Nie een nie, nie twee nie, maar 20 wynroetes in die Wes-Kaap! Dis reg, die Wes-Kaap is ’n wêreldbekende wynstreek wat met 20 unieke wynroetes spog en in hierdie blog vertel ons jou ’n bietjie meer oor die Robertson-wynroete in die Breederiviervallei. Hierdie streek, wat ook as die Vallei van Wyn en Rose bekendstaan, is ’n plek waar wynkunde en gasvryheid saamsmelt om ’n meeslepende wynervaring te skep. Daar is alles van vonkelwyn, vrugteboorde en ongelooflike uitsigte, tot ’n vlot op die Breederivier! 

Die Robertson-wynroete, net twee uur se ry vanaf Kaapstad, se klimaat en terroir dra by tot die produksie van ’n wye verskeidenheid druifsoorte. Hier vind jy alles van robuuste rooi- tot delikate witwyn, vonkelwyne en gefortifiseerde opsies. Die diversiteit van die wynkelders en die wyne wat hulle produseer maak dit ’n perfekte bestemming vir enige wynentoesias.

Graham Beck Wines 

Foto: Facebook

Jou reis na die wêreld van Suid-Afrikaanse wyn begin met ’n besoek aan die alombekende Graham Beck Wines soos jy die Robertson-wynvallei binnery. Hierdie wynmakery is vir sy bekroonde Méthode Cap Classique-vonkelwyne bekend, wat ’n vertroude naam tydens feesvieringe reg oor die wêreld geword het. Hulle streef konstant daarna om die perfekte borrel in hulle vonkelwyne te skep en jy kan daardie perfeksie in elke slukkie proe. ’n Toer deur hul kelder is ’n moet om die noukeurige vakmanskap agter hierdie vonkelende juwele te ervaar.

Proelokaal: Ja, en kaasborde is beskikbaar.

Restaurant: Nee


De Wetshof Estate 

Foto: Facebook

De Wetshof Estate staan wêreldwyd as die Huis van Chardonnay bekend en spesialiseer in die vervaardiging van uitsonderlike Chardonnay-wyne. Hierdie familieplaas is vir die bekendstelling van hierdie druifsoort in Suid-Afrika verantwoordelik, so natuurlik moet Chardonnay-liefhebbers nie ’n besoek aan hierdie landgoed misloop nie. Daar is sewe Chardonnay-variëteite om van te kies en ’n paar ander wynsoorte wat net so goed afgaan. 

Proelokaal: Ja

Restaurant: Nee


Excelsior Wine Estate 

Foto: LekkeSlaap

As jy ’n aanhanger van robuuste rooiwyne is, is ’n stop by Excelsior Wine Estate ’n moet. Hul reeks rooiwyn, insluitend Cabernet Sauvignon en Shiraz, het al talle lof verower en beloof ’n ryk, volronde proe-ervaring. Hulle bied ook ’n Chardonnay, Rosé, Sauvignon Blanc en Viognier in hulle Classic Range en Reserve Range en die wyn is na merkwaardige resiesperde vernoem. 

Proelokaal: Ja

Restaurant: Deli op die perseel

Excelsior Manor Guesthouse

Foto: LekkeSlaap

Die Kaap-Hollandse herehuis op die plaas bied luukse verblyf in nege en suite-kamers. Hiér het julle toegang tot ’n houtdek met ’n uitsig oor die wingerd, ’n swembad en ’n groot tuin. Begin die dag met ontbyt in die pragtige eetkamer en verken die res van die dag die wynplaas op jou bergfiets of proe heerlike wyn langs die plaasdam. 


Van Loveren 

Foto: Facebook

Van Loveren is sinoniem met Robertson en met goeie rede — daar is soveel om te doen, sien en proe op dié plaas. Die Retief-familie se geskiedenis met Van Loveren dateer uit 1937 en vandag oorheers hulle die streek se wyn-industrie. Hulle bekroonde wyn sluit gewilde name soos Zandvliet, Christiena, Retief Reserve, Tangled Tree, Four Cousins en Blaauwklippen in. Tydens ’n besoek aan die plaas kan julle heerlike wyn proe, ’n kelder- en tuintoer geniet, voetslaan, bergfietsry en iets lekker by die bistro eet.  

Proelokaal: Ja

Restaurant: Ja


Bon Courage Estate 

Foto: Facebook

Die Bruwer-familie is sedert 1927 in beheer van Bon Courage Estate en het oor die jare baie aandag geskenk aan die gesondheid van die grond waarin die wingerd groei sodat hulle die beste moontlike wyn kan produseer. Hulle kombineer ook tradisionele metodes met moderne tegnologie om alles van beperkte hoëgehaltewyn tot elegante MCC te maak. 

Proelokaal: Ja

Restaurant: Ja


Springfield Estate 

Foto: Facebook

As jy op soek is na unieke wyn, moet jy beslis Springfield Estate besoek! Dié landgoed se slagspreek lees “Made on Honour” en dit beïnvloed elke besluit wat hulle daagliks moet neem om perfekte wyn te maak en geniet. Die twee sterre tussen hulle tien wyne is die Méthode Ancienne – Chardonnay en die Méthode Ancienne – Cabernet Sauvignon 2016 wat jy definitief sal wil saamneem huis toe. 

