Oor die volgende tien maande neem OPTOG! die land én die KykNet-kassie op horings. Met twee roomyskleurige kombi’s gaan dié teater-troebadoergroep Suid-Afrika deurkruis en gróót vermaak na klein dorpies bring. Ou dorpsteaters sal dan opnuut glinster en plattelanders hoef nie meer die groot stad aan te durf om die groot name te sien nie, want Suid-Afrika se topkunstenaars pak nou die stofpad na húlle toe aan!

En ons? Wel, as mede-voorstaanders van die klein-dorpie-lewe, kon LekkeSlaap nie anders as om ook in die OPTOG!-kombi te spring en saam te toer nie. Dáárom het ons ook die geleentheid om elke week ’n paar vrae aan een van die sterre te stel. 

Hou gerus ons blog dop om te lees waar Suid-Afrika se bekendes hulle skoene die graagste uitskop!

Hierdie week is Elvis Blue aan die beurt. Dié geliefde musikant, wat ’n ongewone talent het om sy gehoor in Engels én Afrikaans te bekoor, tree op 14 Februarie by Hoërskool Durbanville op.  

Durbanville, soos die res van die Noordelike Voorstede, word dikwels ten gunste van die Moederstad oorgesien, maar dié buurte staan glad nie terug wat vermaak en besienswaardighede betref nie! As jy voor die vertoning in dié omgewing wil rondrits, moenie eens twyfel nie. Lees gerus hiér oor al die spogwynlandgoedere, koffiewinkels en doendinge wat van Durbanville en omstreke ’n waardige wegbreek maak.

Op daai noot val ons dan met Elvis Blue in die pad. Van ’n verhoog deel met Bon Jovi, tot hoekom Oprah nie ’n kans staan om op sy ‘show’ te wees nie ─ leer dié geliefde musikant ’n bietjie beter ken deur ons handjievol vrae.

 

 

View this post on Instagram

 

A post shared by YOBO.Studio (@yobo.studio) on

 

LS: Jy kry dit met jou Engelse én Afrikaans musiek reg om mense se harte te wen. Sou jy sê dat die proses van musiek maak makliker of anders in een van die twee tale is?

EB: Dit is vir my ’n bietjie makliker om in Afrikaans musiek te skryf, seker maar omdat dit my moedertaal is.

LS: Van al die konserte wat jy tot dusver gedoen het, is daar iets treffends wat vir jou uitstaan?

EB: Toe ek op hoërskool was, baie jare gelede, het Bon Jovi Suid-Afrika toe gekom en al my maats het geld gehad vir kaartjies. Ek was op Potch op skool en terwyl hulle op pad was na die konsert toe het hulle my by die huis afgelaai. In 2014 kom Bon Jovi toe terug SA toe, en toe het ek op dieselfde verhoog gespeel, voor 90 000 mense. Ek het nie kaartjies nodig gehad nie! Dit was nogal treffend.

LS: Wat is die vreemdste ding wat ’n konsertganger al vir jou gevra of gesê het?

EB: My konsertgangers is die wonderlikste en beste mense ter wêreld en hulle het almal puik maniere.

LS: Jy het tans jou eie program, genaamd Ek het nie ’n TV Show nie, wat weekliks op jou Facebook-blad geplaas word. Watter van die OPTOG!-deelnemers sou jy die graagste op jou program wil hê vir ’n onderhoud en hoekom?

EB: Nataniel, 100%! Ek het soveel respek vir hom en ek is ’n jarelange bewonderaar van hom en sy rokke!

LS: Jy noem op jou program dat Oprah al baie graag ’n verskyning wou maak. Wanneer jy binnekort ’n onderhoud met haar voer, wat sal jy vir haar wou vra?

EB: Ek weet Oprah sal baie graag op ’n groot show soos myne wil wees, maar tussen al die topgehalte Suid-Afrikaners wat op my show gaan wees, weet ek nie of daar vir haar ’n plekkie gaan wees nie.

 

LS: Jy reis sekerlik baie vir jou werk, en soms gaan die gesin seker saam. Hoe maak julle om die jongspan besig te hou tydens die rit?

EB: Deesdae hou kinders hulself nogal redelik goed besig op die langpad, daar is movies en games. Ek wens ek kon sê ons sing ou VAK-liedere, maar ons doen nie.

LS: Wat is jou gunsteling-vakansiebestemming in Suid-Afrika?

EB: George, die plek waar ek bly.

LS: Waar het jy as kind vakansie gehou en gaan jy nou nog soontoe met jou gesin?

EB: Ek het as kind in die Oos-Kaap vakansie gehou, by Kei Mond. Daar is baie kinderherinneringe daar. Deesdae is dit so bietjie ver vir ons en meestal bly ons tuis.

As jy dié musiekman nog beter wil leer ken, bespreek jou (en jou Valentyn) se kaartjie vir sy komende konsert in Durbanville en skop die OPTOG!-toer saam met Elvis Blue en LekkeSlaap af!

Onthou, as jy ’n entjie moet ry om die vertoning by te woon en ’n Valentynswegbreek daarvan wil maak, bespreek sommer ’n nag of twee by een van hierdie bederf-wegbreke in die omtrek.

Ons topkeuse

Schoongezicht Guest House

En ander lekke opsies

Cape Pillars Boutique Hotel

Hawksmoor House

Keret Accommodation

 

Hierdie week se OPTOG!-program

Elvis Blue – Stories | Donderdag, 14 Februarie | Durbanville | Bespreek hier | Bly hier
Mathys Roets, Danie Niehaus & Kevin Leo | Donderdag, 14 Februarie | Stellenbosch | Bespreek hierBly hier

Volgende week se OPTOG!-program

Nataniël: Unplugged | Woensdag, 20 Februarie | Rustenburg | Bespreek hierBly hier
Jak de Priester | Donderdag, 21 Februarie | Hoedspruit | Bespreek hierBly hier
Jak de Priester | Vrydag, 22 Februarie | Ermelo | Bespreek hierBly hier
Romanz | Vrydag, 22 Februarie | Bloemfontein | Bespreek hierBly hier
Nataniël: Unplugged | Saterdag, 23 Februarie | Polokwane | Bespreek hierBly hier
Romanz | Saterdag, 23 Februarie | Kimberley | Bespreek hierBly hier
Karoo Suite: Coenie de Villiers & Deon Meyer | Saterdag, 23 Februarie | Stellenbosch | Bespreek hierBly hier

Hooffoto: Eon Coetzee