Partykeer is ’n mens lus om ná ’n besige week net vinnig te gaan en asem te skep en hoewel Gauteng dikwels ’n gewoel en gekrioel is, is daar talle rusplekkies waarheen jy kan ontvlug. LekkeSlaap het ’n verskeidenheid wegbreekplekke in die bos, op die plaas en teen die berg gaan soek om jou volgende naweekwegbreek in ’n japtrap af te handel. 

<100 km buite JHB

Romanties by die rivier

River Place1

In die uithoeke van Johannesburg lê River Place in ’n bergvallei-bosveld. Dié lodge bestaan uit luukse kothuiskamers en klip-suites en spog met privaat stoepe en ’n eetdek langs die Hennopsrivier waar julle saans aan mediterreense kookkuns kan smul. Deur die dag kan julle piekniek op die grasperk hou of langs ’n gesellige vuur kuier. 

Plesier op ’n plaas

Elandsfontein Farm

Elandsfontein Farm bied die ideale wegbreek buite die gejaag van die stad met genoeg aktiwiteite en besienswaardighede vir ’n opwindende naweek. Hierdie selfsorg-eenhede verwelkom jou met ’n peuselhappiemandjie en het elk ’n stoep en ’n braai-area. Julle kan op die plaas voëlkyk, stap en fietsry en ander aktiwiteite in die omgewing sluit perdry, wildritte, begeleide staproetes en visvang in.

Aktiwiteite vir almal 

Zeekoe Lodge2

Zeekoe Lodge is propvol buitelugaktiwiteite wat ’n wegbreek sommer nuwe lewe gee. Dié lodge op die Vaalrivier se oewer het ’n familiehuis, kothuis en ’n luukse tenthuis wat slaapplek aan twee tot agt gaste bied. Julle kan op die perseel kunsvlieg- en baarshengel, so kom maak lyn nat, of kry ’n kajak en roei al met die rivier af.

Luuks in die platteland

Welgelegen Manor

Hoe klink 5-ster-verblyf in ’n luukse plattelandse huis in Balfour, Mpumalanga? Romanties, né! Welgelegen Manor is suidoos van Suikerbosrand Natuurreservaat geleë en ideaal vir ’n intieme naweekwegbreek buite die stad. Kom wandel in die roostuin, geniet die speletjieskamer, of koel in die swembad af terwyl julle die omliggende uitsig oor die bosveld bewonder. 

Troeteldiervriendelik 

Sable Ranch

Moenie jou vierbeenvriend met jou volgende wegbreek agterlaat nie, bring hom saam na Sable Ranch! Dié gastekamers skuil op ’n prentjiemooi plaas aan die voet van die Magaliesberge en gee jou toegang tot ’n swembad met ’n uitsig oor die horison van Magaliesburg. Julle kan die area via voetslaanpaaie, wildritte, grottoere, kloofklim en abseil verken of by die spa’s in die omliggende omgewing vir ’n ontspannende behandeling aanklop.

Mooi in die Magaliesberge

Magalies Mountain View Cottage

By hierdie bekoorlike selfsorgkothuis kan kinders help om eiers te versamel en die henne wat vrylik op die plaas wandel, te voer. Magalies Mountain View Cottage doen sy naam gestand en spog met ’n uitsig op die Magaliesberge en die welige natuurskoon bring die kalm atmosfeer na binne. Die plaaspaaie wag om verken te word en daar is talle byekorwe op die perseel waar heuning uit die heuningkoek gespin, gefiltreer en ingelê word. ’n Verskeidenheid bottels konfyt, marmelades, blatjang en ander heerlike snysterye word ook op die plaas geproduseer en verkoop.

>100 km buite JHB

Clarens kraai koning

The French Cottage1

Wanneer ’n mens aan ’n Gautengwegbreek dink, is Clarens heel bo aan die lys. Die Franse boustyl van The French Cottage word met die ikoniese Clarens-sandsteen afgerond en is op ’n historiese plaas geleë. Die tuin is heeltemal omhein en dus ideaal vir jong kinders om hul gate uit te geniet terwyl Ma en Pa op die stoep ontspan. Die plaas spog met ’n groot grot met rotstekeninge en ’n waterval, en as julle gelukkig is, sal julle duikers, ystervarke en dassies gewaar! 

