Op die mees suidelike punt van Afrika, daar waar die Indiese en Atlantiese Oseaan ontmoet, sal jy ’n bekoorlike dorpie met die naam L’Agulhas aantref. Die pad na dié bestemming lei jou deur Struisbaai, ’n geliefde vakansiedorp bekend vir sy skitterwit strande, kleurvolle vissersbootjies en bobaas-hengelplekke. Menigte vakansiegangers stroom elke Desembervakansie hierheen en dit is maklik om te sien hoekom. Struisbaai is net twee ure buite Kaapstad en ’n kort entjie vanaf Arniston, en behalwe vir gerieflike daguitstappies, is daar ook veilige swemstrande en ’n rits aktiwiteite vir die hele gesin om te geniet. 

LekkeSlaap het ’n handige gids tot dié vakansiebestemming saamgestel. Lees hiér waar jy kan bly, eet, stap en kuier, en vind uit waarom Struisbaai die juweel van die Overberg is. 

Rek bene hiér

Wat is ’n gesinsvakansie sonder ’n afdraai na ’n padstal vir ’n heerlike pastei en koffie? Indien jy Struisbaai vanaf Kaapstad nader sal jy die gewilde Peregrine Farm Stall aan jou regterkant aantref. Dié padstal is sedert die 1960’s aan die gang en bied vars, plaaslike produkte, sowel as heerlike pasteie, broodjies en quiches. Jy kan ook na plaaslike bier en wyn wat in die Elgin-vallei geproduseer word uitsien. 

Volg die N2 vir nog ’n rukkie en jy sal Houwhoek Farm Stall ook aan jou regterkant sien. Hiér is alles wat lekker is en ons stel voor jy probeer een van hulle vars pasteie of ’n soetding by die bakkery. Die padstal het ook drie damme waar jy kan kunsvlieghengel terwyl die jongspul onder die bome speel en aan die piekniekmandjies wat Houwhoek verkoop smul. 

Net voor jy Bredasdorp bereik, ry jy deur Napier. Dié dorpie is ’n skatkis vir enigeen wat van rondsnuffel in kunsvlytwinkeltjies en tuisnywerhede hou. Die ou plaasdorpie het ook ’n ryk geskiedenis en vriendelike inwoners, so maak seker jy bring genoeg tyd hier deur vir ’n egte plattelandse ervaring. 

Napier is ’n skatkis vir enigeen wat van rondsnuffel in kunsvlytwinkeltjies en tuisnywerhede hou. | Foto: The Barn op LekkeSlaap.co.za.

Die R60 vanaf Worcester neem jou deur Robertson en dié roete bederf jou met prentjiemooi natuurtonele eie aan die Overberg. Ons stel voor jy maak by die Pampoen Padstal net buite Robertson ’n draai voor jy afdraai op die R317. Van hier af sal jy interessante dorpies soos Bonnievale en Stormsvlei aantref. 

Stap of ry fiets hiér

Kaap Agulhas Nasionale Park is die ideale plek vir natuurliefhebbers. Nie net spog die park met inheemse fynbos en bedreigde voël- en dierspesies nie, maar die kuslyn is bekend vir die skeepswrakke wat ongelukkig nie die Kaap van Storms se wind en weer kon weerstaan nie. Die De Zoetendal, HMS Birkenhead en HMS Arniston is permanent langs die Agulhas-kuslyn vasgemeer en oorblyfsels van die skepe en hul vorige passasiers is in die skeepswrakmuseum in Bredasdorp te sien. Die Meisho Maru-38-wrak is een van die gewildste besienswaardighede vir besoekers aangesien dié wrak naby genoeg is om te voet te bereik wanneer die gety laag is. 

Die De Zoetendal, HMS Birkenhead en HMS Arniston is permanent langs die Agulhas-kuslyn vasgemeer. | Foto: BigStock

Die Agulhas Plain het ’n groot verskeidenheid flora en unieke plantegroei soos kalksteenfynbos is hiér te sien. Tussen Mei en September is dit die ideale tyd om die blommeprag in volle glorie te aanskou, maar daar is ook blomme wat regdeur die jaar gesien kan word. Vir voëlkykers is daar ook ’n kans om die bedreigde Swarttobie te sien, sowel as ander unieke voëlspesies. 

’n Struisbaaivakansie sal natuurlik nie volmaak wees sonder om ’n foto by die baken waar die twee oseane ontmoet, te neem nie. | Foto: Seagulls Seasong op LekkeSlaap.co.za.

