Mense is geneig om te dink dat Lambertsbaai net nóg ’n dorpie aan die Weskus is, maar as jy die pad verby Paternoster en Velddrif aandurf tot waar die snoekskuite in hulle primêre kleure op die water dobber, wag daar oorgenoeg aktiwiteite om jou en die kroos te vermaak. LekkeSlaap het eendag, nie so lank-lank gelede nie, ná werk in die kar gespring en die N7 aangepak tot in die hartjie van dié Weskusdorpie.

Die voëls vlieg en die grotte getuig

Die Voëleiland is sinoniem met Lambertsbaai en om die malgasse van nader te aanskou is ’n unieke ervaring wat nét hier te vinde is! Dié eiland word via ’n paadjie vanaf die hawe bereik en, wanneer jy eers op die eiland is, kan jy in die uitkyktoring hierdie besonderse voëls van nader aanskou. Neem beslis jou verkyker of kamera saam om ’n goeie blik op hulle blou oë met die kenmerkende swart strepe te kry. Wees ook voorbereid vir die unieke reuk wat oor die eiland hang (dit vorm tog deel van die ervaring) en by die inligtingskantoor vertel die vriendelike kenners jou meer van die reuk en van dié voëls wat net een lewensmaat het.

As die stene op Steenbokfontein kon praat sou hulle eeue-oue stories vertel! Dié seeplaas is al sedert 1831 die Burgers se familieplaas en is beslis ’n baken in die kontrei. Die historiese grotte op die plaas spog met oeroue rotskuns deur die Sandveld se Khoisan-mense wat jare gelede hier gewoon het. Die fyn kunswerke word deur die Burgers en ander inwoners bewaar en jy kan ook ’n ryk geskiedenistoer deur Nelda van Zyl, ’n plaaslike wêreldklas-toergids, bespreek om die grotte te besoek of by een van Steenbokfontein se huisies (die Grotjie, Hokkie of Quarry) bly en die grotte self besoek.

Smullekker eetgoed al langs die R365

Wanneer dit by kos kom, het Lambertsbaai eetplekke te kus en te keur met iets wat elke eetlus sal kan blus. Nog voor ’n mens die dorpie se stil straatjies tref, op die R365 in Leipoldtville aan jou regterkant is Bettie Bok. Hier kan jy jou Heidi-en-Peter-drome vervul met ’n kaasproe van verskeie boerbokkase! Die bokke word self deur die eienaars gemelk en die kaas deur hulle gemaak en verkoop. Kom leer hier hoe régte feta en halloumi moet proe en wat pikkewynkaas is!

Verder af in die pad lê die wêreldbekende Muisbosskerm, Suid-Afrika se oorspronklike opelug-restaurant. Hier kraai seekos koning en kuier jy beslis ’n hond uit ’n (muis)bos uit met ’n prentjiemooi sonsondergang oor die Atlantiese Oseaan as agtergrond. Geelstert, engelvis, calamari, tuisgebakte brood en soveel meer is op Muisbosskerm se spyskaart en, op versoek, kan jy ook ’n kreef bestel waarvan ander seekosrestaurante net kan droom.

As jy die pad na die hawe vat, kom jy die koningsblou gebou met die naam Roestyd teë. Hier word jy met glimlagte ontvang en kan jy jouself met fynproewerskos bederf. Nelda van Zyl bied ook op versoek hier ’n paletontleding as deel van haar Lambertsbaai Kos- en Wyntoer aan, so maak seker jy kom leer wat om tydens ’n wynproe te proe en sê. Weet jy byvoorbeeld wat umami is en watter deel van jou palet oorheersend is? Saam met Nelda leer jy sommer vinnig-vinnig en sal nooit weer dieselfde na jou kos of wyn kyk nie! Maak seker om hier vir Kookfontein se bekende Sauvignon Blanc te vra.

Regoor die Voëleiland staan Isabella’s en pronk met haar helder seekleure en die lieflike reuk van die kos wat jou maag sommer laat grom. Isabella’s is ryk aan geskiedenis en ons raai sterk aan dat jy daar aanklop vir ’n lekker ontbyt voor jy jou dag begin. Hulle het egter ook ander maaltye en ’n gelisensieerde kroeg as jy later die middag wil terugkom. 