Kies iets unieks 

Fairview Estates

Het jy al in ’n silo gebly? Fairview Estates se unieke verblyf sluit ’n Victoriaanse buitebad en Dover-kaggel in en die swembad is ’n sementplaasdam met fonteinwater. Die opslaanhuisie, plaaskothuis en gewilde Twin Towers is op ’n landgoed naby Fouriesburg op die grens tussen die Vrystaat en Lesotho geleë. Dié landgoed bestaan uit plase met Bonsmara-beeste, Appaloosa-perde en alpakkas. 

Plaasontbyt ingesluit

Adem Guest Farm

Gaste wat by Adem Gasteplaas in Kroondal kom asemskep, sal beslis met ’n verfrissende gemoed vertrek. Vir die jongspan is daar ’n miniatuur-dieretuin en trekkerritte en die ouers kan ’n potjie gholf op die gewilde Mooinooi-gholfbaan speel. Elke kamer het ’n privaat ingang en tee- en koffiemaakgeriewe en ’n plaasontbyt kan vroeg soggens geniet word. ’n Driegangmaaltyd is ook op versoek beskikbaar.

’n Uitsig op die horison

Kraal African Luxury Lodge1

Hoewel Potchefstroom grootendeels as ’n studentedorp bekendstaan, pronk die luukse Kraal African Luxury Lodge hoog teen die Noordwes-berge en is dit die ideale wegbreekplek vir ’n wittebrood of selfs ’n intieme troue. Die houtdek bied ’n pragtige uitsig oor die omliggende omgewing en hiér kan julle die dae in die privaat plonspoel, Jacuzzi, gemeenskaplike verhitte swembaddens of die spa deurbring. Die tarief sluit ontbyt en aandete in en dit word in die lodge se eetkamer bedien, maar as jy die Superior Villa bespreek, kan jy ook jou maaltye in die privaatheid van jou villa geniet.

Sonbaai na hartelus

Waterlus

Wil jy ook jou naweek op hierdie stoep in die sonnetjie deurbing? Waterlus is op die Olifantsrivier se oewer op ’n sekuriteitslandgoed buite Witbank geleë en is die perfekte rusplekkie buite die stad se gewoel. Daar is ’n gemeenskaplike swembad waar julle lekker kan afkoel, of julle kan daar naby gaan visvang, 4×4, gholfspeel, valskermsweef en voetslaan. Waterski-lesse is ook op versoek beskikbaar. 

Kom rus in Rosendal

The Rosendal Country Retreat1

Die bekoorlike plaasdorpie Rosendal is ’n gewilde bestemming vir ’n wegbreek buite Gauteng en The Rosendal Country Retreat maak dit duidelik waarom reisigers keer op keer terugkom: ’n gesellige kaggel, ’n houtvuurwarmbad en ’n ongelooflike tuinuitsig. Elke kamer het ’n kombuisie met ’n mikrogolfoond, tee- en koffiemaakgeriewe en ’n komplimentêre, varsgebakte brood. Maak ’n draai in die dorp wat met verskeie kunsgalerye en koffiewinkels ingekleur is, of kies koers na die berge om die natuur te voet of per fiets te bewonder.

Deur die berge omring

SIloh

Shiloh beteken “plek van vrede” en is ’n opgeknapte selfsorgkothuis wat ook in Rosendal geleë is en deur die pragtige Witteberge omring word. Op ’n koel aand kan julle binne voor die kaggel kuier en knus onder die elektriese komberse inkruip, maar as die son warm skyn, kan julle buite op die dek kuier, ’n vleisie oor die kole gooi en met ’n boek op die sonstoele agteroorsit.

Nou ja, wanneer Gauteng se stadsgedruis weer te hard in jou ore sing, kies koers na een van dié plekke vir ’n blaanskans wat weer vrede bring.

Hoofoto: Fairview Estates