Jy staan met ’n glas goeie wyn in die een hand en ’n blikbeker tuisgemaakte sop in die ander, terwyl die wintersonnetjie op jou rug bak en jy verwonderd na die majestueuse berge om jou staar ─ dít is die Soetes- en Sopfees in ’n neutedop! Dié jaarlikse winterfees vind plaas in die asemrowende Breedekloof, ’n wynroete in die Breederiviervallei, net sowat 90 minute se ry van Kaapstad af. Dit bied sop- en wynproe, musiek, oorgenoeg doendinge vir oud en jonk, en moenie die prentjiemooi uitsig vergeet nie!

LekkeSlaap het ’n draai by dié prettige affêre gemaak en deel graag ons ervaring van die Soetes- en Sopfees 2018!

Hoe werk die fees?


Feesgangers koop kaartjies aanlyn om toegang tot meer as 20 wynlandgoedere in die Rawsonville-, Slanghoek-, Goudini- en Breederivier-areas te kry. Sop- en wynproe vind die Vrydag en Saterdag plaas, en op die Sondag is daar verskeie restaurante op die wynlandgoedere oop, en jy kan nog hier en daar wynproe. Sodra jy by die eerste wynlandgoed aankom, kry jy twee boekies met koepons ─ een vir sopproe en een vir wynproe. Jy kry ook ’n blikbekertjie vir die sop en ’n wynglas. Al die plase bied een koepon vir sopproe en vyf koepons vir wynproe.

As jy nie wil drink en bestuur tussen die plase nie, is daar ’n pendeldiens teen ekstra koste wat jou van plaas tot plaas sal neem ─ jy kan dus die Breedekloof se heerlike wyn na hartelus geniet!


Waar was LekkeSlaap?


LekkeSlaap was bevoorreg om ’n inwoner en kenner van die Breedekloof, asook eienaar van Aan De Doorns Guesthouse, Maríta Schneider, as ’n toergids by die Soetes- en Sopfees te hê. Ons is verryk met hope inligting oor die area se geskiedenis, het geleer hoe om wyn op die regte manier te proe, en ons kon eerstehands opregte plattelandse gasvryheid beleef terwyl ons die sprokiesagtige Breedekloof verken.


Bergsig Landgoed


Ons het skaars in die Breedekloof aangekom, toe word ons al na die eerste landgoed, Bergsig Landgoed, geneem om die bal aan die rol te sit! Bergsig is aan die voet van twee bergreekse, die Drakenstein- en Hexrivierberge geleë, wat sorg vir ’n wonderskone uitsig net waar jy kyk. Híér is ’n heerlike groente- of grysneutsop (een koppie is gratis) bedien en dan vyf wyne wat op dié landgoed gemaak word.

Hulle bied ook kos- en wynpasmaats teen R100 per persoon ─ ’n heerlike kombinasie van vyf soorte wyn wat elk ’n bypassende peuselhappie het. Jy kan natuurlik nie dié aanbod deur jou vingers laat glip nie!

As jy dalk by Bergsig Landgoed was en net die sop en wyn geproe het, wil ons jou ’n bietjie meer vertel oor die kos- en wynpasmaats wat hulle bedien:

APTYTWEKKER: ’n Spinasie- en feta-quiche gekombineer met 2018 Bergsig Sauvignon Blanc  ─ die Savignon se tropiese geur en die quiche se romerige basis is ’n watertandlekker kombinasie.
BOBOTIEVOORGEREG: Die 2017 Bergsig Gewurztraminer wat soet, sterk en verfrissend is word met ’n mini-bobotie gekombineer.
VLEISHAPPIE: Bergsig se 2016-staatmaker Pinotage, ’n rooiwyn met ryp, donker bessies, pruime en pruimedante word met wildspastei gekombineer ─ ’n smullekker kombinasie!
RIBBETJIE: Die gewilde 2012 Bergsig Icarus Rooi word met geroosterde lamsribbetjie gepaar ─ die rokerigheid en pepersmaak beklemtoon die speserygeur in die rooiwyn.
NAGEREG: Dié jaarlikse gunsteling is ’n unieke sjokoladespesery-sop wat  met 2004 Cape Vintage Port bedien word─ ’n smaaklike bederf!

Musiek: Michael Meiring

Het jy geweet?

Bergsig Landgoed behoort al sedert 1843 aan die Lategans ─ sewe geslagte later vervaardig hulle steeds bekroonde wyn op dieselfde landgoed!


