Die skoolvakansie kruip al hoe nader en die heel eerste ding waaraan baie mense dink wanneer dit by gesinsvriendelike vakansieplekke kom, is die kus. Wat is dan beter as om jou skoene te kan uitskop terwyl die jongspan hulself vir ure in die sand vermaak? Ja, die son en die see laat selde enige iemand ontevrede, maar wat nou van dié wat vreeslik ver bly of nie betyds hulle huisie by die see kon bespreek nie? Moenie bekommer nie, want in dié blog wys LekkeSlaap vir jou ’n lys gesinsvriendelike plekke in die binneland wat sal sorg vir nét so ’n lekker vakansie vol doendinge vir die hele gesin!

Misty Mountain

Sabie

Misty Mountain is ’n Suid-Afrikaanse Natuurerfenisgebied op die pragtige Long Tom-pas in Mpumalanga. Dit het ’n unieke ligging in die bergagtige platteland met asemrowende uitsigte oor die platorand en die Laeveld. Verblyf word in verskeie eenhede wat daagliks skoongemaak word, gebied, en elke eenheid spog met ’n privaat stoep en ’n braai-area. Ontbyt word by al die eenhede buiten die selfsorg-hoofhuis ingesluit. Die lodge is op die Panoramaroete geleë en is naby alles in die omgewing wat die moeite werd is om te sien, soos die Mpumalanga-platorand, The Gorge Glass Lift, God’s Window, The Pinnacle, Bourke’s Luck-kolkgate, Blyderivierspoort, sowel as die wêreldbekende Krugerwildtuin en aangrensende privaat wildreservate.

Doendinge: Daar is die Long Tom Toboggan, begeleide vierwielmotorfietsroetes, staproetes, visvang en voëlkyk op die perseel.

First Group Magalies Park

Hartebeespoort

First Group Magalies Park Hartebeespoort

First Group Magalies Park is in Hartebeespoort in Noordwes geleë en bied ’n idilliese wegbreek tussen die berge. Verblyf is in 10 eenhede beskikbaar wat in totaal slaapplek vir 38 gaste het, so nooi gerus die res van die familie! Dié eenhede sluit die hotelkamer, eenslaapkamer-cabana, eenslaapkamer-chalet, tweeslaapkamer-chalets en die vierslaapkamer-villa in. Elke eenhede het sy eie stoep, ’n privaat ingang en is ontwerp met eersteklas-vakansiegeriewe in gedagte, soos gemaklike beddens vir ’n uitstekende nagrus, braaigeriewe en ’n uitsig oor die tuin, asook ’n pragtige, groot swembad op die perseel.

Doendinge: Daar is aktiwiteite, soos hengel, bergsfietsry, tennis speel en fietsry op die perseel.

Fernhill Guest Farm

Rheenendal

Fernhill Guest Farm Knysna Tuinroete

Fernhill Guest Farm is buite Knysna in Rheenendal geleë. Dié omgewing is bekend vir kunsvlyt, restaurante, kwekerye en buitelug-avonture, soos verskillende stap- en fietsroetes. Verblyf word in vier kothuise met ’n uitsig oor die plaaslewe en weidende diere gebied. Die kothuise het elk slaapplek vir ses gaste én is troeteldiervriendelik! Hiér kan julle ’n outentieke plaaservaring geniet, ’n koei leer melk en saam met die vriendelike perd en varkies, wat graag aan gaste besoek aflê, kuier.

Doendinge: Daar is verskeie staproetes om aan te durf, bergfietsryers is welkom om hul fietse saam te bring en dié wat die natuur geniet, kan op die uitkyk wees vir vrylopende wild wat hiér voorkom.

Wynford Holiday Farm

Caledonspoort

Wynford Holiday Farm Clarens Vrystaat

Wynford Holiday Farm is die ideale vakansiebestemming vir die hele gesin en sal sorg vir ’n welkome onderbreking van die daaglikse roetine. Hierdie vakansieplaas is in Caledonspoort in die Oos-Vrystaatse Hooglande geleë en bied verblyf in chalets met ’n Switzerse styl wat eenvoudig, maar luuks ingerig is en met ondervloerse verhitting spog — iets wat beslis gedurende die Vrystaatse wintermaande waardeer sal word. Slaap waar jóú gesin gemaklik sal wees in dubbelkamers, rondawels of gesinsuites met skakeldeure. Dié lot klipgeboue en grasdakrondawels in die berge en ’n swembad op die perseel sal jou ongetwyfeld van die stad laat vergeet.

Doendinge: Daar is begeleide staptogte, Zipline, abseil, verskeie grotte om te verken en boomhuise vir kinders in die woud.

