Prince Alfred Hamlet is in 1861 op die plaas Wagenboomsrivier gestig en vernoem na die Britse koningin Victoria se tweede seun. So nee, ons praat nie hier van Prins Albert in die Klein Karoo nie. Waar lê dié dorp dan nou eintlik, vra jy? Prince Alfred Hamlet, of Hamlet soos die plaaslike inwoners dit noem, is ’n piepklein dorpie wat sowat 10 kilometer noord van Ceres op die R303 skuil.

LekkeSlaap het onlangs koers gekies na die Witzenbergvallei om dié omgewing te gaan verken. Ons het ook by die jaarlikse Hamlet Kuns- en Kultuurfees gaan kuier om uit te vind waarom die omgewing én die fees ’n besoek werd is.

Die Witzenbergvallei

Die Witzenbergvallei bestaan uit vyf dorpies: Ceres, Tulbagh, Wolseley, Op-die-Berg en Prince Alfred Hamlet. Die plase in die omgewing produseer hoofsaaklik sagtevrugte en aartappels. Dié streek se perskes, pere en pruime word ook na lande regoor die wêreld uitgevoer.

Die vallei is ook ’n gewilde toeristebestemming vir gesinne en avonturiers. Daar is ’n magdom doendinge, soos erfenistoere, staproetes, 4×4-roetes, abseil, visvang, bergfietsroetes, rotskuns, wild- en natuurreservate, sterrekyk, voëlkyk, kersie- en vyepluk en sneeu in die winter.

Hamlet Kuns- en Kultuurfees

Hamlet het skielik in die 21ste eeu bekend geword toe die verbouing van vrugte in die omgewing toegeneem het. Dís dan ook die rede waarom die goederetrein in Hamlet kom draai voordat dit weer terug Kaap toe stoom afblaas. Die trein is byna die enigste beweging wat dié salige dutjiesdorp van tyd tot tyd versteur. Die naweek van die 20ste Oktober was daar egter ’n ander tipe rumoer wat vir groot opwinding gesorg het.

Die Hamlet Kuns- en Kultuurfees het vanjaar vir die vyfde keer ’n opskudding in die Witzenbergvallei veroorsaak. Volgens Nica du Toit, bemarkingsbestuurder van die fees, is die doel om Hamlet as ’n dorpie op sy eie te vestig. “Ons is deel van Ceres, maar ook nie,” sê Nica. Die fees vier dus die dorpie se kuns en kultuurerfenis.

Die Hamlet Kuns- en Kultuurfees het Vrydag, 20 Oktober, afgeskop met verskeie byeenkomste, soos die FNB Agridag, Mej. HKKF, ’n pretdraf en Francois Haasbroek wat die biertent tot laat vermaak het. Die Saterdag was die fees behoorlik op dreef! Die fietsryers was reeds vroeg uit die vere om aan die bergfietsry-kompetisie deel te neem, terwyl die res van ons eers bietjie later aangesluit het vir die amptelike feesopening. Daar was heeltyd iets om na uit te sien ─ van die klassieke motor-optog, skaapskeer en ’n Carl Stassen-veiling, tot die rieldansers en ’n opwindende lugvertoning deur die Silwer Valke. Saterdagaand is die feesgangers tot laat op hulle voete gehou deur die Jimm Harisson Band wat oorspronklike musiek en ander kunstenaars se treffers in die hooftent gespeel het ─ en die mense het gedans soos net die plattelanders kan!

Daar was selfs vermaak nét vir die kleingoed! Buiten die springkastele en waterglybane wat hulle die hele naweek besig gehou het, was die brandweermanne se skuimpret ’n welkome lafenis in die warm son. Later het Regardt, die kulkunstenaar, saam met die mimikus en die steltloper die kinders laat skaterlag in die hooftent, terwyl mamma en pappa onder die sambreel in die biertent ontspan het.

’n Fees is natuurlik nie ’n fees sonder ’n hele rits kos- en kunsvlytstalletjies nie. Die roosterkoeke en pannekoek was héérlik, om nie eens te praat van die afval nie ─ die feesgangers het behoorlik tougestaan! As jy nie ’n sakkie appels, pere of perskes gekoop het nie, weet ek darem nie ─ dit is immers die sagtevrugte-vallei! So, doen jouself ’n guns en teken dié fees op jou kalender aan vir volgende jaar, want een ding is seker: #dislekkerbydiehkkf!

