My pa is ’n 4×4-entoesias en as jy op enige oomblik van enige dag vir hom vra waarheen hy nóú sal ry, sal sy antwoord altyd die Tankwa-Karoo wees! Dit is ’n betowerende area wat jou altyd sal laat wil terugkeer om nóg te sien of om weer die rustigheid van die niksheid te ervaar. Hierdie semi-woestynstreek in die afgeleë uithoeke van die Noord-Kaap êrens tussen Ceres, Sutherland en Calvinia lok avontuursoekers en natuurentoesiaste van heinde en verrre en in hierdie blog vertel ons jou ’n bietjie meer oor wat jy in dié boeiende omgewing kan verwag. Terwyl jy deur die uitgestrekte landskappe van die Tankwa-Karoo ry, sal jy ’n unieke tapisserie van ruwe terrein, ’n ongelooflike helder naghemel en ’n oorweldigende gevoel van rustigheid ontdek. 

’n Bergtoneel in die Tankwa-Karoo (Foto: Unsplash)

Begin jou Tankwa-Karoo-avontuur deur die vlaktes aan te durf wat so ver soos die oog kan sien, strek. Roete 355 is die gewilde Tankwa-pad wat vanaf Ceres deur die Tankwa-Karoo al die pad tot by Kleinzee by die Oranjeriviermond lei. Die eerste gedeelte van die pad loop tot by Calvinia en dit is sowat 211 kilometer ver. Die reis self is ’n belewenis, met stowwerige paaie wat jou deur dorre landskappe met betowerende rotsformasies lei. Wees voorbereid om die onverwagte teë te kom, want die Tankwa-Karoo verklap sy geheime een kilometer op ’n slag. Ons beveel aan dat julle met ’n voertuig met hoë grondvryhoogte die omgewing verken, want die grondpaaie kan op sekere plekke klipperig wees. Let ook op dat daar geen vulstasies op die pad is nie, so jy moet voorbereid wees en onthou ook om jou bandhersteltoerusting in te pak — jy gaan dit heel waarskynlik nodig hê. 

Tussen Augustus en Oktober word die andersins dorre landskap met vrolike veldblomme versier en die kontras is beslis iets om te sien. Besoek die oulike dorpies, woon plaaslike geleenthede by en smul aan tradisionele kookkuns wat met liefde voorberei is. Die hartlike gasvryheid van die mense in hierdie streek voeg ’n ekstra lagie bekoring by jou reis. Die Tankwa Padstal is ’n baie gewilde stopplek op Roete 355 en julle sal beslis daar vir iets lekker wil stilhou. Ná sowat 100 kilometer op die grondpad, sal jy ’n vreemde ruimtevoorwerp en ’n halwe skedonk sien wat uit die aarde uit steek en vir ’n oomblik dink jy is in ’n ander dimensie — maar dit is net die ingang na die padstal. Die padstal is vir hulle roosterkoek bekend en julle kan by die houtbankies aansit vir ’n stewige ontbyt en middagete of ’n wegneemete bestel. Maak seker julle loop ’n draai deur die winkel en koop ’n paar lekkernye en koeldrank vir die res van die pad. 

Tonele by die Tankwa Padstal (Foto’s: Daniëlle Terblanche)

Die Tankwa-Karoo is vir sy uitsonderlike naghemel bekend en bied ’n hemelse skouspel wat jou in verwondering sal laat. Soos die son ondergaan, word die heelal lewendig met ’n skitterende vertoning van sterre, planete en die Melkweg. Vang die oomblik met jou kamera vas of lê eenvoudig terug en neem die kosmiese wonders in stilte in.

Wenk: Wees op die uitkyk vir plaaslike sterrekyk-geleenthede of feeste wat in die omgewing plaasvind, waar jy by entoesiaste en sterrekundiges kan aansluit vir ’n onvergeetlike hemelse ervaring. Lees meer oor sterrykykwenke in hierdie blog.

Vir diegene wat die bloed ’n bietjie vinniger wil laat pomp, het die Tankwa-Karoo baie avontuur-aktiwiteite om te bied. Verken die ruwe terrein op ’n 4×4-roete, toets jou bergfietsryvaardighede op uitdagende paaie, of sluit by ’n begeleide stapekspedisie soos die Tankwa Camino aan om versteekte canyons en unieke rotsformasies te verken. Die Tankwa is ’n opwindende speelplek vir buitelug-entoesiaste wat ’n rits geleenthede bied om met die opgerepte natuur te skakel.

