As ’n mens in Montagu se hoofstraat, Langstraat, ry ervaar jy ’n klassieke klein-dorpie-gevoel, maar in die are wat na die res van dié geskiedkundige dorpie vloei, pols daar pragtige natuurskoon, kunstige argitektuur, opwindende aktiwiteite en, natuurlik, eeue-oue mensestories. LekkeSlaap is onlangs genooi om ’n bietjie toeris in hierdie om-die-draai-dorpie te speel en ons vertel jou wat ons alles aangevang het. 

Klim en klouter in die Koo-vallei

Die adrenalien pomp sommer vroeg Vrydagoggend deur ons are soos ons die naweek met ’n rotsklimsessie net buite Montagu afskop. Ons professionele gids, Tony Lourens, se geduld, leiding en inspirerende stories stel ons egter gou gerus en met die nodige veiligheidstoerusting en inleidingsessie voel ons sommer soos bobaasklimmers. Ons elkeen kry ’n beurt om in ’n harnas die berg uit te klim met Tony wat ons onder anker. Elke sentimeter voel soos ’n prestasie en tot my verbasing maak ek dit sommer tot bo-op die berg!

Tony is die redakteur en uitgewer van die tydskrif SA Mountain en die stigter van Blue Mountain Adventures wat rotsklim-avonture in die omgewing aanbied. Hy is al meer as veertig jaar by klim betrokke en hoewel hy al baie berge in lande reg oor die wêreld aangepak het, erken hy dat die Sederberge in die Wes-Kaap een van sy gunsteling-klimbestemmings bly! 

Tony se topwenk aan rotsklimbeginners: ’n Mens sal dink dat jy met jou arms jouself moet optrek, maar die geheim lê eintlik in jou bene wat jou lyf moet opstoot. Ons kan egter getuig ─ dis makliker gesê as gedaan! Kontak hom gerus om jou eie rotsklimsessie te bespreek, jy sal nie spyt wees nie! 

Rostklim met Tony Lourens in Montagu

Olywe by dosyne

Ná die avontuurlustige aktiwiteit, maak ons aanstaltes om ’n olyfproesessie by Olijvenhof Olive Estate net buite die dorp by te woon. Hierdie boetiek-landgoed is 27 hektaar groot met ongeveer 5000 olyfbome waarvan olyfolie, gegeurde tafelolywe en pesto vervaardig word. Die Sweedse paartjie, Barbara and Sacha, het ná hul Suid-Afrika toe getrek het, dié plaas oorgeneem sonder enige kennis oor olyfboerdery. Hulle het hulself daaroor opgevoed en deur die jare hul passie vir olywe, die natuur en plaaslewe voortgebou. Soos ons na Barbara luister en elkeen aan ons gunsteling-olyfhappie smul, geniet ons die plaasatmosfeer en lekker sonskyn op die stoep. Alles omtrent hierdie plaas is organies en jy kan dit agterkom in die gehalte van die produkte wat ons proe. Om die draai van die winkeltjie gewaar ons ’n plaat olywe wat Barbara besig is om in die son uit te droog. Hierdie gedroogte olywe hoort op elke peuselhappiebord!

Ná ’n lieflike middag stap ons daar weg met hande vol olyfprodukte, en koppe vol idees oor wat ons alles daarmee kan maak. Gaste kan ’n piekniek op die plaaswerf bespreek en hul eie drankies en peuselhappies bring om saam met die olywe te geniet. 

Olyfproe by Olijvenhof Olive Farm

Slaap sag by Monte Vista Boutique Hotel

Teen die tyd wat ons terug is by ons verblyf vir die naweek, is ons sommer pootuit. Monte Vista Boutique Hotel skuil in die hartjie van Montagu net om die draai van Langstraat en Badstraat vol winkels en restaurante. Daar heers ’n rustige en eksklusiewe atmosfeer by dié boetiekhotel, so dis die ideale plek vir ons om te ontspan. Elkeen van die dertien kamers het ’n en suite-badkamer en ’n privaat stoep waar jy die rustigheid kan inneem. Gaste word met wit japonne en tee- en koffiemaakgeriewe voorsien waarmee hulle op die stoep kan ontspan of deur die welige tuin kan wandel. Terwyl ons ’n bietjie asem langs die swembad skep, stel Pauline, die vriendelike bestuurder, ons in kennis dat daar ’n tafel by die gewilde 22 Church Street om die draai op ons wag om die dag behoorlik af te sluit. Ons geniet elkeen ’n heerlike maaltyd en poeding wat jou oë, mond en maag sommer laat glimlag! 

In ’n vorige blog, Montagu op sy mooiste by Monte Vista Boutique Hotel, vertel ons meer oor wat hierdie luukste hotel bied.

Monte Vista Boutique Hotel
Foto’s: LekkeSlaap

Proteas, potjiekos en ’n trekkerrit op die plaas

Saterdagoggend is ons vroeg uit die vere en smul aan ’n heilsame ontbyt by die boetiekhotel. Daarna kies ons koers na die Koo-vallei om ’n trekker-en-potjiekos-ekspedisie aan te durf. Protea Farm is sowat 29 kilometer buite Montagu en welbekend onder besoekers en inwoners reg deur die jaar. Die proteas pronk op hul mooiste in die koeler klimaat en saam met die asemrowende uitsigte en natuurskoon, is hierdie plaas ’n paradys vir natuurliefhebbers. 

