Ontsnap uit die stadsgedruis en kies koers na ’n onvergeetlike avontuur in die skilderagtige Oos-Kaap. Minder as drie uur se ry vanaf Gqeberha (Port Elizabeth) sal jy ’n skatkis vol naweekwegbreke vind wat voorsiening maak vir paartjies wat ’n romantiese bederfblyplek soek en vriende of familie wat ’n prettige groepswegbreek beplan. Of jy nou smag na ’n ruskans langs die water of ’n avontuurbelaaide toevlugsoord in die hartjie van die natuur, hierdie streek het iets vir almal. Met ’n oorvloed knus kothuise, bekoorlike glanskamptente en luukse huise, is jou opsies vir ’n selfsorg-naweekwegbreek onbeperk. In hierdie blog wys LekkeSlaap vir jou watter versteekte juwele in hierdie pragtige deel van Suid-Afrika wag.

AfriCamps Addo

Addo

Dié boetiekglanskamp-ervaring is op die pragtige Hayterdale Trails-eiendom aan die voet van die Zuurberge in die hartjie van Addo geleë. Hiér is agt struktuurtente wat elkeen slaapplek aan vyf gaste bied. Elke tent beskik oor twee slaapkamers met plafonwaaiers en ’n privaat badkamer met ’n stort. Die oopplan-leefarea het ’n ten volle toegeruste kombuisie, ’n etenstafel, rusbank en ’n kaggel. Dít lei na ’n groot dek met braaigeriewe, ’n hangmat en ’n houtvuurwarmbad. Wanneer julle nie ’n vleisie oor die kole gooi of in die warmbad agteroorsit nie, kan julle die skilderagtige bergfiets-, velddraf- en staproetes deur geelhoutwoude en oor bosveldheuwels vol broodbome verken. Wees op die uitkyk vir die meer as 160 voëlspesies en selfs swartwitpense en njalas!

Afstand vanaf Gqeberha (Port Elizabeth): sowat 74 km
Geriewe op die perseel: swembad, houtvuurwarmbad, gratis WiFi en braaigeriewe

La Maison Cottage

Nxuba (Cradock)

Dié oulike kothuis vir ’n paartjie is op die eienaars se erf in die hartjie van Nxuba (Cradock) geleë, maar moenie dat dit jou afskrik nie – dit bied ruim, luukse verblyf naby al die winkels, restaurante en plaaslike aktiwiteite in die dorp. Die ruim kothuis het een slaapkamer met lugversorging en ’n dubbelbed, ’n en suite-badkamer met ’n instapstort, ’n ten volle toegeruste kombuis wat ’n skottelgoedwasser insluit, en ’n oopplan-leefarea met lugversorging, DStv en Netflix. Buite is daar ’n lang stoep met ingeboude braaigeriewe en ’n uitsig oor die welige tuin en die gemeenskaplike swembad. As die kinders saam reis, kan twee matrasse teen ’n ekstra koste voorsien word.

Afstand vanaf Gqeberha (Port Elizabeth): sowat 246 km
Geriewe op die perseel: swembad, braaigeriewe en gratis WiFi

Seal Point Lighthouse

Kaap St. Francis

’n Mens kry nie elke dag die geleentheid om in ’n vuurtoring te slaap nie. Seal Point Lighthouse aan die punt van die skiereiland in Kaap St. Francis bied seefrontverblyf waar geskiedenis en ouwêreldse bekoring perfek bymekaarkom. Daar is twee stylvolle vleuels weerskante van die vuurtoring, die East Wing-kamer en die West Wing-kamer. Ontbyt word voorsien, asook rooi- en witwyn, stil- en vonkelwater, gin, whiskey en alles wat ’n mens benodig om ’n Negroni-mengeldrankie te maak. Die Nevermind-restaurant langs die vuurtoring is ’n restaurant, koffiewinkel en bakkery wat ontbyt, varsgebak en middagetes en aandetes wat op die vuur gaargemaak word, bedien. Dís mos nou gerieflik, so kom hou jou lyf vuurtoringbewaarder!

