Verbeel jou ’n vuur word in jou plonspoel aangesteek ─ ja, jy het reg gehoor! Vergeet van gewone borrelbaddens, houtvuur-warmbaddens is vinnig besig om een van die mees gewilde en unieke geriewe by wegbreekplekke te word. Wie sou ooit kon droom dat water en vuur so goed saamwerk? LekkeSlaap het die Wes-Kaap deursoek vir ons gunsteling-bestemmings waar jy oor die vlaktes kan tuur terwyl jy luilekker in ’n houtvuur-warmbad ontspan.

Believers Destiny Getaway – Swellendam

Die eienaars van Believers Destiny Getaway het die idee gehad om ’n naweekwegbreekplek vir besoekers te skep waar hulle, sonder hom hulle hele huis saam te bring, net hulle skoene kan kom uitskop en afskakel ─ ver van die gestamp en gestoot van die stad. Wat dié huisies so uniek maak, is dat die eienaars dit self ontwerp en gedurende naweke met klippe en uitheemse hout, soos denne- en bloekomboomhout gebou het. Dié lekker plek skuil omtrent 25 kilometer buite Swellendam op ’n plaas en spog met twee eenhede, Vlakvark en Meerkat, wat elkeen van sonkrag en gas gebruik maak én met ’n houtvuur-warmbad spog.

As jy op soek is na groepverblyf stel ons voor jy bespreek Vlakvark. Dié huisie het slaapplek vir vyf en die ingeboude houtvuur-warmbad op die stoep kyk op die omliggende berge uit. Dis ook troeteldiervriendelik, so bring sommer vir Wagter saam! Meerkat is ongelukkig nie troeteldiervriendelik nie, maar dis ideaal vir ’n paartjie en sy ingeboude houtvuur-warmbad op die stoep is lekker beskut om privaatheid te verseker.

Ouma se Spens bied heerlike konfyt, verversings, handgemaakte houtprodukte, vuurmaakhout, vuuraanstekers en verskeie plaaslike wyne teen ekstra koste.

Hout: Te koop in die eenhede teen ’n billike prys.
Ander lekker geriewe: kaggel, braaigeriewe, sonkrag, troeteldiervriendelik
Doendinge op die perseel: voëlkyk, fietsry, swem

Oubos by Ouplaas – Prince Alfred Hamlet

Prince Alfred Hamlet is ’n unieke dorpie anderkant Ceres in die Witzenbergvallei. Dié vallei is een van min bestemmings wat al die seisoene tot die uiterste ervaar. Gedurende die yskoue winters word die vallei dikwels met ’n sneeukombers bedek, en in die somer word dit sommer behóórlik warm! Oubos by Ouplaas is op ’n plaas in Prince Alfred Hamlet geleë en bied rustige plaasverblyf in ’n kothuis met slaapplek vir vyf. Met dié dat daar net een kothuis is, is dit lekker privaat en ideaal vir ’n gesin wat gehalte-tyd saam wil deurbring.

Die houtvuur-warmbad op die houtdek is die ideale plek vanwaar julle die sonsondergang agter die berge kan dophou. Orla, die eienaar, sê die warmbad is besonder gewild in die somer, herfs en lente ─ so kom ontspan luilekker in die warmbad nadat jy die plaas te voet verken het. Daar is ook ’n groente- en kruietuin op die plaas ─ help gerus jouself!

Hout: Drie kratte hout word gratis voorsien, maar daar is ook hout op die plaas te koop.
Ander lekker geriewe: WiFi, braaigeriewe, wasgoeddiens, TV
Doendinge op die perseel: visvang, fietsry, voëlkyk, stap, swem

Witklip Guest Farm – Moorreesburg

Verbeel jou jy sit en tuur oor die kanolalande met ’n drankie in die hand en die geblêr van die skape in die agtergrond. Dis presies wat by Witklip Guest Farm op jou wag! Toe Ronelle en Möller destyds besef hulle eie tweeslaapkamerhuis is nie meer groot genoeg om die kinders, familie en vriende oor naweke te akkommodeer nie, het hulle vinnig besluit om dié eeu-oue kothuis op die plaas te restoureer en op die ou end ook te verhuur.

Die prentjiemooi kothuis is met groot sorg so oorspronklik moontlik probeer hou en bied aan agt gaste ’n unieke plaaswegbreek in die Swartland. Witklip se ingeboude houtvuur-warmbad langs die stoep is lekker groot en ideaal vir ’n groep vriende of ’n gesin met kinders. Wie sou nou ooit gedink het om ’n wintersdag buite in ’n plonspoel deur te bring? Maar volgens Ronelle is dit juis die ideale en lekkerste tyd! Bedags is gaste welkom om die plaas te voet of met ’n fiets te verken, of sommer net op die stoep in die sonnetjie ’n boek te lees. Saans is die kaggel langs die kombuis ideaal vir ’n uitdagende bordspeletjie-aand!

