oorsig van die dorp en soos ons na Rico se meesterlike vertellings luister, is ek en Hestè albei spyt ons kan nie langer as die oggend in die dorp bly nie — daar is beslis baie meer te doen en te sien. Rico vertel van die onlangse Cape to Coast, ’n uiters gewilde fietswedren tussen Knysna en Uniondale wat sesduisend nuwe asems na dié Klein-Karoo-dorpie gebring het. Ons leer waar Uniondale se water vandaan kom, van die dorp se “vrugtemafia” en die opwindende advertensiebord en standbeeld wat vir die ingang na die dorp beplan word. Dit blyk ook dat Uniondale dié plattelandse wegbreek vir groot sterre is, want hiér is Paljas en die onlangse Fiela se kind verfilm, plaaslike filmstelbouers Alana Willocks en Pierre Fourie werk tot saam met Ridley Scott en Sean Penn, en op ’n keer het Uniondale se WhatsApp-groepies behóórlik gegons toe Brad Pitt en ’n konvooi motorfietse by The Hungry Ghost gestop het. Brad Pitt is nou mooi en als, maar waaroor ek die meeste spyt is, is dat ons nie een van Rico en sy dogter se klavierkonserte in die toerismekantoor kan bywoon nie. Tydens dié konserte sing en vertel hulle op vermaaklike wyse van die dorp se ektoplasmiese inwoners.

Op ’n keer het Uniondale se WhatsApp-groepies behóórlik gegons toe Brad Pitt en ’n konvooi motorfietse by The Hungry Ghost gestop het.

Dié prentjiemooi dorp het beslis baie meer waarvoor ons ’n volgende keer moet terugkeer.

Ons koppe draai van dorpstories wanneer ons van die tafel af opstaan en ek skryf haastig ’n paar dinge soos die Langkloof Gallery and Sculpture Garden, The Hungry Ghost en Rico se spook-revue neer waarvoor ek móét terugkeer. Aangesien Rico geweet het ons tyd op Uniondale is so beperk, het hy vir ons die beste moontlike manier gereël om die dorp in so twee uur se tyd te verken. 

Tydens Rico en sy dogter se klavierkonserte in die toerismekantoor sing en vertel hulle op vermaaklike wyse van die dorp se ektoplasmiese inwoners.

Ek kon sweer ek het ’n grassnyer gehoor toe ons by African Aloe sit en gesels het. Wanneer ons buite kom, staan daar ’n swierige geel toek-toek voor die tuisnywerheid-kafee, Kontrei Lekkerte, ook bekend as “Die Skoonheidsentrum”. Dirkie Coetzee, die eienaar van Uniondale Tours staan vir ons en wag. Soos tipiese plattelanders het Dirkie en sy vrou ysters in ’n hele paar vure; die toek-toek-toere en tuisnywerheid is twee ooglopende ysters en albei lyk belowend. 

Ek en Hestè is reg vir ons toer in die toek-toek! | Foto: Dirkie Coetzee

Die tuisnywerheid se mini-melkterte, ’n besonders gewilde item onder die dorpenaars, is nog aan’t bak sê Dirkie. Miskien kry ons ’n paar in die hande wanneer die toer klaar is. Toekie kan tot ses passasiers vat as hulle hulle skraal hou, dus is dit maar goed dat ons eers ná die tyd melktertjies gaan koop. Dirkie verduidelik dat Toekie, soos hy hom noem, baie meer krag het as wat ’n mens sou verwag as jy hom so kyk.

Dirkie verduidelik dat Toekie, soos hy hom noem, baie meer krag het as wat ’n mens sou verwag as jy hom so kyk.

So begin ons met ons sirkelroete deur die dorp. Al die strate het name, maar Dirkie sê die dorpsmense praat maar van die hoofstraat, bostraat en onderstraat. Klink vir my akkuraat. Ons “snel” eers deur die hoofstraat, Voortrekkerstraat, in die rigting wat ons gekom het en draai dan in ’n systraat af. Elke keer as Dirkie iets wil verduidelik laat hy vir Toekie luier sodat ons bo die gedreun kan hoor of skakel die geelperd af vir langer vertellings. Dirkie is alles van ’n toergids en komediant tot ’n botanis en historikus en daar is nie ’n mens op straat wat nié in die verbygaan waai nie.

Dirkie Coetzee, eienaar van Uniondale Tours, ry Uniondale plat met sy toek-toek.