Doendinge

Ceres Zipslide Adventure

Ceres Zipslide Adventure lê sommer onmiddellik links aan die voet van die Schurweberge wanneer jy Ceres met die Michellspas binnekom. Dis eintlik baie gerieflik, want só kan jy jou besoek aan die omgewing opwindend begin. Dié zipslide is ’n 1,4 kilometer lange eko-avontuur wat uit agt glykabels bestaan wat elkeen 100 tot 290 meter lank is. Dit mag dalk lank klink as jy een van dié is wat effens aan hoogtevrees ly, maar wanneer die adrenalien eers inskop en jy jou innerlike Tarzan vind, is dié avontuur weer heeltemal te vinnig verby!

Volgens Demetri Van Rooyen van Ceres Zipslide Adventure, verkies hulle dat besoekers vooraf bespreek. Hulle maak egter ook ’n punt daarvan om nie instapgaste weg te wys nie en sal jou so gou moontlik dié vinnige ervaring laat beleef. Dis groot pret vir ’n gesinsuitstappie, spanbou, ’n ramparty of ’n verjaarsdagpartytjie. Alhoewel daar spesiale tariewe aangebied word vir groepe van meer as 10, kan hulle ook kleiner groepe akkommodeer. Ceres Zipslide Adventure wil graag hê dat elkeen dié avontuur ten minste een keer moet beleef, en is dus baie trots daarop dat hulle die glykabels ook vir mense met gestremdhede toeganklik maak.

Pretfeit: James Blunt het ook al hiér in die Schurweberge kom Tarzan speel!

Tremor Coffee Bar

Tremor Coffee Bar is ’n nuwerwetse koffiekroeg in Ceres se hoofstraat. Die sjiek dekor laat jou omtrent heeltemal vergeet dat jy eintlik in die platteland is ─ ’n mens sou sweer dis ’n luukse koffiekroeg in die middestad! Dié lekker uithangplek gebruik varsgemaalde Duluxe Coffeeworks-bone om besoekers die beste koffie moontlik voor te sit. Tremor bedien onder andere ook ligte etes, soethappies en melkskommels. So, kom loer gerus in vir ’n heerlike koppie koffie en bring die kleingoed saam ─ daar is selfs ’n speelarea waar hulle sorgeloos kan kerjakker!

Ceres Rail Company

Derick du Toit het die idee gehad om historiese lokomotiewe te restoureer en die spoorlyn wat deur die vallei loop weer nuwe lewe te gee. In 2012 is die spoorlyn, in samewerking met Transnet, heropen. Oor naweke word die lokomotiewe ingespan om toeriste vanuit die Kaap na die vallei te vervoer. Die goederetrein wat gedurende die week die omgewing besoek, help Ceres Rail Company om die toerisme-deel van die maatskappy moontlik te maak en ook om die spoorweë in stand te hou. Die Ceres Rail Company is passievol daaroor om die nostalgie van ou lokomotiewe te hervestig, en restoureer die lokomotiewe sodat jonk en oud dit weer kan geniet. Besoek gerus hulle webtuiste en bespreek ’n lekker uitstappie vir die gesin of groep vriende ─ dís nou iets om oor huis toe te skryf!

Horse About

As jy op soek is na ’n buitengewone doending vir jou en jou wederhelf, gesin of vriende, is Horse About die antwoord! Die perdryroetes begin by die pragtige De Heuvel-plaas naby Ceres en loop deur magiese woude, inheemse fynbos, tot bo aan die voet van die Witzenberge met uitstekende uitsigte. Veiligheid en gemak is ’n prioriteit, daarom word elke ruiter se perd-pasmaat mooi gekies. Of jy nou ’n gesoute ruiter is, en of jy nog nooit op ’n perd se rug geklim het nie ─ daar is ’n perd vir jou! Horse About maak voorsiening vir paartjies, spanbou-groepe, en kinders, so besoek hulle webtuiste sodat jy die Kaapse Wynlande op dié unieke wyse kan verken.