Hout: Al die hout word gratis voorsien sodat gaste die warmbad ten volle kan benut.
Ander lekker geriewe: binne- en buitebraaigeriewe
Doendinge op die perseel: swem, stap, fietsry

Uitsig Cottages – Ladismith

Uitsig Cottages skuil in die Hoekovallei tussen Ladismith en Calitzdorp en bied rustige plaasverblyf in 2 kothuise. Narine en haar man het in 2015 plaas toe getrek, maar alles was vervalle. Die twee kothuise het nie deure of vensters gehad nie, maar hulle ligging op die plaas was uitstekend en gelukkig is albei die eienaars lief vir bou en opknap. Hulle wou dié stukkie hemel op aarde met besoekers deel en doop die kothuise toe Hemelrand en Gelukstroom.

Albei kothuise het plonspoele, binnebraaigeriewe, vuurputte buite en uitstekende uitsigte oor die omgewing en op die berge. Dis hiér waar die eenvoud en natuurskoon van die Klein-Karoo in stilte waardeer kan word. As jy Uitsig Cottages in die winter of lente besoek, stel ons voor jy bespreek Gelukstroom ─ sy plonspoel kan met ’n houtvuur verhit word. Ontspan in die warmbad met ’n koppie koffie in die hand terwyl jy die sneeu op die Swartberge dophou.

Let wel: Die kothuise maak van sonkrag en gas gebruik, so haardroërs en skootrekenaars kan ongelukkig nie hiér ingeprop word nie. Daar is egter ’n spesiale selfoonlaai-prop in die kombuis beskikbaar.

Wenk: Bespreek twee nagte of meer en ontvang ’n mandjie met koffie, tee, melk, beskuit, roosterkoek, konfyt en Ladismith-kaas.

Hout: Groot stompe word vir die braai voorsien, maar gaste moet asseblief hulle eie hout vir die warmbad saambring.
Ander lekker geriewe: braaigeriewe, vuurput, sonkrag
Doendinge op die perseel: fietsry, visvang, stap, voëlkyk, swem

Asher Riverside Cottages – Bonnievale

Tot haar eie verbasing het Ada eendag vir haar man, Dickter, gesê sy dink hulle moet ’n huisie bou. Hy het dadelik ingestem en nadat die eerste huisie gebou is, het hulle sommer dadelik geweet dat een ’n paar sou word. En siedaar ─ vandag is hulle met vier huisies geseën! Dié huisies is toe Asher gedoop, wat “to be blessed” beteken. Asher Riverside Cottages is minder as 20 kilometer van Bonnievale af en spog met ’n uitstekende ligging langs die Breëriver en pragtige uitsigte op die Langeberge.

Die huisies het elkeen slaapplek vir agt gaste, en spog met groot stoepe met braaigeriewe en houtvuur-warmbaddens op die gras wat oor die rivier uitkyk. Volgens Ada is herfs, wanneer dit begin koeler raak, die ideale tyd om die warmbad te benut, maar besoekers kuier eintlik heel jaar lank in dié warm water.

Wenk: Laat jou skoene sommer langs die warmbad wag ─ die gras is maar ’n koue besigheid in die winter!

Hout: Twee klein kissies hout word per dag voorsien en hout is op die perseel te koop.
Ander lekker geriewe: braaigeriewe, TV
Doendinge op die perseel: visvang, voëlkyk, swem, fietsry

Rietfontein Guest Farm – Ladismith

Rietfontein Guest Farm skuil in die voorheuwels van die Touwsberge tussen Barrydale en Ladismith. Toe die eienaars dié lappie grond 13 jaar gelede gekoop het, was dit ’n prentjiemooi, afgeleë en stil appelkoosplaas. Die huisies is toe mettertyd gebou sodat besoekers ook dié stilte en uitsigte in die veld kan kom beleef. Daar is vyf kothuisies wat met voetpaadjies en -bruggies verbind word, maar moenie bekommer nie ─ die peperbome en riete rondom die eenhede sorg vir privaatheid. Elke kothuis het twee slaapkamers, ’n kaggel, ’n buitebraai en ’n stoep met ’n houtvuur-warmbad.

