Moenie soos die jonger, oningeligte ek die fout maak en dink dat ’n SANParke-vakansie altyd uit ’n vaal-bruin grasdakrondawel of ’n geelgras-kampeerplek onder ’n boom in die Krugerwildtuin of Kalahari bestaan nie! Alhoewel dié tipe vakansies hulle eie bekoring het, is daar soveel meer SANParke-opsies met verskillende landskappe en interessante bestemmings om te verken.

SANParke, in samewerking met Total Suid-Afrika, hou tussen 16 en 20 November 2020 hul vyftiende SANParke Week ─ ’n week waartydens jy gratis toegang tot amper al 21 nasionale parke kan kry!*

SANParke bestuur sowat 4 000 000 hektaar se parke en sluit slaapplek in van die mooiste, mees ongerepte dele van die land in ─ blyplek wat jy ook deur LekkeSlaap.co.za kan bespreek! Kom ons wys vir jou ’n paar van hulle verblyfskatte, vertel jou meer oor SANParke se Wildcard, en minder bekende Greencard, en wys jou hoe om die beste waarde vir jou geld daarmee te kry!

SANParks Overseers Mountain Cottage

Het jy geweet jy kan bo-op Tafelberg slaap? Ja, by Overseers Mountain Cottage slaap jy op een van die Wonders van die Wêreld! Wat dié klipkothuis nóg meer uniek maak is dat jy nie met jou voertuig tot hier mag ry nie ─ jy moet tot daar voetslaan! Maar moenie bekommer nie, gelukkig kan jy reël dat jou bagasie tot bo gedra word.

Onthou: Daar is nie elektrisiteit nie, maar wel ’n gasstoof, en hout word net vir jou eerste vuur voorsien, so bring asseblief nog ’n bondel of twee saam.

Tipe verblyf: Selfsorg
Aantal eenhede: 1
Slaapplek: 16

SANParks Platteklip Wash House

Dié ou kliphuis aan die voet van Tafelberg het ’n baie interessante geskiedenis. Dit is deel van die Wash House-kompleks waar Maleise vroue in die tweede helfte van die 19de eeu wasgoed op die plat klippe gewas het. Die gebou is pragtig opgeknap om by die natuurlike omgewing in te pas en buite is daar ’n groot boma en ’n tuin wat skuins na ’n hangmat onder tussen die bome lei.

Tipe verblyf: Selfsorg
Aantal eenhede: 6
Slaapplek: 24

SANParks Storms River Mouth Rest Camp

Dié park strek sowat 5 kilometer tot by die see en dien as ’n bewarea vir die seelewe wat in die tussengety-gebied, op die oseaanriwwe en in die diepsee woon. Behalwe vir die dolfyne wat gereeld hier in die branders baljaar en die suidelike noorkappers wat gedurende die seisoen beslis iets is om te sien, is daar verskeie ander spesies om voor uit te kyk. Die bedreigde swartoestervanger maak aan dié rotsagtige kuslyn nes, die pragtige Knysnaloeries kruip in die bos weg en die Kaapse groototter jag krappe aan die kus, én as jy gelukkig is sien jy blouduikers en bosbokke deur die kamp wandel!

Onthou: Geen aas, skulpe, dryfhout of enige ander organisme, lewend of dood, mag van die park verwyder word nie.

Tipe verblyf: Selfsorg
Aantal eenhede: 17 en 5 kampeer- en karavaanstaanplekke
Slaapplek: 828

SANParks Addo Nyathi Rest Camp

As jy van luuksheid en gerief hou en ook graag wildkyk, is dié ruskamp aan die voet van die Zuurberge vir jou! Die kamp se naam beteken “buffel” en hiér sal jy beslis van hulle raaksien ─ én olifante sommer van jou eenheid se privaat dek of plonspoel af. Die seisoenale rivier vloei net onder die kamp verby en verskeie wildspesies kom suip gereeld hier. Hou jou verkyker byderhand en kyk uit vir bobbejane, koedoes, vlakvarke en olifante.

Tipe verblyf: Selfsorg
Aantal eenhede: 11
Slaapplek: 32

SANParks Bitterpan Wilderness Camp

Dié kamp skuil tussen die rooi sandduine en vaal, geel grassies van die Kgalagadi Oorgrenspark en is nie omhein nie. Ja, jy het reg gehoor ─ die koning van die bosveld kan sommer so neffens jou houthuisie verbyskuur. Die kamp is gelukkig op stelte gebou en spog met ’n verhewe platform en vuurput wat oor die watergat en groot pan uitkyk, so bring jou hout saam en maak reg vir gróót vuurmaak!

