Van ’n ou tronk, koffie op ’n berg en ’n unieke ginproe-ervaring, tot verblyf by ’n ou klooster ─ dit is alles in Vanrhynsdorp en die omgewing te vinde! LekkeSlaap is onlangs na dié deel van Namakwaland genooi om ’n bietjie na die vriendelike mense se interessante stories te luister en alles wat mooi is in die omgewing te geniet. Ons wys vir jou wat jy alles hier kan geniet buiten blommekyk gedurende die veldblomseisoen.

Ou Tronk & Knechtsvlakte Kwekery

Elke kleindorpie spog met ’n interessante storie of tien en die ou tronk in Vanrhynsdorp se mure is met ’n paar van dié stories gevul! Die ou tronk is sedert 1938 nie meer in gebruik nie en dien vandag as ’n indrukwekkende museum en vetplantkwekery. Die destydse sipier se huis is die museum en elke vertrek is van bo tot onder met merkwaardige items uit ’n vervloë era gevul ─ jy mag dalk net ’n ou kamera of koekblik, soos wat in jou ouma se huis gestaan het, raaksien. Elke item het ’n storie en jy kan gerus vir Eduard vra hoe dit in hulle museum beland het. Monica en Eduard Cornelissen is verskriklik passievol oor wat hulle hier begin het en meen daar is ’n simbiose tussen die tronk, museum en vetplante wat hier te sien is, “die gevangenis hou die plante en geskiedenis van die streek binne”. 

Daar is baie te sien by die Ou Tronk en Knechtsvlakte Kwekery.

Soos jy deur die kombuis (gedurende die besige blommetyd word hier vars plaasbrood bedien!) aan die agterkant van die huis beweeg, kom jy in die binnehof van die ou tronk uit. Dit mag dalk nie die prentjie wees wat jy verwag nie, want die binnehof is met van die mooiste vetplante wat te koop is in ’n kleurvolle kwekery omskep! Van die ou selle is met tronkgedenkwaardighede gevul en jy kry werklik ’n gevoel van hoe die gevangenes hier gelewe het. En moenie skrik as jy skielik ’n flits van ’n mens gewaar nie ─ hier was al menigte tannie wat deur ’n onverwagse spokerige gas uit die toilet gejaag is. 

Voetslaan saam met die Matzikama Hiking Club

Een van die beste maniere om ’n nuwe plek te verken, is om tyd in die natuur deur te bring en Vanrhynsdorp is bevoorreg genoeg om ’n voetslaanklub vir ywerige stappers te hê. Salomé en Christie van die Matzikama Hiking Club het ons vir ’n verfrissende stappie op Gifberg buite die dorp geneem en dit was lieflik om die unieke natuurskoon van die omgewing van naby te sien. Salomé is ’n voël- en plantkenner en gesels lekker oor die spesies wat oor ons pad kom en Christie ken die berg soos die palm van sy hand, so jy kan nie vir twee beter gidse op so ’n wandeling vra nie. Daar is talle fotogeleenthede op die roete so onthou jou kamera. Jy kan ook die dorp in al sy glorie en die oneindigende vlaktes van die Knersvlakte van die ikoniese berg af sien. 

Voetslaan op Gifberg.

Hou gerus hierdie klub se Facebook-blad vir kennisgewings oor hulle toekomstige avonture in die omgewing dop.

Wynproe by Teubes Wines

Net buite Vredendal wag Teubes Wines op jou! Die wynplaas is die ideale plek om wyn op ’n stoep te geniet wanneer jy die omgewing besoek. Die kindervriendelike wynplaas het ’n rustige atmosfeer en spog met heerlike, bekroonde wyn wat eie is aan die omgewing. Teubes is in die bevoorregte posisie om hul wyndruiwe van drie verskillende liggings met verskillende terroirs te kry en jy kan die unieke smake in die proe-notas van die onderskeie wyne optel. Die Teubes-reeks se druiwe groei hoofsaaklik in die Namakwalandse omgewing om jou, terwyl die Lambertsbay’s Finest-reeks se druiwe van Lambertsbaai afkomstig is en die Malkopbaai-reeks se druiwe van Malkopbaai aan die Weskus afkomstig is. Die laasgenoemde reekse se druiwe groei nader aan die oseaan en het dus ’n unieke smaak wat jou aan dié kusstreek herinner. 

‘n Rustige wynproe by Teubes Wines.

Moet beslis nie verby hierdie lieflike wynplaas ry nie ─ hou stil en geniet ’n glasie op die stoep!

Gin-proe by 1st Principles Distilleries

As jy ’n gin-liefhebber is moet jy beslis nie ’n kuier by 1st Principles Distilleries net buite Vredendal misloop nie. Hierdie unieke distilleerdery is op ’n plaas geleë en die eienaar, Joubert Roux, groei van die bestanddele vir die drankies self. Hy het ook maklike toegang tot vars vrugte in dié vrugbare en diverse omgewing. Die distilleringsproses is sonkrag-aangedrewe en dis belangrik vir die eienaar om ’n minimale impak op die aarde te hê. Hy is verskriklik passievol oor tradisionele distilleringsprosesse en drankies, en produseer die lekkerste gin, vodka, brandewyn, bitters en vermoet. Hy spog met ’n klassieke gin soos almal dit ken, maar dan is daar ook ’n rooibos- en heuningbos-gin wat enige drankie heerlik sal laat smaak. 

