Dié week reis OPTOG! se kombi’s al die pad vanaf Rustenburg tot in Stellenbosch en sterre soos Nataniël, Deon Meyer en Coenie de Villiers sluit by dié toer aan om gehore wyd en syd te vermaak.

Jak de Priester tree die 21ste Februarie in Tzaneen in Limpopo op en LekkeSlaap het met hom gesels voor hy in die pad val.

In hierdie deel van die Limpopo-provinsie gebruik reisigers Tzaneen dikwels sommer net as ’n oornagstop en kies eerder koers na die Krugerwildtuin. Dié week bring OPTOG! egter die kultuurdier na Tzaneen en daarmee saam ook ’n rede om ’n bietjie langer in dié dorpie te kuier. So, as jy Jak de Priester in lewende lywe wil sien, stel ons voor jy lees ons Tzaneen-blog en mik jou motortjie se neus in dié versteekte dorpie se rigting.

Maar, rol eers af om Jak ’n bietjie beter te leer ken. Van wat sy gunsteling-ding van die Jakarandastad is, watter padgewoontes hom die meeste irriteer, tot of hy regtig só lief vir nougat is ─ ons kry die antwoorde op die vrae wat jy nog altyd wou weet!

LS: Sally Williams-nougat is een van jou gewildste liedjies – is jy rêrig só lief vir nougat?

JdP: Ja, dit was fantasties, dit is meer die herinneringe van daardie tyd en oomblik wat my die liedjie laat skryf het. Maar ek moet erken Sally Williams bly nog steeds vir my baie lekker!

LS: (Met ’n tong in die kies, maar eintlik is ons net nuuskierig) Het Sally Williams jou al ooit vir die regte van jou liedjie genader?

JdP: Nee, maar hulle het al baie bydraes gelewer soos om geleenthede te borg, nougat by damesoggende te voorsien, ens.

LS: Jy het ’n liedjie met die naam Padwoede – watter padgewoontes van Suid-Afrikaners irriteer jou die meeste?

JdP: In Gauteng is padgebruikers oor die algemeen meer gewelddadig, taxi’s jaag voor jou in, ry op die geelstrepe. Vir my is die taxi-drywers die groot probleem, almal wag geduldig tydens verkeer maar taxi’s jaag net links en regs verby en plaas almal se lewens in gevaar. Dit maak dit moeilik!

LS: As jy net een van jou eie liedjies vir die res van jou lewe kon sing, watter een sal dit wees?

JdP: “Vriendskap se water”, dit is op my 15  jaar-album.

LS: Jy het verskeie albums, ’n kinderalbum en -DVD, ’n boek, ’n digbundel en verskeie verhoogproduksies om mee te spog – watter ander talente steek jy weg en sal jy graag meer aandag aan wou gee?

JdP: Ek speel ook toneel en hierdie jaar gaan ek weer op die verhoog wees saam met Lizz Meiring, maar weg van kultuur hou ek baie van sport en speel omtrent elke dag tennis.

LS: Jy was destyds die aanbieder van Reis na Gister – waarheen sou jy die filmspan oral neem om jou verlede op te som?

JdP: Parys, Vrystaat is waar ek die grootste deel van my kinderlewe spandeer het. Ek was daar van Gr.1 tot matriek, maar daar was een jaar – my Std. 5 jaar wat ons in Kroonstad op ’n hoenderplaas gebly het, ek sal graag daarnatoe ook wil gaan.

LS: As gevolg van Binnelanders se temalied is jy vir baie Suid-Afrikaners sinoniem met Pretoria se musiek-scene en jy het self al gesê jy sing oor jou stad want jy kén dit. Wat is jou gunsteling-ding van die Jakarandastad?

JdP: Definitief Oktober-maand as die Jakarandas orals blom is my gunsteling-tyd in Pretoria, die pers strate en veral in Brooklyn. Maar wat Pretoria ook spesiaal maak is dat dit amper meer ’n Afrikaanse stad is en dit voel soms soos ’n groot plattelandse dorp waar jy jou kinders nog normaal kan grootmaak.

LS: Watter ander bestemming in SA sou jy graag wou/weer wil besoek?

JdP: Ek sal graag so veel as moontlik plekke in SA wil besoek, uit die aard van my tipe werk as sanger besoek ek nogal gereeld mooi en interessante plekke en dorpe en dan wens ek altyd ek kan my familie terugneem soontoe. Maar ’n plekkie waar ek nog lank wil gaan vakansie hou is Wildernis en Nature’s Valley.

LS: Jy tree een van die dae in Tzaneen en Ermelo op. Ken jy hierdie dorpe goed? Waarna sien jy die meeste uit?

JdP: Die natuurskoon van Tzaneen is altyd vir my ongelooflik, dit het so ander gevoel. En elke keer wat ek voorheen daar was was dit baie aangenaam. Ermelo ken ek minder goed, maar hulle het ’n lekker venue!

LS: Voltooi die sin: Dit is die lekke’ste lekke om …

JdP: Dit is die lekke’ste lekke om … met vakansie te gaan! Om nuwe plekke te ontdek en natuurlik om vir mense wat dit geniet jou liedjies te sing!

Daar het jy dit, Jak eet steeds Sally Williams-nougat! Het jy ’n vraag wat jy hom nog altyd wou vra? Moet dan nie sy konsert in Tzaneen misloop nie!

Ná so ’n lekker kultuuraand kan die pad terug huis toe in die donker maar lank raak, so kliek hiér vir verblyfopsies in dié geweste en maak sommer ’n wegbreek van die geleentheid!

Ons top-keuse:

Ander lekke opsies:

Hierdie week se program:

Nataniël | 20 Februarie | Rustenburg | Bespreek hiér | Bly hiér
Jak de Priester | 21 Februarie | Tzaneen | Bespreek hiér | Bly hiér
Jak de Priester | 22 Februarie | Ermelo | Bespreek hiér | Bly hiér
Adam Barnard, Burgerd Botha, Louis Loock & André Venter | 22 Februarie | Bloemfontein | Bespreek hiér | Bly hiér
Nataniël | 23 Februarie | Polokwane | Bespreek hiér | Bly hiér
Adam Barnard, Burgerd Botha, Louis Loock & André Venter | 23 Februarie | Kimberley | Bespreek hiér | Bly hiér
Coenie de Villiers & Deon Meyer | 23 Februarie | Stellenbosch | Bespreek hiér | Bly hiér

Volgende week se program:

Nataniël | 26 Februarie | Kroonstad | Bespreek hiér | Bly hiér
Nataniël | 28 Februarie | Oudtshoorn | Bespreek hiér | Bly hiér
Laurika Rauch & Clinton Waring | 1 Maart | Stellenbosch | Bespreek hiér | Bly hiér
Nataniël | 2 Maart | Bloemfontein | Bespreek hiér | Bly hiér
Laurika Rauch & Clinton Waring | 2 Maart | Stellenbosch | Bespreek hiér | Bly hiér
Koos Kombuis, Herman Kleinhans, Bottomless Coffee & Johrné van Huyssteen | 2 Maart | Robertson | Bespreek hiér | Bly hiér

Moenie ons onderhoud met nóg ’n ster in volgende week se OPTOG!-blog misloop nie en kliek hiér om ons onderhoud met Elvis Blue in verlede week se blog te lees.

Hooffoto: Verskaf