Die winter is hier en ons kan aan niks beter dink om te doen as om op ’n prentjiemooi wynplaas agteroor te sit en ’n wynproesessie en goeie geselskap te geniet nie! Één ding wat miskien beter kan wees, is as jy sommer daar op die perseel kan oorbly en nie die kuier kort hoef te knip nie. LekkeSlaap het ’n paar bekroonde wynplase in die Wes-Kaap met gerieflike verblyf op die perseel bymekaar gemaak sodat jy vir ’n naweek ’n paar glasies kan gaan klink en terselfdertyd ’n welverdiende wegbreek in ’n pragtige omgewing kan geniet.

AA Badenhorst Family Wines

Malmesbury

As julle op soek is na ’n unieke ervaring moet julle beslis by AA Badenhorst Family Wines op die Kalmoesfontein-plaas naby Malmesbury kom aanklop! Dié plaas skuil teen die Paardeberg en is bekend daarvoor dat hulle karaktervolle wyn op die tradisionele manier maak. Julle kan na hulle gesogte Secateurs Chenin Blanc en enkelwingerdreeks uitsien wat deur wynkenners as uitstekende wyne bestempel word. Verder is daar ook die AA Badenhorst Family-reeks wat ’n wit- en rooiversnit insluit en die res van die Secateurs-reeks om te proe. En, wanneer julle lus is vir iets anders, is daar ook ’n Caperitif, Swaan Cape Tonic Water en The Fourth Rabbit, wat ’n Karoo-makaalwyn is, om aan te teug.

AA Badenhorst Family Wines se outentieke plaasverblyf sal vir ’n onvergeetlike wegbreek in ’n rustige omgewing sorg. Julle kan tussen Die Silo vir twee en Die Stal Kothuis en die Wynmakerskothuis vir vier gaste elk kies. Die Silo is ’n oorspronklike, opgeknapte plaassilo wat ’n ongelooflike uitsig oor die Swartland bied en met moderne geriewe toegerus is. Die Stal Kothuis bied privaat verblyf agter die kelder in gerestoureerde stalle met ’n lieflike braai-area en plonspoel. Die Wynmakerskothuis is meer as 100 jaar oud en is tussen die ou wingerd, groentetuin en plaasdam geleë. Dié smaakvol versierde kothuis spog met ’n lekker groot stoep waar julle saam kan kuier en ’n glasie wyn geniet, en ’n privaat dam om gedurende die somer in af te koel. Gaste wat van die verblyf gebruik maak, word met ’n bottel van die Secateurs-wyn en klein botteltjies van die Caperitif en die tonikum bederf en hulle kan ook teen kelderpryse wyn aankoop.

Proelokaal: Die plaas het nie ’n tradisionele wynproelokaal nie, maar gaste kan op ’n Woensdag en Vrydag vir ’n wynproesessie saam met die wynmaker, Adi Badenhorst, aansit en daarná middagete geniet. Dit moet vooraf bespreek word.

Ekstras: Donderdagaande hou hulle ’n pizza-aand en elke eerste Vrydag van die maand maak ’n musikant lekker agtergrondmusiek.

Lord’s Wine Farm

McGregor

Mik vir ’n slag na McGregor vir ’n wynproe-ervaring hoog in die berge by Lord’s Wine Farm. Julle sal ’n uitsig soos min van hiér af kan aanskou! Dié plaas word met pragtige fynbos omring en die bewaring van die natuurlike omgewing is vir hulle baie belangrik. As deel van ’n bewaringsprojek beskerm hulle ’n familie bloukraanvoëls wat op die plaas woon ─ ’n getuienis van die plaas se minimale impak op die omgewing. Lord’s Wine Farm spog met bekroonde wyne en is veral bekend vir hulle Cap Classique, Sauvignon Blanc, Pinot Noir en Shiraz wat julle kan proe. 

