Lente is om die draai en die warmer weer laat ’n mens se voete sommer jeuk om avontuurlustige doendinge in ons wonderskone land aan te pak. Bergfietsry is nét die ding om die bloed nog warmer deur jou are te laat bruis! LekkeSlaap het ’n hele rits bergfietsroetes in Limpopo opgespoor waar jy wild kan kyk terwyl jy trap-trap die omgewing verken.

Krugerwildtuin

Waar anders in die wêreld kry jy die geleentheid om sommer so tussen die Groot 5 fiets te ry? Dít is beslis ’n item wat op jou emmerskoplysie afgemerk moet word! Die roete begin by die Olifantskamp en word deur twee opgeleide veldgidse begelei om die ses deelnemers se veiligheid te verseker. Die bergfiets, ’n fietsry-helm en ’n rugsak met waterbottels, peuselhappies en sap is ingesluit.  

Moeilikheidsgraad: Matig tot moeilik.
Roetes: Groenroete (21,4 km), Rooiroete (24,8 km) en Swartroete (12 km)
Duur: 3 tot 4 ure, ’n dag lange roete is ook beskikbaar vir meer ervare bergfietsryers.
Terrein: Grondpaaie en wildroetes.

Verblyf

Ngama Tented Safari Lodge | Bundox Safari Lodge | Raptor Retreat Game Lodge | Bulaleni Safari Lodge


Magoebaskloof

Dié area se pragtige, lowergroen heuwels is vinnig besig om die bergfietsmekka te word. Magoebaskloof spog met ’n hele klomp bergfietsry-geleenthede, waaronder die The Magoeba een van die bekendes is. Die roetes is ’n groot gunsteling omdat daar so ’n groot verskeidenheid is ─ een vir elke lid van die gesin! Magoebaskloof is bekend vir sy ongerepte, inheemse woud en volop voëllewe, en die natuurskoon waarborg om enige bergfietsryer sprakeloos te laat.

Moeilikheidsgraad: Matig tot baie moeilik.
Koste: R40 per dag, maar kinders onder 12 jaar word gratis toegelaat.
Duur: Tye kan wissel, afhangend van watter roete aangedurf word.
Terrein: Meestal inheemse woud en bergagtige deneboomplantasies ─ tegniese vaardighede word plek-plek benodig.
Roetes:

  1. Blouroete (5,3 km) ideaal vir gesinne met jong kinders. Die roete is redelik plat en loop al langs die Stanfordmeer en die Ebenezerdam.
  2. Oranjeroete (5 km) lekker vir gesinne wat hulle tegniese vaardighede wil toets. Meer ervare fietsryers word aangeraai om dié roete ’n paar keer te voltooi vir oefendoeleindes. Met só ’n asemrowende uitsig op die Wolkberg en oor die Cheeriovallei, is die klim tot aan die bopunt van die heuwel beslis die moeite werd!
  3. Geelroete (30 km) geskik vir die meeste bergfietsryers. Ons raai fietsryers aan om ’n blaaskans by die rivierstroom te neem en hulle oë oop te hou vir al die interessante voëlspesies.
  4. Groenroete (20 km) meer geskik vir bergfietsryers wat hulle krag en uithouvermoë op die proef wil stel. Die roete is uitdagend, maar beslis die moeite werd.

Verblyf

Bramasole | Cheerio Trout Fishing Holiday Resort | Standford Lake Lodge | Sequoia Garden Retreat


Maduma Boma Game Conservancy

Baie besoekers beskou dié wildreservaat as een van die Bosveld se bes bewaarde geheime. Dis net 30 km van Hoedspruit af en sowat 45 km van die Krugerwildtuin se Orpen-hek af. Daar is ’n menigte wild- en voëlspesies, maar nie een van die Groot 5-lede nie, so besoekers kan enige plek op die privaat wildreservaat stap of fietsry. Die reservaat is wel omring deur ander Groot 5-reservate, so jy kan jou ore spits vir die koning van die Bosveld se gebrul en Oom Olie se kenmerkende getrompetter in die verte. Slegs gaste wat by die wildreservaat bly kan dié roetes gebruik.

Moeilikheidsgraad: Maklik
Roete: 5 km
Duur: Tye kan wissel, afhangend van die fietsryer.
Terrein: Grondpad

Verblyf

Maduma Boma Game Conservancy


Thaba Monaté Game Lodge

Dié lodge skuil in die Waterberge, naby Bela-Bela in Limpopo en bied verblyf in chalets en op ’n kampeerterrein aan. Ongelukkig kan slegs gaste van dié lodge die tegniese bergfietsroete aandurf. Die steil klim tot bo-op die koppie is uitdagend, maar die plato wat daarop volg bied ’n welverdiende ruskans sodat fietsryers die asemrowende uitsig oor die Bosveld kan waardeer. Fietsryers kan gerus hulle oë oophou vir wild, soos, njala, koedoe, blesbok, blouwildebees, bosvark, vlakvark, eland, aardvark en meer!

Moeilikheidsgraad: Matig tot moeilik.
Roete: 10 km
Duur: Ongeveer 2 ure.
Terrein: Heuwelagtig, grondpad ─ tegniese vaardighede word benodig.

Verblyf

Thaba Monaté Game Lodge


Bateleur Nature Reserve

Dié natuurreservaat bied besoekers die geleentheid om die Bosveld te verken en meer vertroud te raak met die Waterberg-ekosisteem. Die reservaat se lekker bergfietsroetes neem jou deur die Waterbergklowe en -plato’s en bestaan uit 7 verskillende sirkelroetes en dagroetes. Ná ’n geswoeg en ’n gesweet sal die damme, rotspoele en fonteine al langs die roetes ’n welkome lafenis vir die moeë lywe wees. Wild soos kameelperde, sebras, elande en blesbokke word gereeld langs die pad gewaar.

Moeilikheidsgraad: Matig tot moeilik.
Roetes: 5 km tot en met 12 km.
Duur: Tye kan wissel, afhangend van die fietsryer.
Terrein: Heuwelagtig, grondpad.

Verblyf

Bateleur Nature Reserve

Jou bergfietsroete-paklysie

Hou hierdie items in gedagte voor jy jou volgende bergfietsroete aandurf:

  • Bergfiets
  • Fietsry-helm
  • Sonskerm
  • Waterbottels met genoeg water
  • Peuselhappies vir energie
  • Beskermende sonbrille
  • Fietsry-handskoene
  • Sneesdoekies
  • Noodhulpkissie-items
  • Kamera
  • Selfoon
  • Pomp of CO2bommetjie (cartridge bomb) vir meer ervare fietsryers
  • Ekstra buiteband of twee
  • Herstelgereedskap vir bande (patch kit)
  • Veelvoudige gereedskap (multi-tool)
  • Buitebandhefboom (tire lever)
  • Kettingskakel met ’n kettingbreker (chain link and breaker)

So, waarvoor wag jy? Stof daardie fietsry-skoene af, kies ’n lekker roete en trap sommer so tussendeur die wild, sodat jy dié unieke ervaring van jou emmerskoplysie kan aftiek!

Hooffoto: Magoebaskloof se bergfietsroete, voorsien deur Magoebaskloof Adventures