Die LekkeSlaap-span het vanjaar op 9 Augustus die #WomenInTourism-geleentheid in die Paarl-omgewing bygewoon wat deur Metrorail en die Drakenstein-munisipaliteit aangebied is. Ná ’n heerlike treinrit vanaf die Kaapstadstasie is ons in die Langkloof Roses-teekamer met heerlike koek en tee bederf voordat ons vir ’n smullekker middagete by die Rhebokskloof-wynplaas aangesit het. Die dag is afgesluit met ’n dekadente vonkelwyn-en-kaaskoek-proe by die KWV Emporium wat beslis ’n hoogtepunt was.

Dié daglange uitstappie was egter hopeloos te kort om ál die Paarl se skatte te ontdek en daar is allerhande lekker doendinge en snoesige lêplekkies wat nog in hierdie mooie vallei skuil. Breek sommer vir ’n hele naweek weg na die Paarl!

Die Paarl-erfenisroete:

Die Paarl is reeds in 1687 gestig en spog met ’n ryk geskiedenis. Prentjiemooi ou geboue pronk al langs die ellelang hoofstraat en daarom het die Paarl-toerismeburo dit goed gedink om ’n Erfenisroete uit te werk wat ’n mens sommer te voet kan aflê.

Dié roete begin onder in die hoofstraat by die Het Gesticht-kerk wat in 1813 gebou is. Dié kerk met sy Neogotiese boustyl en indrukwekkende kiaathoutvoordeur is die perfekte plek om ’n kiekie te neem!

Het Gesticht-kerk | Foto: wikimedia commons

Besoek gerus ook hierdie geskiedkundige geboue:

Die Bank van die Westelike Provinsie: Dié indrukwekkende gebou met sy sierlike wit pilare dateer uit 1847.

Huis Vergenoegd: Hierdie elegante Kaaps-Georgiaanse dubbelverdiepinghuis was eens op ’n tyd die landdroshof.

Die Bank van die Westelike Provinsie (links); Huis Vergenoegd (regs) | Foto's: wikimedia commons

De Woning-gebou: Hierdie bekoorlike H-vormige grasdakhuis met sy donkergroen hortjies dateer uit die agtiende eeu.

Die Art Deco-geboue, Hoofstraat 244: Hoewel dié geboue vandag nie meer só mooi onderhou word nie, bring die strak geometriese lyne hulde aan die Art Deco-boustyl van die 1920’s.

Die Stadsaal: Dié imposante gebou is deur Wynand Louw ontwerp en in 1892 voltooi.

Toringkerk: Hierdie skouspelagtige kerk met sy hemelhoë toring is ’n besonderse baken in die Paarl.

Die erfenisroete eindig by die Paarl-museum. Kontak gerus die Paarl-toerismeburo vir meer inligting: ☎ 021 872 4842.

Die Toringkerk (links); Die Paarl-museum (regs) | Foto's: wikimedia commons

Buitelug-doendinge:

Of jy nou wil bergfietsry, perdry, voetslaan of abseil, die Paarl het buitelug-doendinge te kies en te keur!

– Gaan ry bergfiets of perd by die Rhebokskloof-wynplaas. ☎ 081 869 8386.

Dié waaghalse durf Rhebokskloof se stofpaaie aan | Foto: chopandred (instagram) Rhebokskloof se heuwels is perfek vir perdry | Foto: visitpaarl (instagram)


Avonturiers kan die wonderskone Limietberg-staproete aandurf. Dié roete begin aan die voet van Du Toitskloof en eindig twee dae later by Tweede Tol. ☎ 021 871 1535.

'n Avonturier in Du Toitskloof | Foto: moirameiring (instagram) 'n Reënboog in Du Toitskloof | Foto: devographic_music_travel_cycle (instagram)


Diegene wat nie kans sien vir ’n veeldagstaproete nie, kan gaan voetslaan by Cascade Country Manor.

Dié dapper stappers verken Cascade Country Manor te voet | Foto: iannic99 (instagram) Dis prentjiemooi hier by Cascade Country Manor | Foto: domenicweimann (instagram)


– ’n Ervare gids en instrukteur kan ’n mens na Paarlberg neem om te gaan abseil.  ☎ 021 868 0227.