In die onderstraat wys hy ’n kurkboom uit en leer ons hoe sy kurk geoes word. Die sinagoge wat rondom negentienhonderd vir die dorp se meer as honderd Joodse burgers gebou is is volgende aan die beurt. Ons kan nie vanoggend dié pragtige geboutjie betree nie, want ’n Russiese dame is besig met haar joga-klas. Ek glimlag so half skeef oor dié nuwe plattelandse neiging. Destyds was ’n dorpie ’n dorpie as dit ’n hotel en ’n drankwinkel gehad het; vandag is joga-klasse ook ’n voorvereiste.

Destyds was ’n dorpie ’n dorpie as dit ’n hotel en ’n drankwinkel gehad het; vandag is joga-klasse ook ’n voorvereiste.

Onderstraat is vol van die pragtigste geboue, huise wat uit die 1850’s dateer en met nasionale monumentstatus spog soos die koperplaatjies langs die voordeure te kenne gee. Hulle dra name soos “Genoeg”, “Bontgelap” en “Blydskap”. Die ou dorpswembad wat destyds met leiwater volgemaak is word uitgewys, asook ’n haarsalon waar byderwetse kapsels in ’n historiese gebou opgetoor word.

“Genoeg” is net een van verskeie historiese geboue op die dorp wat pragtig onderhou is.

Die verskeidenheid rose in die dorp se goedversorgde tuine is opvallend en binnekort wys Dirkie vir ons hulle oorsprong: Uniondale se eie rooskwekery. Dié rose word nie opgepiep nie, so hulle kan die Klein-Karoo se snikhete somers deurstaan, om nie te praat van die sneeu wat elke paar jaar op die Kammanassie kom lê nie.

Die Uniondale rooskwekery se hekkie staan oop asof dit ons innooi.

Maar dit is nie net geharde rose wat in die vrugbare Langkloof gekweek word nie. Ons koets trek by Bacon Trees Vetplantkwekery in. Rye op rye spekbome wink en ná ’n draai deur die tuintjie besluit ek op ’n delosperma om by my versameling te voeg. Wanneer ons agter die kwekery deur ’n hekkie stap, stuif ’n soet geur in my neus op. Heuningbos, sê Dirkie en verduidelik vlugtig hoe spesiaal hierdie inheemse tee is. Heelparty variëteite kan slegs wild in die berg geoes word waar dit op ’n sekere hoogte bo seespieël moet groei voor dit tot heuningbostee, baie soos rooibostee, maar soeter, gebrou kan word. Dié tee is dan ook by die kwekery te koop. 

Bacon Trees het verskeie vetplante om van te kies, maar dit is die besonderse heuningbosplantjies wat veral ons aandag trek.

Dan is dit eers tyd vir ’n putjie of twee by die dorp se gholfbaan. ’n Trop angorabokke hou die ruveld onder beheer en kyk skepties toe hoe ek en Hestè ons houe slaan. Hulle kan maar kyk, dit bring nie een van ons twee veel geluk nie. Van die nege putjies is daar ook ’n paar wat uit sand en motorolie bestaan. Dié putjies “zen” ’n mens self mooi plat en reguit met ’n roller voor jy jou hou slaan. 

Toekie (en ’n trop angorabokke) kyk toe wanneer ek en Hestè ons houe slaan. Dirkie rol een van die sandputjies vir ons plat. | Eerste foto: Hestè Nortier

Ons volgende stopplek is die dorp se waterwiel, ook ’n nasionale monument en die grootste waterwiel in Suid-Afrika. Dié bielie van ’n wiel is in die 1850’s gebou en is met groot sorg deur Dalene Matthee gerestoureer toe sy en haar man van Graaff-Reinet af Uniondale toe getrek het sodat hy die Standardbank kon bestuur. Heelparty van die geboue in die dorp se monumentstatus is aan Matthee se ywerige erfenisbeaarbeiding te danke en vandag sorg die Uniondale Historiese Gebouestigting vir die res. As ’n mens, op afspraak, reël om by die restaurant by dié waterwiel te gaan eet, kan jy ook die ratte aan die binnekant sien.

Uniondale spog met die grootste waterwiel in Suid-Afrika!

