Warmer weer is uiteindelik hier en dis die perfekte tyd om die Sederberge naby Clanwilliam te verken! Hierdie wildernisgebied, wat vernoem is na die inheemse sederbome wat voorheen in dié area gegroei het, dek 710 km² en is bekend vir die vreemde rotsformasies en San-tekeninge wat hier te sien is. Daar is verskeie voetslaanroetes om in die Sederberge aan te durf en jy kan ’n hele dag lank by rotspoele in die berge uitspan en die son wat op jou bak geniet.

Rondom die Sederberge is daar ook verskeie besienswaardighede om te verken, soos die bekoorlike, historiese sendingdorpie Wupperthal, en aktiwiteite soos watersport op die Dwarsrivier om te geniet.

LekkeSlaap het agt lekke plekke uitgesoek waar jy in die Sederberge kan bly. Of jy op soek is na ’n luukse vakansie of ’n basis om die omgewing te verken ─ hier is iets vir almal!

Kagga Kamma Nature Reserve

Hiér voel dit asof ’n mens bínne-in die Sederberge se rotsformasies bly. Hierdie reservaat is bekend vir sy natuurskoon en bied verblyf in mensgemaakte grotsuites of ruim grasdakhuisies. Die grotsuites se agterste binnemuur bestaan uit natuurlike sandsteen en elke suite het ook ’n stoepie met ’n uitsig. Daar is verskeie aktiwiteite om by hierdie reservaat te geniet, insluitend ’n sterrekyktoer, 4×4-uitstappies en rotskunstoere. 

Cederkloof Botanical Retreat

Daar word organiese rooibos op hierdie plaas in die Sederberge verbou. Dit is in ’n breë vallei tussen indrukwekkende berge geleë en daar is tien goed toegeruste selfsorgkothuise om van te kies. Daar is ’n vier kilometer lange voetslaanroete op die eiendom met rotsformasies wat met mos bedek is en meer as 850 fynbosspesies om uit te ken. Gaste kan in die privaat Jacuzzi’s wat met natuurlike bronwater gevul word, ontspan.

Cederberg Ridge Wilderness Lodge

As jy op soek is na verblyf wat ’n bietjie luukser is, is hierdie lodge die plek vir jou. Daar word seisoenale aktiwiteite soos begeleide staptogte, bergfietsry, halfdag- en voldag-uitstappies in die Sederberge, sowel as skemerkelkies en bootvaarte in die somer gebied. Ontbyt, middagete én aandete is hier ingesluit. Elke kamer het gratis WiFi en sommige kamers het ook ’n kaggel wat met hout gestook word. Die eenhede lei na ’n stoep met ’n uitsig op die berge. Verblyf word in individuele kamers wat uniek versier is gebied, en elke kamer het plek vir twee gaste.

Kromrivier Cederberg Park

As jy lus het om die area behoorlik te verken en voet te slaan, moet jy hiér kom uitspan! Kromrivier Cederberg Park is in die hartjie van die Sederberge en bied verblyf in chalets en by eksklusiewe kampplekke. Dit word omring deur fynbos en majestueuse oranje rotsformasies. Die instansie het ’n wasgoeddiens en ’n restaurant, en gaste kan op die perseel perdry, visvang, voëlkyk, bergfietsry, kunsvlieghengel, forelhengel en swem.

Oudrif Cederberg

Hierdie eko-lodge sluit alle etes en drankies in en is op die oewer van die Doringrivier. Afgeleë verblyf word in vyf unieke strooibaal-kothuise, elk met plek vir twee gaste, gebied. ’n Begeleide staproete is soggens beskikbaar en buitelug-entoesiaste kan selfs op ARK-opblaasbote op die rivier roei. Kom span in die buitesitarea uit en geniet die pragtige uitsig oor die Doringrivier.

Bushmans Kloof Wilderness Reserve

Natuurliefhebbers wat die fyner dinge in die lewe waardeer, sal ’n oase hiér vind! Bushmans Kloof Wilderness Reserve se bestuur word erken vir hul omgewings- en bewaringsprojekte en dien as toesighouer van ongeveer 130 antieke San-rotskunstekeninge. Wanneer jy nie besig is om die interessanthede in dié omgewing te verken nie, kan jy by die reservaat ’n spa-behandeling geniet, aan fynproewerskos smul, of aan aktiwiteite soos voetslaan, bergfietsry, kanovaart en swem deelneem. Daar is veertien luukse en deluxe-kamers om van te kies, asook een suite.

De Pakhuys

Vir dié wat nie wil hê dat hulle troeteldiere moet agterbly terwyl hulle die Sederberge verken nie, bied De Pakhuys ’n oplossing! Daar is vier selfsorgkothuise, twee glanshouthuise en twee luukse grasdakeenhede. Troeteldiere is welkom indien daar vooraf reëlings getref word en daar is ook ’n swembad. Wupperthal en die Biedouw-veldblomme is naby, as jy in blomseisoen die blommryk wil verken.

Rietvley Cottage

Hierdie kothuis bied gehalteverblyf in die winter én somer. Die kothuis het ondervloerse verhitting en ’n steenkoolstoof om warm te raak in die winter, en daar is ’n heerlike swembad om in af te koel en ’n braai-area waar julle in die somer kan kuier. Hierdie plaas bied asemrowende uitsigte, groot, oop spasies en maklike toegang tot die streek se bekende rotstekeninge en -formasies.

Gryp jou stapskoene, sonhoed en skemerkelkies ─ ’n wegbreek in die Sederberge sal jou vir dae lank besig hou!

Hooffoto: Kagga Kamma Nature Reserve op LekkeSlaap.co.za