Los al jou pretensies by die huis ─ bring net jou stapskoene en ’n ontvanklike hart, want ons gaan aan die Weskus slenterstap!

Die gesogte Shoreline of the San-roete is ’n slackpacking-avontuur tussen die nederige vissersdorpies, Elandsbaai en Strandfontein. Dit is een van die béste maniere om hierdie spesiale kusstrook, sy onopgesmukte hartsmense, lipleklekker tradisionele disse en kleurryke verhale te leer ken.

Onder Anette Grobler se bekwame leiding word dagstappe gekomplementeer deur heerlike maaltye by Weskus-restaurante, salige nagrus by fantastiese akkommodasie, en ’n karwei-diens vir jou bagasie, sodat jy veerlig kan stap.

Anette was gaaf genoeg om LekkeSlaap saam te nooi op die afgelope slenterstap en, vir ’n relatiewe stap-groentjie soos ek, was dit nét wat ek nodig gehad het sodat die Weskus- én stapgogga behoorlik kon byt!

So, kom stap saam en laat dié ongerepte streek jou óók met sy kleure en geure bekoor!

Dag 1: Rendezvous by Elandsbaai

Elandsbaai se lekkergoedkleurige huisies groet my soos ek dié dorpie binnery. ’n Ou man stoot sy laggende kleinseun in ’n kruiwa, terwyl kinders en bokke opsy staan vir my karretjie om verby te broem. ’n Paar motors is reeds voor die Elandsbaai Hotel, die hart van hierdie onpretensieuse dorpie, geparkeer. Die staptoerlede se motors sal hiér bly staan, oorkant die polisiestasie, tot die staptog voltooi is.

Elandsbaai

Ek verken eers die drietal winkeltjies wat rondom die teerplein gerangskik is ─ almal helder geverf en verwelkomend. Die Libra Kafee se rakke kreun onder elke denkbare ding, van “harders tot hardware”, soos die bord buite die winkel tereg spog. Ek koop ’n R7-tandeborsel en stap terug hotel toe om in te boek.

Tussen 15:00 en 17:00 groei ons groepie Shoreline-stappers tot ’n opgewonde spul in die hotel se sitarea. Deur die gesels en gelag kry Anette dit reg om aan ons die algemene reëlings en die besonderhede van die volgende oggend se stap deur te gee. Elke stapper kry ook drie naamkaartjies en linte om aan hul bagasie vas te maak sodat die karwei-diens nie items agterlaat nie.

So ’n halfuur voor sononder ry ons na ’n grot naby die kreeffabriek om na ’n blitslesing deur professor Parkington, ’n gesoute argeoloog, te luister. Nes tieners hul voorletters op skoolbanke uitkrap, het die jongelinge onder die Khoi-San, wat destyds hier gebly het, hul merk op die grot se wand gelaat in die vorm van okerhandjies ─ ’n pragtige, misterieuse simbool. Ons geniet ook die eerste van vele skouspelagtige sonsondergange en die vleiende fotogeleentheid wat die amberkleurige sakstrale bied voordat ons terugry.

Prof. Parkington lewer 'n blitslesing’n Gesellige ete wag op ons by die hotel se restaurant. Daarna gaan ons na ons kamers om van okerhande en Weskusbranders te droom.

Dag 2: Elandsbaai tot Steenbokfontein (17 km)

Na ‘n stewige ontbyt vertrek ons rondom 09:00 op ons eerste stap vanaf Elandsbaai se strand. Dié dag se stap is die langste, maar die sand is lekker hard, die gety laag en die seebriesie ’n lafenis wat dit ’n rustige roete maak. Die sestal dolfyne wat ons die eerste kilometer of so vergesel, dien ook as aansporing.

Ons begin stap

Ons vorm spontaan saamstap-groepies wat deurentyd verander soos ons mekaar leer ken en by mekaar se stapritmes aanpas. Almal deel vrylik van hul versnaperings, sonbrandroom en stories. Anette weet beslis hoe om ’n lekker groep stappers saam te stel!

Elandsbaai tot Steenbokfontein

Omdat die stapveld so oop en gelyk is, kan ons ente uit mekaar stap en almal steeds in sig hou. Dit beteken dat elkeen sy eie pas kan bepaal. Anette loop heel voor en kommunikeer met die agterhoede via ’n radio. Al rus ons elke uur en word niemand aangejaag nie, is ons steeds betyds vir middagete op Steenbokfontein ─ en is dié see-plaas nie ’n juweel nie!

