Soos gesien op Maroela Media.

De Rust, die “kleiner Oudtshoorn”, die dorp waardeur jy op pad Kangogrotte toe jaag, net nóg ’n klein Karoodorpie … 

Wat wou! LekkeSlaap.co.za sien baie Karoodorpe ─ ons ag onsself kundiges op dié gebied ─ en De Rust is nie sommer net een van hulle nie. Dit is ook beslis nie ’n dorpie waardeur jy maar net jaag nie, want dan loop jy ’n paar skatte mis. So, maak hiér ’n dorpiedraai.

Winkels met ’n kinkel

Doornkraal Padstal
Doornkraal Padstal

… en kan jy vir een van die heerlikste roosterkoeke in menseheugenis aansit ─ nogal teen ’n billike prys!

As jy De Rust van Oudtshoorn se kant af benader, tref jy Doornkraal Padstal so tien kilometer duskant die dorp aan. Hier kreun die rakke onder plaaslike produkte, wyn en ingelegde lekkernye, en kan jy vir een van die heerlikste roosterkoeke in menseheugenis aansit ─ nogal teen ’n billike prys! 

In die dorp self bied Gestewel en Gespoor (ook bekend as Jan Venter en die ma van sy kinders se winkel) leer- en houtprodukte wat veral in Pa en Seun se smaak sal val. Willie Immelman bestuur ook die toerismekantoor van hier af, so knoop gerus ’n geselsie aan. 

Daar is winkels te kus en te keur soos toergids Willie Immelman (links) en Niekie (regs), eienaar van The Village Trading Post, ons gewys het.
Daar is winkels te kus en te keur soos toergids Willie Immelman (links) en Niekie (regs), eienaar van The Village Trading Post, ons gewys het.

By geskenkwinkels soos Klapperbos en Karoo Rouge loop ’n mens plaaslike kuns, vellies in allerhande kleure en welriekende seep met plaaslike olyfolie wat die vel voed, raak. The Village Trading Post kan aan die reusehaan op die stoep uitgeken word. Dit is nie net ’n restaurant en kroeg nie, maar een van die eienaars, Soon, beoefen ook sy kuns as juwelier in die geskenkwinkel ten aanskoue van klante.

Of jy nou Chappies soek of nie, maak ’n draai by die Casablanca Kafee. Dié outydse winkel waar ’n mens nog items oor die toonbank aanvra, is propvol ou filmplakkate waarop Marilyn Monroe, Humphrey Bogart en James Dean smeul.

By Casablanca Kafee koop jy nog oor die toonbank soos in die ou dae.
By Casablanca Kafee koop jy nog oor die toonbank soos in die ou dae.

As jy weet jy gaan die naweek in De Rust deurbring, is dit uit en uit die moeite werd om vooraf ’n organiese groentemandjie by Numbi Valley Permaculture Farm te bestel. Jy kan ook hiér oorslaap!

Bestel ’n organiese groentemandjie by Numbi Valley Permaculture Farm ─ en slaap sommer oor!
Bestel ’n organiese groentemandjie by Numbi Valley Permaculture Farm ─ en slaap sommer oor!

’n Dag oppie De Rust-koppie

Die Karoo is bekend vir sy koppies, maar die De Rust-koppie is régtig iets spesiaal. Dit word vir enigeen, selfs dié met ’n basiese belangstelling in plante, aanbeveel, want dit spog met meer as driehonderd plantspesies. Sommige plante, soos die miniatuur-kopieva en aalwynrosie, sal jy nét hier aantref! Verskeie wildemalvas tooi ook dié koppie en as jy dit nie geweet het nie vertel ons jou nou: die malva is besonders spesiaal vir De Rust se mense ─ daar is tot ’n gastehuis, Die Malvahuisie, na dié plant vernoem!

Die Malvahuisie se naam wys hoe belangrik hierdie blom in De Rust is.
Die Malvahuisie se naam wys hoe belangrik hierdie blom in De Rust is.

Dit is in die nabygeleë Meiringspoort waar Heinrich Bernhard Oldenland, ’n VOC-tuinier, in 1689 ’n enkele steggie van die Pelargonium zonale, ’n tipe malva, gepluk het. Binnekort het dié nederige steggie sy weg tot in Europa en vandaar na die Verenigde Koninkryk en Amerika gebaan. Vandag is die helderkleurige, moeitelose malva ’n pronkstuk in venstertuine regoor die wêreld en ons eie De Rust is die begin van dié fraai verskynsel!

Vandag is die helderkleurige, moeitelose malva ’n pronkstuk in venstertuine regoor die wêreld en ons eie De Rust is die begin van dié fraai verskynsel!

