Die Wild Frontier is ’n pragtige, minder bekende streek in Mpumalanga wat grense met die suide van Mosambiek, die noorde van Eswatini (voorheen Swaziland) en die suide van die Krugerwildtuin deel. Daar word soms na dié area as die “Wieg van die Lewe” verwys omdat daar meer as drie miljard jaar terug verskeie belangrike argeologiese bevindinge hiér gemaak is — spesifiek in die Makhonjwa-berge wat na bewering van die oudste in die wêreld is. 

Nou watter dorpe kan ek alles in die streek besoek, vra jy? In hierdie blog vertel LekkeSlaap.co.za jou watter dorpies hiér skuil en wat daar alles te sien en te doen is.

Barberton

Dié goudstormloop-dorpie skuil in die De Kaap-vallei en is na Graham Barber, wat een van die dorp se mees suksesvolle goudriwwe ontdek het, vernoem. Dit was die Johannesburg van sy dag in die 1800’s, met fortuinsoekers wat van heinde en verre gekom het vir ’n kans op ’n gelukslag in een van die vele goudriwwe in die area. Vandag stroom mense steeds na Barberton — nie meer vir die goud nie, maar vir die rits besienswaardighede en aktiwiteite wat die dorp bied. Boonop is dit net drie en ’n half uur se ry vanaf Johannesburg en ideaal vir ’n naweekwegbreek, so pak solank jou naweektassie!

Avoca Bridge on the Kaapmuiden to Barberton
Die Avoca-brug op die spoorlyn tussen Kaapmuiden en Barberton. Foto: Wikimedia Commons

So vinnig soos die stormloop arriveer het, het dit ook verwdyn, maar die geboue staan steeds en vandag is die Erfenisroete en myn- en panwastoere van die mees gewilde aktiwiteite in die area. Die Erfenisroete is ’n selfstaptoer deur die dorp met behulp van ’n kaart wat jy by die toerismekantoor of die plaaslike museum kan optel. Begin sommer dan by die museum en leer meer oor die stigting en die geologiese en kulturele geskiedenis van die dorp.

Belhaven Exterior + Old Stock Exchange
Van die geboue op die roete sluit die ou aandelebeursgebou en die Belhaven-huis in. Foto’s: Wikimedia Commons

Die Makhonjwa-berge wat Barberton omring, bevat van die skaarsste rotse op die planeet en die Geotrail is ’n 38 km lange selfry-roete wat jou die kans gee om antieke rotsformasies wat uit die Argaïese Tydperk dateer, meer as drie miljard jaar gelede, van nader te sien. Die gebied rondom die dorp is ook Suid-Afrika se tweede grootste biodiversiteit-brandpunt, naas die Kaapse Blommeryk, wat dit ’n wildspesieparadys maak wat wag om verken te word. Diegene wat op soek is na iets wat die bloed ’n bietjie vinniger deur die are laat pomp, sal bly wees om te hoor dat daar ook talle uitdagende 4×4-, vierwielmotorfiets- en bergfietsroetes, en selfs valskermsweef-ervarings in die area is. Kom durf gerus ’n roete in een van die natuurreservate aan en kyk hoeveel spesies jy kan uitken!

Makhonjwa mountains
’n Uitsig op die Makhonjwaberge vanaf die Geotrail-roete. Foto: Wikimedia Commons

Ná ’n opwindende dag van verkenning kan jy by Fountain Baths Guest Cottages aan die voet van die Makhonjwa-bergreeks kom rus. Dié gastehuis is in 1884 as ’n badhuis vir gouddelwers gebou en spog met die oudste swembad in die Ou Transvaal. Kom bly stapafstand vanaf die dorp en bewonder voëls en apies wat gereeld die pragtige bome en welige plantegroei in die gastehuis se tuin kom besoek.

Fountain Baths
Kom rus by Fountain Baths Guest Cottages aan die voet van die Makhonjwabergreeks. Foto: LekkeSlaap.co.za

Emjejane (Hectorspruit)

Emjejane, of Hectorspruit soos dit voorheen bekendgestaan het, is naby die Krokodilrivier se oewer, oos van Malelane in die suidelike deel van die Krugerwildtuin op die N4 geleë. Die dorp is destyds na ’n hond vernoem … ja, ’n hond. Dié hond se baas, Servaas de Kock, het die spoorlyn tussen Pretoria en Delagoabaai help opmeet en die spoorlyn het dié dorp in Oktober 1891 bereik — dit blyk dat Hector ook ’n sleutelrol in die opmeting gespeel het.