As jy lus is om behoorlik bene te rek moet jy die Two Oceans- en Rasperpunt-voetslaanroetes aanpak. Die Two Oceans-roete is relatief nuut en volg ’n sirkelroete deur die Agulhas Nasionale Park. Die naam is van die uitsigpunt bo-op die Sandberge afkomstig en van hiér kan jy die ontmoeting tussen die Atlantiese en Indiese Oseaan sien. Die roete is sowat 10,5 kilometer lank en neem die meeste stappers gewoonlik vier tot vyf uur om te voltooi. Jy kan natuurlik pragtige fynbos langs die pad verwag. Die Rasperpuntroete begin by die Meisho Maru-skeepswrak en is ongeveer 5,5 kilometer lank. Op dié roete kan jy kusfynbos en varswaterfonteine sien. Die roete bied ook mooi uitsigte op die Rasperpunt-rotsformasies en daar is gerieflike merkers langs die pad wat die roete aandui. 

Neem foto’s hiér

’n Struisbaaivakansie sal natuurlik nie volmaak wees sonder om ’n foto by die baken waar die twee oseane ontmoet, te neem nie. Terwyl jy daar is, maak sommer by die Kaap Agulhas-vuurtoing ook ’n draai. Dié toring is 27 meter hoog, so jy kan hom nie mis nie! Die bou van die toring is in Desember 1848 voltooi en dit is in 1937 tot ’n nasionale monument deur Johannes Petrus van der Spuy verklaar. ’n Indrukwekkende 71 trappe sal jou na die bopunt van die toring neem, maar wanneer jy eers die uitsig van hiér ervaar sal dit die vreesaanjaende tog na bo die moeite werd maak. ’n Klein fooi sal jou toegang tot die vuurtoring en die museum bied. 

Die Kaap Agulhas-vuurtoring is 27 meter hoog, so jy kan hom nie mis nie! | Foto: Struisbaai Beach House op LekkeSlaap.co.za.

Alhoewel hy aansienlik kleiner is, is daar ook ’n vuurtoring op Struisbaai se hawemuur te sien. Struisbaai het as ’n vissersdorpie ontstaan en dié nywerheid is steeds een van die grootste bronne van inkomste vir die dorp. Die hawe is dus ’n gewilde plek om vars vis by die plaaslike vissermanne te koop en ook om die kleurvolle bootjies wat in die hawe vasgemeer is af te neem. Die hawemuur is ’n lekker plek om vanaf vis te vang en daar is ook ’n strandjie met die naam Seekoeigat. Dié strandjie is gewild onder ouers met jonger kinders aangesien daar nie groot branders of strome is nie. 

Die hawe is ’n gewilde plek om vars vis by die plaaslike vissermanne te koop en ook om die kleurvolle bootjies wat in die hawe vasgemeer is af te neem. | Foto: Struisbaai Beach House op LekkeSlaap.co.za.

Die hawe se bekendste besoeker is Parrie, die plaaslike pylstert. Parrie was aanvanklik deur die aasoorblyfselfs wat deur die vissermanne in die hawe gegooi is gelok, maar keer nou al vir die afgelope paar jaar klokslag terug vir die aandag en kos. Hy is deesdae só mak dat besoekers kan kyk hoe hy gevoer word. Alhoewel hy steeds ’n wilde dier met ’n gevaarlike, swaaiende stert is, word hy deur baie as die dorp se grootste aantreklikheid en gelukbringer gesien. Parrie het ook sedertdien ’n paar pelle genooi om saam te kom kuier, maar dié is nog effens sku vir die aandag. 

Alhoewel Parrie steeds ’n wilde dier met ’n gevaarlike, swaaiende stert is, word hy deur baie as die dorp se grootste aantreklikheid en gelukbringer gesien. | Foto: Petite op LekkeSlaap.co.za.

Nadat jy die hawe besoek het en vir Parrie ’n stukkie aas gevoer het, kan jy ’n roomys koop en die houtwandelpaadjie tot by die hoofstrand volg. Langs die pad sal jy pragtige skulpe en klippies, vissermanne en sweefski-entoesiaste raakloop. Struisbaai se hoofstrand bied oorgenoeg plek vir enigeen wat op soek is na ’n bietjie vitamiene D aangesien die strand deel van die langste strandstrook in die suidelike halfrond vorm. As jy strandlangs wandel kan jy selfs Gansbaai toe loop!

Seekoeigat-strandjie is gewild onder ouers met jonger kinders aangesien daar nie groot branders of strome is nie. | Foto: Annie’s op LekkeSlaap.co.za.

Bly hiér

Struisbaai bied verblyfopsies wat enige sak sal pas. Besoekers kan tussenselfsorghuise, selfsorgwoonstelle of B&B-verblyf in die dorpe se vele gastehuise kies. Langezandt Fisherman’s Village is ’n woonbuurt aan jou linkerkant soos jy die dorp binnekom en spog met pragtige, witgekalkte vissershuisies met toegang tot ’n privaat strand. 

Langezandt Fisherman’s Village spog met pragtige, witgekalkte vissershuisies met toegang tot ’n privaat strand. | Foto: Seewaarts op LekkeSlaap.co.za.