Van die plantegroei wat jy op De Rust se koppie kan sien, met dank aan Willie Immelman vir die foto’s.
Van die plantegroei wat jy op De Rust se koppie kan sien, met dank aan Willie Immelman vir die foto’s.

So, onthou om ’n pamflet by die toerismekantoor te kry om jou soektog af te skop, trek jou vergrootglas nader en smeer sonbrandroom aan om die unieke habitat bo-op De Rust se koppie van nader te bekyk.

Proe ’n bietjie hier 

Te danke aan die koue winters en warm somers is die Klein-Karoo perfek vir die verbouing van olywe en druiwe, dus kan jy na hartelus wyn en van die wêreld se top-olyfolie in De Rust proe. 

Ons stel voor jy geniet ’n wynproesessie by Doornkraal Padstal. Nie net is die verskeidenheid verstommend nie, maar die etikette is deur die Le Roux-familie in digterlike Afrikaans geskryf en het ons harte sommer warm laat klop. Hoewel daar ook ’n rooi versnit en ’n chenin blanc is, is dit met die soeter wyn, muskadel, jeropigo, sjerrie en vonkelwyn wat Doornkraal uitstyg. 

Ons het sommer drie Kannaland-rooiwynbottels as geskenke huis toe geneem. Foto's: Lisa Slippers.
Ons het sommer drie Kannaland-rooiwynbottels as geskenke huis toe geneem. Foto’s: Lisa Slippers.

Wanneer jy op die Oude Muragiepad afdraai, is De Rustica en sy bekroonde olyfolies ná so ’n entjie aan jou regterkant. De Rustica het vanjaar vier goue toekennings by die SAOlive Awards en goud by die Wêreld Olyfoliekampioenskappe in New York en by die Sol d’Oro Internasionale Olyfoliekompetisie ingepalm, en sit selfs landgoedere in Italië en Griekeland ore aan. 

Koop ’n bottel olyfolie vir elke dis by De Rustica.
Koop ’n bottel olyfolie vir elke dis by De Rustica.

Vanaf elfuur op weeksdae kan jy ’n opvoedkundige toer en proesessie hiér geniet ─ maak net seker jy bespreek vooraf. Tydens die toer word jy deur die boorde en fabriek geneem, leer jy hoe en wanneer die olywe van die bome afgekam word en proe jy verskillende olyfolieversnitte en kultivars om te leer hoe gehalte-olie die geure in verskillende disse komplementeer. En, na ’n besige dag in die olyfboord, kan jy salig by Asher Stable Stay op die plaas slaap.

Asher Stable Stay is op die De Rustica-olyfandgoed.
Asher Stable Stay is op die De Rustica-olyfandgoed.

Vars lug te voet, fiets of perd

Vir buitelugentoesiaste is daar ook ’n rits redes om regdeur die jaar na De Rust terug te keer. 

Die Meiringspoort Challenge vind in Mei plaas. Deelnemers kan tussen drie roetes met verskillende afstande wat deur een van Suid-Afrika se mooiste bergpasse kronkel, kies. Daar is ook twee velddraf-roetes deur die poort wat jaarliks in September of Oktober aangebied word. 

’n Prentjiemooi perdrit saam met 2Doorn Equine. Foto: Lisa Slippers
’n Prentjiemooi perdrit saam met 2Doorn Equine. Foto: Lisa Slippers

Die hele gesin kan ook ’n perdrit op die prentjiemooi Doornkraal-plaas saam met 2Doorn Equine geniet. Die vriendelike perde stam van die boerperd af en het ’n rustige temperament wat vir ’n genotvolle rit sal sorg. Daar is verskillende roetes om van te kies en ons s’n het met Doornkraal-glühwein, geroosterde neute en droëwors op ’n koppie bo die plaas geëindig  ─ die toppunt van bederf! 

 As die perderit jou ’n bietjie pootuit gelaat het, hoef jy nie ver te gaan om te rus nie. Daar is twee pragtige verblyfopsies op Doornkraal, die Doornkraal Kothuis en Kerneelia Kothuis.

Kerneelia Kothuis is ’n “off-the-grid”-kothuis met al die geriewe vir ’n lekker Karoo-kuier.
Kerneelia Kothuis is ’n “off-the-grid”-kothuis met al die geriewe vir ’n lekker Karoo-kuier.

Besoek Meiringspoort se meermin

Dié pas, wat die Klein- en Groot-Karoo verbind, is so mooi dat dit maklik is om te sien waarom Meiringspoort as inspirasie vir kunstenaars soos Tinus de Jongh en Pierneef gedien het. 