Emjejane het ook ’n groot rol tydens die Suid-Afrikaanse Oorlog gespeel. Generaal Louis Botha en ander leiers het van hier af ’n guerrilla-veldtog begin wat hulle vir 18 ekstra maande in die speelveld gehou het. Vandag is die dorp ’n redelike groot landbousentrum vir die omliggende plase wat hoofsaaklik suikerriet, subtropiese vrugte en groente verbou. Weens die dorp se afstand vanaf die Krugerwildtuin en die omliggende wildsplase en reservate se gerieflike verblyfopsies is dit ’n gewilde oornagplek vir dié wat die Wildtuin kom besoek.

Komatipoort

Komatipoort het ontstaan waar die Krokodilrivier en Komatirivier aan die westelike hange van die Lebomboberge ontmoet en ’n natuurlike grens tussen Suid-Afrika en Mosambiek vorm. Alhoewel die dorpie dalk nie na veel lyk nie, is dit meer as net ’n spoorwegdorp en doeanesentrum — aktiwiteite in die omgewing sluit wildkyk, gholf en tiervisvang in die rivier in.  

komatipoort
Links: Die ou Komatipoort-treinstasie | Regs: Heerlike vrugte word by die mark verkoop. Foto’s: Wikimedia Commons

Dit lê ook net 11 kilometer vanaf die Krugerwildtuin se Krokodilbrug-hek, 5 kilometer vanaf die Lebombo-grenspos na Mosambiek en slegs 65 kilometer van die Eswatini-grens af, wat daguitstappies na elkeen van hierdie bestemmings baie maklik maak. En met een van die lekkerste winterklimate in die land produseer die omgewing se boere die wonderlikste subtropiese vrugte en groente wat ongetwyfeld hul heerlike geure aan die somerhitte te danke het. So, met lekker weer, lekker vrugte en ’n lekker ligging is dié dorp ideaal vir jou volgende wegbreek. 

Klop gerus by Buckler’s Africa Lodge by BON Hotels en Ngwenya Lodge aan vir selfsorgverblyfopsies teen die Krokodilrivier. Dié lodge skuil aan die suidelike grens van die Krugerwildtuin, lê letterlik op die Krokodilrivieroewer en spog met ’n uitstekende uitsig oor die heining van die Wildtuin. Daar is ook ’n fantastiese restaurant op die perseel, Le Fera Restaurant, wat blykbaar die lekkerste pizzas vir kilometers voorsit en op Donderdagaand en Sondagmiddag ’n buffet-ete bedien wat mense van heinde en verre lok. Kom sit hiér op die verhewe dek en hou jou oë vir wild langs die rivier oop.

Hippo Hills, Ngwenya Lodge
Die Hippo Hills-huis by Ngwenya Lodge. Foto: LekkeSlaap.co.za

Kaapmuiden

Met die eerste oogopslag kan hierdie plaasdorpie maar vaal lyk, maar vir dié wat weet, is dié dorpie met sy uitstekende slaghuis, helderkleurige silo en ligging naby die fantastiese Leopard Creek Gholfbaan ’n noemenswaardige dorpie op die N4. 

Kaapmuiden beteken “Mond van die Kaap” en skuil daar waar die Kaaprivier by die Krokodilrivier aansluit. Dié dorpie is in 1895 gestig en was die aansluiting op die Pretoria-Maputo-spoorlyn vir die takspoor van 55 kilometer wat na Barberton gelei het. Wanneer jy die dorp met die N4 nader, kan jy jou oë vir die kleurvolle silo wat op ’n stadium geverf is om besoekers te lok, oophou. Ry deur die dorp en verkyk jou aan die pragtige ou sinkdakhuise in die hoofstraat voor jy een van die plaaslike inwoners nader wink om te hoor waar die gewilde slaghuis geleë is. (Pssst, dis in die hoofstraat by nommer vyf geleë.) Hiér sny die slagter jou vleis nes jy dit wil hê. Maak seker jy gooi ’n pakkie Babalaswors, biltong en droëwors ook in jou mandjie — dis blykbaar nogal iets om oor huis toe te skryf!

Kaapmuiden Silo
Links: Die kleurvolle silo | Regs: Die ou Kaapmuiden-treinstasie. Foto’s: Wikimedia Commons

Die Krugerwildtuin is net 25 kilometer ver as jy ’n bietjie wil gaan wildkyk, Leopard Creek se gholfbaan is ook sowat ’n halfuur se ry ver as jy ’n rondte gholf wil gaan speel, die Kaaprivier bied uitstekende geleenthede vir visvang, en die reservate in die omgewing bied ’n rits opsies vir voetslaan en bergfietsry.

