Die wêreldbekende Kgalagadi Oorgrenspark is ’n trotse deel van Suid-Afrika se erfenis en dié park het op 12 Mei 2020 sy twintigste bestaansjaar gevier! Die Kgalagadi Oorgrenspark, soos dit vandag aan ons bekendstaan, strek oor die boonste deel van die Noord-Kaap in Suid-Afrika en ’n groot deel van Botswana, en bestaan uit twee parke wat op 12 Mei 1990 saamgesmelt het en Suidelike Afrika se eerste vredespark gevorm het. Die aantrekkingskrag van dié park lê in sy enorme grootte en ongerepte natuurskoon met wild wat vrylik rondbeweeg. Die beskermde gebied beslaan sowat 35 551 vierkante kilometer, sonder enige grense tussen die twee lande in die park, en laat die wild toe om sonder menslike steurnisse hulle natuurlike migrasieroetes te volg.

‘n Trop springbokke in die grasveld. Foto: Bigstock

Soos jy seker al vantevore gehoor het, sê hulle jy keer keer op keer na die Kgalagadi terug as jy eers die rooi Kalahari-sand tussen jou tone gevoel het, en dit ís so! Daar is ook min ander plekke in die wêreld waar jy ’n paar meter van jou voertuig af ’n Kalahari-leeu luilekker in die skadu van ’n kameeldoringboom kan sien lê, of ’n trop gemsbokke of blouwildebeeste salig langs ’n watergat sien wei. Daar is ongelooflike skoonheid in die eenvoud van dié semi-woestyngebied en met een sonsondergang kruip dit diep in jou hart in. Dit is beslis ’n onvergeetlike ervaring om die Kgalagadi te besoek en LekkeSlaap het na die kampplekke in dié park gaan loer sodat jy nóú al kan begin om jou volgende wegbreek hierheen te beplan!

Wanneer om te gaan

Die Kgalagadi Oorgrenspark ervaar uiterste weerstoestande, van onder vriespunt in die winter tot sowat 50°C in die somer! Jy moet dus die tyd van die jaar goed kies afhangend van wat jy wil ervaar. Gedurende die warmste tydperk in Januarie en Februarie sal jy heelwat diere wat jag raaksien en indien die reënval goed was, is Maart ideaal vir voëlkyk. Die wintermaande, Junie en Julie, ervaar die koudste nagtemperature, maar die dae is lekker sonnig. Die wild is dan lekker aktief gedurende die dag, so dit vermeerder jou kans om hulle sommer van naby te sien. September tot November is die einde van die droë seisoen en jy sal dus baie diere hul dors om die watergate sien les. Reën is uiters skaars in die omgewing, so dit sal nie sommer jou reis belemmer nie.

Die sonsopkoms in die mooiste omgewing! Foto: Bigstock

Waarvoor om uit te kyk

Die woord ‘Kgalagadi’ beteken plek van dors en dit is ’n goeie opsomming van die natuurlike omgewing. Aangesien die park hoofsaaklik oor die Kalahari-woestyn strek, is dit van nature uiters droog. Dit is merkwaardig om te sien hoe wildspesies aangepas het om in dié gehawende omstandighede te oorleef. Daar is bitter min plantegroei in die woestyngebied en diere drom meestal in die droë rivierbeddings saam ─ een van die beste plekke om talle diere by mekaar te sien! Jy moet veral jou oë vir blouwildebeeste, springbokke, elande, gemsbokke, kameelperde en rooihartbeeste oophou. Die roofdiere, soos Kalahari-leeus, jagluiperds, luiperds en hiënas is natuurlik die park se gewildste inwoners en die kans is groot dat jy een of meer van hierdie diere in aksie sal sien. Grondeekhorings en meerkatte is ook gewilde inwoners van dié area en hulle beweeg gelukkig in groot groepe rond, so jy kan hulle maklik raaksien.

Die koning van die Kalahari. Foto: Bigstock

Waar om te bly

SANParks Twee Rivieren Rest Camp

Twee Rivieren aan die oewer van die Nossobrivier is die grootste kamp en dis aan die suidelike punt by die park se hoofhek aan die Suid-Afrikaanse kant geleë. Dis ook die administratiewe hoofkwartiere met ’n ontvangsarea, winkel, brandstoftenk, restaurant, inligtingsentrum, OTM-geriewe en ’n swembad. Dit is ’n goeie beginpunt vir jou reis deur die park, aangesien jy jou laaste noodsaaklike items hiér kan aankoop en jou voertuig kan volmaak! Daar is ook 24 uur-elektrisiteit en selfoonsein, iets wat jy nie in die res van die park gaan hê nie. Die kamp bied ’n verskeidenheid verblyfopsies van gesinshutte en houthuise met lugversorging tot ’n kampplek.  


SANParks Mata Mata Rest Camp

Dié kamp is op die westelike grens langs die die Auobrivier se oewer tussen Namibië en Suid-Afrika geleë. Die kamp is vir die talle kameelperde wat daar rondloop bekend, so hou jou kamera ten alle tye gereed vir ’n pragtige natuurfoto van dié majestueuse dier. Jy kan tussen opgeknapte chalets, splinternuwe grasdak-chalets en die netjiese kampplek kies, en daar is ook ’n ontvangsarea, swembad, winkel en brandstoftenk. Let wel dat die kampplek tussen 21:00 en 05:00 geen elektrisiteit het nie. 


