Dokters meen dat lag en goeie musiek ’n mens se lewe drasties kan verleng, daarom skryf ons Wicus Van Der Merwe en Pietman Geldenhuys se Kombi-nasie-vertoning voor om die naderende wintergriep hok te slaan! Dit raak hoeka nou tyd vir Walviskyk in Hermanus, en Hartenbos aan die Tuinroete is ook mooi hierdie tyd van die jaar.

Wicus en Pietman is beide bekend vir hulle werk op verskeie geselsprogramme soos Jou Show met Emo en Wicus en Oppiestoep. Wanneer dié twee legendes nie gaste met stories vermaak nie, trek hulle die kitare nader en sing ’n paar liedjies wat hulle gehore bekoor. LekkeSlaap is reg vir die weeklikse OPTOG!-kultuurinspuiting en het ’n paar dinge by Pietman en Wicus gaan hoor.

LS: Wicus, jy het ’n liedjie, Spietkop, waar jy vra “kan ons nie maar vergeet en vergewe”. Kry jy gereeld boetes op die pad?

WvdM: Meeste van die tyd nie, maar soms ja. Hang af wie vra! As jy ’n spietkop is, is ek doodonskuldig!

LS: Pietman, op die sangverhoog staan jy dikwels bekend as “Die Skot”. Dra jy graag ’n Skotse kilt in jou vrye tyd?

PG: My vrou het al vir my twee gekoop waarvan ek baie hou, een is meer prakties vir tuis dra, want hy het sakke in soos cargo pants. Ek dra dit van tyd tot tyd as ek in die tuin werk. Elke nou en dan is daar ’n versoek vanaf ’n kliënt vir Pietman die Skot, met die kilt en al, en dan loop ek sommer heeldag daarmee.

LS: Wicus, jou liedjie Weskus Krismis en Vet Rooi Omie sit ’n huppel in enige iemand se stap so nét voor Kersfees. Waar hou jy graag vakansie?

WvdM: Enige plek waar daar blou water is! Ek is mal oor die see en visvang, so gewoonlik gaan ons na ’n plek waar ek sinkers kan weggooi.

LS: Pietman, as jy op enige straathoek in die wêreld kan staan en musiek maak, waar sal dit wees?

PG: Seker maar Covent Garden in Londen. Dit bly vir my ’n spesiale plek en ek het as jong musikant my voete daar gevind. Vir ’n meer praktiese straathoek, op die hoek van Kerk- en Percheronstraat, want dis lekker naby die huis.

LS: Voltooi asb. die volgende sin: Dis die lekke’ste lekke om …

PG: … al jou tjops van die rooster af te haal sonder dat jou vingers brand!

WvdM: …vis te vang saam met pelle by die see!

LS: Wie is gewoonlik die een wat laat is vir ’n repitisie? Jy of Wicus?

PG: Ek kan met ’n moerse glimlag sê dat ons altwee ewe stiptelik is. Oom Ollie Viljoen het altyd die ou gesegde gebruik: “punctuality is the biggest waste of time”, maar ek en Wicus sal nog steeds eerder vroeër by ’n plek opdaag.

Liedjieboer of grapkas, beide Wicus en Pietman trek die jas aan wat op daardie oomblik die beste pas. Paasnaweek is op pad, so kombineer sommer een van die Kombi-nasie-vertonings met ’n lekke langnaweek in Hermanus of Hartenbos!

Ons topkeuse

Ander Lekke Opsies

Hierdie week se program

Kombi-nasie | 16 April | Hermanus | Bespreek hiér | Bly hiér

Kombi-nasie | 18 April | Hartenbos | Bespreek hiér | Bly hiér

Volgende week se program

Refentse | 2 Mei | Parys | Bespreek hiér | Bly hiér

Hou ons LekkeSlaap-blogblad dop om te sien met watter kunstenaars ons later dié maand gesels en wanneer OPTOG! ’n draai op jóú tuisdorp kom maak!

Hooffoto:Deur OPTOG! verskaf