Soos  jy Struisbaai in die rigting van Agulhas verlaat, sal jy al langs die kus pragtige huise met die mooiste uitsigte en spoggerige gastehuise aantref. Agulhas Ocean House is een van dié gastehuise en is bo-op ’n dramatiese krans met ’n uitsig oor die rotse geleë. Spookdraai B&B bied ’n soortgelyke verblyfervaring en beide dié gastehuise is die ideale basis vanwaar jy Agulhas en Struisbaai kan verken. 

Struisbaai is natuurlik die perfekte plek vir ’n gesinsvakansie en hier is beslis geen tekort aan lieflike selfsorghuise nie. Struisbaai Beach House bied slaapplek aan 12 gaste in 4 ruim slaapkamers en dié huis is elke Desember gewild onder besoekers. Daar is egter ’n plekkie vir elkeen wat die vakansiedorp wil besoek, so volg gerus die skakel om jou volgende vakansie te bespreek.

Eet en kuier hiér

Ná ’n lang, besige dag in die son en op die strand is ’n heerlike bord seekos nét wat jou gesin nodig het. Gelukkig het Struisbaai geen tekort aan familievriendelike restaurante en koffiewinkels nie. 

Earth Restaurant & Shop is aan die regterkant van die pad soos jy die dorp binnekom en bied ’n gesellige restaurant, geskenkwinkel, wynboetiek en ’n troeteltuin met bokkies, miniatuurdonkies en ponies. Die jongspul kan dié dierefamilie voer terwyl die volwassenes ’n heerlike ete tussen 08:00 en 17:00 elke dag geniet. 

Earth Restaurant & Shop bied ’n gesellige restaurant, geskenkwinkel, wynboetiek en ’n troeteltuin. | Foto: Verskaf

Fish & More is net ’n entjie verder in Hoofstraat, oorkant die OK-supermark, en bied heerlike, vars seekos. Dié restaurant kry elke dag ’n vars vangs by die hawe en spog met gewilde lynvis soos silwervis, geelstert, roman en kabeljou. Fish & More is beslis dié plek om te gaan vir heerlike wegneemetes, vars vis en ander lekkernye soos calamari en salm. 

In dieselfde area kan jy ook lekker by Pret at 55 Knots, Catch Cook by die hawe, Old Cape Trading Post, Paljas Struisbaai, The Michael Collins en The Shipwreck Coffee Shop eet. Struisbaai se dorpsplein en hawe het ook elke jaar verskeie stalletjies en karavane wat heerlike koffie en versnaperinge verkoop. Maak seker jy maak tydens die Feesseisoen by Lara’s Coffee Bar ’n draai en bederf jouself met ’n haselneut-, botterkaramel of vanieljekoffie. 

As jy in Agulhas is en lus is vir ’n lekker koppie koffie en ’n sny wortelkoek, en vir pragtige huisdekor en kuns in die mark is, is Suidpunt Potpourri ’n móét. Dié koffiewinkel is net om die draai van die Kaap Agulhas-vuurtoring en die perfekte plek om te stop ná jou besoek aan die baken en vuurtoring. Verder bied Agulhas ook lekker pizza en seekos by Seagulls en Zuidste Kaap Pub & Restaurant en Gavin’s Trattoria Agulhas bedien heerlike Italiaanse disse. 

Met verskeie besienswaardighede, ’n rits restaurante, koffiewinkels en snuffelwinkeltjies, en die mooiste nasionale park, is dit sekerlik onmoontlik om in dié pragtige dorp verveeld te raak. | Foto: Struisbaai Beach House op LekkeSlaap.co.za.

Vinnige feite

Kruideniersware: OK Grocer Struisbaai, Friendly Everyday, L’Agulhas Kafee

Brandstof: Struisbaai Caltex

Ander benodighede: Struisbaai Apteek, Struisbaai Slaghuis, De Kleine Drankwinkel, Geelstert Drankwinkel, Struisbaai Mediese Praktyk

Agulhas Nasionale Park: Toegangsfooie vir dagbesoekers 

Kaap Agulhas-vuurtoring: Toegangsfooie vir dagbesoekers 


Daar het jy dit! Met verskeie besienswaardighede, ’n rits restaurante, koffiewinkels en snuffelwinkeltjies, en die mooiste nasionale park, is dit sekerlik onmoontlik om in dié pragtige dorp verveeld te raak. Struisbaai groei egter jaarliks met nuwe restaurante en besighede wat by die lys gevoeg kan word. Gelukkig is daar baie vriendelike, permanente inwoners wat met trots vir jou sal vertel waar jy volgende kan gaan vir ’n koffie, ete, staptog of lekker kuier.

Hooffoto: Protea 5 op LekkeSlaap.co.za.