Blommekyk, oop vlaktes en vriendelike mense is sinoniem met die Namakwa-Weskus ─ dis egter nie al wat in dié streek skuil nie. Die Namakwa-Weskus strek vanaf Doringbaai aan die Weskus tot by Namakwaland se Knersvlakte en is ideaal vir ’n roetereis. LekkeSlaap het dié pragstreek gaan verken en vertel jou graag van al die opwindende doendinge en bekoorlike blyplekke wat op jou wag!

Doringbaai

Doringbaai is ’n ongekunstelde Weskusdorpie waar dit voel of tyd soms stilstaan. Dié vissersdorpie is bekend vir sy stadige leefstyl en ongerepte natuurskoon. Dis die ideale wegbreekplek as jy branders in die agtergrond wil hoor breek en die pragtige Weskus-sonsondergang wil beleef. Daar is talle fotogeleenthede met die kenmerkende swart-en-wit vuurtoring en verlate kreeffabriek wat die horison versier.

Die unieke Fryer’s Cove Vineyards se proelokaal is in ’n ou visfabriek op Doringbaai se pier geleë en hulle wingerd groei minder as 850 m van die kus af! Die wingerd se besonderse ligging dra by tot die wyn se unieke smaak ─ g’n wonder hul slagspreuk lui, “Forged by the earth, tempered by the sea,” nie. Dis ook net gepas dat jy heerlike seekos by die The Jetty Restaurant op die hawe geniet. Hier kan jy lekker ontspan terwyl die branders ’n paar treë verder teen die hawemuur breek.

A post shared by Wayve Kolevsohn (@wayvek) on

Klier hier vir verblyfopsies as jy nog nie klaar gekuier is nie.

Strandfontein

Strandfontein is ’n kleurvolle Weskusdorp net noord van Doringbaai aan die Olifantsriviermond. Die dorp is taamlik woelig gedurende die vakansieseisoen en jy kan ure op die wit strand deurbring en selfs ’n walvis gewaar! Dis ook ’n fantastiese visvangbestemming, so moenie jou visvanggereedskap vergeet nie.

Vir iets te ete kan jy gerus by Kommetjie Restaurant gaan aanklop. Dis ideaal geleë sodat jy die pragtige see-uitsig kan geniet terwyl jy aan ’n heerlike bord seekos smul. Daar is ook verskeie wandelroetes wat jou toelaat om die streek op ’n unieke manier te verken ─ die natuurskoon sal jou nie teleurstel nie.

Ons het lekker blyplekke te kies en keur in dié dorp.

Lutzville

Lutzville is ’n unieke dorpie aan die oewer van die Olifantsrivier in Namakwaland. Die dorp en sy mense beloof om sommer vinnig in jou hart in te kruip ─ die dorp se verwelkomingsbord lui nie verniet, “Die dorp waar besoekers ons vriende word,” nie. Die ligging naby die rivier sorg ook vir pragtige uitsigte en puik fotogeleenthede.

Moenie verbaas wees as jy wingerde in dié area met sy droë landskap teëkom nie ─ dis ’n gewilde wynproduserende gebied as gevolg van die vrugbare grond en ideale klimaat. Die Weskuswynroete lewer gehaltewyn en bied talle wynplase – wynproe moet daarom beslis op jou doenlysie wees! Lutzville Vineyards se wyne se eiesoortige smaak is te danke aan die koel Atlantiese briesie wat die wingerde afkoel en die beste gehaltedruiwe oplewer. Dis definitief die moeite werd om off the beaten track te gaan en hiér besoek af te lê.

A post shared by Adele de Waal🏁 (@adele17dw) on

Vir die avonturiers stel ons die Swart Tobie-roete in Koekenaap voor. Dié slenterstaproete neem jou al langs ’n ongerepte deel van die Weskus naby Koekenaap. ’n Spoeldiamantmyn vorm deel van die roete en daar is getypoele, fynbos en ongelooflike rotsformasies wat jy kan verken. Dié opwindende roete laat jou toe om ’n onbekende deel van ons land se kus te beleef.