Die Lambertsbaai-gemeenskap is ’n hegte groep mense en, buiten die feit dat almal almal anders ken, is die ander gemene deler hoe Lambertsbaaiers Die Plaaskombuis prys en Tannie Kitta Burger se lof besing. Tannie Kitta was die storieverteller en matriarg van dié kombuisrestaurant wat uit die 1860’s datteer. Ná haar ontydige afsterwe vroeër vanjaar is die Plaaskombuis se leisels aan haar regterhand, Maria, oorgegee en kan die Plaaskombuis vir tyd en wyl slegs op afspraak besoek word. Die kombuis is met historiese tydstukke gevul en jy kan ook deur die argiewe in die museum blaai en meer te wete kom oor die HMS Sybille wat tydens die Suid-Afrikaanse Oorlog voor dié seeplaas skipbreuk gely het en hoe liefde tussen Boer en Brit op Steenbokfontein geblom het.

Woeker op die waters

As die waters jou roep is Lambertsbaai ’n lushof vir branderplankryers en daar dobber bykans elke dag groepies avontuurlustiges in die branders. As jy egter in meer gemak die waters wil aandurf, bespreek by Isabella’s ’n bootrit vir ’n les oor die Voëleiland en hawe se geskiedenis én ’n kans om allerhande seediere te sien. Jy kan ook kajakvaar in die hawe. Onthou maar net jou baaibroek hiervoor, want die Weskus-waters is lekker ysig!

Kunste langs die kus

Lambertsbaai se kunsroete word sommer maklik sonder ’n gids aangepak: Kry bloot ’n pamflet by die toerismekantoor en onthou net om by elke kunstenaar seker te maak hulle is tuis en beskikbaar voor jy arriveer. Indien die toerismekantoor die dag toe is, gebruik die kontaknommers hieronder.

Nico’s @rt verwelkom jou met eiesoortige beeldjies wat Nico “solidified emotions” noem ─ ’n oomblik vasgevang in ’n beeld so “uniek soos ons eie emosies”. Carelia Kühn se sitkamer is weer vol van haar helderkleurige werk wat tussen verskillende mediums wissel ─ sy werk met optelgoed van die strand af om dekorstukke te skep en haar verfwerk getuig van haar liefde vir die see. Lachlan Matthews, ’n voltydse kunstenaar wie se kunswerke al in oorsese uitstallings opgeneem is, se hande staan vir niks verkeerd nie en sy kuns behels dikwels om dít wat die see uitgespoel het, nuwe lewe gee.

As hy nie met sy branderplank in die see is nie, is Francois Engelbrecht, of te wel Billa, by die huis besig om met verf sy eie golwe te maak. Hierdie gebore en getoë Lambertsbaaier vertel met sy woorde én werk van sy liefde vir die dorp, see en veral die mense.

Laastens is Gina de Oliveira se fyn tekenwerk nie net pragtig teen ’n muur of op ’n koppie nie, maar dit lewer ook kommentaar op die mens-dier-verhoudings aan die Weskus. 

Vaar die dorp in!

Gina se kunswerk is by Alle Dingen, een van die vele kostelike winkeltjies in die dorp te koop. Hierdie winkel bied alles van kuns en klere tot kos. Maak seker om hier aan te klop as jy ’n mooi “dingen” vir jou huis wil aanskaf, ’n intieme funksie wil hou, ’n aandenking wil koop, of sommer net ’n lekker koppie koffie wil drink! 

The Mad Hatter Coffee Shop, Mooigoed Geskenkwinkel en The Rusty Anchor het al die kurio’s en memorabilia waaraan jy kan dink sodat jy meer as net wonderlike herinneringe, ’n vol maag en ’n goedversorgde siel saam huis toe vat!


Lambertsbaai is alles behalwe net nóg ’n vissersdorpie. Hierdie dorpie is werklik ’n juweel aan die Weskus! Moenie huiwer nie, beplan sommer vandag nog jou besoek en vind self uit waarom die mense sê: Weskus is Beskus!

_________________________________________________________

Hooffoto: Ingrid Heydenrych
Alle ander foto’s deur LekkeSlaap.co.za

Kontaknommers:

Nico van Nico’s @art ─ 082 879 3301
Carelia Kuhn ─ 072 349 0803
Lachlan Matthews ─ 083 364 1440
Gina de Oliveira ─ 083 881 7329
Francois “Billa” Engelbrecht ─ 072 348 7028