Steenbokfontein en die Plaaskombuis

Dis ’n vrolike affêre wanneer ons deur Steenbokfontein se hekke loop, want die markie wat sommige Saterdae hier gehou word is in volle swang. Anette het vir ons ’n ligte middagete by Kitta Burger se Plaaskombuis gereël, aangesien besprekings hier noodsaaklik is.

Steenbokfontein en die Plaaskombuis

Maar tannie Kitta is nie net ’n vlytige kok nie! Terwyl ons weglê aan die lieflike middagete wat sy en haar regterhand, Maria, voorberei het, deel dié kranige storieverteller die geskiedenis, spookstories en liefdesverhale wat oor die jare op Steenbokfontein afgespeel het. Die gelamineerde koerantuitknipsels en die museum wat sy in een van die agterkamers ingerig het, dien as bevestiging van die verhale wat sy vir ons weef. Stories oor liefde wat grense oorskry, rustelose siele en skeepswrakke vul die bont kombuisvertrek met die klompie tafeltjies en gehekelde afrondings.

Wynproe by die Plaaskombuis

Ons word dan ook voorgestel aan ’n opwindende nuwe doending in die omtrek: die Weskus Wynroete! Johan Laubscher van die De Kraal Landgoed, gee vir ons ’n (letterlike) voorsmakie van die streek se heerlike verskeidenheid wyne, tans nog net te koop aan die Weskus en beslis die rit werd. Van shiraz tot rosé raak die groep stappers al hoe vroliker, want die wyn is darem net te lekker en dis in dié vrolike stemming dat ons vir eers vir tannie Kitta en haar Plaaskombuis groet.

Ons ry tot in Lambertsbaai waar ons inboek by die luukse West Coast Eagle’s Nest, reg op die strand  ̶  ons tuiste vir die volgende twee aande. Ons skrop die sand en seer van die dag se stap af en maak ons skaflik vir die aand se gebeure.

West Coast Eagle's Nest

Wanneer ons terugkeer na Steenbokfontein wag daar ’n sit-sit-so-trekkerrit na die Khoi-San-grotte op die plaas, en teen die tyd dat die trekker ons weer aflaai by die hoofhuis, sit die son al laag.

Trekkerrit op Steenbokfontein Khoi-San-grotte op Steenbokfontein

Ons sit weer aan in tannie Kitta se Plaaskombuis vir ’n heerlike aandete,  mét haar beroemde anys-soetpatats wat al op Via (kanaal 147) naam gemaak het!

Die res van die aand stuur ons groete in die land van die vrate, want tussen tannie Kitta se verhale deur, vra sy elke nou en dan: “Het jy dan genoeg geëet? Daar’s nog baie,” en dan wag sy om te sien of iemand nog wil gaan skep voor sy haar storie verder vertel – ’n uitstekende strategie om spanning te bou! Ons kreun behoorlik by die deur uit en al die pad terug Eagle’s Nest toe waar ’n nagrus net so soet soos tannie Kitta se anys-patats op ons wag.

Aandete by die Plaaskombuis

Dag 3: Steenbokfontein tot Lambertsbaai (sowat 10 km)

Ons eet die oggend vir die laaste keer by Steenbokfontein se Plaaskombuis en neem afskeid van die span daar. Die boere-ontbyt en koffie is net wat ons nodig het, want die seemis lê dik en die sand se helling is vandag heelwat steiler aangesien die gety baie hoog is.

Ons groet tannie Kitta en haar span

Nietemin is die geselsies langs die strand ’n plesier. Ons rus op die roete by ’n handjievol strukture wat in die duine ingebou is en dit neem nie ’n kundige om te sien waarom dié Weskusbranders en –malinge al menige skip, soos die HMS Sybille waarvan tannie Kitta gepraat het, se ondergang beteken het nie!

Steenbokfontein tot LambertsbaaiSteenbokfontein tot Lambertsbaai

Die res van die middag het ons af. Die meeste stappers span uit op die gras voor Eagle’s Nest en geniet ’n paar glasies wyn so saam met die gesels, voor ons regmaak vir aandete by Muisbosskerm.

Aftyd in Lambertsbaai

Dié unieke buitelug-eetplek is altyd ’n fees, en vanaand is getrou aan die resep van goeie mense en goeie kos. Sommige stappers, soos ek, sluk ons heel eerste oester weg met ’n gejuig en gejubel van die res en daar word tot redelik laat in dié gesellige skerm gekuier.

