Knysna het só baie te kus en te keur, dis nie maklik om op ’n reisplan vir dié gewilde Tuinroetedorp te besluit nie. Volg jy die loerie se spoor al langs blaarbedekte bospaadjies of keer jy na die strandmeer om jou aan die Knysnakoppe te vergaap? Waar eet jy? Wat drink jy? Waar swem jy? Die opsies is te veel! Laat LekkeSlaap dan ons top-doendinge in Knysna met jou deel. 

Dieremaniere

As jy ’n hart vir diere het (en ’n kroos om besig te hou), bied Knysna se omstreke die beste vierpotige vermaak! 

By die Knysna Olifantpark kan jy elke halfuur tussen nege- en drieuur op ’n toer vertrek om saam met ’n trop Afrika-olifante te wandel, hulle te voer en ook meer oor dié merkwaardige diere te leer. 

Knysna Elephant Park
Knysna Olifant Park | Foto: Erin Shattock

Monkeyland, Birds of Eden en Jukani Wildlife Reserve is op die pad Plettenbergbaai toe en ’n groepkaartjie sal jou ’n paar rand spaar as jy by meer as een reservaat wil ingaan.

Monkeyland is die wêreld se eerste primaat-bewarea waar al sewehonderd aap- en primaatspesies vrylik rondbeweeg. Daar is ook ’n 128 meter-hangbrug om jou nader aan die aapstreke te bring! 

’n Swart lemur by Monkeyland | Foto: Verskaf

Sowat drieduisendvyfhonderd inheemse en eksotiese voëls noem Birds of Eden hul tuiste. Dié voëls het meestal eensame lewens in hokke gelei voordat hulle na hierdie vryvlug-voëlhuis ─ die eerste ter wêreld ─ gebring is. 

Birds of Eden
Birds of Eden | Foto’s: Verskaf en Bigstock

Jukani is weer ’n toevlug vir grootkatte soos leeus en tiere, asook vir ander spesies soos wildehonde, wasbere, ratels en slange. Soos by Monkeyland en Birds of Eden, is die fokus op die rehabilitasie van die diere en die opvoeding van besoekers, so jy kan hierdie bewareas met ’n geruste hart ondersteun!

Jukani Wildlife Reserve
Jukani Wildlife Reserve | Foto: verskaf

Eet hier

Knysna bied iets vir elke smaak en elke smaakklier! 34′ South in die waterfront is nie net ’n restaurant nie; dit is ook ’n deli, bakkery, viswinkel en ’n geskenkwinkel. Hiér kry jy iets vir die kossnob én die trooskos-liefhebber, en die atmosfeer is altyd joviaal. 

34south at Knysna Waterfront
34’South by Knysna se Waterfront | Foto: Adriëtte le Roux

Vir goeie, plaaslike bier (ja, ons praat van Mitchells!), tapas en oesters, klop by Tapas & Oysters op Theseneiland aan. Hiér is ook ’n speelarea vir die jongklomp sodat Ma en Pa tegelyk oor die strandmeer én die kroos ’n ogie kan hou.  

Tapas & Oysters on Thesen Island
Tapas & Oysters het ook ’n kinderspeelarea. | Foto’s: Adriëtte le Roux

Vir iets meer romanties en luuks, kan jy seile span Sirocco toe. Dit is ook op Theseneiland en bedien fynproewerskos wat met vriendelike diens gekomplementeer word.

Sirocco on Thesen Island
Sirocco is óp die water in Theseneiland | Foto: Adriëtte le Roux

East Head Café is ons topkeuse vir ’n ontbyt, nie net omdat die kos so smaaklik is en hulle die lekkerste koffie op die dorp het nie, maar omdat dié restaurant ’n speelarea vir die kinders het en op die oostelike Knysnakop se rotse geleë is.

East Head Café Knysna
Die uitsig vanaf East Head Café se stoep | Foto: verskaf

As jy nóg nader aan Knysna se natuurprag wil eet, kan jy jou hongerpyne vir seebene ruil en op die John Benn klim, ’n dubbelverdieping-bootrestaurant wat tapas, twee kroeë en ’n a la carte-spyskaart bied. 

John Benn in Knysna
Smaaklike ete op die John Benn-standmeerrestaurant! | Foto: Adriëtte le Roux

Woud óf strandmeer

’n Besoek aan Knysna is nou maar nét nie volmaak sonder om woud én strandmeer te sien nie, maar jy kan albei inpas as jy mooi beplan.

Die Steenbok Natuurreservaat beslaan inheemse plantegroei, soutmoeras en plankpaadjies wat al die pad tot by die strandmeer kronkel. Hiér kan jy met die Knysnakoppe in die agtergrond swem en jou hond is ook welkom!

Die Steenboknatuurreservaat is grootliks ’n gemeenskapsprojek ─ ’n pragtige een! | Foto: Verskaf

Die Featherbed Natuurreservaat, wat oor die westelike Knysnakop strek, kan slegs per veerboot besoek word, so koop jou kaartjie by die Featherbed Co-kantoor in die waterfront en geniet dan ’n vier uur lange toer wat die veerboot, ’n 4×4-rit na die westelike Knysnakop en ’n opsionele buffetete insluit. ’n Paar ekstra rand gee jou die kans om die verwoesting van die 2017-brande te help herstel en ’n pakkie saadballetjies met ’n kettie die reservaat in te skiet!

Featherbed Nature Reserve
Die vaart tot by die Featherbed reservaat duur sowat tien minute, daarna kan jy ’n asemrowende uitsig geniet en saadballetjies die reservaat inskiet! | Foto’s: Adriëtte le Roux

Met Heads Explorer kan jy ook déúr die Knysnakoppe ─ eens die wêreld se gevaarlikste seepoort ─ tot in die oop see vaar! Dié seepoort is deesdae baie meer begaanbaar en met Heads Explorer pak jy die tog in styl aan.

