Volg die voetspore van die verlede in Stanford wanneer jy die strate verken. Wandel verby huise wat al vir meer as ’n honderd jaar hier staan. Stadsjapies het die afgelope paar jaar besef dié dorpie in die Overberg is ideaal vir ’n wegbreek in die platteland. Hiér skuur huise uit die 1800’s en vroeë 1900’s skouers met hul moderne bure. Maar daar is meer aan dié sluimerende dorpie as net historiese huise en kerke. Stanford spog met ’n byeboerdery, ’n bierbrouery, heerlike kaas, nog lekkerder kos, en deesdae ook hul eie wynroete.

LekkeSlaap het ’n draai gaan maak in Stanford, net anderkant Hermanus in die Overberg, en ’n paar lekker doendinge gaan opspoor.

1. Drink wyn by Springfontein

Springfontein

Alhoewel Springfontein se wyne nie nuut op die mark is nie, het die eienaar heelwat opknappingswerk gedoen en ’n pragtige nuwe proelokaal, The Bar(n), aangebou. Hiér kan jy wynproe (probeer gerus hul wit Pinotage!), terwyl jy ’n kaasbord (met Kleinrivier se kase) geniet. Hul formele restaurant, Springfontein Eats, is ook vinnig besig om naam te maak. Dié restaurant is oopgemaak onder die waaksame oog van sjef Jürgen Schneider, wat al vir meer as 18 jaar sy Michelin-ster behou. Jürgen en sy vrou, Susan, het ’n restaurant in Duitsland bestuur, maar nou het hulle dit ten doel om Springfontein Eats tot nuwe hoogtes te neem. Die restaurant het elke dag ’n nuwe spyskaart wat wissel tussen drie- en sesgangmaaltye.

Stanford se nuwe wynroete het ’n hele paar ander wynplase wat jy móét besoek: Stanford Hills, Walker Bay en natuurlik Sir Robert Stanford, waar jy wyn én grappa kan proe! Gaan loer gerus ook in by Boschrivier en Lomond.

Springfontein: www.springfontein.co.za  of  028 341 0651 of e-pos: info@springfontein.co.za.

2. Kleinrivier Kaas

Kleinrivier Cheese - Fotos deur Kleinrivier Cheese

Gaan kuier ook by Kleinrivier Kaas. Hulle vervaardig ’n unieke reeks kase waaruit jy kan kies en keur. Bestel ’n piekniek of net ’n kaasbord en kuier lekker aan die oewer van die rivier. Moenie vergeet om jou mandjie vol te maak met van die heerlike produkte in die kaaswinkel nie. Jy kan ook kyk hoe hulle kaas maak en van die kase proe.

Kleinrivier: www.kleinriviercheese.co.za of 028 341 0693 of info@kleinriviercheese.co.za.

3. Eg Italiaans in die middedorp

Don Gelato - Fotos deur Lionello Giovannetti

Wanneer jy deur die strate van dié dorpie wandel, maak seker jy doen aan by Don Gelato in Queen Victoriastraat. Die onopgesmukte, groen geboutjie nooi jou uit die hitte om hul yskoue, tuisgemaakte roomys te proe, maar daar is baie meer as net roomys om hiér te geniet! Corrado Giovannetti en sy seun, Lionello, berei elke dag vars Italiaanse disse voor. Tradisionele pasta word daagliks hier met die hand gemaak. Egte, Italiaanse disse met vars tamaties, olywe en kruie uit die kontrei word in die disse gebruik en net die beste parmesaan en vars pancetta is goed genoeg vir Corrado en Lionello. Ontspan gerus in die heerlike agtertuin en as jy gelukkig is sal Corrado jou bederf met grappa en ’n espresso om die aand mee af te sluit.

Dit is egter net een van verskeie restaurante in en om Stanford ‒ daar is heelwat om van te kies, van koffiewinkels en wynlandgoedere tot die gewilde Ou Meul Bakkery & Padstal in die hoofstraat.

Don Gelato: www.dongelato.co.za of 021 805 7470 of info@delitaly.co.za.

4. Bierproe by Birkenhead

Birkenhead

Stanford se bekendste storie is sekerlik dié van die HMS Birkenhead, ’n Britse troepedraer, wat op 25 Februarie 1852 uit Simonstad vertrek het en naby Danger Point op die rotse beland het. Daar was agt reddingsbote, waarvan net drie gebruik kon word. Van die 638 siele aan boord het slegs 193 die tragedie oorleef. Die sogenaamde “Birkenhead Drill”, oftewel die bevel om die vroue en kinders eerste te red, het daardie dag sy naam gekry.