 

Bring die gesin saam! In die somer kan julle die voetslaan- en bergfietspaadjies aandurf (hou gerus julle oë oop vir die kleinwild op die plaas) en daarna in die swembad ontspan. In die winter kan julle knus voor die kaggel met ’n boek opkrul of in die houtvuur-warmbad ontspan terwyl julle die sterrehemel bewonder.

Let wel: Die huisies beskik oor 12 V-krag en die batterye word deur sonpanele gelaai. Geen 220 V-toestelle kan gebruik word nie.

Hout: Hout word vir die warmbad voorsien.
Ander lekker geriewe: braaigeriewe, kaggels, swembad
Doendinge op die perseel: voëlkyk, swem, bergfietsry, stap, sterrekyk, wildkyk

Bergsicht Country Farm Cottages – Tulbagh

Bergsicht Country Farm Cottages is op die vrugteplaas Vrolikheid, net 7 km buite Tulbagh geleë en spog met pragtige uitsigte op die omliggende Winterhoek- en Witzenbergreekse. Aneretha en Charl het destyds twee huisies in die dorp langtermyn verhuur, maar nadat hulle ’n behoefte aan naweekverblyf raakgesien het, het hulle in 2013 besluit om dit in gasteverblyf te omskep. Mettertyd is die kantoor op die plaas ook in ’n kothuis omskep en vandag spog hulle met twee huisies in die dorp en vyf selfsorgkothuise op die plaas.

Vier van dié plaaskothuise het houtvuur-warmbaddens, terwyl Sunburst net ’n plonspoel het. African Delight en Ruby Star is albei ideaal vir klein gesinne wat op soek is na rustige plaasverblyf. Angelino en Lady Red het elkeen slaapplek vir twee en is gemáák vir romantiese wegbreke vir paartjies. Hou beslis Bergsicht se romantiese bederfpakkette in gedagte as jy en jou liefie hiér kom uitspan ─ ’n piekniekmandjie vir ’n paartjie, romantiese verrassings, ontbytkoepons en meer!

Let wel: Moet asseblief nie enige borrel- of seepprodukte in die houtvuur-warmbaddens gebruik nie.

Hout: Hout word reeds in die kaggel en warmbad gepak, én twee sakkies hout word voorsien. Ekstra hout kan by Bergsicht gekoop word.
Ander lekker geriewe: braaigeriewe, TV, WiFi
Doendinge op die perseel: fietsry, swem, stap

Oewerzicht Farm Cottages – Greyton

Oewerzicht Farm Cottages is in die rustige en skilderagtige Greytonvallei, slegs 9 kilometer vanaf Greyton geleë. Isa en Kootjie het dié vrugteplaas in 2000 gekoop en met twee selfsorg-eenhede begin. Vandag is daar sewe selfsorg-eenhede, twee perma-tente, vier kliphuisies, ’n kampeerterrein met 25 staanplekke en ’n funksielokaal wat 150 gaste kan akkommodeer. Kom kuier op Oewerzicht waar ’n warm plaas-atmosfeer, ongelooflike natuurskoon en die Sonderendrivier wat sommer so deur die plaas vloei, op jou wag. Wagter is ook welkom, so kom stap ’n ent, ry fiets, vang vis, baljaar met die tjoeps in die rivier en span uit by die lieflike braaigeriewe op die rivieroewer.

As jy op soek is na privaatheid, stel ons voor jy bespreek Uitsig 4 ─ hy het sy eie houtvuur-warmbad. Die twee perma-tente en vier kliphuisies deel die gebruik van ’n houtvuur-warmbad, so dis ideaal vir ’n groep vriende of familie. Maar daar is nóg ’n draagbare warmbad wat op versoek by enige van die eenhede of staanplekke gevoeg kan word ─ dís mos nou gerieflik!

Hout: Een behoorlike sak hout word voorsien, en hout word op die plaas verkoop ─ bestel gerus vooraf, sodat dit afgelaai word voordat jy arriveer.
Ander lekker geriewe: swembad, braaigeriewe, troeteldiervriendelik
Doendinge op die perseel: voëlkyk, swem, tennis, fietsry, stap

Houtvuur-warmbadwenk: Maak seker jy steek die vuur in die warmbad vroeg genoeg aan ─ dit neem sowat 2 ure om die water lekker warm te maak.

Nou ja toe, ’n plonspoel vir elke seisoen van die jaar! Het jy al een van hierdie lekker plekkies besoek? Weet jy van nog een met ’n houtvuur-warmbad? Laat ons weet!

Hooffoto: Oewerzicht Farm Cottages (LekkeSlaap)