“The nothingness, the wide open spaces and the deafening stillness … this is the magic of Prince Albert, Jewel of the Great Karoo.” ─ Anonymous

 

Prins Albert is een van Suid-Afrika se mooiste versteekte bestemmings aan die voet van die Swartbergpas. Hierdie lieflike, geskiedkundige dorpie is op die drumpel van die Groot Karoo in die Wes-Kaap geleë, wat bekend is vir ’n atmosfeer van rus en vrede.

Prins Albert is in 1762 gestig en dit het oorspronklik as Albertsburg bekendgestaan. Nadat dit in 1845 munisipale status verwerf het, is dit na Prins Albert vernoem ter ere van Koningin Victoria se metgesel, Prins Albert van Saxe-Coburg.

Daar is verskeie doendinge in en om Prins Albert, veral wat kultuur en ontspanning betref, en ons het ’n kitsgids saamgestel vir jou volgende besoek aan dié bekoorlike dorpie.

1

1. Prince Albert Gallery

Prince Albert Gallery stal die werke van verskeie Suid-Afrikaanse kunstenaars uit wat skilderkuns, etskuns en keramiekkuns insluit.

Twee kunswerke van Diane McLean wat by Prince Albert Gallery uitgestal word.
Kunswerke van Lisl Barry.

Van 23 – 25 September hierdie jaar bied Prince Albert Gallery ’n kunsfees aan en die tema is “Something out of Nothing.” Dis ’n konsep wat deur Prins Albert se buitestaander-kunstenaar, Outa Lappies, uitgedink is en meer as 40 kunstenaars gaan hierdie jaar aan die fees deelneem. Moet dit nie misloop nie!

☎ 023 541 1057  ✉ karoogallery@intekom.co.za

2. Swartbergpas

Die lieflike Swartbergpas.

Die Swartbergpas is ’n majestueuse bergpas wat algemeen beskou word as die laaste meesterstuk van die pad-ingenieur Thomas Bain. Dit is teen die einde van die 19de eeu deur gevangenes gebou en strek tussen Oudtshoorn en Prins Albert. In 1988 is dit as Nasionale Monument verklaar. Die Swartbergpas is een van die passe in Suid-Afrika wat jy ten minste een keer in jou lewe moet ervaar.

3. The Showroom Theatre

The Showroom Theatre is ’n wêreldklasteater in Prins Albert. Dit bied besoekers ’n unieke ervaring in die hartjie van die Karoo. Hierdie venue word as ’n teater, rolprentteater, kunsgalery, en as ’n venue vir seminare gebruik. Nianell, Matthys Roets, Anna Davel, Heinz Winckler en Barry Hilton is maar net ’n paar van die groot name wat al hier opgetree het.

☎ 023 541 1563  ✉ admin@showroomtheatre.co.za

4. Gay’s Guernsey Dairy & Deli

Links: Die span by Gay’s Guernsey. Regs: Die koeie loop terug kraal toe nadag hulle gemelk is.

By Gay’s Guernsey Dairy & Deli kan jy leer hoe kaas gemaak word, sien hoe koeie gemelk word en ook van die beste kase ter wêreld proe. Die kaas word van ongepasteuriseerde melk gemaak en geen bymiddels of preserveermiddels word bygevoeg nie.

☎ 023 541 1274 ✉ vanhasselt@icon.co.za

 

1. The Real Food Company

The Real Food Company spog met van die beste vars, plaaslike Karoo-produkte wat onder andere wildsvleis, lam, varkvleis en charcuterie insluit. Dit is ’n fynproewerskruidenierswinkel en ’n restaurant in een en die eienaars bied ook kookklasse aan. As jy een maal The Real Food Company besoek, is die kanse goed dat jy weer en weer sal wil terugkeer!

☎ 082 319 7031  ✉ jeremy@realfoodcompany.co.za

2. Gallery Café

Gallery Café

Prince Albert Gallery se eienaar, Brent Phillips-White, het sedert 2007 begin om sy passie vir kuns en kos te kombineer. Hy het die oorspronklike koffiewinkel op die stoep van die galery oorgeneem en sodoende het Gallery Café ontstaan. Deesdae is dit ’n immergewilde fynproewersrestaurant en die meeste bestanddele kom van plase en plaasmarkte tussen Prins Albert en George af.

☎ 023 541 1197  ✉ gallerycafe.princealbert@gmail.com

3. Simply Saffron

Simply Saffron spog met ’n interessante spyskaart met disse wat geïnspireer is deur kruie en geure. Die voorgereg en nagereg word op Royal Albert-porseleinbreekware bedien ─ ja, dié restaurant is nie sommer van hier rond nie! Simply Saffron is altyd tjok en blok vol toeriste en plaaslike besoekers en ons sal jou aanraai om voor die tyd te bespreek.

☎ 082 873 9985  ✉ ridwaan@simplysaffron.co.za

 

1. Karoo View Cottages

Karoo View Cottages bied luukse selfsorgverblyf met B&B-geriewe, slegs sowat 350 m van Prins Albert se hoofstraat af. Die kothuise het veilige parkeerplek asook privaat ingange. Geriewe sluit kaggels, lugversorging, muskietnette, volledig toegeruste kombuise en en suite-badkamers in.

Daar is ook ’n huis op die perseel wat ideaal is vir groepe of gesinne van 6. Die huis het 3 en suite-slaapkamers en ’n swembad, braai-area, kaggel en ’n ruim leef- en eetarea met ongelooflike uitsigte.

2. Brakdakkie Guest Cottages

Brakdakkie Guest Cottages het al ’n verskyning gemaak in Getaway, Fair Lady en Go!, sowel as plaaslike en internasionale koerante. Hierdie kothuise is baanbrekers in die unieke dekorstyl van ouwêreldse Karoo-sjarme gekombineer met moderne luukse. Brakdakkie Guest Cottages is in 1850 opgerig en die strukture wat eens die store en donkieskuur van die oorspronklike plaas was, is in pragtige akkommodasie omskep. Die kamers is gevul met skatte van toentertyd en is pragtig gerestoureer om die plaas se oorspronklike bekoring te behou.

 3. Miller’s House

Miller’s House is ’n opgeknapte 1870′s Karoo-kothuis op ’n plaas in die buitewyke van Prins Albert. Hier kan jy die vryheid van oop ruimtes, absolute privaatheid, asemrowende uitsigte op die Swartberge en die voëllewe by die dam geniet. Die huis is ook net twee kilometer van die middedorp af.

Benewens hierdie drie pragtige plekkies, kan jy gerus hier kliek om die volledige lys van blyplekke in Prins Albert te sien.

***

Met dié kitsgids is jy hopelik reg vir jou volgende koninklike kuier in Prins Albert. Laat weet ons gerus watter juwele jy in die dorpie raakgeloop het ─ ons hoor graag van jou!

Hooffoto: Tobias Nawrath (Flickr)

Spesiale dank aan James Freemantle vir bykomende inligting.