Die plaas het in 1985 begin om ’n opwindende trekkerrit op die berg aan te bied en dit is beslis ’n unieke ervaring vir oud en jonk. Die trekkerrit loop tot bo-op die Langeberge en dan stop ons om die omgewing en uitsig in te neem ─ voor jou lê die hoepelgroen berge wat die mooie Montagu en Robertsonvallei omring en aan die anderkant sien jy McGregor se pikante huisies en die eindelose vlaktes. Ons kuier in een van die huisies waarin voetslaners kan oornag en geniet ’n stoute Montagu Muskadel (hoe gaan daardie David Kramer-liedjie nou weer?) voor ons weer voet in die hoek sit.

Die trekkerrit sluit heerlike potjiekos en ander versnaperinge aan die einde in en soos ons tussen die toringbome na die onderdeel van die plaas ry begin ons mae sommer behoorlik grom. Ons oë gly oor roosterbrood met konfyt en kaas, groot swartpotte wat op die klipmuur staan en pronk en in die hoek, ruik ons lekker koffie op die kole wat uit enorme kanne geskink word. Jy sien sommer hoe almal se monde begin water. Ons eet en kuier alte lekker saam met almal wat op die trekkerrit was en keer met trommeldik mae en gelukkige harte terug na die kar. 

Proteaplaas en Potjiekos

Die middag gaan ontspan ons by Avalon Springs se warmwaterswembad aan die buitewyke van die dorp. Nadat ons deur die kothuisies en kampeerplekke ry, tree ons ’n oase in die Klein-Karoo binne. Dis tropies en ontspannend, met gaste wat op sonstoele uitspan en kinders wat toertjies op die glybane doen. Die oorsprong van dié warmwaterbronne dateer terug tot 1818 en word sedertdien vir verskeie doeleindes benut. 

Dagbesoekers is welkom om van die geriewe tussen 08:00 en 20:00 gebruik te maak, maar die aantal besoekers word tans volgens Covid 19-regulasies beperk. 

Avalon Springs

Spookstories vir bang Jan

Wat is ’n dorpie sonder sy spookstories? Die tonge van Montagu se plaaslike inwoners klap behoorlik wanneer hulle besoekers met die verhale vanuit die verlede vasvang. Marchelle van Zyl se unieke spooktoer, Flying Feet, word laatmiddag aangebied soos ons saam met haar en ander gaste op kleurvolle fietse deur die stil strate van dié bekoorlike dorpie ry. Miskien is dit om vinnig weg te trap vir ingeval iets jou skrik op die lyf jaag? 

Marcelle het Flying Feet begin om vir besoekers die geskiedenis van die dorp met die gepaardgaande spookverhale te vertel. Weet jy hoekom daar ’n kat-padteken in Badstraat is? Of die storie agter die medisinale tuin in die Montagu Museum (ook bekend as die Joubert Huis) se agterplaas? Jy vind dit alles en nog meer op hierdie toer uit! Boonop sien ’n mens baie van die dorp se versteekte juwele, want jy kan lekker vinnig deur die strate trap. 

Ná ons elkeen ’n fiets kies, verander Marchelle se opgemaakte Pierrot-nargesig in ’n breë glimlag en haar spykerbaadjie begin kletter soos sy die eerste pedaal trap om die avontuur af te skop. Elke fiets is kleurvol versier deur Marchelle en kunstige vriendinne, en, soos alles in ’n plattelandse dorpie, het elke fiets ’n storie. Ons begin by die kerk, stop by die museum, ry deur die hoofstraat tot op die punt en maak ’n draai deur die woonbuurt en by die gevreesde pastoriehuis. Gaste kan ook ander toere, soos ’n standaarddorpstoer, ’n dorp- en kunstoer of ’n selftoer, bespreek.

Flying Feet se spooktoer in Montagu

Ferrari’s en Mike se fasinerende verhale

Sondagoggend loer ons vinnig by die nuwe Ferrari-uitstalling in waar meer as 2000 Ferrari-modelkarretjies en ander -memorabilia van reg oor die wêreld in glaskaste pronk. A Passion For Ferrari is die beste manier om Mike se persoonlikheid te beskryf. Sy passievolle stem is aansteeklik en hy kan nie wag om vir ons sy indrukwekkende versameling te wys nie. Daar is om elke hoek en draai ’n nuweling tot die versameling ─ of dit ’n boek, ’n modelmotor of ’n kunswerk is. Mike deel met ons sy gunsteling-items, die met die meeste sentiment en onthul ook ’n paar modelle waarvoor ons in die toekoms kan uitkyk. ’n Paar uitblinkers was die Michael Schumacher-replika waar hy in 2001 as die wêreldkampioen bekroon is, die Batmobile met Batman en Robyn wat agter die stuur sit en selfs ’n paar Barbiepoppe wat in die hoeke van die gebou van kop tot toon in Ferrari-uitrustings geklee is! 

