Die beste ontbytplekke in en om Kaapstad
Dominique Fuchs, 12 December 2023
Reading time: 5 minutes
Die Moederstad spog met topklas-restaurante om elke hoek en draai en LekkeSlaap het ’n paar van ons gunsteling-ontbytplekke bymekaargemaak waar jy heerlik sal smul. Om dit nóg beter te maak, het ons ook verblyfopsies naby elke restaurant gekies om jou wegbreek in die Moederstad werklik onvergeetlik te maak.
Kleinsky’s, Kaapstad
Kleinsky’s is vir hulle egte bagels en gesellige atmosfeer bekend. Hierdie juweel is in Kaapstad geleë, net ’n hanetreetjie vanaf die promenade. Kleinsky’s kombineer tradisionele Joodse kookkuns met ’n New York-flair om onvergeeetlike disse op te tower. Hiér gaan jy nét lekker eet. Probeer gerus die rugelach (varsgebak wat soos mini-croissants lyk en hemels proe) en die Russiese heuningkoek.

Bly hiér
Die President Hotel Cape Town is die perfekte blyplek om jou Kaapstad-avontuur mooi af te rond. Dit is net ’n katspoegie vanaf Kleinsky’s, so jy kan sommer jou bene rek en daarheen stap. Hierdie vyfsterhotel naby die Seepunt-promenade spog met kamers met see- of berguitsigte en slaapplek vir twee elk, asook ’n randvloeiswembad, restaurant en ’n kroeg op die perseel.

Meraki, Stellenbosch
Meraki is ’n Stellenbosse instelling wat onder die akkerbome in die historiese Kerkstraat skuil. “Meraki” beteken “’n plek om bymekaar te kom en fees te hou” en dit is só gepas.

Dit is die perfekte plek vir ’n opvangsessie saam met ’n vriend of geliefde terwyl julle heerlik aan ’n koppie koffie of ’n glasie wyn teug, want saans ondergaan Meraki ’n metamorfose en verander dit in ’n gesellige wynkroeg. Ons gunstelingbestellings is die klapper-en-vanielje-koek en die Franse roosterbrood wat van vars piesangbrood gemaak word.

Bly hiér
Avemore Jan Cats No 3 is in een van die mees ikoniese strate in Stellenbosch geleë en hiér sal julle gereeld die Moederkerk se klokke hoor lui. Dié luukse woonstel beskik oor twee slaapkamers, elk met ’n koninggrootte-bed, ’n en suite-badkamer en lugversorging. Daar is ook ’n skottelgoedwasser, ’n wasmasjien-tuimeldroër en ’n Nespresso-masjien om jou lewe te vergemaklik. Buite kan julle ’n lekker koppie koffie op die balkon geniet en oor die dorp tuur.

Spoon Bakery, Somerset-Wes
Wanneer jy by Spoon Bakery instap, word jy deur die indrukwekkende koeke, varsgebakte brode en ’n vertoonkas propvol lekkernye oorweldig wat dadelik jou mond laat water.

Hierdie estetiese en lewendige restaurant bied ’n wye verskeidenheid opsies –van fynproewers-mieliepap en heerlike varsgebak tot ’n rits Asies geïnspireerde disse. Die Japanese soufflé-plaatkoekies met gesoute karamel, karamelspringmielies en roomys het verskillende teksture wat ’n smaaksensasie soos min verwek. Hiér sal jy beslis lekker eet en lekker kuier.

Bly hiér
La Felicita Villas skuil aan die voet van die majestueuse Helderberg naby ’n rits wynplase en gholfbane. Hiér kan julle tussen gaste-suites vir twee en woonstelle en losstaande eenhede vir groter groepe kies en keur. Die eenhede spog met lugversorging, platskerm-TV’s met DStv en privaat badkamers. Julle kan in die gemeenskaplike swembaddens afkoel, ’n tjoppie op die kole gooi of in die tuin uitspan.

La Coco C, Stellenbosch
La Coco C is in die woelige hartjie van Stellenbosch geleë. Dié restaurant fokus op voedsame opsies, maar ’n mens sal nie dink alles is supergesond nie, want dit proe heerlik! Ontbytdisse soos Biscoff-en-piesang-hawermout, Turkse eiers en varsuitgedrukte sap is gewild. Hulle bedien ook gesonder weergawes van Suid-Afrikaanse gunstelinge soos melkkos en pampoenkoekies, wat net so lekker (of selfs lekkerder) is. La Coco C se repertoire sluit Meksikaanse, Indiese en Turkse disse in, asook ’n rits soetdinge. Boonop maak hulle vir alle dieetvoorkeure voorsiening.

Bly hiér
Ervaar Stellenbosch se bekoring en bly in een van die bekendste strate in Stellenbosch. Luxury on Dorp is ’n sonnige tweeslaapkamerwoonstel met ’n mooi balkon waar julle dié dorp se alledaagse bedrywighede kan dophou. Hiér kan jy met gemoedsrus slaap aangesien die woonstel vir vier in ’n veilige kompleks met toegangsbeheer en nagsekuriteit geleë is en luukshede soos ’n skottelgoedwasser, wasmasjien en ’n tuimeldroër insluit.

Lello’s, Kaapstad
Verlang jy na Italië of wou jy nog altyd daarheen toer? Lello’s is ’n Italiaanse espresso-kroeg en koffiewinkel in De Waterkant wat jou die kans gee om ’n lekseltjie Italië op tuisbodem te laat proe. Hulle panini’s word van Toskaanse focaccia gemaak wat vir 48 uur gefermenteer word en propvol heerlike vulsels is.
Die cornetti, amper soos ’n verlangse niggie van die croissant, is só lekker dat mense oorlog sal voer om die laaste een te koop. Moet liefs nie ’n cortado of ’n flat white bestel nie, aangesien die eersgenoemde Spaanse wortels het en die tweede Australies is. Lello’s hou styf aan hulle Italiaanse oorsprong vas, so bestel liewer ’n espresso, cappuccino of die warmsjokolade-drankie.

Bly hiér
The Docklands 509 is ideaal vir ’n paartjie wat die Moederstad wil verken. Dié woonstel spog met ’n prentjiemooi uitsig op Tafelberg en oor Kaapstad. Boonop het die gebou ’n swembad en kuier-area op die dak waar julle heerlik kan ontspan. Én julle hoef glad nie oor beurtkrag te bekommer nie, want die woonstelgebou is met ’n kragopwekker toegerus.

Daar het jy dit nou! Die sêding “magies vol ogies toe” is tog waar en nadat jy trommeldik aan al hierdie heerlike kos geëet is, gaan jy beslis ’n plekkie soek om te dut.
Hooffoto: Dominique Fuchs
Lees ook:
Stellenbosch: kos, kuns en kuier
***