Afstand vanaf Gqeberha (Port Elizabeth): sowat 109 km
Geriewe op die perseel: kroeg, gratis WiFi en ’n restaurant op die perseel

Kleinrivier Mountain Escapes

Uitenhage

Tussen ongerepte bergfynbos en in die skaduwee van rivierwoude bied Kleinrivier verblyf in privaat selfsorgeenhede net 70 kilometer vanaf Gqeberha (Port Elizabeth) op ’n wildernisplaas van 3000 hektaar. Dit grens aan die Groendal Natuurreservaat en spog met ’n rits staproetes van verskillende lengtes en moeilikheidsgrade wat na bergpoele lei en ’n verskeidenheid voëls en wild soos koedoes en klipspringers wat op die perseel wei. Al die pragtige eenhede het gemaklike beddens, privaat badkamers, goed toegeruste kombuisies, sitareas met kaggels en privaat stoepe met uitsigte oor die omgewing.

Afstand vanaf Gqeberha (Port Elizabeth): sowat 37 km
Geriewe op die perseel: braaigeriewe

Austrey Lodge

40 km vanaf Adelaide

Austrey Lodge is ’n rustige, troeteldiervriendelike oopplankothuis op ’n plaas in die Winterberge-voorheuwels, sowat 40 kilometer buite Adelaide. Dit is ideaal vir ’n klein gesin en het ’n dubbelbed, tripelstapelbed en ’n dubbelslaapbank, asook ’n kombuisie wat goed toegerus is en ’n gasstoof insluit. In die leefarea is daar ’n kaggel en dit lei na die beskutte dek wat dié verblyf só lekker maak. Hiér is ’n houtvuurwarmbad, ’n braai-area en ’n uitsig oor die foreldam! Daar is ook ’n rits damme op die plaas waar julle teen ’n ekstra koste kan visvang, ’n klompie roetes om te voet of met ’n bergfiets te verken, én volop voëlspesies wat kranige voëlkykers op hulle lysies kan aftiek. Let daarop dat die kothuis ’n entjie vanaf die naaste winkels is, so maak seker julle bring alles wat julle nodig het saam.

Afstand vanaf Gqeberha (Port Elizabeth): sowat 241 km
Geriewe op die perseel: braaigeriewe, houtvuurwarmbad en troeteldiervriendelik

The Old Mill

Port Alfred

The Old Mill, wat in 1850 deur William Cock gebou is, is op die Kowierivieroewer geleë en spog met ’n uitsig oor die Royal Alfred Marina en die riviermonding. Dit is pragtig opgeknap en bied slaapplek aan tien gaste in ’n hoofhuis en ’n kothuis, net 200 meter van die strand af. Die leefarea op die grondverdieping sluit ’n sitarea, etenstafel en ’n ten volle toegeruste kombuis met ’n skottelgoedwasser, wasmasjien en ’n tuimeldroër in. Buite is daar ’n groot tuin, stoep met braaigeriewe en ’n privaat jetty waar julle ’n boot kan vasmeer. Kom sit hier op die stoep saam met al jou gunstelingmense en hou die bote wat verbyvaar en die branders in die verte dop.

Afstand vanaf Gqeberha (Port Elizabeth): sowat 154 km
Geriewe op die perseel: braaigeriewe, gratis WiFi en troeteldiervriendelik

Klein Plekkie Self-catering Accommodation

Sunland

Dié unieke verblyf is ideaal vir diegene wat op soek is na ’n ongekunstelde, plattelandse wegbreek buite die stadsgedruis. Klein Plekkie is op ’n damoewer op ’n sitrusplaas in Sunland, sowat 15 minute vanaf die Addo-olifantpark se hoofhek geleë. Die huis het drie slaapkamers wat slaapplek aan vyf gaste bied. Die kombuis is ten volle toegerus en die buite-leefarea het sitplek, braaigeriewe en ’n TV met ’n slimboksie met Netflix en DStv Now, en dit lei na ’n klein houtdek met sitplek wat op die dam dryf – ideaal vir skemerkelkies soos die son ondergaan. Daar is ook ’n vuurput op die oewer, bordspeletjies, kajakke en ’n klein roeibootjie wat julle op die dam kan gebruik en wat vir ure se pret sal sorg.

