Dit is nooit te vroeg om jou vakansie in die Kruger te begin beplan nie, en met elke verandering van die seisoen is daar nuwe dinge om in hierdie massiewe toeriste-trekpleister in die land te ervaar. Verblyf in en rondom die Wildtuin word gewoonlik al vróég volbespreek, so dit is nooit te gou om te begin dink aan waar jy wil uitspan in die noorde van die land nie. LekkeSlaap het ’n paar verblyfopsies rondom die Wildtuin uitgekies, vir diegene wat die rustigheid van hul eie plekkie wil geniet, maar steeds naby genoeg aan die Wildtuin vir dagbesoeke wil wees.

Lalamo Guest House

Kruger acommodation

Hierdie gastehuis is net een kilometer vanaf die Krugerwildtuin se Phalaborwa-hek, en ná ’n dag se wildkyk kan jy heerlik by die kroeg en restaurant op die perseel uitspan. Daar is ook ’n swembad om van die Limpopo-hitte te ontsnap. Dié gastehuis het dubbel-, 2-enkelbed- of gesinskamers om van te kies en die lugversorging in die kamers is nog ’n bonus!

Kaia Tani Exclusive Guesthouse

Kruger acommodation

Hier kan jy in kamers bly wat in ’n Afrika-styl versier is, ook net een kilometer vanaf die Krugerwildtuin. Die gastehuis het ’n biblioteek en ’n kroeg wat ten volle gelisensieer is en ’n uitsig oor die rotsswembad op die perseel bied. Daar is wasgoeddienste, lughawependeldienste en reëlings kan vir masseerbehandelings getref word. Die gastehuis kan jou ook bystaan om besprekings vir safari’s en ander uitstappies te maak.

Sunbird Lodge

Kruger acommodation

Hierdie lodge is minder as tien minute se ry vanaf die Krugerwildtuin se Phalaborwa-hek en daar is tien eenhede om van te kies ─ van standaarddubbel- tot 2 enkelbedstandaardkamers. Elke kamer het lugversorging en ’n TV met ekslusiewe DStv. Jy kan ook in die swembad spring en braai op die perseel, en ’n daaglikse skoonmaakdiens en WiFi is ingesluit.

SleepOver Orpen Gate

Kruger acommodation

As jy op soek is na ’n sakpas-basis vir daguitstappies na die Krugerwildtuin, is hierdie plek vir jou. Daar is 2-enkelbed-, dubbel- en gesinskamers om van te kies, en elke kamer het lugversorging en ’n en suite-badkamer. Daar is daaglikse skoonmaakdienste en braaigeriewe op die perseel. Die geriefswinkel op die perseel verkoop pasteie en verhit-en-eetmaaltye vir wanneer jy ná ’n dag se verkenning terugkom. 

Nthakeni Bush & River Camp

Kruger acommodation

By hierdie boskamp langs die Mutale-rivier kan jy in ’n grasdak-kothuis of op die kampeerterrein uitspan. Dit is 5,5 kilometer vanaf die Krugerwildtuin se Pafuri-hek en natuurliefhebbers sal mal wees oor die voëlspesies en unieke flora wat hier te sien is. Gaste wat kamp het boonop hul eie privaat badkamer met ’n stort en toilet, so dis nie nodig om van gemeenskaplike badkamers gebruik te maak nie! Die hoofkamp het ’n rotspoel en klein kioskwinkel. Daar is ook ’n lieflike swembad en gaste kan selfry-bosritte en boswandelinge geniet, voëlkyk en daguitstappies na die Krugerwildtuin onderneem.

424 on 5th Hans Merensky Golf Estate

Kruger acommodation

Die gholfbaan op hierdie landgoed in Phalaborwa word soms na verwys as “Gholf in die Wild”, omdat daar wild vrylik op die baan en tussen die huise rondloop. 424 on 5th is ’n grasdak-lodge op die Hans Merensky-gholflandgoed en as jy op soek is na ’n luukse bos-ervaring en daaglikse uitstappies na die Krugerwildtuin wil onderneem, sal jy jouself hier gate uit geniet. Daar is ook begeleide toere deur wildbewaarders in die oggende, middae en met sonsondergang.

Buffalo Rock Tented Camp

Kruger acommodation

Hierdie oord bied verblyf wat alles insluit naby die Numbihek in die Krugerwildtuin. Daar is twaalf tent-chalets met ’n safari-styl en elke chalet het ’n en suite-badkamer met ’n binnestort en toegang tot ’n privaat buitestort. Maaltye is ingesluit en word in die gesellige opelugboma bedien. Oop 4×4-voertuie word vir wildritte gebruik en begeleide boswandelinge kan ook gereël word.

Bush Villas on Kruger

Kruger acommodation

Hier kan jy in een van twintig pragtige grasdakvillas, net vyf minute vanaf die Phalaborwa-hek uitspan. Die villas skuil tussen drie damme in groot, bosagtige tuine met groot koorsbome wat skadu bied. Daar is ’n swembad met sonstoele en jy kan ook hier op ’n vang-en-vrylaat-basis visvang! Daar is ’n supermark naby en begeleide uitstappies na die Krugerwildtuin en die plaaslike gemeenskapsprojekte, waarby Bush Villas on Kruger betrokke is, kan ook gereël word.

Wanneer moet jy die Wildtuin besoek?

Baie mense se gunstelingtyd van die jaar om die Wildtuin te besoek is in die wintermaande. Dit is dan droog so die diere migreer na die water toe en jy kan vir ure by die riviere en damme vertoef om te kyk hoe hulle in die water baljaar. Dit is ook makliker om dan diere raak te sien, aangesien die plantegroei nie so dig is nie. Die diere is dan ook meer aktief deur die dag, veral vroegoggend en laatmiddag, aangesien dit nie so warm is nie en hulle meer energie het om te gebruik. Dit raak wel koud in die aande gedurende hierdie maande, so dit is belangrik om warm klere in te pak, veral as jy op wildritte wil gaan!

Die somer bied weer ’n hele ander ervaring. Die Wildtuin spog met groen, ruie plantegroei tydens die somerreënseisoen en die damme en riviere is vol. Einde November en begin Desember is veral ’n opwindende tyd om in die Wildtuin te wees, aangesien daar dan baie diere gebore word. Om te kyk hoe die welpies en bokkies vir die eerste keer nuwe dinge ervaar, is besonders! Voëlkykers sal ook mal wees oor hierdie tyd van die jaar, aangesien voëls wat in die somer na Suid-Afrika migreer dan in die Wildtuin te sien is. 


Gee sommer nou al vir jouself ’n lekke vakansie om na uit te sien vir volgende jaar en bespreek nóú jou plekkie in die Bosveld!

Hooffoto: Bigstock