As ’n mens die pad vat na Limpopo, watter dorp behoort nommer een op jou reisplan te wees? Ons bestemming is die subtropiese dorp Tzaneen en ons gaan jou wys waarom dié dorp meer as net ’n oorslaapplek op pad na die wildtuin is.

Dam naby Tzaneen

Tzaneen is naas Polokwane die tweede grootste dorp in Limpopo. Dit is ’n hoëreënvalstreek met ’n subtropiese klimaat en die plantegroei word deur inheemse woude en lowergroen grasvelde gekenmerk. Een gewilde teorie is dat die dorp sy naam by die woord “tsana” kry wat mandjie beteken en verwys na die feit dat Tzaneen soos ’n mandjie lyk wat deur berge omring is.

Een van die lieflike strome in die Tzaneen-omgewing

Aangesien die meeste van Suid-Afrika se subtropiese vrugte hier gekweek word, is Tzaneen as’t ware soos ’n “vrugtemandjie” en vrugtestalletjies is oral langs die strate te vinde. Wanneer dit kom by vrugte is Tzaneen ‘n skatkis, maar as toeristebestemming word dié dorp nog grootliks onderskat.

Tzaneen se subtropiese vrugte - Samantha Marx

Hieronder volg 5 redes wat dit die besoek werd maak:

1. Magoebaskloof

Magoebaskloof is ’n absolute sprokieswoud. Afgesien van dié streek se skilderagtige voetslaanpaaie en verskeidenheid verblyf-opsies, is Magoebaskloof veral gewild vir sy boomtoptoere wat jou bo-oor die Letabarivier se drie watervalle lei. Vir die waaghalse is daar ook ’n magdom avontuursportsoorte wat tjoepry, abseil, motorfietsry, bergfietsry, kloofklim, verfbal, kunsvlieghengel en muurklim insluit.

Links: Tzaneen Country Lodge, middel-bo en -onder: Magoebaskloof Adventure Chalets, regs-bo: South African Tourism

Jy kan jou boomtoptoer hier en ander avontuursporte hier bespreek. En as jy naby die avontuur wil bly, is Magoebaskloof Adventure Chalets die ideale keuse.

2. Debengeni

Dié waterval, sowat ’n halfuur buite Tzaneen, is aan die voet van Magoebaskloof se berge in die Ramaphadirivier en is sowat 80 meter hoog. Debengeni is ’n Pedi-woord wat “plek van die groot pot” beteken en verwys na die groot poel aan die onderkant van die waterval wat oor miljoene jare gevorm het. Dit is ’n gewilde swem- en piekniekplek en is veral ’n goeie plek om asem te skep na jy een van Magoebaskloof se staproetes aangedurf het.

Debengeni-waterval

As jy jou hart ’n bietjie vinniger wil laat klop is daar ook ’n afdraand-bergfietsroete wat by Magoebaskloof begin en deur die woude, verby die waterval en teeplantasies, tot by die Magoebaskloofdam loop.

3. Die Wolkberge

Hierdie deel van die Drakensberge, sowat 20 minute buite Tzaneen, word gekenmerk deur inheemse woude wat in diep klowe versteek lê, asook hoë kranse en watervalle, swempoele en grasbedekte hellings. Die Wolkberge is steeds ongerep en onaangeraak deur menslike ontwikkeling, so daar is nie regtig voetslaanpaaie nie en jy moet dus ‘n relatief ervare stapper wees om dit te verken.

Links: Darren Smith, regs: Wolkberge-staproetes

Dié wat ’n makliker roete soek kan tot by Klipdraaiwaterval stap. Meer ervare stappers kan hul tentjie hier opslaan en dit as “basiskamp” gebruik om moeiliker roetes te verken, soos die immergewilde Wonderwoud. Die beste tyd om hierdie juweel te besoek is gedurende lente (September en Oktober) en herfs (Maart en April).

Dié natuurwonder is sowat 40 minute noord van Tzaneen en is die grootste konsentrasie van ’n enkele broodboomsoort in die wêreld. Sommige van die bome word tot 13 meter hoog en dit vorm ’n natuurlike woud wat na bewering al in die tyd van die dinosourusse bestaan het. Die beste besoektyd is tussen Desember en Februarie wanneer die bome pragtige oranje sade dra.

Links en bo: Tzaneen Country Lodge, regs onder: South African Tourism

5. Sunland-kremetartboom

’n Paar weke gelede het ’n derde van hierdie reus se boomstam ineengestort, maar tog is die boom steeds die rekordhouer vir die spesie. Die Sunland-kremetartboom is die wydste kremetartboom in die wêreld en is sowat ’n halfuur se ry noord van Tzaneen. Kenners meen die boom is ten minste 1000 jaar oud, radiokoolstofdatering skat dit teen 1700 jaar, maar sommige reken dat dit selfs 6000 jaar oud kan wees. Die reusagtige boom is werklik iets om te aanskou en hoewel dit op ’n privaat veselperskeplaas geleë is, is dagbesoekers welkom.

South African Tourism

Dit is net 5 van die besienswaardighede wat ’n hanetreetjie van Tzaneen af geleë is, so wanneer maak jy ’n draai? As jy nog nie oortuig is nie, kan ons jou ook verseker dat die dorp self ’n skatkis vol doendinge is. Lieflike tuine, museums van die plaaslike stamtradisies en ’n inkopiesentrum is net ’n paar van die hoogtepunte. Moet ook nie vergeet van wildkyk by Tzaneen se omliggende wild-lodges nie.

Wildkyk naby Tzaneen

So nou dat jy weet wat jy als in Tzaneen kan doen, gaan ons jou wys waar om te bly. Slaap hoog in een van Mowana Wildplaas se boomhuise, gaan op ’n wildrit by Letaba River Lodge of ’n helikopterrit by Makgokolo Wildplaas. Magoebaskloof Birders’ Cottages se bederfbad in die tuin is ideaal vir ’n wittebroodpaartjie, terwyl Kings Waldon Garden Manor met sy fynproewerdisse vir ’n luukse wegbreek bestem is. Kliek hier om verder ondersoek in te stel en nog blyplekke in en rondom Tzaneen te vind.

Bederfbad by Magoebaskloof Birders Cottages

Tzaneen is die perfekte halfwegstasie tussen Polokwane en die Krugerwildtuin, so talle gesinne bly elke jaar hier op pad na die Phalaborwa-hek. Tog het ons jou nou gewys dat Tzaneen baie meer as net ’n oornagplek is, so maak jou volgende besoek aan die Laeveld ’n behoorlike een.