Op pad na die laaste besienswaardigheid in die dorp, die NG Kerk, ry ons verby heelparty nagmaalhuisies. Dis nou popmooi Karoostylhuise waar boergesinne destyds op die dorp sou kom woon sodat hulle die soetwynseëning by die kerk kon meemaak. Dirkie wys ook die ou koeldrankfabriek uit. Hier is glaskoeldrankbotteltjies met albasters as doppies verseël.

Ons is op pad na die NG Kerk in die bostraat. Doer in die verte is die onderstraat te sien en voor die huisie met die blou dak wink Voortrekkerstraat. Aan die regterkant van die straat is twee tipiese nagmaalhuisies.

By die indrukwekkende NG Kerk kry ek vir die eerste keer in my lewe die kans om Hunchback of Notre Dame te speel. Hestè lyk maar effe bleek by die gedagte aan toringtoertjies en besluit om nié saam te speel nie, maar ek en Dirkie klim tot heel bo in die kloktoring ─ eers met trappe, dan met trappies, dan met ’n houtleer ─ om die kolossale klok en klepel van nader te bekyk.

Ek en Dirkie klim tot heel bo in die kloktoring om die Moederkerk se kolossale klokke te sien.

Dié beier nie so hard soos ’n mens sou dink gegewe die grootte nie, aangesien die klok ’n paar jaar na die kerk se voltooiing die toring skoon aan skerwe gelui het. Daarna is die kloktoring herbou (met ’n ander tipe klip as die res van die kerk), aan ’n houtbalk vasgemaak en vandag is die geskal minder dawerend. Die toring se horlosies word ook al vir meer as vyftig jaar deur dieselfde dorpenaar ingestel. Twee tot drie keer per week moet dié horlosie met ’n ingewikkelde sisteem gewigte, ratte en kabels gestel word. Soos ’n mens, is die klok in die warm somers lui en loop dan stadiger en in die wintertyd, seker maar om ’n bietjie hitte op te bou, loop hy vinniger. 

Die pragtige Moederkerk se kloktoring moes ’n paar jaar ná voltooiing herbou word (van ander klip) aangesien dit skoon stukkend gelui is deur die enorme klokke.

Ons heel laaste bestemming is die kersie op die koek. Ek was skepties, maar wragtig suiker Toekie agter die Moederkerk teen ’n heuwel op tot by een van vier Britse forte in Uniondale en van hier kan ons die dorp in sy geheel waardeer.

Die Britse fort agter die kerk is ’n mooi uitkykpunt en die perfekte manier om ons toer af te sluit.

Bo-op die koppie sien ’n mens die oervlaktes van die Karoo, plat berge wat eens onder water was toe die Karoo nog ’n see was en die mens maar nog ’n glinstering in die geskiedenis se oog. Dirkie gee ons ’n voëlvlug van Uniondale se geskiedenis, die samesmelting van Lyon en Hopedale en ons leer dat die Mannetjiesberg eerste sneeu kry. Ek sou ure hier kon sit, kyk hoe dorp en plase soos ’n geliefde kind tussen die Kouga en Kammanassie ingevou lê, maar ons tydjie in Uniondale staan einde se kant toe. 

Op die koppie kan ’n mens vir Uniondale dóér sien lê, asook die plat berge wat eens die bodem van die Karoo se see was. Dis ’n besonderse manier om hierdie dorpie te groet.

Terug by die tuisnywerheid, skaars twee uur na ons daar weg is, is die melktertjies uitverkoop. Dirkie het nie gejok toe hy sê die dorpenaars het ’n effense afhanklikheid van dié tertjies nie. Ons koop dan maar konfyttertjies, ’n goeie tweede prys en dan moet ons op pad wees met ons terugkom-lysie vól dinge wat ons ’n volgende keer in dié mooi dorpie wil ervaar. Ons toet en Toekie toet ook soos hy in die hoofstraat afry. Ek sal nie sommer weer na my grassnyer kyk sonder om aan ons besige oggend op Uniondale te dink nie.

Tot volgende keer, Toekie!

Baie dankie aan Rico Claassen van Uniondale Toerisme en aan Dirkie Coetzee van Uniondale Tours vir hulle reëlings en gasvryheid. Ons hoop om julle binnekort vir langer te sien! Kontak gerus vir Dirkie by 071 152 1046 om ’n dorpstoer te reël.

Hooffoto: Adriëtte le Roux
Alle ander foto’s deur Adriëtte le Roux tensy anders vermeld.