Lord’s Wine Farm bied ’n verskeidenheid verblyfopsies vir paartjies en groepe en dis die ideale verblyf as julle die omgewing rondom McGregor en Robertson wil verken. Daar is twee elegante selfsorgwoonstelle met slaapplek vir twee gaste elk, die Singleton House wat vir ses gaste geskik is en ’n bietjie meer spasie vir ’n groep het, en die Blue Crane House wat ’n luukse huis vir agt van julle langs die dam is. ’n Wynproesessie is gratis vir gaste wat oorbly, so julle kan sommer heel naweek op hierdie lieflike plaas vertoef. 

Proelokaal: Daar is ’n wynproelokaal op die perseel wat daagliks van 10:00 tot 16:00 oop is. ’n Wynproesessie beloop R50 per persoon. 

Ekstras: Ontbyt is daagliks tussen 09:00 en 11:00 beskikbaar en ligte middagetes word tussen 11:00 en 15:00 bedien. Daar is ook ’n deli op die perseel wat tuisgebakte beskuit van die plaas en ander heerlike produkte verkoop. 

Avontuur Manor House and Wine Estate

Somerset-Wes

Die wynplase teen die hange van die Helderberg tussen Somerset-Wes en Stellenbosch bied van die mooiste wynproebestemmings, en die ikoniese Avontuur Manor House and Wine Estate is geen uitsondering nie. Daar word al vir meer as 140 jaar wyn op hierdie landgoed geproduseer en die historiese aspek word tot vandag toe nog in die bekroonde wyne gereflekteer. Die landgoed spog met drie reekse, naamlik die Estate Range, Premiere Range en Speciality Range wat ’n Methode Cap Classique en 10 Year Potstill Brandy insluit. Die twee gewilde wyne waarna julle kan uitsien is die Baccarat en Dominion Royale Shiraz Reserve. 

Die ou Kaaps-Hollandse herehuis op die landgoed is onlangs opgeknap om B&B-verblyf in verskeie kamers te bied. Daar is ook ’n gesinskamer met slaapplek vir vier as julle ’n gesinswegbreek van die naweek wil maak. Elke luukse kamer spog met ’n uitsig oor die landgoed en die huis het vier sitareas, ’n tennisbaan, swembad en ’n groot grasperk waarvan julle gebruik kan maak. Indien julle ’n groep is wat in die herehuis bly, kan die wynproesessie met peuselhappies in die tuin of by die swembad aangebied word. 

Proelokaal: Die proelokaal is 200 meter van die huis af en is van Maandag tot Saterdag tussen 08:30 en 17:00, en Sondag tussen 08:30 en 16:00 oop. Julle kan ook biltong, nougat en fudge saam met die wyn proe. 

Ekstras: Daar is ’n restaurant op die perseel waar julle van die heerlike wyn saam met iets te ete kan geniet. 

The Spier Hotel

Stellenbosch

’n Swierige ervaring wag op julle by dié plaas — een van die oudstes in Suid-Afrika. The Spier Hotel is op die Spier-wynplaas wat uit 1692 dateer in Stellenbosch geleë en daar is ’n hele versameling aktiwiteite vir oud en jonk. Dié historiese plaas is vir hulle groot verskeidenheid bekroonde wyne bekend en ’n gunsteling-reeks is die 21 Gables-reeks wat na die 21 historiese geuwels op die plaas vernoem is. Spier se wynreekse bevat meer as 300 jaar se erfenis en dit is wat hierdie plaas en wyn so besonders maak. Daar vind ook vernuwing plaas met moderne blikkies wyn, nuwe geure en alkoholvrye wyn.

Hierdie historiese hotel sal vir ’n onvergeetlike wegbreek in die wynlande sorg. Die luukse hotel lyk soos ’n bekoorlike dorpie waar julle rustig kan verkeer en kinders veilig kan rondbeweeg. Julle ontvang sommer met die intrapslag ’n glas van Spier se heerlike wyn en ’n bottel wyn in julle kamer, en ’n Engelse ontbyt word elke oggend in die restaurant bedien. Daar is ook ’n swembad, tuine, ’n kinderklubhuis en ’n dagspa waarvan julle gebruik kan maak wanneer julle nie die res van die plaas verken nie. 

Proelokaal: Die proelokaal op die perseel is daagliks tussen 09:00 en 17:00 oop. 

Ekstras: Gaste wat in die hotel bly ontvang ’n gratis wynproesessie by die proelokaal.  