A Passion For Ferrari

Dié vrugte smaak die soetste

Martin en Annette Reynolds van Capedry ontmoet ons by hulle plaasstal op Roete 62 om ons op ’n rit op die vrugteplaas te neem. Capedry het reeds in 1991 met gedroogte vrugte begin en deur die jare tot ’n internasionale in- en uitvoerproduksie ontwikkel. Hoewel hulle ’n trotse Suid-Afrikaanse naam is, kan ons verstaan waarom hulle internasionale status verdien ─ daar is min dinge so lekker soos egte gedroogte vrugte! Hulle verklap ’n paar geheime oor hul gewilde sweetlollies en vertel ’n bietjie meer oor die honderde produkte in die winkel. Hul gewildste produk bly die pak gemengde vrugte en Annette meen: “Dis iets van als, dan mis jy op niks uit nie.” 

Die plaasstal het ’n lekker speelarea vir kinders net langs die bistro wat dit ’n ideale uitstappie vir gesinne maak. Gaste kan ook ’n trekkerrit op die plaas bespreek waar hulle deur bokke, bloeisels en die vlaktes ontmoet word. Het jy geweet die wit en pienk bloeiselbome dra verskillende vrugte? Wit bloeiselbome dra gewoonlik appels, amandels en pruime, waar pienk bloeisels op bome blom wat perskes dra. Met ’n wilde grondpadrit terug na die restaurant, is ons daar weg met ’n versameling van lekkernye soos ’n Kaaps-Maleise blatjang en ’n Chipotle-sousie wat nuwe lewe aan disse soos stir fry en hoender gee.

'n Uitstappie na Capedry se gedroogte vrugte

Wildrit in die Langeberge 

Van een plaas na ’n ander, laat ons die wiele op die grondpad na ons laaste uitstappie van die naweek rol: ’n Wildrit by African Game Lodge, ’n luukse lodge in die hartjie van die Langeberge. Dié privaat natuurreservaat fokus op die rehabilitasie en bewaring van wild en biodiversiteit. En óns sê dit is ook ’n rehabilitasie vir die siel, want met sy rustige atmosfeer, natuurskoon van ongeveer 5000 hektaar, en beperkte gebruik van krag, laat jy jou bekommernisse agter sodra jy by die hoofhek inry. 

Soos ons in die ruim klipmuur-saal met Ryan Stopforth, die fasiliteitsbestuurder, gesels, hoor ons ’n kroos jong, opgewonde stemme die area vul. Ryan vertel dat hulle ’n Junior Wildbewaringskursus aanbied waar kinders tussen nege en twaalf jaar alles oor die natuur, dierebewaring en ekosisteme leer. Aktiwiteite sluit spoorsny, voëlidentifikasie, basiese noodhulp en ’n veldkombuis in en kinders stap met ’n sertifikaat, kursusmateriaal, selfvertroue, spanwerkvermoë en karakterontwikkeling daar weg. 

Op daardie inspirerende noot, klim ons stadsjapies in die wildritvoertuig saam met Ryan en Monwabisi Merile, gereed vir wildkyk. Daar is ongeveer vyftien verskillende bokspesies waarvoor ons moet uitkyk en toe ons die eerste trop elande raaksien, verhelder ons gesigte sommer van opgewondenheid! Ons hi-te-te so oor die grondpad terwyl Monwabisi met sy ingeoefende oog die heuwels dophou ─ aan die voet van die berg is daar ’n paar springbokkies wat laat spaander soos die voertuig naderkom en net daarna kom ons op ’n trop swartwildebeeste af. “Dis die narre van die wildebees-groep” spot Ryan. Sy woorde was nog nie koud nie, toe bokspring so een of twee en dis net hoewe en horings waar jy kyk. 

African Game Lodge
Gerrie, die reservaat se nuweling, kom groet ons.

Ryan het vir ons heerlike peuselhappies en wyn ingepak wat ons aan die einde van ons rit in ’n droë dam geniet. As jy doodstil bly, hoor jy die briesie deur die grasvlaktes fluister en behalwe vir die eetgoed, is die omgewing werklik kos vir die siel. Ons klink ’n laaste glasie wyn voor ons huiswaarts keer en dié ongelooflike omgewing agterlaat.

Wildrit in African Game Lodge
Ryan en Monwabisi gesels lekker soos ons aan die lekkernye smul.

Ons koppe maal met herinneringe soos ons op Roete 62 terug Kaap toe ry. Ons begin klaar planne maak om terug te keer, want ’n naweek is heeltemal te kort om hierdie plattelandse skatkis te verken. 

Baie dankie aan Montagu & Ashton Tourism Bureau en al die bogenoemde besighede vir julle gasvryheid en reëlings tydens ons besoek.

Foto’s: Daniëlle Terblanche, Bea Lingenfelder en Nanje Lourens, tensy anders vermeld.

Hooffoto: Daniëlle Terblanche