Is jy nog besig om na die dol feesseisoen te herstel? Of miskien lê jou welverdiende wegbreek nog voor! Hoe dit ook al sy, 2024 se vakansiedae skep talle geleenthede om jou langnaweke nóg langer uit te strek deur jou verlofdae slim te beplan. Ons wys jou hoe met hierdie nuttige gids en ’n lekke rooster aan die einde van die blog!

Kleurvolle herfs

Die eerste vakansiedag van die jaar is om die draai en Paasnaweek is kort op sy hakke. Neem jou verlof en kies koers na die Bosveld met talle herfskleurige natuurtonele of geniet die laaste paar someraande aan die kus. Die matige klimaat maak dit ook die ideale tyd om die pragtige Karoo en al sy skatte te besoek. 

Donderdag 21 Maart is Menseregtedag en ’n vakansiedag en jy kan ’n lekker langnaweek van drie dae geniet as jy Vrydag 22 Maart verlof neem. Dié langnaweek val in die Maart-skoolvakansie.

Daardie volgende week word Paasfees gevier. Vrydag 29 Maart en Maandag 1 April is vakansiedae en dus is dié Paasnaweek vier dae lank sonder om enige verlof af te staan! Paasnaweek is ’n gewilde wegbreeknaweek vir talle Suid-Afrikaners wat graag tyd saam met geliefdes wil deurbring en aangesien dit ook gedurende die skoolvakansie val, stel ons voor jy bespreek sommer nou al jou verblyf. Gaan kuier ’n bietjie langs ’n rivier in Gauteng of geniet ’n Mediterreense wegbreek aan die Weskus ─ die weer is ideaal vir ’n waterwegbreek

Werkersdag val op Woensdag 1 Mei. Jy kan kies om Maandag 29 April en Dinsdag 30 April óf Donderdag 2 Mei en Vrydag 3 Mei met verlof te gaan om ’n lekker langnaweek van vyf dae te geniet!

Winterwegbreek

Min dinge is so lekker soos ’n knetterende kaggelvuur terwyl winterreën buite val. 2024 se winter-langnaweke is perfek om Suid-Afrika se mooiste sneeubestemmings soos die Sederberge, Rhodes of Clarens te besoek. 

Die winter is ook die beste tyd vir wildkyk so kies koers na die Wildtuin of gaan draai in die Bosveld vir ’n onvergeetlike wildkykvakansie. As jy eerder ’n unieke winter-avontuur wil aanpak, lees gerus ons blog oor buitelugaktiwiteite vir die winter

Jeugdag val hierdie jaar op Sondag 16 Junie en Maandag 17 Junie is ’n openbare vakansiedag. Jy het dus ’n drie dae lange naweek sonder om enige verlof af te staan, of jy kan sommer een dag voor of na die naweek neem en jou naweek verdubbel! Let wel dat hierdie vakansiedae in die Junie-skoolvakansie val.

Op Vrouedag in Augustus kan jy dieselfde resep as hierbo toepas omdat die vakansiedag op Vrydag 9 Augustus val. 

Heerlike Lente

Met blommekyk-seisoen op jou voorstoep kan jy nie anders as om Namakwaland se blommeprag te besoek nie en om al langs die Weskus te ry om dié natuurverskynsel te aanskou. Indien julle lus is vir iets meer avontuurlustig is dit dan ook die ideale tyd om die Wildekus te besoek aangesien die reënseisoen dan tot ’n einde kom. 

Erfenisdag (oftewel Braaidag) op Dinsdag 24 September is die laaste vakansiedag vir ’n tydjie. Neem dus verlof op Maandag 23 September om van hierdie langnaweek gebruik te maak. Dit val ook in die September-skoolvakansie, so jy kan selfs 25 tot 27 September ook met verlof gaan om ’n lekker vakansie van nege dae saam met die kinders deur te bring. 

Lees ook: Besoek die Bo-Kaap dié Erfenismaand!

Salige Somer

Bespreek sommer nou al jou Desember-vakansieverblyf in Suid-Afrika se immergewilde kusdorpe soos Mosselbaai, Durban en Knysna om teleurstelling te vermy. Sodoende het jy heel jaar iets om na uit te sien!

Desember se eerste vakansiedag is Maandag 16 Desember en as jy dan nog nie met vakansie is nie kan jy ten minste ’n langnaweek van drie dae (sonder om verlof te neem) of vier dae (neem een dag verlof) geniet. Dié vakansiedag is in die skoolvakansie.

Kersdag val op Woensdag 25 Desember en Donderdag 26 Desember is Welwillendheidsdag en ook ’n vakansiedag. Jy kan dan 23, 24 en 27 Desember verlof neem om nege dae lank vakansie te hou!

Laai hierdie rooster af om jou te help beplan!

Trek solank jou dagboek nader en begin daardie slim vakansiedae inwerk, want met al hierdie lekke langnaweke kan ’n mens nie anders as om 2024 op ’n opwindende noot af te skop nie. 

Hooffoto: Glen Harry Game Reserve


Lees ook: 

14 fantastiese wegbreekplekke vir Vrouedag

Verken die Oos-Kaapse kusroete

Eksotiese bestemmings in Suid-Afrika