Mount Amanzi

Hartebeespoort 

Mount Amanzi Hartebeespoort Noordwes

Hierdie chalets in die Magaliesberge is net ’n entjie se stap van die Krokodilrivier af. Elke ateljee-chalet het slaapplek vir vyf gesinslede en spog met sy eie braaigeriewe sowel as parkeerplek vir een voertuig. Dit is ideaal vir ’n selfsorgvakansie aangesien die kombuis met al die nodige bak-en-brougeriewe toegerus is. Die omliggende natuur sorg vir ’n rustige gesinswegbreek en vir die avontuurlustiges is aktiwiteite soos die kabelbaan by die nabygeleë Hartbeespoortdam beskikbaar. Die oord bied selfs ’n Mini Market-winkeltjie, die Mount Amanzi Spa en die Old Kitchen Restaurant wat vir sy gesinsatmosfeer bekend is en heerlike disse sowel as uitstekende diens waarborg. Verder kan julle die koue en warmwaterswembad op die perseel geniet, en daar is ’n babaswembad spesifiek vir die kleintjies.

Doendinge: Daar is ’n tennisbaan en speletjieskamer op die perseeel en aktiwiteite sluit visvang, avontuurgholf, beplande gesinspeletjies en tafeltennis in.

Kiara Lodge

Clarens

Kiara Lodge Clarens Vrystaat

Nóg ’n pragtige plek vir ’n gesinsvakansie is Kiara Lodge in die Vrystaat. Hiér kan die hele familie sommer bymekaarkom, want daar is slaapplek in 15 verskillende eenhede! Die eenhede sluit tweeslaapkamer-chalets en dubbelkamers met stoepe en ’n privaat ingang en daar is twee- en drieslaapkamer-woonstelle met slaapplek vir vier en ses volwassenes onderskeidelik. Geriewe op die perseel sluit ’n binnenshuise swembad, restaurant, koffiewinkel, spa, kinderoppasdienste en speletjieskamer in.

Doendinge: Daar is ’n springkussing, klimraam en trapbote op die perseel en aktiwiteite soos perdry, tafeltennis, muurklim, bergklim, putt-putt, tennis, pyl-en-boogskiet en voëlkyk.

Seasons Gholf, Leisure and Spa

Brits

Seasons Golf Leisure and Spa Noordwes Bonjala

Bring jou gesin en baljaar in Bojanala in Noordwes, by dié ontspanningsoord wat met 121 hektaar se inheemse natuurskoon teen die noordelike skuinstes van die Magaliesberge in die hartjie van die Suid-Afrikaanse bosveld spog. Verblyf word in luukse lodge-kamers, luukse lodge-eenhede, Premium Villas en Superieure Villas gebied. Die luukse logde-eenhede is perfek vir gesinsvakansies en julle kan een tot vier slaapkamers met ’n kuierarea bespreek. Buiten die gerieflike verblyf is daar ook oorgenoeg aktiwiteite om almal besig te hou, asook geriewe soos ’n restaurant, buitelugswembaddens, ’n koffie- en geriefswinkel.

Doendinge: Daar is voetslaan-, draf- en bergfietspaadjies, voëlkyk-geleenthede, ’n boma-area, gholfbaan, putt-putt, enorme skaakbord en ’n speelarea vir kinders.

Amohela ho Spitskop Country Retreat & Conservancy

Clocolan

Amohela ho Spitskop Country Retreat & Conservancy Vrystaat Malotiroete

Hierdie juweel skuil in ’n vallei tussen Ficksburg en Clocolan en spog met ’n uitsig wat tot by die Malutiberge in Lesotho strek. Verblyf is in sewe eenhede met slaapplek vir twee tot sewe gaste elk beskikbaar en is dus perfek vir groot en klein gesinne. Selfs ou Buksie kan saamkom indien dit vooraf gereël word, so niemand hoef op hierdie vakansie uit te mis nie. Die kothuise word daagliks skoongemaak sodat julle heeltemal kan ontspan en die vakansie ten volle geniet. Julle kan ook die braaigeriewe op die beskutte dek benut.

Doendinge: Die oord is ’n geregistreerde bewarea waar julle kan voetslaan, bergklim, swem met ’n 360 grade-uitsig, voëlkyk, soogdiertjies besigtig, fietsry, en die pragtige natuurskoon met ’n dagrit kan geniet.

So, daar het jy dit! Daar is geen rede om oor die volgende gesinsvakansie bekommerd te wees nie, want hiér is ’n aktiwiteit na elke lid van die gesin se smaak. Bespreek sommer nou jou volgende wegbreek saam met die gesin en wees gereed om ander stom te slaan wanneer jy van jou binnelandse vakansie vertel — wie sou kon dink dat ’n wegbreek sonder seelug nét so vol avontuur en ontspanning soos julle jaarlikse kusbesoek kan wees?

Hooffoto: Kiara Lodge (LekkeSlaap)