Walker Bay Wynlandgoed is die tuiste van Birkenhead Brewery en Galley. Gaan proe gerus die smaaklike boetiekbier en beleef die ryk geskiedenis. Daar is groot speelgronde vir kinders by die pragtige proelokaal en restaurant. Bestel ’n proe-skinkbord en stel elke bier op die proef!

Birkenhead Brewery: www.birkenheadgalley.com of 028 341 0013 of info@birkenheadgalley.co.za.

5. Besoek Panthera Africa se groot katte

Panthera Africa - Fotos deur Panthera Africa

Vir ’n uitsonderlike avontuur kan jy gerus ook besoek aflê by Panthera Africa, ’n omgewingsvriendelike toevlugsoord vir groot katte, net buite Stanford. Hier kan jy beeldskone leeus, luiperds, rooikatte en selfs ’n tier van naby sien. Panthera Africa is ’n nie-winsgewende organisasie wat mense bewus maak van die haglike toestande waarin baie groot katte hulself bevind – veral dié wat in hokke aangehou word. Een van hul grootste doelwitte is om bewustheid oor hokjag (“canned hunting”) in die Suid-Afrikaanse jagbedryf te skep.

Besprekings is noodsaaklik indien jy hier ’n draai wil maak.

Panthera Africa: http://pantheraafrica.co.za/ of Cat: 076 974 3088 of info@pantheraafrica.com.

6. Markies en ander doendinge op die dorpsplein

Stanford Markets - Fotos deur Janet Marshall

Stanford is baie bekend vir al sy markies. Elke Saterdagoggend van 09:30 tot 12:00 is daar ’n markie op die stoep van die Stanford Hotel in Queen Victoriastraat, en elke laaste Vrydag van die maand is daar ’n Sunset Market, van 18:00 tot 20:00 op die dorpsplein. Elke Woensdagoggend tussen 09:00 en 12:00 hou Graze Restaurant in die hoofstraat ’n mini-markie. Stanford het natuurlik ook ’n swetterjoel winkeltjies en kunsgalerye om deur te snuffel. Sondae word daar krieket gespeel op die plein, en elke jaar word die Stanford Stumble Pretdraf en die Penguin Plunge in hierdie pragtige dorp gehou ─ moet dit nie misloop nie!

Dit is maar net ’n paar van die dinge om te sien en te doen in dié fassinerende dorpie. Besoek gerus www.stanfordinfo.co.za vir meer inligting oor die dorp en al die doendinge in die omgewing. Die toerismeburo is ook altyd gereed om te help. Vra gerus vir die pamflet om meer uit te vind oor die historiese staproete deur die dorp.

LekkeSlaap

1 Stanford Country Cottages: The Ark

Stanford country cottagtes - The Ark
Die Ark se interessante argitektuur laat ’n mens dink aan Noag se Ark. Die huis is pragtig versier met Franse flair en ’n interessante kombinasie van stewige antiekware en kontemporêre meubels.

 2. Stanford Hills Cottages

Stanford Hills Cottages
Stanford Hills Cottages bied selfsorgverblyf op die geskiedkundige Weltevrede Plaas aan die oewer van die Kleinrivier. Bly in een van die 5 eenhede, historiese slawehuisies of die oorspronklike herehuis.

 3. Stanford Hotel

Stanford Hotel
Bly in die Stanford Hotel wat in 1920 in die hartjie van dorp gebou is. Daar is verskeie kamers en kothuise om van te kies en van hier af kan jy die dorpie te voet verken.

 4. Blue Gum Country Estate

Blue Gum Country Estate
Blue Gum Country Estate is ’n werkende wynplaas. Dié pragtige landgoed is ’n paradys en is ideaal vir diegene op soek na ’n wegbreekplek ver van die stad se rumoer af.

 5. Bugler’s Cottage

Bugler's Cottage
Bugler’s Cottage is ’n unieke, romantiese kothuis – die ideale wegbreekplek vir besoekers wat net wil ontspan of die omgewing wil verken.

 6. Journey’s End

Stanford Country Cottages - Journey's End
Kuier saam met jou vriende of familie in hierdie ruim huis, net ’n blok van die rivier af. Eet, kuier en gesels heerlik om die tafel op die stoep met sy beeldskone uitsigte op die berge.

 7. Mosaic Lagoon Lodge

Mosaic Lagoon Lodge
Gaan tuis in ’n luukse safari-suite onder eeue-oue melkhoutbome. Dis waarlik ’n wegbreek in die bos – net meer as ’n uur se ry vanaf Kaapstad. Daar is ook heerlike doendinge teen die rivier en by die lodge!

Bykomende inligting deur Stanford Toerismeburo

Foto’s: Elbé van Heerden (tensy anders aangedui)
Instansie-foto’s: LekkeSlaap.co.za