Afstand vanaf Gqeberha (Port Elizabeth): sowat 70 km
Geriewe op die perseel: braaigeriewe en gratis WiFi

Land’s End Private Game Reserve

Makhanda (Grahamstad)

Land’s End Private Game Reserve is ’n pragtige vakansievilla op ’n plaas wat deur ongelooflike natuurskoon omring word, net buite Makhanda (Grahamstad). Dit is ideaal vir ’n groot groep familie of vriende wat uit die stadsgedruis wil ontsnap, want hiér word ’n mens deur absolute rustigheid omring. Daar is slaapplek vir 26 gaste in ses slaapkamers. Die pragtige leefarea beskik oor ’n kombuis wat met ’n gasstoof toegerus is en ’n etenstafel vir tien het. Daar is ook ’n knus sitarea met gemaklike rusbanke, ’n kaggel en nog ’n eetarea. Buite is daar ’n onderdakstoep met ’n ingeboude braai, hangmatte, ’n groot tuin vol bome, swaaistoele, ’n swembad en ’n houtvuurwarmbad. Die villa gebruik sonkrag en is heeltemal onafhanklik van die plaaslike kragnetwerk, so beurtkrag sal julle nie hiér beïnvloed nie.

Afstand vanaf Gqeberha (Port Elizabeth): sowat 128 km
Geriewe op die perseel: braaigeriewe, swembad en houtvuurwarmbad

Ikwanitsha Lodge

10 km vanaf Paterson

Dié lodge is op ’n 300 hektaar-reservaat met sebras, volstruise en ’n klomp wildsbokke geleë en bied maklike toegang tot die Addo-olifantpark, Shamwari Wildreservaat en ander privaat wildreservate in die omgewing. Daar is vier chalets wat op stelte gebou is en asemrowende uitsigte oor die vallei, Boesmansrivier en op die Zuurberg bied. Elke chalet bied slaapplek aan ’n paartjie en het ’n koningingrootte-bed, en suite-badkamer met ’n stort, ’n kombuisie wat met verhit-en-eetgeriewe toegerus is, en ’n onderdakdek met ’n lieflike uitsig. Die boskroeg op die perseel bedien ’n smullekker ontbyt wat ingesluit is, asook peuselgoed en egte Suid-Afrikaanse disse vir aandete teen ’n ekstra koste. Ná ’n dag van die omgewing verken, kan julle hiér op die stoep kom sit en ’n skemerkelkie drink.

Afstand vanaf Gqeberha (Port Elizabeth): sowat 75 km
Geriewe op die perseel: kroeg, restaurant op die perseel en gratis WiFi

Featherstone View Cottage

Makhanda (Grahamstad)

Featherstone View Cottage is net ses kilometer buite Makhanda (Grahamstad) geleë en het ’n puik ligging met ’n asemrowende uitsig oor Featherstone Kloof en op Seinheuwel. Net vyf minute se stap vanaf die kothuis is Mountain Drive vanwaar jy toegang tot meer as 50 kilometer se stap-, draf- en fietsroetes het. Die kothuis is minimalisties, maar gerieflik ingerig en het twee slaapkamers, ’n ten volle toegeruste kombuis met ’n skottelgoedwasser, wasmasjien en ’n tuimeldroër, en ’n oopplan-leefarea met gemaklike rusbanke en ’n kaggel. Die skuifdeur lei na ’n houtdek met ’n sitarea, ’n vuurput en ’n uitsig op die berge. Die kothuis het reënwatertenke, ’n omsetter en ’n sonkragstelsel, so dit is heeltemal onafhanklik van die plaaslike kragnetwerk. 

Afstand vanaf Gqeberha (Port Elizabeth): sowat 128 km
Geriewe op die perseel:
braaigeriewe en gratis WiFi

***

Of jy nou op soek is na ’n romantiese wegbreek saam met jou wederhelf of ’n onvergeetlike naweekavontuur saam met jou vriende beplan, die Oos-Kaap, met sy uiteenlopende landskappe en volop verblyfopsies, is die ideale bestemming vir ’n buitengewone wegbreek. Bespreek nóú, pak jou tas en los die bekommernisse by die huis, want ’n droomvakansie omring deur die natuur is minder as drie uur se ry vanaf PE!

Hooffoto: Austrey Lodge op LekkeSlaap

Lees ook:

Lekke naweekdorpies buite Durban
Lekke naweekdorpies buite Kaapstad
Naweekdorpies naby Gauteng