’n Behoorlike besoek aan die Klein-Karoo het nog altyd in my reisgeskiedenis ontbreek en toe Laura van Berluda Farmhouse & Cottages my vir ’n naweek na die hartjie van dié mooie streek nooi, het ’n byna tasbare opgewondenheid oor ’n besoek aan Oudtshoorn my moeë kantoorlyf met nuwe woema gevul. 

Dis ’n snikhete Vrydagmiddag in die Klein-Karoo en nes ek die linkerdraai na die Schoemanshoekvallei sowat sestien kilometer buite Oudtshoorn neem, sien ek Berluda se groendakkothuise in die verte pronk. Ten spyte van die Karoo se droë klimaat, is daar verbasend baie groenigheid wat besoekers hiér tussen Oudtshoorn en die Swartbergpas na hul rusplek roep. Berluda is in die Swartberge se voorheuwels en naby die Kangogrotte geleë, en ouwêreldse dorpies soos Prins Albert en De Rust is nie té ver weg nie.

Met die intrapslag by die ontvangsarea in die plaashuis is dit duidelik dat Laura, Berluda se eienares, geen moeite ontsien het om Berluda Farmhouse & Cottages in ’n luukse toevlugsoord te omskep nie. Berluda beskik oor selfsorg-gesinskothuise en weelderige kothuise wat elk twee slaapkamers, ’n privaat braai, ten volle toegeruste kombuis, spa-bad in die badkamer en ’n manjifieke uitsig oor die perseel het. In die plaashuis is daar ook luukse dubbelkamers wat pragtig opgeknap is, elk met ‘n privaat ingang, spa-bad en lugversorging. Daar is ook wittebroodkothuise wat ’n selfsorg-opsie bied.

Met die intrapslag by die ontvangsarea in die plaashuis is dit duidelik dat Laura, Berluda se eienares, geen moeite ontsien het om Berluda Farmhouse & Cottages in ’n luukse toevlugsoord te omskep nie.

My tuiste vir die eerste nag is een van die gesinskothuise aan die bopunt van die perseel wat ’n uitsig oor die gasteplaas bied, en soos ek in tweede rat teen die steiltes na die kothuis ry, sien ek Laura het gesorg dat ek die beste uitsig oor die plaas het. Twee borde met verskeie soorte vleis, kaas, brood, vrugte en soethappies wag my in die kothuis in. Ek sit lankuit op Berluda se stoep en smul aan die heerlike versnaperings terwyl ek aan ’n glasie Karusa Sauvignon Blanc, ’n plaaslike wyn wat by Berluda te koop is, teug. Die skemer se kriekekoor hou my geselskap en soos die Karoonag oor Berluda se vlaktes daal, weet ek dat ek reeds in die Klein-Karoo tuis is.

Die skemer se kriekekoor hou my geselskap en soos die Karoonag oor Berluda se vlaktes daal, weet ek dat ek reeds in die Klein-Karoo tuis is.

Dis ’n koel Saterdagoggend in Oudtshoorn en ek is dou voor dag uit die vere om saam met Ryno en Leon, Berluda se gidse, die vlaktes in te vaar op soek na Berluda se eie meerkatgesin. Ná ’n ent se ry maak ons ons tuis teen ’n hoogte wat op die meerkatgesin se skuiling kyk en geniet ’n koppie boeretroos en varsgebakte beskuit terwyl ons wag vir die son om dié klein diertjies wakker te maak. Met sonsopkoms begin meerkatkoppies een vir een by die skuiling uitsteek en voor ons ons oë uitvee, staan ’n meerkatgesin van twaalf elkeen penorent om ’n bietjie in die son te bak voor hulle uitgaan om kos te soek. Ons ry nader aan die skuiling om beter te sien en tot my groot verbasing is daar glad vier kleintjies wat hul verskyning maak. Ryno en Leon vertel my alles wat daar van meerkatte te wete is en ons sit heerlik terug in die wildkykvoertuig en kyk hoe die meerkatte oor die Karoo-vlaktes heen verdwyn.

Met ’n kop vol meerkatkennis keer ek na Berluda se plaashuis terug om vir ’n stewige plaasontbyt aan te sit. Die vuurherd in die ontbytkamer knetter en kraak om die dun Karoo-luggie wat by die voordeur inloer te stuit. ’n Verskeidenheid ontbytgrane, vars vrugte, jogurt, volstruisroereier, spek, boerewors en roosterbrood is op die spyskaart en ek eet my trommeldik voor ek weer saam met Ryno en Leon vertrek vir Berluda se bekende volstruisplaastoer. 

Berluda is een van Suid-Afrika se grootste volstruisboerderye en die Schoeman-gesin bied ’n opvoedkundige toer van die plaas om vir besoekers meer insig oor ’n volstruisplaas se bedrywighede te gee. Leon en Ryno neem my na die broeiery op die dorp en verduidelik die hele broeiproses ─ van die lê van die reuse-eiers, tot die volstruiskuiken se uitbroei. Ek is gelukkig dat een van die volstruiskuikens sy verskyning maak toe Leon een van die broeikaste oopmaak! Ná ek my aan die klein volstruislewe verkyk het, is dit tyd om saam met Ryno en Leon na die plaas te gaan waar hulle my die verskillende volstruiskampe wys. Daar is kampe met jong volstruise waarvan die geslag nog nie duidelik is nie, kampe met broeipare en kampe met ma’s en kuikens. Verder vertel Ryno en Leon my meer oor unieke produkte soos leer-, veer- en gesonde vleisprodukte wat volstruisproduksie kan oplewer. ’n Mens kan amper nie glo dat hierdie langnekdiere so ’n diverse boerdery noodsaak nie. Berluda se volstruisplaastoer is voorwaar ’n belewenis en ’n móét vir al Oudtshoorn se besoekers!

Ek is gelukkig dat een van die volstruiskuikens sy verskyning maak toe Leon een van die broeikaste oopmaak!

Ná ’n opwindende dag, sit ek vir aandete in Berluda se restaurant aan. Terwyl ek aan varsgebakte roosterkoek met plaasbotter smul, gooi Leon sappige volstruisfilette en hoendersosaties oor die kole. Dit word saam met geroosterde groente en ’n aartappelgereg bedien. Die aandete word met malvapoeding en roomys afgerond en dan is dit tyd om my laaste aand in Berluda vaarwel te roep. Ek droom van meerkatte en volstruiseiers in een van die luukse kamers in die plaashuis en ná ’n goeie Klein-Karoo-nagrus is dit tyd om huiswaarts te keer. 

Met ’n swaar hart laat ek die Klein-Karoo se vlaktes in my truspieël agter. Ek het dit as vreemdeling aangetref, maar ná ’n naweek by Berluda Farmhouse & Cottages, weet ek ek is tuis in die Grootvoëlparadys.

Hooffoto: LekkeSlaap