Strandveld Vineyards Cottages

Elim

Die mees suidelike wynplaas in Afrika is beslis ’n besoek werd! Strandveld Vineyards is net nege kilometer vanaf die see en skuil tussen Elim en Kaap Agulhas in die Overberg. Die plaas se ligging naby die kus beteken dat hulle baie wind en mis ontvang en dat dit die kenmerkende terroir beïnvloed. Hulle vind inspirasie by die Portugese skeepvaarders wat ook al in hierdie geharde omstandighede moes oorleef toe hulle om die mees suidelike punt van Afrika gevaar het. Julle kan na The Navigator en Adamastor uitsien wat hulle vlagskip rooi- en witwyn in die Strandveld Wines-reeks is. Die First Sightings-reeks het ook ’n skeepvaarderstema en bestaan uit ’n Sauvignon Blanc, Rosé en Shiraz. En, moenie van Strandveld se eie gin, Spook van Blomfontein, vergeet nie. 

Dié wynplaas bied twee pragtige kothuise wat in ’n koloniale styl versier is en elkeen is vir twee gaste geskik. Elke kothuis het ’n binnebraai waar julle lekker in die winter kan kuier en van die plaas se wyn en gin kan geniet. In die somer kan julle buite op die stoep sit, met ’n glasie wyn in die son bak en die uitsig oor die tuin bewonder. Vorige gaste is almal baie beïndruk met die fyn detail waaraan daar in die kothuise aandag gegee is en kan nie wag om terug te keer nie. 

Proelokaal: Die proelokaal is van Maandag tot Donderdag tussen 09:00 en 17:00, op ’n Vrydag tussen 09:00 en 16:00 en op ’n Saterdag en openbare vakansiedag tussen 10:00 en 15:00 oop. ’n Proesessie kos R60 per persoon en as julle wyn koop word die proefooi gekanselleer. 

Ekstras: Kaasborde is in Desember beskikbaar en daar is peuselhappies soos droëwors, olywe, neute en biltong. 

Saronsberg Vineyard Cottages

Tulbagh

Saronsberg Vineyard Cottages skuil aan die voet van die Saronsberg in Tulbagh en dié plaas is die tuiste van Saronsberg Cellars ─ ’n ikoniese kelder in dié geweste. Saronsberg is vir hulle Shiraz vol vrugtegeure wat al talle pryse gewen het bekend. Al hulle druiwe word vroeg in die oggend met die hand gepluk en dan vinnig afgekoel om die vrugte-inhoud te behou. Saronsberg was die eerste kelder in Suid-Afrika wat van hierdie vooruitstrewende tegniek gebruik gemaak het. Julle kan die moderne kelder vol kontemporêre kuns besoek en ’n blik op die indrukwekkende wynmaakmetodes kry. Die pragtige proelokaal is ook in die kelder geleë en julle kan agt van die bekroonde wyne daar proe. 

Saronsberg Vineyard Cottages bied sestien selfsorgkothuise in die mooiste omgewing. Dis die ideale verblyf vir paartjies, groepe wat saam wil wegbreek en sakereisigers. Elke kothuis is gerieflik ingerig en het sy eie stoep met ’n uitsig op die berg. Daar is ’n kaggel en braaigeriewe waarvan julle gebruik kan maak en in die somer kan julle in die swembad afkoel. Ontspan by die lapa met ’n glasie van Saronsberg se wyn en geniet die asemrowende uitsig. 

Proelokaal: Die proelokaal is van Maandag tot Vrydag tussen 08:00 en 17:00, op ’n Saterdag tussen 10:00 en 14:00 en op ’n Sondag tussen 10:00 en 13:00 oop. 

Ekstras: Saronsberg Cellar bevat ’n indrukwekkende Suid-Afrikaanse kunsversameling wat julle gerus kan bewonder. 

Al hierdie plase hoort op jou reislys hierdie winter! Daar is soveel erfenis, ongelooflike natuurskoon en pragtige stories om te ontdek ─ beplan vandag nog julle volgende wynproe-wegbreek. 

Hooffoto: Lord’s Wine Farm (LekkeSlaap)