Bosjes Landgoed


Dié asemrowende landgoed is aan die voet van die Waaihoekberge geleë en bied ’n unieke ervaring met die kenmerkende kapel wat vir talle troues gebruik word, die omliggende tuin met inheemse plante en bome, asook die restaurant en verblyf op die perseel. Dis ’n regte sprokieswêreld as jy op die grondpad na die Bosjes Landgoed afdraai ─ potblou berge teen ’n nóg blouer lug, ’n historiese Kaaps-Hollandse huis, en ’n kapel met argitektuur wat enige iemand sal beïndruk!

By Bosjes proe ons glühwein en spek- en romerige aartappelsop ─ ’n interessante kombinasie tussen soet en sout.  Jy kon ook drie soppe wat met drie Bosjes-wyne gepaardgaan teen net R40 per persoon proe, of pizza en bier geniet. Dié sop het bloukaassop en Marokkaanse lamsop ingesluit ─ geure wat jy nie sommer iewers anders sal raakloop nie!

Musiek: Kaleidoskoop

Het jy geweet?

Bosjes is met ses pryse bekroon, veral as gevolg van die beroemde kapel se fassinerende argitektuur.


Botha Kelders


Dié spoggerige landgoed is in 1949 as ’n koöperasie geregistreer en sedertdien is Botha Kelders toenemend suksesvol. Dit was ’n regte plattelandse fees by dié kelder waar die geur van pannekoek en vars roosterbrood in die lug hang.

Hier is ’n smaaklike kerriehoendersop bedien, en Botha-wyn te kies en te keur! Ons gaan sit toe lekker op die groen grasperk met ’n geurige kerriehoendersop en Botha Sauvingnon Blanc terwyl die sonnetjie op ons rûe bak ─ ’n  beter manier om ’n sonnige wintersdag deur te bring sal jy nie maklik vind nie!

Musiek: André Combrink

Het jy geweet?

Botha Kelders se wynmakers en hulle span is by die Michaelangelo International Wine & Spirit-toekennings in 2017 met dubbelgoud en goud bekroon!


Opstal


Opstal spog sonder twyfel met een van die bekoorlikste berg-uitsigte in die area ─ die Slanghoekberge is so te sê reg op die kelderstoep wat die uitsig amper onwerklik maak. Dié landgoed was propvol feesgangers ─ van die jongspan wat uitbundig op die grasperk baljaar, tot Oupa en Ouma wat op die groot stoep aan die heerlike wyn teug. Opstal bied ook oorgenoeg doendinge, soos trekkerritte, ’n speelarea vir kinders en gesigverf vir dié wat vrolik voel.

Ná al die smaaklike happies en sop op die vorige plase, was dit nogal ’n uitdaging om nóg sop te proe, daarom kon ons nie plek maak vir die hoender-noedelsop wat hier bedien is nie. Soos al die vorige wynlandgoedere, bied hulle oorgenoeg hoëgehalte-wyn. Opstal het ook ’n lekker area met verskeie stalletjies wat van biltong, olywe en droëvrugte, tot verskillende tipes worcestersous insluit! Jy kan maklik vir ’n uur hier rondwandel en in die versoeking kom om al die heerlike tuisgemaakte versnaperinge te probeer. 

Musiek: Handré Meyer

Het jy geweet?

Soos Bergsig Landgoed, word dié landgoed ook al sewe geslagte lank deur dieselfde familie bestuur.


Jason’s Hill


Op dié gesinsvriendelike landgoed sal niemand verveeld wees nie. Nie net het hulle ’n romerige grysneutsop met kerrie bedien nie, maar daar is ook ’n trampolien, glyplank, swaaie, sandput en ’n pragtige bergvoetslaanpad wat feesgangers kon verken as hulle voor 13:00 geregistreer het. Dié voetslaanpad is 6,6 kilometer lank en sluit twee watervalle en ’n stroompie gedurende die winter in. As jy beplan om volgende jaar hieraan deel te neem, hou net in gedagte dat die roete redelik uitdagend is en tot vier uur kan neem om te voltooi.

Jason’s Hill het ’n bekroonde proekamer met ’n donkerhout-afwerking wat jou terugneem in tyd. Hier kan jy al hulle smaaklike wyne ervaar. Tydens die fees het hulle ook ’n geskenkwinkeltjie met allerhande oulike dinge as jy graag ’n geliefde wil bederf. Teen die namiddag skyn die flou sonnetjie se strale salig oor die kaal populiere wat ’n pragtige kontras teen die helderblou lug vorm en dié landgoed in ’n paradys omskep. Jou vierpotige vriende is ook meer as welkom hier!

Musiek: Jaco & Isabella

Het jy geweet?

Jason’s Hill is vernoem na ’n ou herder, Jason, wat skape op dié grond opgepas het. Die familie boer al ses geslagte lank met druiwe, maar net die laaste geslag het begin wyn maak.