Meiringspoort in lewende lywe (links) en Tinus de Jongh se skildery daarvan (regs).
Meiringspoort in lewende lywe (links) en Tinus de Jongh se skildery daarvan (regs).

Die poort vorm deel van die Swartberg Natuurreservaat en besoekers kan van fynbos en rivierplantegroei, tot boom- en varingspesies kenmerkend aan die Knysnawoud in één poort aantref. Dit is weens die mikroklimate wat deur die rotse geskep word. Daar is ook ’n kans dat besoekers dassies, klipspringers, bobbejane, rooikatte, die groototter en 76 voëlspesies sal raaksien.

Die poel waar Meiringspoort se meermin glo woon (links) en ’n kees wat skepties oor die meerminstorie is (regs) Foto: Willie Immelman.
Die poel waar Meiringspoort se meermin glo woon (links) en ’n kees wat skepties oor die meerminstorie is (regs) Foto: Willie Immelman.

Dis egter nie al wat poortgangers kan gewaar nie! Sedert die pas in 1858 oopgemaak het, het die pad al verskeie kere verspoel. Volgens die legende word die poortvloede deur ’n wispelturige meermin wat in die poort se boonste poel woon, veroorsaak.

Volgens die legende word die poortvloede deur ’n wispelturige meermin wat in die poort se boonste poel woon, veroorsaak.

Wanneer dié waternimf voel mense respekteer haar nie, saai sy verwoesting aan die onderpunt van haar waterval. In 1996, ná ’n baie erge vloed, het die storie só ver geloop dat die meermin weggespoel het en in Mosselbaai deur vissermanne gevang is. Daarna is sy na die C.P. Nel Museum in Oudtshoorn geneem. Die museum se kurator het só gesukkel met oproepe en skares by die museum as gevolg van dié bogstorie, dat die polisie ontbied is om die “meermin” (’n pop met ’n stert) seremonieel na die poort toe terug te neem. 

Daar is ’n gerieflike parkeerarea en publieke ablusiegeriewe wat baie goed onderhou word by Meiringspoort se waterval.
Daar is ’n gerieflike parkeerarea en publieke ablusiegeriewe wat baie goed onderhou word by Meiringspoort se waterval.

Wees dus op die uitkyk vir die meermin en betoon respek as jy tot by die waterval stap en in die poele afkoel. En, as jy van De Rust se kant af kom, kan jy ’n boekie by die toerismekantoor kry waarin die geskiedenis van die poort en elk van sy 25 driffies saamgevat is. 

Perfek vir daguitstappies

Buiten al die vriendelike mense en prettige doendinge in De Rust self, is dit ook die perfekte basis vanwaar daguitstappies onderneem kan word. ’n Uur agter die stuur en jy is in die bekoorlike dorp, Prins Albert. Die Kangogrotte kan via die Oude Muragiepad (42 kilometer) of die Oudtshoornpad (68 kilometer) bereik word en Oudtshoorn se middedorp is net veertig kilometer ver. As jou motor vir meer kans sien en ’n hoë grondvryhoogte het, kan jy die skouspelagtige Swartbergpas aanpak en betyds in De Rust terug wees vir ’n braai op die stoep met ’n uitsig op die berge.

Swartbergpas (links), ’n kenmerkende Karoo-kothuis in Prins Albert (middel), die Kangogrotte (regs). Foto’s van BigStock en LekkeSlaap.
Swartbergpas (links), ’n kenmerkende Karoo-kothuis in Prins Albert (middel), die Kangogrotte (regs). Foto’s van BigStock en LekkeSlaap.

De Rust is definitief nie net ’n slaperige Karoodorpie nie. Of jy in stilte wil verkeer en in die buitelug wil stap, die adrenalien wil laat pomp of ’n rits doendinge wil geniet, dié gasvrye dorpie en sy kunssinnige inwoners sal sorg vir die ideale wegbreek!

Vinnige feite

Bly ten minste: Twee tot drie aande
Beste tyd om te besoek: Enige tyd van die jaar, maar die Meiringspoort Challenge se MTB-wedren is vroeg-Mei en die velddraf in September of Oktober.
Neem ’n foto: Saam met Herrie, Langenhoven se denkbeeldige olifant voor Herrie se Kafee, en by Meiringspoort se waterval
Vulstasie: Ja, ’n Caltex
OTM: Ja, Standard Bank en ABSA Express
Kruideniersware: By die Sentra
Eetplekke: Koffie en ontbyt by Ray’s Coffee Shop en middagetes by The Village Trading Post

Foto’s deur Adriette le Roux, tensy anders vermeld.