Proelokaal: Ja

Restaurant: Nee


Arendsig Hand Crafted Wines

Foto: LekkeSlaap

Arendsig Hand Crafted Wines is ’n boetiekwynmakery wat vir hulle gehalte- en kenmerkend handgemaakte wyne bekend is. Hulle produseer ’n verskeidenheid keurige variëteite uit hul noukeurig versorgde wingerd, insluitend Colombard, Chardonnay, Sauvignon Blanc, Chenin Blanc, Viognier, Cabernet Sauvignon, Merlot en Pinotage. Deur klein hoeveelhede van elke wyn te produseer, verseker hulle dat dit van die hoogste gehalte gaan wees en jy kan proe dat daar minimale menslike inmenging plaasgevind het. 

Proelokaal: Ja, maar slegs per afspraak. 

Restaurant: Nee

Arendsig Self-Catering Cottages

Foto: LekkeSlaap

Arendsig Self-Catering Cottages is die perfekte verblyf vir ’n behoorlike wegbreek uit die stad! Die plaasatmosfeer en gerieflike kothuise laat jou toe om lekker te ontspan en saam met jou geliefdes te kuier. Elke kothuis is geskik vir vier gaste en het braaigeriewe en ’n houtvuurwarmbad met ’n uitsig oor die wingerd. 


Viljoensdrift 

Foto: Daniëlle Terblanche

Wyndrink op ’n vlot?! Dis reg ja, by Viljoensdrift kan jy hierdie unieke aktiwiteit of ’n piekniek op die oewer saam met jou vriende geniet! Die vlotvaarte moet vooraf bespreek word en julle kan lekker wyn en piekniekitems by die deli koop om te geniet terwyl julle vaar. Dié skilderagtige landgoed langs die Breederivier se reeks wyne, insluitend Shiraz, Pinotage en Chardonnay, weerspieël die unieke eienskappe van die vallei se mikroklimaat. Kom geniet ’n glasie wyn op die dek of onder die bome langs die rivier en neem die pragtige omgewing in. 

Proelokaal: Ja

Restaurant: Deli


Robertson Winery 

Foto: Facebook

As een van die mees erkende name in die land, word Robertson Winery vir die vervaardiging van ’n wye verskeidenheid variëteite, wat voorsiening vir diverse smaak maak, gevier. Hul omslagtige wynreekse bied iets vir elke wynliefhebber en sluit Chardonnay, Shiraz en die gewilde vonkelwyn, Brut Rosé, in. Die proelokaal bied ’n omvattende proe-ervaring vir wynentoesiaste en daar is ’n lekker speelarea vir die jongspan.

Proelokaal: Ja

Restaurant: Nee


Rietvallei Wine Estate

Foto: Facebook

Rietvallei Wine Estate is een van die oudste wynlandgoedere in die Robertson-wynvallei en die sesde generasie Burgers is nou aan die stuur. Die eerste rooimuskadelwingerd is in 1908 op die plaas geplant en is die oudste van sy soort. Hulle produseer ook ander hoëgehalte-variëteite soos Weisser Riesling, Cabernet Franc, Petit Verdot, Tinta Barocca en Cinsaut om net ’n paar te noem en daar is vier reekse met sowat 20 wyne altesaam.

Proelokaal: Ja, en kaasborde is beskikbaar. 

Restaurant: Nee


Esona Boutique Wine Estate

Foto: Facebook

Esona Boutique Wine Estate is ’n bewys van die kunstenaarskap en passie wat uitsonderlike wynmaak definieer. Rowan en Caryl het in 2003 die groenteplaas gekoop, in 2005 die eerste wingerd geplant en produseer vandag gehalte-enkelwingerdwyn met die hand. Hiér kan julle variëteite soos Sauvignon Blanc, Chardonnay, Shiraz, Rosé, Chenin Blanc, Pinot Noir, Grenache en Colombar proe. 

Proelokaal: Ja

Restaurant: Ja


Daar is net te veel om in hierdie vallei te verken, so ons stel voor julle maak ’n naweek daarvan en bly by een van die talle gastehuise, lodges of boetiekhotelle in die area. Die landskap bied ‘n verskeidenheid buitelugaktiwiteite, van perdry deur die wingerd tot voetslaan, voëlkyk en selfs gholf.

Die Robertson-wynroete is ’n Suid-Afrikaanse juweel wat wynliefhebbers en reisigers uitnooi om die elegansie van die wyne, die skoonheid van die landskap en die warmte van die mense te geniet. So, lig jou glas en pak ’n onvergeetlike wynavontuur in die Vallei van Wyn en Rose aan.

Hooffoto: Arendsig Self-Catering Cottages (LekkeSlaap)

Lees verder

Die Overberg se eiesoortige wynroetes

Wynplaas wonderlik! Bly tussen die wingerde

Kom proe wyn en slaap oor

Dis feestelik op die Franschhoek Wine Tram