Onthou: Die huisies maak van sonkrag en gas gebruik. Die kamp kan net met ’n 4×4 bereik word en die naaste brandstof- en winkelgeriewe is by die Nossob- of Mata-Mata-ruskamp.

Tipe verblyf: Selfsorg
Aantal eenhede: 4
Slaapplek: 8

SANParks Tatasberg Wilderness Camp

Dié riethuisies in die Richtersveld is met natuurlike materiale gebou sodat dit nie soos ’n seer vinger langs die Oranjerivier in die ongerepte omgewing uitstaan nie. Elke huisie het ’n slaapkamer, badkamer, kombuis en maak van sonkrag gebruik. Buite is daar ’n stoep met braaigeriewe ─ dink net hoe lekker jy op dié stoep met niks en niemand om jou te pla nie sal sit, net die mooi in die niks van die Richtersveld om te bewonder.

Onthou: ’n 4×4-voertuig is ’n móét hiér en jy word aangeraai om in ’n konvooi te ry aangesien die sand in die rivierbeddings baie sag is en die bergpasse baie ongelyk is. Moenie die water by Tatasberg drink nie, bring jou eie drinkwater en vuurmaakhout saam.

Tipe verblyf: Selfsorg
Aantal eenhede: 4
Slaapplek: 8

SANParks Basotho Cultural Village Rest Camp

Dís nou vir jou ’n unieke wegbreek! Kom kuier in een van die kenmerkende, kleurvolle hutte en leer meer oor die tradisionele lewens van die Basotho-stam. Daar is ’n toer deur die dorpie waar jy tradisionele musiek sal hoor, geneeshere te werk sal sien gaan, tradisionele bier sal proe en selfs die geleentheid het om die stamleier te ontmoet!

Onthou: Die kuriowinkel verkoop plaaslike matte, mandjies en strooihoede wat uniek aan dié area en Lesotho is.

Tipe verblyf: Selfsorg
Aantal eenhede: 24
Slaapplek: 72

SANParks Leokwe Rest Camp

Mapungubwe Nasionale Park spog met verskeie oorblyfsels van antieke beskawings en is daarom in 2003 as ’n Wêrelderfenisgebied deur UNESCO verklaar. Die hoofkamp, Leokwe Rest Camp, skuil tussen die skouspelagtige sandsteenheuwels, bosveld en kremetartbome en daar is verskeie wildkykskuilings, uitkykpunte en piekniekplekke vanwaar julle wild kan sien.

Pretfeit: Die Mapungubwe Interpretive Centre het in 2009 die Wêreldgebou van die Jaar by die Wêreldargitektuurtoekennings gewen en spog met verskeie antieke oorblyfsels wat deur argeoloë in die park opgegrawe is.

Onthou: Tref asseblief voorsorg teen malaria wanneer jy Mapungubwe besoek en maak jou tenk vol ─ daar is nie ’n vulstasie in die park nie.

Tipe verblyf: Selfsorg
Aantal eenhede: 18
Slaapplek: 72

Wildcard en Greencard

As jy ’n gereelde besoeker aan SANParke is, stel ons voor jy skaf vir jou ’n Wildcard of ’n Greencard aan.

Die Wildcard bied gratis toegang tot al die reservate en nasionale parke, én selfs afslag by sommige avontuur-doendinge! Die kaart is vir 365 dae geldig en daar is verskillende opsies ─ vir ’n individu, paartjie of ’n gesin met 2 volwassenes en tot 5 kinders jonger as 18 jaar. Die kaart sluit nie doendinge in die park self in nie en jy sal steeds ’n permit vir, byvoorbeeld, honde, fietsry, perdry en visvang moet koop.

Die Greencard is ’n meer bekostigbare opsie as jy ’n Kapenaar is en graag Kaappunt, Bouldersstrand, Oudekraal Natuurreservaat, Silvermine Natuurreservaat, en die braai- en piekniekplekke by die Tokaiwoud, Nuwelandwoud en Perdekloof besoek. Dié kaart gee jou gratis toegang tot die al parke wat deel van die Tafelberg Natuurreservaat vorm!

Nou ja toe, maak seker jy kry vir jou een van dié kaarte en tref vandag al jou reëlings om by een van dié buitengewone blyplekke uit te kom!

* Let wel, die SANParke Week sluit gratis toegang tot die Namakwa Nasionale Park, Bouldersstrand se pikkewynkolonie, Tafelberg se kabelkar en die Tafelberg Nasionale Park uit.

Hooffoto: SANParks Tatasberg Wilderness Camp

Hierdie blog is op 11 Augustus 2020 opgedateer.