Tolhuis Bistro

Dit maak nie saak waarom jy die Witzenbergvallei besoek nie, jy moet net eenvoudig by die Tolhuis Bistro op die Michellspas gaan aanklop vir die lekkerste roosterkoek in die vallei! Dié oulike bistro is ’n uitstekende kuierplek in die pas. Besoekers kan lekker in die winter voor die knus kaggel kom kuier, of in die somer buite onder die bome ietsie koud geniet. Moenie bekommer as jy by die voordeur “kaalgatte” op die spyskaart lees nie. Dis omdat die eienaars, wat albei voormalige joernaliste is, besluit het om “storiekos” in hulle bistro te bedien. Die “kaalgatte” is byvoorbeeld roosterkoeke sonder ’n vulsel, en die “strip show met chips en chakalaka” is sappige rumpsteak-repies, twee stukke boerewors, ’n skilpadjie, aartappelskyfies en natuurlik chakalaka. So doen jouself ’n guns en bespreek vooraf ─ die Tolhuis is baie gewild!

Ander doendinge

Verder is daar soveel meer om te doen in die Witzenberg. Buiten die Wittebrug Natuurreservaat en die Ceres Bergfynbos Natuurreservaat is daar verskeie voetslaanroetes in die omgewing en uitstekende voëlkyk-geleenthede ─ veral op die Gydo-pas anderkant Prince Alfred Hamlet. Dié pas en die Michellspas is ook ideaal as jy in die bui is vir rondry en op soek is na ’n mooi uitsig. Daar is ook lekker visvang-geleenthede, veral by The River Siding ─ ’n groente- en vrugteplaas langs die rivier tussen Ceres en Wolseley. So, bring jou visstok en kom kyk of jy ’n grote kan uittrek!

Big Sky Cottages

Willie Naude het in 2006 ’n plaas gekoop hoog teen die hange van die Mostertshoekberge met ’n lieflike uitsig oor die Wolseley-vallei. Omdat die plaas so hoog teen die berg lê, kon ’n mens nie daar boer nie. Willie het egter die potensiaal gesien om dit in verblyf te omskep, aangesien dit lekker naby al die trou-venues in die omgewing is. Só het Big Sky Cottages byna ’n jaar terug sy deure oopgemaak.

Daar is 10 kothuise wat elkeen uitstekend toegerus is vir selfsorg. Jou kothuis het een koningingrootte-bed, maar as jy die kinders wil saambring kan die slaapbank in die sitkamer ook ingespan word. Jy word nie net voorsien van ’n platskerm-TV met DStv-kanale nie, maar ook van gratis WiFi! In die winter kan jy voor die knus kaggel opkrul en in die somer lekker buite op die dek voor die braaiplek kuier. Trek die gordyne terug en maak die skuifdeure wawydoop sodat jy die asemrowende uitsigte behoorlik kan geniet!

Jou kothuis het ook ’n eerlikheidshouer met verskeie produkte wat te koop is. Van olyfolie en heuning uit die omgewing, tot tandepasta, hout en boegoeprodukte van die boegoe wat op die plaas groei. Daar is ook ’n lêer in die kothuis wat jou alles van die omgewing vertel ─ selfs ’n lys van doendinge en eetplekke waar jy afslag kan kry as jy jou Big Sky Cottages-sleutelhouer wys! Verder kan jy lekker langs die gemeenskaplike swembad op die sonstoele kom ontspan, terwyl die kleinspan op die klimraam klouter. Kom wys jou staal op die rolbalbaan, hou die springbokke dop wat op die plaas wei, en verken die plaas te voet ─ oppas net vir ou kees!

Loer hieronder na nog ’n paar gunsteling-verblyfopsies in die vallei:

Hamlet Country Lodge | Die Kloof | Prospect Rondawel & Lapa | Oubos by Ouplaas

Daar het jy dit! Teken die Hamlet Kuns- en Kultuurfees op jou kalender aan en bespreek vandag nog verblyf sodat jy nie volgende jaar uitmis op die grootste paartie in die vallei nie! Maar as jy brand om die omgewing sommer nou al te gaan verken, besoek gerus ons webtuiste om ’n lekker wegbreek te bespreek.

Hooffoto: Daniëlle Terblanche

Al die foto’s is deur Daniëlle Terblanche geneem, tensy anders aangedui.