Mense reis om verskillende redes. Dalk reis jy om ’n sekere land se kos, kultuur of natuurskoon te ervaar. Sekere lande besoek ’n mens egter om die interessante argitektuur en die spesifieke blyplekke te beleef, maar ons het goeie nuus. As jy in Suid-Afrika woon, kan jy sommer ’n hele klompie wêreldwonings wat eie is aan ander lande, op eie bodem besoek!

Valparaiso Guesthouse, Jeffreysbaai, Oos-Kaap

Valparaiso Guesthouse in Jeffreysbaai is ’n gastehuis in ’n Meksikaanse styl wat teen die duine geleë is en oor die strand uitkyk. Dié unieke blyplek is in die verste hoek van Paradysstrand weggesteek en die argitektuur, kleure en dekor sal jou laat voel of jy in Puerto Vallarta in Meksiko tuisgaan. Die 3 interessante kamers by Valparaiso Guesthouse spog ook met eg Meksikaanse name: Amarillo, Azul en El Oro. So, sit jou sombrero op jou kop en maak gerus ’n draai by Valparaiso!

Dome Home Self-Catering, Nelspruit, Mpumalanga

As die Eskimo’s se blyplekke jou nog altyd fassineer het, is dit nóú jou kans om in ’n igloe tuis te gaan ─ en boonop hoef jy nie te bibber van die koue nie! By Dome Home Self-Catering in West Acres in Nelspruit kan jy in ’n bekoorlike sneeuhut bly wat die ronde huisies, so eie aan Alaska, se vorm en kleur naboots. Hiér sal jy lekker snoesig kan vertoef in die “igloes” wat elkeen oor 2 enkelbeddens, ’n klein sitarea, ’n moderne badkamer en ’n kombuisie beskik.

Outeniqua Trout Lodge, De Vlugt, Wes-Kaap

By Outeniqua Trout Lodge op die Kaapse Roete 62 sal jy verskeie akkommodasie-opsies aantref, maar dis veral die 4 tipi-tente wat jou aandag sal trek. Hierdie keëlvormige Indiaanse tente is soortgelyk aan die tente wat oorspronklik deur die nomadiese groepe van die Noord-Amerikaanse Laagvlakte gebruik is. Die feit dat daar geen televisies of selfoonontvangs by Outeniqua Trout Lodge is nie, pas ook goed by die historiese gevoel van die tipi-tente!

Pyramids Motel, Drakensberge, KwaZulu-Natal

As ’n ronde huisie op jou lysie is, moet jy ’n driehoekige een ook byvoeg! As Egipte se piramides te ver voel, is ’n aand of twee by die Pyramids Motel in die Drakensberge nét die regte medisyne. Hier kan jy omtrent soos ’n farao slaap, maar in plaas van ’n woestyn, die ongelooflike uitsigte oor Natal en die majestueuse Drakensberge geniet.

The French Cottage, Clarens, Vrystaat

Die Franse platteland het ’n betowerende aantrekkingskrag en ouwêreldse dorpies met asemrowende landskappe word gekenmerk deur unieke sandsteenhuisies. Op ’n ou plaas in Clarens kan jy ’n tikkie Franse styl op eie bodem kry. The French Cottage is uit ikoniese Clarens-sandsteen gebou en net soos die huise op die Franse platteland, het dié Vrystaatse kothuis ’n vierkantige, simmetriese vorm met indrukwekkende vensters aan weerskante van die ingang.

Club Mykonos Resort, Langebaan, Wes-Kaap

’n Vakansieoord met ’n Griekse tema teen die poeierblou Langebaan-strandmeer is sonder twyfel ’n wenresep! Met kenmerkende afgewitte geboue en helder kleurspatsels regdeur, sal Club Mykonos jou wegvoer na ’n Mediterreense droomwêreld. Ontspan luilekker in jou Kaliva (Griekse woonstel) en hou die feta en olywe byderhand in dié Suid-Afrikaanse Griekeland.

***

Jy kan tussen ’n hele paar wêreldwonings besluit, van igloes tot tipi’s en van Langebaan tot Nelspruit! By watter een wil jy gaan ontspan? Ons hoor graag van jou!