Die lekkerste gin-proe by 1st Principles Distilleries.

Jy kan ’n lieflike proe-sessie, gevul met staaltjies, saam met Joubert op die stoep geniet en meer oor dié drankies leer. Hy maak veral lekker mengeldrankies met sy Cocktail Gin en jy gaan beslis met ’n bottel of twee van dié topklas-gin daar wegloop.

Die Skoorsteentjie

Vir die lekkerste tuisgebak moet julle beslis by Die Skoorsteentjie in Vanrhynsdorp ’n draai maak. Jy kan nie die vrolike, helderpienk gebou in die middel van die dorp mis nie. Hulle is bekend vir hulle skuinskoek en jy kan dit saam met ’n koppie rooibostee uit die omgewing geniet.  

Die Skoorsteentjie se heerlike tuisgebak. Foto’s: Namaqua West Coast Tourism

Wyn- en teeproe by Piekenierskloof Wine

Het jy al ooit ’n proe-ervaring met tee, wyn en interessante peuselhappies geniet? Ons ook nie… tot ons by Piekenierskloof Wine by die De Tol Farm Deli naby Citrusdal aangeklop het. Dié unieke ervaring bestaan uit die gewilde Carmién-tee, Piekenierskloof Wine se lekker wyn en heerlike peuselhappies wat by die plaasstal te koop is. Elkeen van dié items het ’n invloed op hoe die ander items smaak en jy proe eers ’n slukkie tee, dan ’n slukkie wyn en dan ’n peuselhappie om die hele ervaring te kry. Die ou melkstal is in ’n proelokaal omskep en dit lei na ’n groot grasperk onder die bome met ’n uitsig op die berge waar die res van die besoekers heerlik sit en kuier. Maak seker jy val ook by die plaasstal in, al die produkte en nog ander interessanthede is daar te koop.

‘n Lieflike proe-ervaring by Piekenierskloof Wine.

Alhoewel die plaas nie deel van Namakwaland is nie, is dit ’n gewilde stopplek op pad Kaap toe of ’n vinnige dag-uitstappie na dié mooi deel van die provinsie.

Red Ox Steakhouse by Letsatsi Lodge

Jy kan by Red Ox Steakhouse by Letsatsi Lodge in Vanrhynsdorp aanklop vir een van die lekkerste aandetes of ontbyte in dié geweste. Dié gewilde restaurant bied ’n lekker atmosfeer en daar is sitplek onder ’n druiweprieël op die stoep as julle op ’n warm dag daar gaan kuier. Die spyskaart het omtrent iets van alles en hulle fokus op eg Suid-Afrikaanse disse ─ waarvan steak natuurlik een is. Die wynversameling spog met heerlike wyn uit die omgewing en daar is selfs plaaslike boetiekbier om van te kies. Die restaurant is soggens op sy besigste wanneer hulle ’n stywe buffet-ontbyt voorsit ─ maak seker jy skep van die lekker melkkos! 

Heerlike maaltye by Red Ox Steakhouse.

Letsatsi Lodge

Met al hierdie lekker aktiwiteite in die omgewing moet julle beslis meer as ’n dag hier deurbring. Letsatsi Lodge is ’n baie gewilde oorslaapplek op die N7 tussen Kaapstad en Namibië en vir die talle besoekers wat jaarliks gedurende die veldblomseisoen kom blommekyk. Hulle bied luukse chalets, gesins-eenhede en tent-chalets in ’n rustige omgewing waar jy behoorlik kan rus. Die lodge spog ook met ’n restaurant, die Red Ox Steakhouse, ’n gewilde trou-venue en ’n historiese kapel op die perseel. Die lodge was destyds die klooster op die dorp, en die gesins-eenhede was die nonne se verblyf en die restaurant die eerste kapel op die perseel. Die huidige kapel is toe later opgerig en word vandag vir troues gebruik. 

Die kapel, tent-eenhede en braaistoep by die chalets.

Al die eenhede is vir selfsorg toegerus en van hulle het braaigeriewe op die stoep. As julle ’n groot groep is, kan julle by die swembad van die gemeenskaplike braaigeriewe gebruik maak ─ die lodge bied braaipakke en alles wat julle nodig het vir ’n gesellige braai saam met vriende of familie. Die verblyf sluit ook ’n heerlike buffet-ontbyt by die restaurant in. 

Skemer by Letsatsi Lodge.

Nou weet jy daar is meer as net blommekyk in dié geweste! Kom kuier gerus in Namakwaland of bly ’n dag of twee langer die volgende keer wat jy die pad Namibië toe vat, jy sal beslis nie spyt wees nie! 

’n Spesiale dankie aan Letsatsi Lodge vir hulle gasvryheid tydens ons verblyf en vir Namaqua West Coast Tourism vir hulle hulp met al ons aktiwiteite.  

Hooffoto: Daniëlle Terblanche

Alle ander foto’s deur Daniëlle Terblanche tensy anders vermeld.