SANParks Nossob Rest Camp

Nossob is vir uitstekende roofdierbesigtigings in die omliggende grasvelde bekend. Dié kamp skuil in ’n droë rivierbedding en is die beste vertrekpunt na die Botswana-deel van die park. Die chalets in die kamp is onlangs opgeknap en daar is ook ’n kampplek met kragpunte wat daagliks tussen 21:30 en 05:00 af is. Die kamp spog met ’n wildkykskuiling en ’n uitsig oor ’n watergat wat beslis ’n unieke ervaring is. Daar is ook ’n ontvangsarea, swembad, inligtingsentrum, winkel en ’n brandstoftenk, en ’n nagwildrit of begeleide staptoer is beslis die moeite werd ─ onthou net om dit vooraf te reël. 


SANParks Kieliekrankie Wilderness Camp

Dié unieke, onomheinde kamp pronk hoog teen een van die hoogste duine en bied ’n ononderbroke uitsig oor die ander rooi duine. Die kamp bestaan uit selfsorghutte wat gerieflike verblyf verseker en van sonpanele en gas gebruik maak. Die hutte bied elkeen ’n uitsig oor ’n watergat waar talle diere kom suip en omdat die kamp nie omhein is nie, is die pragtige veld jou voorstoep! 


SANParks Urikaruus Wilderness Camp

Dié verhewe, onomheinde kamp bied unieke verblyf in selfsorghutte tussen kameeldoringbome. Troppe springbokke, wildebeeste, kameelperde, leeus en selfs jagluiperds loop sommer lekker naby dié kamp rond, so jy hoef nie eers ver te beweeg om hulle raak te sien nie. Die hutte op stelte bied ook ’n uitsig oor ’n watergat aan die rivieroewer en die bome lok talle voëlspesies! Elke hut het ’n kombuisie, ’n dek met ’n tafel, stoele en braaigeriewe, en die veld reg voor jou. Elektrisiteit word via sonkrag voorsien en die kombuistoerusting werk met gas. 


SANParks Bitterpan Wilderness Camp

Bitterpan is ’n eksklusiewe wilderniskamp wat nie omhein is nie. Die kamp bied verblyf in vier selfsorg-chalets wat op stelte verhewe is en ’n uitsig oor die rooi duine en watergat bied. Die chalets deel gemeenskaplike kombuis- en braaigeriewe, so dis ideaal vir toergroepe of groepe vriende wat nie omgee om geriewe te deel nie. Die kamp maak ook van sonpanele en gas gebruik. Daar is ook ’n verhewe uitkykplatform en ’n privaat sirkelroete wat besoekers kan volg. Let wel dat die roete na die kamp net in een rigting gery mag word en dat waentjies nie toegelaat word nie. 


SANParks Grootkolk Wilderness Camp

Grootkolk is ’n afgeleë wilderniskamp naby Namibië se grens en spog met vier selfsorghutte wat gerieflike verblyf bied. Die kamp is in die noordelikste deel van die park geleë en dié omgewing is swartmaanhaarleeus se gunstelingloopplek! Die kamp is ook nie omhein nie en dit bied ’n uitsig oor ’n watergat wat saans verlig word. Elke hut het ’n stoepie met opwasgeriewe, ’n tafel met stoele en braaigeriewe. Die kamp maak van sonkrag en gas gebruik en spog met ’n gemeenskaplike kombuis en braaigeriewe waar gaste lekker saam kan kuier. 


SANParks Gharagab Wilderness Camp

Dié onomheinde kamp in die verre noorde van die park bied unieke verblyf in die mooiste omgewing! Gharagab word deur doringbossavannes so ver soos die oog kan sien omring en ’n boomtoppie hier en daar. Die vier selfsorghutte bestaan uit hout, riet en seil en het elkeen ’n stoepie met braaigeriewe vanwaar jy die ongelooflike uitsig kan aanskou. Die kamp het ook ’n verhewe uitkykdek vir nog beter uitsigte. Die kamp word met ’n eenrigtingpaadjie bereik en dis slegs met 4×4-voertuie sonder waentjies bereikbaar. Let wel dat die water in dié omgewing nie drinkbaar is nie, so bring genoeg water saam.


Wenke

  • Die paaie in die Kgalagadi Oorgrenspark is nie altyd in ’n goeie toestand nie, so ’n 4×4-voertuig of ’n voertuig met ’n hoë grondvryhoogte word aanbeveel. 
  • Maak jou brandstoftenk vol elke keer wanneer jy brandstofgeriewe teekom. 
  • Neem genoeg drinkwater saam, die water in die park is nie altyd drinkbaar nie. 
  • Neem ’n noodhulpkissie saam. 
  • Maak seker jy pak genoeg warm klere in as jy die park in die winter besoek, dit raak verskriklik koud! 
  • Pak ’n verkyker en ’n voëlspesieboek in sodat jy die verskeidenheid voëls kan identifiseer. 
  • Neem jou eie hout saam, al die kampe het nie winkels nie. 
  • Maak ten alle tye seker dat jou kos veilig gebêre is, jakkalse kom soek graag na kos in die kampe. 
  • Jy het ’n paspoort nodig as jy die park deur ’n hek wat in ’n ander land is wil verlaat.

As jy ook die rooi Kalahari-sand tussen jou tone wil voel en die vryheid van dié ongelooflike plek wil ervaar, beplan sommer dadelik jou volgende Kgalagadi-uitstappie ná die inperking! 

Lees meer hiér oor die diere van die Kalahari voor jy die park besoek.

Hooffoto: Bigstock