Pret en plesier op Paarlberg | Foto: henkoroukema (instagram) Hiér sal jy werklik tussen hemel en aarde hang | Foto: henkoroukema (instagram)


– 
Besoek die Le Bonheur-krokodilplaas vir ’n onvergeetlike krokodiltoer en koffie langs die dam.  ☎ 021 863 1142.

By Le Bonheur lê die krokodille heerlik in die son en bak | Foto: riccwebb (instagram) Koffie by die Le Bonheur-dam | Foto: ghady3 (instagram)

’n Vonds vir fynproewers:

Die Paarl-vallei het ’n hele rits plekke waar fynproewers brandewyn, vonkelwyn, jenewer, wyn, olywe en sjokolade kan gaan proe:

– Die KWV Wine Emporium is ’n fynproewersparadys wat brandewyn-, vonkelwyn-, jenewer- en wynproesessies in hul stylvolle emporium in die hartjie van die Paarl aanbied. Jy kan ook die keldertoer doen.

Vrouedag word feestelik gevier by die KWV Wine Emporium | Foto: visitpaarl (instagram) Oulike kaaskoekies saam met KWV-vonkelwyn | Foto: breakawaytravel (instagram)


– 
By die Bernheim-wynkelder kan ’n mens hul gewilde Merlot of Sauvignon Semillon op die proef gaan stel.

Bernheim is ook die perfekte trou-venue | Foto: bernheimwines (instagram) 'n Glasie rooiwyn op 'n wintersdag is darem maar lekker | Foto: brianbontekoning (instagram)


– 
Maak ’n draai by De Villiers Artisan Chocolate by Spice Route om jou te verlustig in dekadente sjokolade.

Die sjokolade-proe by De Villiers Artisan Chocolate is heerlik | Foto: dvchocolate (instagram) Dekadente drinkbare sjokolade | Foto: dvchocolate (instagram)

’n Gastronoom se droom:

Die Paarl spog met tientalle top-eetplekke waar gastronome kan gaan smul:

– Die Under Oaks Pizzeria lê in die skaduwee van oeroue eikebome op die Under Oaks-wynplaas. Daar is ook oulike speelplek vir die jongspan.

Die bekoorlike Under Oaks-landgoed | Foto: metropoliscpt (instagram) Smullekker happies en goeie wyn | Foto: underoaks (instagram)


– 
Kikka is ’n prettige, pienk teedrinkplekkie in Paarl se hoofstraat. As jy ’n soettand het, is dít die perfekte plek vir jou, want die koek en snoephappies is iets besonders!

Prettig en pienk | Foto: leeannsmeed (instagram) Die ideale plek as jy 'n soettand het| Foto: kikka_coffeeflorist (instagram)


– 
As jy ’n lus is vir ’n stylvolle restaurant-ervaring, moet jy beslis ’n tafel by Noop bespreek. Die sjef tower die allermooiste disse op wat saam met topklaswyn bedien word.

Noop is 'n spoggerige restaurant in die hartjie van die Paarl | Foto: noop_restaurant (instagram) Dis duidelik 'n wêreldklas-sjef wat dié kaasbord saamgestel het | Foto: noop_restaurant (instagram)


– 
Die Knus Karoo Kombuis bedien roosterkoek saam met elke dis en hier sal jy Karoo-gasvryheid in die hartjie van die Boland ervaar!

Hiér heers 'n knus Karoo-gevoel | Foto: wellingtoncountryhouse (instagram) Wat is nou lekkerder as 'n koppie boeretroos? | Foto: iza_slabbert (instagram)

Lekker lêplekke:

Kies sommer vir ’n naweek koers na die Paarl en bespreek een van LekkeSlaap se snoesige lêplekkies:

Madeliefie | 5 Konings Accommodation | Grand Dédale | De Kleijne Bos Country House | In the Vineyard Cottages | Memory Lane

So, as jy weer die Paarl se pêrels in die son sien blink, weet jy nou presies wat alles in dié pragtige vallei vir jou wink!

Hooffoto: Bigstock.