Hoewel die Tankwa-Karoo baie onderontwikkel is, is daar talle verblyfopsies vir ’n ieder en ’n elk. Julle kan tussen eenvoudige kampeerplekke, luukse lodges, oulike selfsorghuise en unieke tentkampe kies. SANParks bied ook kampeerplekke en selfsorgverblyf in die Tankwa-Karoo Nasionale Park en dis ideaal vir groepe wat die omgewing verken. 

Tankwa River Lodge

70 kilometer vanaf Sutherland

Dié plaasopstal is meer as 250 jaar oud en bied lieflike verblyf aan ’n groep van twaalf gaste in ’n vreedsame omgewing. Hiér word julle met ’n swembad, binnebraai en ’n groot stoep met ’n uitsig bederf en daar is 4×4- en bergfietsroetes op die plaas om te verken. Julle troeteldiere is ook welkom! 

Hantamland

57,7 kilometer vanaf Calvinia

Hiér bo op die Hantamberge kan julle ongelooflike sonsondergange, helder sterrenagte en sneeu in die winter geniet! Hantamland bied netjiese selfsorgverblyf aan ses gaste en is gerieflik vir ’n lekker wegbreek in die Noord-Kaap ingerig. 

Tierkloof Mountain Cottages

55,3 kilometer vanaf Ceres

Met 1200 hektaar se wildernis om jou kan jy nie anders as om behoorlik te ontspan nie! Tierkloof bied drie losstaande kothuise met slaapplek vir vier, ses en tien gaste en elkeen spog met ’n swembad, houtvuurwarmbad en ’n uitsig oor die plaas. 

Apollo de Karoo Tented Camp

70 kilometer vanaf Sutherland

Die permatente by dié tentekamp sal jou laat dink jy is op ’n ander planeet! Julle kan tussen permatente vir twee, ’n Tiny Secluded Cabin vir twee en ’n A-raam-eenheid vir ses kies én die verblyf is troeteldiervriendelik. Julle het ook toegang tot ’n plonspoel en braaigeriewe en daar is voetslaan- en bergfietsroetes om te verken.

Inverdoorn Private Game Reserve

61,2 kilometer vanaf Ceres

Inverdoorn is die tuiste van die Groot Vyf en beslaan sowat 10 000 hektaar in die Ceres-Karoo. Hiér kan julle ’n onvergeetlike tydjie in die natuur deurbring en ’n ander kant van die Tankwa beleef. Daar is gastekamers, chalets en ’n luukse tentkamp om van te kies en al die verblyf sluit drie maaltye, ’n verwelkomingsdrankie en twee wildritte per dag in. 

Ymansdam Farm Accomodation

85 kilometer vanaf Calvinia

Aan die voet van die Roggeveldberge, op ’n plaas reg langs die Tankwa-Karoo Nasionale Park, wag daar ’n rustige wegbreek op julle. Die kampeerplek is vir ses gaste geskik en die selfsorgkothuis vir twee gaste. Julle kan ook in die plonspoel afkoel en van die braaigeriewe gebruik maak.  

Skoorsteenberg Farm and Cottages

69,2 kilometer vanaf die Tankwa-Karoo Nasionale Park

Dié plaas bied gerieflike verblyf aan gesinne of groepe vriende in twee kothuise met slaapplek vir ses gaste elk. Daar is nie enige selfoonopvangs op die plaas nie, so dis die ideale plek om van die stadsgedruis te ontsnap. Die kinders kan die plaasdiere voer, daar is stap-, fiets- en motorfietsroetes om te verken en julle kan ook in die dam afkoel. 

Die Tankwa-Karoo is ’n bestemming wat die gewone oortref, wat jou nooi om van die chaos van die moderne lewe te ontsnap en weer met die rustigheid van die wildernis te verbind. Dit is ’n reis wat ’n onuitwisbare merk op die siel laat en jou herinner aan die skoonheid wat in die eenvoud van die natuur lê.

Hooffoto: Tierkloof Mountain Lodge (LekkeSlaap)

Lees nog:
Aktiwiteite in die Cederberg

9 redes waarom jy die Noord-Kaap moet besoek

Sterland: Ontmoet Sutherland se sterre