Agter ’n string kameeldoringbome is die son besig om agter die horison te verdwyn. Die lug is met ’n fleurige mengsel van rooi en oranje gevlek en in die verte huil ’n jakkals. Dít is die beeldskone Bosveld! Hierdie week skud ons die seesand van ons voete af en trek ons ons vellies aan ─ ons kuier in die lieflike Limpopo!

Met geurige disse, skemerkelkies en wildritte bied die Bosveld verruklike verblyf wat jou hart sal bekoor en herinner dit ’n mens nét hoe elegant verblyf in die bos kan wees! LekkeSlaap wys vir jou luukse lodges in Limpopo waar ’n klomp lekker dinge ingesluit is en jy in weelde kan terugsit en ontspan.

Mhondoro Lodge

Vaalwater

Luukse lodges in Limpopo_Mhondoro

Net onder drie uur se ry vanaf O.R. Tambo Internasionale Lughawe is die wildlodge, Mhondoro, in die Welgevonden Wildreservaat versteek. Dié wildreservaat is die tuiste van die Groot Vyf en daarom die perfekte safari-bestemming. By hierdie luukse lodge is die volgende ingesluit: Welgevonden Wildreservaat se hekfooie, ’n volledige ontbyt, teemaaltyd, aandete, tee, koffie, peuselhappies vir wildritte, water, koeldrank, sekere plaaslike wyn en bier, asook twee daaglikse safari-aktiwiteite. 

Luukse lodges in Limpopo_Mhondoro

Dié lodge het ’n moderne ontwerp met ’n titsel Afrika-sjiek. Daar is vyf pragtige, losstaande eenhede met slaapplek vir tussen twee en ses gaste elk. Elke gerieflike eenheid spog met ’n privaat uitkykdek, aanloklik versierde slaapkamers en beeldskone badkamers. In die swierige villa het julle selfs toegang tot ’n butler, skoonmaakdienste én ’n privaat sjef.

Hierdie lodge het ’n ondergrondse wildkykskuiling wat met ’n tonnel aan die hooflodge verbind is waar jy maklik en veilig die diere by die watergat van nader kan dophou. Die geriewe op die perseel sluit ’n spa, gimnasium, swembad, sauna, kroeg en sitarea in. Wat meer het jy nodig?

Abelana River Lodge

Phalaborwa

Luukse lodges in Limpopo_Abelana River Lodge

24 Kilometer buite Phalaborwa skuil Abelana River Lodge in die Abelana Wildreservaat, langs die Krugerwildtuin en die Selati Wildreservaat in die pragtige Laeveld. Dié stylvolle lodge spog met ’n uitsig oor die Selatirivier wat die tuiste van seekoeie, krokodille en verskeie voëlspesies soos visarende en visuile is.

Luukse lodges in Limpopo_Abelana River Lodge

Hiér kan jy aktiwiteite soos begeleide Groot Vyf-wildritte, boswandelings, voëlkyk en sterrekyk geniet, en alle maaltye is ingesluit! Daar is drie besonderse grasdakkamers om van te kies, wat elk ’n ruim dek het waar jy ’n skilderagtige uitsig oor rivier op die gemak van ’n sonstoel kan ineem. Elke kamer getuig van Afrika-luuksheid en het ’n lieflike binne- en buitestort.

Die hooflodge het ’n swembad, binne- en buite-eetareas, ’n kroeg, sitarea en ’n vuurput, én die personeel kan ‘n eet-ervaring in die bos, onder die sterrehemel of op die dek met ’n uitsig oor die rivier vir jou en jou wederhelf voorberei.

Kuname Lodge

Hoedspruit

Luukse lodges in Limpopo_Kuname Lodge

Kuname Lodge is ’n klein, eksklusiewe safari-lodge wat op 9000 hektaar se ongerepte Afrika-bos, in die Karongwe Privaat Wildreservaat, geleë is. Hierdie lodge is in ’n welige rivierplantegroei-area vol wild met ’n uitsig op die majestueuse Drakensberge in die weste geleë. Hiér sal jy asemrowende uitsigte, diverse landskappe en fantastiese Groot Vyf-wildkykgeleenthede ervaar! 

Luukse lodges in Limpopo_Kuname Lodge

By hierdie luukse lodge is ’n oggend- en aand-wildrit, skemerkelkie tydens die wildrit, koffie en tee, reservaatfooie en ’n daaglikse skoonmaakdiens ingesluit. Verblyf word in luukse suites en ’n Premier-suite wat elk ’n hemelbed het en ’n herehuis wat stylvol gemeubileer is, gebied. Elke opsie is met alle luukshede toegerus en spog met pragtige en unieke badkamergeriewe ─ soos beeldskone buitelugbaddens. 

Kom sit lekker in die bekoorlike, gemeenskaplike sitarea agteroor terwyl jy oor die rivier uitkyk, of koel in die lieflike rotsswembad af voor jy ‘n bietjie op een van die sonstoele in die son baai.

Laluka Safari Lodge

Royldene

Luukse lodges in Limpopo_Laluka Safari Lodge

Laluka Safari Lodge is in die hartjie van die Welgevonden Wildreservaat geleë en bied weelde in die ongelooflike Afrika-bos. Alle maaltye, tee en koffie, asook twee wildritte per dag of boswandelinge saam met ’n ervare gids is by dié lodge se tarief ingesluit!

