Bly in die Moederstad: ’n Gids tot Kaapstad se mooiste buurte
Dominique Fuchs, 5 February 2026
Reading time: 5 minutes
Die pragtige Moederstad lok elke jaar besoekers van reg oor die wêreld. Kaapstad bied werklik iets vir almal met haar ongelooflike natuurskoon, Blouvlagstrande, wêreldklas-restaurante en topklas-wynplase.
Ons het ’n lysie met die beste verblyf in dié ikoniese stad bymekaargemaak om jou volgende besoek onvergeetlik te maak. Ons het iets vir elke tipe reisiger, hetsy jy op soek is na luukse hotelverblyf of ’n selfsorgkothuis.
Die Atlantiese Seekus: Seepunt & Groenpunt
Die beste vir: Sonsondergange, oggenddraffies op die promenade en lekker koffiewinkels.
President Hotel Cape Town, Seepunt

Die President Hotel is die perfekte plek om te bly as jy Seepunt wil verken. Hierdie luukse hotel spog met ’n uitsig op die berge en oor die see en bied maklike toegang tot Kaapstad se besienswaardighede en pragtige strande.
Jy kan tussen verskillende kamers kies wat slaapplek aan twee tot ses gaste bied. Elke kamer het ’n kombuisie met ’n yskas, mikrogolf en tee-en-koffiemaakgeriewe. Wanneer jy nie besig is om die stad te verken nie, kan jy in die swembad afkoel, ’n drankie by die kroeg geniet of aan ’n heerlike ete by die restaurant smul.
Pineapple House Boutique Hotel, Seepunt

Hierdie eklektiese en kleurvolle hotel spog met ’n asemrowende uitsig op Leeukop en is stapafstand vanaf die gewilde Seepunt-promenade. Dié hotel bied vier pragtige eenhede wat elk slaapplek aan twee gaste bied en ’n en suite-badkamer, ’n TV en WiFi het.
Bedags kan jy aan die heerlike ontbyt smul wat by die prys ingesluit is, in die sitarea ontspan en die swembad benut, of die rits nabygeleë restaurante en koffiewinkels besoek.
Beaumont Cottages 2, Groenpunt

Beaumont Cottages 2 is ’n kunstige selfsorgkothuis naby restaurante, kroeë en winkels. Hierdie kothuis op die grondverdieping bied slaapplek aan vier gaste en beskik oor twee en suite-slaapkamers. Daar is ook ’n groot stoep buite waar julle saam maaltye kan geniet, asook ’n sontoel, buitestort en ’n braai.
Luuksheid & styl: Kampsbaai
Die beste vir: Strandliefhebbers, skemerkelkies en luukse restaurante.
Camps Bay Village, Kampsbaai

As jy graag reg oorkant Kampsbaai se getypoel en die opwindende hoofstraat propvol lewendige restaurante wil bly, dan is Camps Bay Village die perfekte blyplek vir jou. Die perseel bied verskeie selfsorgeenhede wat elk slaapplek vir twee tot ses gaste het.
Daar is ook twee gemeenskaplike swembaddens en ’n braai wat julle kan gebruik, maar party eenhede spog met hul eie braaigeriewe en warmbaddens.
Kultuur & geskiedenis: Bo-Kaap en middestad
Die beste vir: Geskiedenisliefhebbers, fotograwe en stadverkenners
Amina Boutique Hotel, Bo-Kaap

Die Bo-Kaap is vir sy pragtige, kleurvolle huise, ryk geskiedenis en interessante straatjies bekend. Dié boetiekhotel is al 120 jaar oud en was destyds net ’n gewone huis. Die vyf pragtige slaapkamers se dekor neem jou terug in tyd en elk bied slaapplek aan twee gaste en spog met ’n Nespresso-masjien, yskassie en ’n slim-TV.
Die hotel bedien soggens ’n kontinentale ontbyt en daar is ook ’n swembad, sonstoele, ’n infrarooi-sauna, ’n wensput en ’n groot hangmat met ’n asemrowende uitsig op Tafelberg en oor Kaapstad.
Kat Kondo, Kaapstad-middestad

Kat Kondo is ’n unieke retro-woonstel is in die hartjie van Kaapstad se middestad en is stapafstand vanaf verskeie winkels en restaurante. Die woonstel was oorspronklik ’n teefabriek in 1910 en nou is dit ’n speelse wegbreek vir katliefhebbers wat graag die Moederstad wil verken.
Daar is slaapplek vir vier gaste op ’n koninggrootte-bed en ’n dubbelslaapbank en die woonstel het stapeldeure wat na ’n sonnige balkon met sitplek, ’n braai en ’n pragtige uitsig oor die stad lei.
Versteekte juwele: Vredehoek & Woodstock
Die beste vir: Digitale nomades, families en berguitsigte.
Cottage 8 Virginia Avenue, Vredehoek

Dié ruim selfsorghuis in Vredehoek is die perfekte wegbreek vir ’n gesin of ’n groep vriende. Die ekstra bonus is dat jou viervoetvriende ook welkom is! Daar is slaapplek vir agt gaste en die huis beskik oor vier slaapkamers en drie badkamers.
Daar is ook ’n wasmasjien en ’n tuimeldroër om jou verblyf ekstra gerieflik te maak. Julle kan lekker in die agtertuin ontspan terwyl julle die braai-area en swembad gebruik.
Aesthetic Luxury Woodstock Haven, Woodstock

Aesthetic Luxury Woodstock Haven is ’n kontemporêre selfsorgwoonstel wat ideaal vir paartjies of sakereisigers is. Dit bied slaapplek aan twee gaste en beskik oor ’n slaapkamer met ’n koninggrootte-bed en ’n badkamer met ’n stort, wasbak en ’n toilet. Daar is ook ’n kombuis wat uitstekend toegerus is en ’n privaat balkon met ’n ongelooflike uitsig oor die stad.
Beplan jou volgende wegbreek na Kaapstad
Kaapstad is weliswaar ’n skatkis en het só baie om te bied – van die ikoniese Atlantiese Seekus tot die historiese prag van die Bo-Kaap. Kies die buurt wat die beste by jou reisstyl pas en bespreek jou volgende wegbreek vandag.
Hooffoto: President Hotel Cape Town