Bly ’n paar aande by een van dié puik verblyfopsies.

Vanrhynsdorp

Vanrhynsdorp skuil tussen die Matzikamaberge en die Gifberge in Namakwaland en die area staan ook bekend as die Knersvlakte. Dis ’n baie gewilde blommekykbestemming gedurende die jaarlikse veldblomseisoen ná goeie winterreën. Die Nama-Karoo se semi-woestyn landskap begin in dié streek en vetplante kom volop hier voor ─ die grootste vetplantkwekery is ook hier te sien. Die Kokerboom Kwekery is ’n natuurreservaat wat dié plantsoorte beskerm en hulle huisves ’n groot aantal kokerbome en vetplante. Dis beslis ’n besoek werd as jy ’n belangstelling in vetplante het en jou versameling wil uitbrei.

Jy kan gerus by Knersvlakte Spens op Quaggaskop-plaas buite die dorp gaan inloer ─ dis ’n gewilde stopplek op die N7. Daar is begeleide staptoere op die eienaar se grond, as jy bietjie die area wil verken. Permitte is by die Kokerboom Kwekery in die dorp beskikbaar.

A post shared by carina (@carinaliebenberg) on

Slaap by een van dié plekke oor en verken die res van die dorp.

Vredendal

Vredendal is in die Matzikama-streek aan die oewer van die Olifantsrivier geleë. Die unieke Namakwaland-landskap beloof om jou asem weg te slaan en jou te laat vergeet van alles wat anderkant die berge lê. Die majestueuse berge wat die dorp omring, sorg vir pragtige uitsigte en dis die ideale bestemming as jy Namakwaland, die Weskus of die Sederberge wil verken. Die Olifantsrivier dien as besproeiing sodat daar wynbou in die omgewing kan plaasvind. Vredendal vorm ook deel van die Weskuswynroete en heldergroen wingerde begroet jou in die andersins vaal omgewing soos jy dié dorp nader. Die Atlantiese seebries beïnvloed ook dié streek se wyn en daar is talle wynplase waar jy besoek kan aflê.

Teubes Family Wines is ’n groot wynplaas wat al vir drie generasies in die Teubes-familie se besit is. Hulle boer self op die plaas en alles in die wynmaakproses gebeur ook op die perseel. Teubes lewer topgehaltewyn wat sterk beïnvloed word deur die terroir van die omgewing. Jy kan van hulle vier wynreekse en olywe wat op die plaas groei by hulle proelokaal proe.

Die area is ook die tuiste van ander puik wynplase wat jy kan besoek, soos Namaqua Wines, Bellpost Wines, Melkboomsdrift Boutique Wine, Cape Rock Wines, Stoumann’s Wine en Wilgenhof Wines.

Jy hoef nie na jou wynproe die pad aan te durf met dié verblyfopsies in die dorp nie.

Klawer

Klawer is ’n pragtige dorpie 10 km buite Vredendal tussen die statige Matzikamaberge en die Olifantsrivier. Dié landskap word elke jaar van Julie tot September met kleurvolle veldblomme versier. Daar is ook lekker doendinge in die natuur vir avonturiers ─ jy kan riviervlotvaartry, voetslaan en 4×4 in die berge. Die groen wingerde staan weereens uit in die droë landskap en jy kan sien hoe waardevol die Olifantsrivier vir wynbou is. Die indrukwekkende Klawer Cellars bied ’n groot verskeidenheid wynsoorte van baie goeie gehalte en jy kan van hul wyn by die kelder proe en koop.

A post shared by Klawer Wyn (@klawerwyn) on

Met dié lekker blyplekke kan jy nog langer bly.

Nou weet jy óók van al die lekker doendinge wat in die Namakwa-Weskus skuil! So, beplan en bespreek sommer vandag nog jou volgende vakansie na dié unieke streek en laat die wiele rol!

Hooffoto: “Gifberg” deur Bruce Viaene van bvphoto

Dankie aan Namakwa Weskus Toerisme vir die fotobydrae.