Luukse lodges in Limpopo_Laluka Safari Lodge

Daar is ses luukse suites wat pragtig gemeubileer is en met moderne en elegante badkamergeriewe, wat ’n buitestort insluit, spog. Dié suites het ook elk ’n privaat stoep met ’n verhitte plonspoel waar jy op ’n sonstoel met ’n uitsig oor die Bosveld in die son kan agteroorlê.

By die lodge se grasieuse hoofgebou kan jy in die kroeg kuier, op die uitkykdek ontspan, een van die behandelinge by die spa bespreek, of tyd in die geskenkwinkel deurbring.

Nedile Lodge

Vaalwater

Luukse lodges in Limpopo_Nedile Lodge

Nedile Lodge is op ’n lowerryke heuwel, sowat 48 kilometer buite Vaalwater, in die Welgevonden Wildreservaat geleë. By hierdie vyfsterlodge is al jou etes, tee en koffie, twee wildritte per dag of ’n bosuitstappie saam met ’n ervare veldwagter ingesluit.

Luukse lodges in Limpopo_Nedile Lodge

Die luukse lodge het vyf Eksklusiewe Suites wat met pragtige Afrika-komponente versier is en met gaste se privaatheid, ontspanning en gerief in gedagte ontwerp is. Hiér kan jy op die privaat dek ontspan, ’n lieflike borrelbad met ’n asemrowende uitsig oor die bos en op die berge geniet óf die buitestort omring deur die bos benut.

Verkeer gesellig by die hooflodge wat net dié beste Suid-Afrikaanse gasvryheid bied. Daar is ’n kroeg, eetarea en ’n gerieflike sitarea met ’n ontspanne atmosfeer. Boonop kan jy in die pragtige rotsswembad afkoel of op ’n sonstoel ontspan en die uitsig bewonder.

African Flair Boutique Safari Lodge

Hoedspruit

Luukse lodges in Limpopo_African Flair Boutique Safari Lodge

African Flair Boutique Safari Lodge is op die eksklusiewe Hoedspruit Wildlandgoed geleë. Hiér kan jy in luuksheid ontspan en toelaat dat die rus en vrede van die bos jou bekoor, én ontbyt is ingesluit! 

Luukse lodges in Limpopo_African Flair Boutique Safari Lodge

Hierdie intieme en sjiek lodge bied verblyf in ’n swierige Himba-wittebroodsuite wat met luukse natuurelemente versier is. Dubbelskuifdeure lei na ’n beeldskone buitestort met ’n uitsig oor die bos. ’n Trap in die suite lei na die Himba-sterrebed op die dak waar julle ’n romantiese nag onder die Afrika-sterrehemel kan deurbring. 

Die buitearea by die hooflodge skakel soomloos by die omgewing van die Afrika-bosveld in. Dit spog ook met ’n kroeg, boma en ’n swemarea waar jy in gemak jou wegbreek kan geniet.

Tshukudu Game Lodge

Hoedspruit

Luukse lodges in Limpopo_Tshukudu Game Lodge

Tshukudu Game Lodge skuil in ’n privaat wildreservaat wat oor 3800 hektaar strek en aan die Krugerwildtuin grens. Hiér kan jy ’n lieflike uitsig op die Drakensberge bewonder en ’n groot verskeidenheid wild, insluitend die Groot Vyf, van nader beskou. 

Luukse lodges in Limpopo_Tshukudu Game Lodge

Verblyf word in vyf kamers, ’n kothuis en ’n luukse tent gebied en ontbyt, ’n ligte middagete en aandete is ingesluit. Elke eenheid het pragtige geriewe en die kothuis spog met ’n groot swembad wat perfek vir daardie warm bosvelddae is. Die hooflodge het ’n swembad met sonstoele en gerieflike leunstoele onder die grasdak, en hierdie area is die ideale plek vir wildkyk, want net duskant die lodge is ’n watergat waar wildsbokke, olifante en buffels gereeld gesien word.

Sit soggens vir ontbyt op die pragtige grasdakstoep aan en saans word aandete langs ’n knetterende vuur onder die sterre in die Afrika-boma bedien. By dié lodge is daar ervare gidse wat jou op oggend- en aandwildritte op oop 4×4-voertuie sal vergesel sodat jy die meeste van jou tyd in die bos kan maak! 

Sofala Lodge

Sterkrivier

Luukse lodges in Limpopo_Sofala Lodge

Sofala Lodge is ’n pragtige lodge wat in die welige omgewing van Sterkrivier geleë is. Dit bied verblyf in ses luukse suites en daar is pragtige paadjies wat tussen die suites deur en na die hooflodge kronkel waar gaste ontbyt, wat ingesluit is, kan geniet. 

Luukse lodges in Limpopo_Sofala Lodge

Elke suite spog  met ’n fantastiese argitektoniese ontwerp wat so uitgelê is om die beste uitsig oor die Afrika-bos en op die majestueuse Hangklipberg te bied. Die groot stapeldeur bied toegang tot ’n privaat stoep met ’n uitmuntende uitsig oor die omgewing waar verskeie wildspesies gereeld wei. Sommige suites het selfs houtvuurwarmbaddens! 

So, laat die melodieuse bosveldgeluide en skilderagtige uitsigte jou lei en bespreek ’n bietjie verblyf by ’n luukse lodge in Limpopo!

Hooffoto: Mhondoro Lodge (LekkeSlaap)

Lees ook:

Bosveldvure: 9 Lekke Lodges

Afgeleë Bosveldwegbreke vir groepe

Bergfietsroetes: Kyk trap-trap Wild in Limpopo