Oudtshoorn mag dalk Suid-Afrika se grootvoëlparadys wees, maar as dit by walviskyk kom, is Hermanus beslis die dorp om in af te saal om te kyk hoe dié seereuse jaarliks in die Atlantiese blou kom baljaar. Vanaf Junie begin die suidelike noorkappers hul verskyning aan Mosambiek se kus maak en van Augustus tot November is dié pragdiere volop in Hermanus se waters. Dan loop die dorp sommer tjok-en-blok vol met besoekers wat van heinde en verre kom om die walvisse van nader te aanskou. Daarom wys LekkeSlaap jou ons gunstelingslaapplekke om Hermanus se walvisseisoen te geniet.

Windsor Hotel Hermanus

Die Windsor Hotel en sy selfsorgeenhede staan met spierwit vleuels en groen dakke dwars op die randjie van Hermanus se asemrowende Walkerbaai. Die meeste van die hotelkamers bied panoramiese see-uitsigte en daarmee saam die wêreld se beste walviskyk-geleenthede vanuit jou kamer se gemak. Suidelike noorkappers kom lê eeue lank al in dié waters besoek af om dit as ’n teelaarde en voedingsbodem te benut. Dis daarom geen wonder dat die Windsor Hotel ’n lojale gevolg het nie. Jaar na jaar en generasie op generasie keer gaste terug om te sien hoe hierdie ritueel afspeel.

Tipe verblyf: B&B
Slaapplek: 69 kamers met slaapplek vir 2 gaste in elk
Geriewe: walviskyk, perdry, voëlkyk, fietsry, bergfietsroetes, visvang, wynproe, begeleide wandelpaaie, swem

Charming Fisante House 

Charming Fisante House bied gerieflike selfsorgverblyf aan Hermanus se kus. Dié huis pronk statig op ’n heuwel in een van Hermanus se stil baai-buurte, Vermont, en bied ’n gedeeltelike see- en berguitsig. Breakfast Bay, ’n sonderlinge strandjie tussen die rotse, is net twee minute se stap van die huis af. Die huis spog met twee groot stoepe met binnebraaigeriewe, ’n uitsig oor die fynbostuin en ’n houtbalkon op die boonste verdieping wat ’n pragtige see-uitsig bied. Hermanus se bekende kranspaadjie loop al langs die kus af tot by Sandbaai aan die oostekant en Hawston se hawe aan die westekant. Gaste kan dus net by die huis uit stap en dié paadjie volg om Hermanus se natuurskoon te geniet.

Tipe verblyf: Selfsorg
Slaapplek: 7
Doendinge naby: walviskyk, perdry, voëlkyk, fietsry, swem, visvang, wynproe, bergfietsroetes

Overberg Gems – Lagoon View

As jy die opwinding van die walvisseisoen in Hermanus wil ervaar, maar saans ’n bietjie van die dorp se rumoer wil ontsnap, is Overberg Gems – Lagoon View net die plek vir jou! Dié huis is op ’n privaat landgoed ag kilometer vanaf Hermanus en bied ’n pragtige uitsig oor die strandmeer. Dis ideaal vir ’n gesinsvakansie en watersport-entoesiaste wat die Kleinrivier-strandmeer wil geniet. Die huis het ’n lieflike dek waarop gaste na hartelus kan kuier en daar is ’n swembad stapafstand van die huis af. En as Wagter ’n waterliefhebber is, kan jy hom ook gerus saambring om ’n paar nagte by Overberg Gems te kom geniet!

Tipe verblyf: Selfsorg
Slaapplek: 6
Doendinge naby: walviskyk, visvang, wynproe, perdry, voëlkyk, fietsry, bergfietsroetes, swem, begeleide wandelpaaie

Hermanus Boutique Guest House

Hermanus Boutique Guest House is ’n luukse B&B wat superieure verblyf in Hermanus bied. Jy kan sommer sien hoe die walvisse in die baai baljaar vanuit dié indrukwekkende suites met hul uitsigte oor die see. Die gastehuis is etlike meters vanaf die prentjiemooi kranswandelpaaie en beroemde rotspoel. Hermanus se middedorp, restaurante en kunsvlytmarkies is net ses minute se stap vanaf die gastehuis en die doendinge in die area is legio. So, as jy Hermanus in lekker luuksheid en swierige styl wil ervaar, is dié gastehuis net die plek vir jou!

Tipe verblyf: B&B
Slaapplek: 17 kamers met slaapplek vir 2 gaste in elk
Doendinge naby: walviskyk, haaihokduik, kajakvaart, valskermsweef, vierwielmotorfietsritte, perdry

Milkwood Rest

As jy sakpas-verblyf met ware Hermanus-bekoring soek, kan jy sommer hiér jou soektog halt. Milkwood Rest bied gerieflike selfsorg-verblyf in ’n lieflike en smaakvol versierde oopplan-woonstel op ’n woonerf waar die eienaars ook bly. Dié eiendom is ook in Vermont, sowat tien kilometer vanaf Hermanus se middedorp. Daar is ’n kombuis wat ten volle toegerus is en gaste het toegang tot hul eie semi-privaat braai-area met ’n tafel en stoele. Die woonstel se ligging bied toegang tot Vermont se naaste ingang en Onrus en Sandbaai se kuspaadjie. Gaste kan van hier af dié mooi klippieskus verken.

Tipe verblyf: Selfsorg
Slaapplek: 2
Doendinge naby: walviskyk, voëlkyk, wynproe, fietsry, bergfietsroetes

Pelagus Guest House

Pelagus Guest House bied alle geriewe wat jy moontlik vir die ideale walviskykvakansie kan benodig. Dié gastehuis se ligging, styl en toewyding verseker dat daar in al jou behoeftes voorsien word. Wanneer jy by Pelagus aankom, word jy met ’n ongelooflike see-uitsig, die gedruis van branders en die heerlike reuk van Hermanus se seebriesie begroet. Gaste kan op die patio ontspan en die pragtige uitsig oor Walkerbaai geniet. Pelagus het ook ’n biblioteek met ’n see-uitsig, ’n sitkamer met ’n kaggel en ’n swembad waar gaste sorgeloos in die son kan baai. Daar is ook ’n kranspaadjie wat na die hawe lei. Pelagus Guest House is die ideale afsaalplek vir ’n behoorlike Hermanus-vakansie!

Tipe verblyf: B&B
Slaapplek: 7 kamers met slaapplek vir 2 gaste in elk
Doendinge naby: walviskyk, gholfbane, voëlkyk, wynproe, fietsry, bergfietsroetes, visvang

As jy nóg nie ’n suidelike noorkapper in lewende lywe gesien het nie, is dit hoogtyd dat jy ’n draai in Hermanus gaan maak, want foto’s doen beslis nie dié majestueuse diere gestand nie! Bespreek ’n nag of twee by een van LekkeSlaap sê gunstelingslaapplekke in Hermanus en kom geniet ’n wegbreek saam met die walvisse!

Hooffoto: LekkeSlaap