Deetlefs Landgoed


Híér was nou ’n behoorlike opskop! Ons het laatnamiddag hier aangekom en dit was duidelik dat menige feesganger besluit het om hulle dag op Deetlefs af te sluit. Dié plaas het baie jongmense gelok ─ heel moontlik omdat hulle interessanthede soos hanepoot-jelly shots teen net R15 elk verkoop het! Sommige vrolikes het hulle selfs met karaoke besig gehou!

By Deetlefs is ’n groentesop en ’n wye verskeidenheid wyn bedien. Geskenkpakkies is ook teen baie lae pryse verkoop.

Musiek: The Romantix

Het jy geweet?

Deeltefs is in 1822 gestig en is die tweede oudste wynlandgoed in Suid-Afrika wat al sewe geslagte lank deur dieselfde familie bestuur word!

Ná ses wynlandgoedere, heelwat inligting om te verwerk, oorgenoeg happies, sop en wyn, is ons pootuit saam met Maríta na haar gastehuis, Aan De Doorns Guesthouse, waar ons die Saterdagaand oornag het.


Aan De Doorns Guesthouse


Dié tydlose Kaaps-Hollandse huis is sowat sewe kilometer buite Worcester geleë en die gashere is die toonbeeld van plattelandse gasvryheid. Dele van die gastehuis dateer uit 1860 en jy voel voorwaar asof jy in die negentiende eeu instap sodra jy die huis binnegaan ─ pragtige antieke houtmeubels en versamelings, houtvloere en groot opskuifvensters wat uitsigte oor die uitgestrekte Breedekloof se vlaktes en blou berge bied.

Die vars lug, vriendelike honde op die perseel en gasheer en -vrou wat jou vermaak met interessante plaaslike stories, eindelose kennis oor wynmaak en- proe, asook hope inligting oor doendinge in die Breedekloof en Breederiviervallei, sal jou beslis vir ’n naweek laat vergeet van al jou verantwoordelikhede wat by die huis wag…

Die Sondagoggend word ons wakker met die reuk van spek en vars roosterbrood in die lug, en ná ontbyt vat ons die pad Nuy-vallei toe om dié pragtige wynlandgoed te verken.

Aan De Doorns Guesthouse is net ’n halfuur se ry vanaf talle doendinge in alle rigtings vanaf die gastehuis, so jy kan beslis ’n volledige skedule beplan om die Breedekloof en Breederiviervallei te verken as jy die Soetes- en Sopfees bywoon.

Nog doendinge in die Breederiviervallei


  • Wynproe op die tientalle asemrowende wynlandgoedere in die omliggende omgewing.
  • Besoek die restaurant by Nuy On the Hill, sowat 20 kilometer vanaf Worcester, op ’n Sondag vir ’n heerlike Sondagmiddagete saam met jou gesin en ’n onvergeetlike uitsig!
  • Saggy Stone, ’n mikro-bierbrouery met ’n fassinerende geskiedenis wat in 2008 deur twee broers gestig is, is ’n bekoorlike restaurant, brouery en speelplek vir kinders. Dis versteek tussen heuwels en ’n uitstekende plek om ’n besige naweek rustig af te sluit terwyl jy bierproe. Die Mediterreense platter vir twee is iets om na uit te sien!
  • Jy kan selfs wildkyk in dié area by Aquila Privaat Wildreservaat. Wees op die uitkyk vir hulle spesiale winteraanbod ─ perfek vir wanneer jy die Soetes- en Sopfees bywoon!
  • Jy kan ook verskeie opwindende bergfietsroetes in dié area verken.


Waar kan jy slaap gedurende die Soetes- en Sopfees?


Die Breederiviervallei bied verskeie lieflike blyplekke in en om die Breedekloof-wynroete waar jy heerlik kan ontspan ná ’n lang dag van wynproe, sop drink en gesellig wees:

Die Damhuis | De Bergen | Bosjes | The Habit | Avondrood Mountain House | Slanghoek Mountain Resort | Leipzig Country House

’n Sonnige winternaweek vol opwindende roetes, uitsigte wat jou in vervoering laat, bekroonde wyn, heerlike sop, tuisgemaakte disse, en droomblyplekke oral in die area  ─ die Soetes- en Sopfees wéét hoe om ’n ieder en ’n elk op te vrolik en jou bekommernis agter die blou berge te los!

Kaartjies word nie op die landgoedere by die fees verkoop nie, so koop vroegtydig jou Soetes en Sop-kaartjie vir 2019 aanlyn en maak gereed vir ’n plesierige naweek in die wonderskone Breedekloof!

Hooffoto: Bigstock

Alle foto’s is deur Hennely Nel geneem, tensy anders vermeld.