Kuier by Muisbosskerm

Kuier by Muisbosskerm

Dag 4: Lambertsbaai tot Doringbaai (sowat 10 km)

Ontbyt by Isabella’s op Lambertsbaai se hawe is ’n bederf en so rustig dat ’n paar van ons die winkeltjies op die hawe besoek en ek langs die jetty tot by die Voëleiland wandel.

Ontbyt by Isabella's in Lambertsbaai

Ons vertrek rondom 13:00 op ons staptog aangesien die gety eers dan genoeg gesak het, en kom sowat twee uur later in Doringbaai aan. Dié dorpie is die rustigheid self.

Lambertsbaai tot Doringbaai

Ons smul aan kalamari, vis en slaptjips by Fryer’s Cove agter die ou kreeffabriek en sommige stappers koop hier van die Weskus-wyn waaraan Johan ons by die wynproe laat teug het. ’n Paar van ons lug grappenderwys ons misnoë oor die stywe aanbod heerlike kos wat ons op die staptog eet, bo en behalwe die kospakkies wat Anette vir ons gee, en die feit dat gewigsverlies nie ’n plekkie op ons Shoreline-agenda het nie. Maar Anette lag net, want “you can’t outwalk your fork” – en wié kom stap dan langs die Weskus met sy fantastiese eetplekke en verwag om ’n vetjie af te skud?

Middagete by Fryers Cove in Doringbaai

Later die middag klok ons in by Thornbay Accommodation en marsjeer met wyn, glase, kameras en ’n warm ding, oor die pad en af by die rooisand-paadjie tot by die baai om vir oulaas die Weskus se skilderagtige sonsondergang en stapper-samesyn te geniet. Wanneer dit te koud raak vir die klam seesand, verskuif die kuier na een van die kamers waar die stapkos waarvoor ons nie plek gehad het nie op ’n opdienbord uitgetiep word tot almal se peuselplesier. So verander stapkos in ’n oogwink in ’n midnight snack-parade.

Laaste aand op Doringbaai

Dag 5: Doringbaai tot Strandfontein (sowat 10 km)

’n Ontbyt in nat, mistige weer word op Thornbay Accommodation se stoep bedien en dan is ons vir oulaas vort.

Die terrein is vandag radikaal anders as die vorige dae, want die see maal en kolk daar doer onder ons soos ons oor vreemde rotsformasies, oorgetrek met mosterdgeel en liggroen mos klouter. Die Skotse kus sal hom wat verbeel!

Doringbaai tot Strandfontein

Dié versteekte kusgebied is nét so indrukwekkend en lyk asof dit in ’n fliek hoort. ’n Slangetjie seil oor die paadjie, vreemde plante kruip weg tussen die bossies en hier en daar bewe spinnekopnessies oorgetrek met die kristal van reëndruppels in die struike rondom ons voete. Ek kan nie help om te dink hoe asemrowend hierdie kuslyn tydens blomtyd sal wees nie en wens so in die stilte dat dié natuurskat vir lank so ongerep sal bly.

Asemrowende landskap op pad na Strandfontein

Wanneer ons op die grondpad agter Strandfontein land en besef die einde is in sig, val daar ’n stilte oor die groep. Die grondpad mond uit in ’n klein, beskutte baai waar Anette se helpers vir ons sjampanje en kreef reghou. Sommige stappers is só oorweldig dat hulle met hul sjampanje-glasies die yskoue see inhardloop!

Ons vier die staptog

Na ’n laaste foto word almal terugvervoer na Elandsbaai. Drukkies raak lank en dit is duidelik nuwe vriendskappe is gesmee. Dit is 14:00, die stap is verby en ons groet die Weskus wat die afgelope vyf dae ’n uitstekende gids en gasheer was.

Shoreline-stappers April 2017

Daar is talle maniere om die Weskus te verken, maar te voet, saam met ’n Shoreline of the San-groep, sal die seesand meer van sy stories in jou stapskoene agterlaat!

Meer oor Anette

Kontak Anette gerus oor Silent Steps se Facebook-blad of deur haar webtuiste www.silentsteps.co.za waar jy ook meer oor die staptogte wat sy aanbied kan uitvind.

Besprekings by Die Plaaskombuis op Steenbokfontein is noodsaaklik. Skakel Kitta Burger by 073 1788 433.

Wil jy ook bly waar die Shoreline-stappers gebly het? Kliek gerus op dié skakels:

 Steenbokfontein See Plaas Akkommodasie | Weskus Hokkie | West Coast Eagle’s Nest | Thornbay Accommodation