Low’s Creek

Die dorpie is na die Skot David Ireland Low wat ’n goudrif in die omgewing ontdek het, vernoem. In 1895 het die dorp een van die stasies op die spoorlyn tussen Barberton en Kaapmuiden geword en meer mense gelok. Low’s Creek Farm is as bedanking vir die dienste wat hy gelewer het aan Jack Dreyer, ’n lid van die geheime dienste tydens die Suid-Afrikaanse Oorlog, gegee. Hy het nie op die grond geboer nie, maar die Dreyer Hotel bestuur wat later die Low’s Creek Hotel geword het.

Toe die spoorlyn gesluit het, het dit ’n groot impak op Low’s Creek gehad en vandag is die dorp nie meer wat hy was nie. Nou is daar hoofsaaklik padstalletjies waar die landbougemeenskap vars vrugte aan verbygangers verkoop. Die rit deur die omgewing is steeds pragtig en die lappieskombers van boorde, weivelde en plantasies is regtig iets om te sien. 

Net buite die dorp kan dié wat in kuns belangstel ’n draai by die Outsider-kunstenaar Nukain Mabuza se kliptuin maak. In die 1960’s en 1970’s was Mabuza ’n plaasarbeider, maar ook ’n kunstenaar wat ’n buitengewone tuin uit geverfde rotse aan die voet van ’n granietkoppie naby die hoofpad geskep het. Hierdie tuin word as een van slegs 44 kunswerke in die wêreld wat as outentieke voorbeelde van Outsider-kuns geïdentifiseer is, beskou en Mabuza se tuin is daarom ’n nasionale skat. Kom kyk self!

Malelane

Malelane lê op die N4 net buite die Krugerwildtuin. Dit is ’n rustige, vriendelike dorp en as gevolg van die uitmergelende hitte kan ’n mens verstaan waarom die pas hiér soveel stadiger as elders in die land is. Dis ook snaaks om te dink dat een van die oorspronklike stamwoorde van Malelane vermoedelik van die Swazi-uitdrukking “lala”, wat slaap beteken, afkomstig is. Baie gepas!

Malelane gate to Kruger
Die Malelane-hek na die Krugerwildtuin. Foto: Wikimedia Commons

Die Malelane-hek is een van die hoofingange na die Krugerwildtuin en dis nie ’n verrassing dat hierdie dorpie hoofsaaklik vir Wildtuin-besoekers voorsiening maak nie. Daar is ’n hele paar uitstekende lodges en B&B’s in die omgewing, asook supermarkte soos Spar en Pick ’n Pay, so maak seker jy skaf genoeg voorraad aan voordat jy die park binnegaan. 

Hamiltons Lodge and Serenity Mountain
Links: Rus by Hamiltons Lodge and Restaurant naby die hek, of bespreek ’n romantiese wegbreek by Serenity Mountain and Forest Lodge. Foto’s: LekkeSlaap.co.za

Ons stel voor jy bespreek verblyf by Hamiltons Lodge and Restaurant. Dié gesinsvriendelike lodge is net 500 m vanaf die ingangshek na die Wildtuin en bied gerieflike verblyf in luukse kamers en gesinseenhede. Die restaurant op die perseel is ook baie gewild en fokus op plaaslike, seisoenale bestanddele om smaaklike disse te verseker. Hiér kan die ouers binne of buite sit en die kinders kan op die klimraam klouter, onder die reusekremetartboom speel of op die pragtige grasperke rondhardloop. As julle na iets ’n bietjie meer luuks en romanties op soek is, kan julle by Serenity Mountain and Forest Lodge aanklop. Dié lodge bied luukse grasdak-kothuise langs ’n stroom in ’n pragtige woud buite die dorp. Daar is ook voetslaanroetes, piekniekareas, ’n spa en ’n swembad op die perseel.

Saam met die rustige pas en nabyheid aan die Wildtuin is Malelane die perfekte bestemming vir diegene wat die stadsgedruis vir privaatheid en afsondering wil ruil.


Bespreek vir jou ’n lekke blyplek in die Wild Frontier, of maak sommer ’n hele roadtrip daarvan en besoek dié streek dorp-vir-dorp. Dié versteekte juweel in Mpumalanga wag om verken te word!

Hooffoto: Buckler’s Africa Lodge by BON Hotels op LekkeSlaap.co.za