Met soveel rotse en ’n onstuimige see is dit maklik om te sien waarom die Knysnakoppe eens die wêreld se gevaarlikse seepoort was. | Foto: Wikimedia Commons

Dan is dit woud toe met jou. Die gratis Kringe in ’n Bos-sirkelroete van 3 óf 9 kilometer wat by Dalene Matthee se gedenkboom begin, is ’n goeie opsie vir beginners. In die somermaande is die Jubilee Creek-sirkelroete  van 3,6 kilometer met woudpaadjies, piekniekplek en ’n swemgat baie gewild, maar jy sal ‘n toegangsfooi moet betaal. Andersins kan jy die Terblans Natuurstap, ’n 6,5 kilometer-sirkelroete, neem wat ook ’n swemgat en ’n piekniekplek het.

Jubilee Creek-swemgat
Die swemgat by Jubilee Creek | Foto: Wikimedia Commons

Daar is ook MTB-roetes vir verskillende vaardigheidsvlakke deur die woud. Die Homtini-roete is 19 kilometer lank en vir beginners geskik, Petrus se Band van 22,5 kilometer is ’n intermediêre roete en heelparty plaaslike fietsryers se gunsteling, en Harkerville se roetes wissel tussen 12 en 24 kilometer en het verskillende moeilikheidsgrade.

Knysna Road to Diepwalle
Die pad na Diepwalle in die Knysnawoud | Foto: Bigstock

Swem hier

Vir watersport en ’n kindervriendelike dag op die strand stel ons Bollard Bay aan die strandmeer se oewer in Leisure Isle voor. Draai regs uit George Rex-rylaan by die bordjie na Leisure Isle en hou sowat twee kilometer aan verby die sekuriteitshuise. Tydens laagwater is daar min water, maar jy sal tot naby die Knysnakoppe kan stap ─ maak net seker jy keer terug voor die gety draai! En as dit hoogwater is, is die baai perfek vir kinders omdat daar nie branders en seestrome is nie.

Coney Glen-strand
Bollard Bay tydens laagwater | Foto: LekkeSlaap.co.za Ebb and Flow Studios

Coney Glen is nét so ’n versteekte skat en ideaal vir diegene wat van die rotse af wil visvang. Daar is ook braaigeriewe en piekniekbankies op gras. Volg weer George Rex-rylaan tot jy in Coney-rylaan kan draai. Volg die steil op- en afdraande tot jy by Coney Glen kom. Koel gerus hier op ’n warm dag af, maar onthou die water by dié strand kan gevaarlik wees, so moenie té diep ingaan nie.  

Bollard Bay
Die seestrome by Coney Glen kan ’n uitdaging wees, maar daar is rotse om vanaf te hengel of in te swem | Foto: LekkeSlaap.co.za Knysna Pearl View

Kopies en kultuur

Daar is talle winkels wat eie is aan Knysna en jy sal die meeste daarvan by Theseneiland en Knysna se waterfront raakloop. Dié twee sit gerieflik langs mekaar.

Omdat die grootste deel van Theseneiland in privaat besit is, besef ’n mens nie sommer dat jy hier mag indraai nie, maar as jy die kans neem, word jy met ’n eklektiese mengel galerye, boetiekwinkels, spa’s, ’n bakkery, meester-klokmaker en ’n motorfietsmuseum beloon. Daar is ook ’n geskiedenis-staproete wat met geïllustreerde inligtingsborde gestip is. Wanneer jy die eiland verlaat, is die waterfront aan jou linkerkant en, net soos by Theseneiland, allerlei winkeltjies met ietwat meer sakpasopsies.

Knysna Waterfront
Knysna se waterfront | Foto: Wikimedia Commons

Reg oorkant Theseneiland, terug op land, is die Knysna Fine Art-galery. Hiér word kontemporêre Suid-Afrikaanse kuns én internasionale kunstenaars se werk uitgestal en jy kan na kuns deur Gerard Sekoto, Lucas Sithole, Robert Hodgins en Pierneef uitsien.  

Knysna Fine Art Gallery
Die Knysna Fine Art-galery | Foto: Wikimedia Commons

Buite die dorp, in Sedgefield se rigting, is die bekroonde Wild Oats Farmers’ Market elke Saterdagoggend aan die gang. As jy van plan is om ’n piekniek in te werk, is dít waar jy vars eetgoed moet koop.

Wild Oats Farmer's Market
Die Wild Oats Farmers’ Market in Sedgefield | Foto: verskaf

’n Gholfspeler se droom

Knysna spog met van die top-gholfbane in Suider Afrika. Die Knysna Gholfklub skuil net ’n entjie van die Koppe af aan die strandmeer se oewer en dateer uit 1909! Die Pezula Kampioenskap-gholfbaan tel onder Suid-Afrika se top-twintig gholfbane en bied ’n panoramiese uitsig oor die strandmeer. Jy kan ook hier verblyf bespreek of by die spa inklok. Simola se 18 putjie-kampioenskapbaan met ’n baansyfer van 72 is deur Jack Nicklaus ontwerp en is bo-op Simola-heuwel geleë.

Pezula Gholfbaan
Die uitsig vanaf die Pezula Kampioenskap-gholfbaan. | Foto: Wikimedia Commons

Dít is net ’n handjievol dinge wat jy in Knysna sou kon doen. Daar is soveel meer! Wil jy ons van nóg ’n versteekte skat leer? Vertel ons dan hieronder meer.

Dankie aan Esmé van Brenton Bushbuck Lodge vir haar kennis en insette!

Hooffoto: Bigstock
Alle ander foto’s soos vermeld.