Wat is dan nou lekke’der as ’n wildkyk-vakansie in die winter? Jy’s vroeg uit die vere en vat die pad nog voor die son heeltemal agter die koppies verskyn. Met ’n kombersie oor die knieë, ’n beker vuurwarm koffie uit die koffiefles en ’n beskuitjie om die ergste ontbytpyne te stil, sit jy byna met jou neus téén die koue venster, rég om die lysie wildspesies te begin aftiek! In hierdie blog wys LekkeSlaap jou waar jy jou batterye kan herlaai, so na moontlik aan die Krugerwildtuin se hekke.

Elephant Walk Retreat

Dié lekker wegbreekplek is net ’n hanetreetjie van die Krokodilbrughek af en spog met ’n uitstekende uitsig oor die Krokodilrivier waar troppe olifante gereeld in die water kom baljaar. Daar is nege eenhede langs die rivier waarvan sewe hulle eie kombuisies het en die ander twee toegang tot ’n boskombuis het. Koel in die swembad af, drink ’n glasie wyn op die stoep, of kies koers na die wildtuin vir ’n opwindende wildkykuitstappie.

Naaste hek: sowat 2 kilometer vanaf die Krokodilbrughek
Tipe verblyf: Selfsorg
Ingesluit: Selfsorg
Doendinge: Voëlkyk, wildkyk en swem
Geriewe: Gratis WiFi, braaigeriewe, swembad en lughawe-pendeldiens

Komati River Chalets

Komati River Chalets skuil langs die Komatirivier waar dit die Krokodilrivier ontmoet. Die oord spog met veertien chalets en ses gesinskothuise wat so gesellig ingerig is, jy sal dink jy kuier in jou eie huis! Die chalets is net vyftig meter van die water af waar seekoeie en verskeie voëlspesies jou vir ure sal vermaak. Terwyl die res van die gesin by die  a là carte-restaurant kuier of in die swembad baljaar, kan die hengelaars heel dag lank hulle hengelvermoë op die rivieroewer beproef, of ’n hengel-safari op ’n motorboot bespreek.

Naaste hek: sowat 13 kilometer vanaf die Krokodilbrughek
Tipe verblyf: Selfsorg
Ingesluit: Selfsorg
Doendinge: Visvang, swem, voëlkyk, hengel-safari’s en daguitstappies na die Krugerwildtuin, Mosambiek en Swaziland
Geriewe: Gratis WiFi, braaigeriewe, restaurant op die perseel, swembad, rolstoelvriendelik en lughawe-pendeldiens

Kruger View Chalets

Dié chalets aan die Krokodilrivier se oewer, oorkant die Krugerwildtuin, bied die perfekte wegbreek vir gesinne wat op soek is na gerieflike verblyf naby die wildtuin. Die chalets het elk slaapplek vir vier gaste, is ten volle toegerus en spog met ’n uitsig oor die tuin of rivier. Wanneer julle nie in die wildtuin op soek na wild rondrits nie, kan julle langs die swembad sonbaai, voëlkyk of by die restaurant vir ’n heerlike ete aansit.

Naaste hek: sowat 11 kilometer vanaf die Malelane-hek
Tipe verblyf: Selfsorg
Ingesluit: Selfsorg
Doendinge: Voëlkyk, wildkyk en swem
Geriewe: Gratis WiFi, braaigeriewe, swembad, restaurant op die perseel, wildritte, spa-behandelinge en lughawe-pendeldiens

Hamiltons Lodge and Restaurant

Kom klok net een kilometer van die Malelane-hek af in! Hamiltons Lodge and Restaurant bied ’n lekker ontspanne atmosfeer waar jy die vars bosveldlug kan inasem. Daar is dertien luukse eenhede met lugversorging wat paartjies en gesinne kan akkommodeer. Die tuin spog met ’n restaurant waar jy heerlike, tuisgemaakte maaltye en van die beste Suid-Afrikaanse wyn kan bestel. Daar is ook ’n kunswinkel en -galery met plaaslike kunswerke en handewerk, en Afrika-huisware wat deur die plaaslike inwoners gemaak is. Maak gerus hiér ’n draai!

Naaste hek: sowat 1 kilometer vanaf die Malelane-hek
Tipe verblyf: Lodge
Ingesluit: Ontbyt
Doendinge: Voëlkyk, wynproe, bergfietsry, begeleide staproetes en swem
Geriewe: Wynkelder, wildritte, lughawe-pendeldiens, gimnasium, rolstoelvriendelik, restaurant op die perseel en swembad

Poinsettia Family Cottage

Poinsettia Family Cottage bied uitstekende verblyf in ’n selfsorghuis vir die hele gesin op ’n piesangplaas net dertien kilometer van Hazyview af. Die kothuis het drie slaapkamers, ’n ten volle toegeruste kombuis, sitarea met ’n TV en DStv, en ’n gesellige kuierstoep met braaigeriewe en ’n uitsig oor die plaas. Daar is ook ’n plonspoel waar julle kan kom afkoel en die dag met ’n skemerkelkie kan afsluit.

Naaste hek: sowat 24 kilometer vanaf die Numbi-hek
Tipe verblyf: Selfsorg
Ingesluit: Selfsorg
Doendinge: Visvang, fietsry, swem en voëlkyk
Geriewe: Gratis WiFi, braaigeriewe, swembad en kinderoppasser

Perry’s Bridge Hollow

Hierdie hotel het ’n unieke ligging tussen kremetart-, vye- en akasia-bome in die hartjie van die koloniale Perry’s Bridge-handelspos in Hazyview. Julle kan tussen dertig eenhede wat paartjies en gesinne kan akkommodeer kies. Daar is ook ’n swembad met ’n hele paar sonstoele waar jy behoorlik agteroor kan sit en sonbaai. Die restaurant op die perseel, Kuka Café, het ’n Afro-sjiek-atmosfeer en bedien topklas-maaltye en uitstekende mengeldrankies in ’n oop, moderne ruimte wat met helder kleure versier is en deur die Laeveldlandskap omring word.

Naaste hek: sowat 13 kilometer vanaf die Phabeni-hek
Tipe verblyf: Hotel
Ingesluit: Ontbyt
Doendinge: swem en spa-behandelinge
Geriewe: Gratis WiFi, swembad en veilige parkeerplek

Sabie River Bush Lodge

Sabie River Bush Lodge is op die Sabierivieroewer geleë en hiér sal jy sommer van die verhewe swembaddek af kan wildkyk. Dit is perfek vir diegene wat graag vir ’n paar dae die Krugerwildtuin en Laeveld-omgewing wil verken. Daar is verblyfopsies van en suite-kamers en gesinshutte, tot bostente en tente teen die rivier. Die kinders sal hulself heel dag lank by die putt-putt-baan en swembad kan besighou, terwyl ma en pa met ’n verkyker op die houtdek langs die rivier kan uitspan.

Naaste hek: sowat 16 kilometer vanaf die Phabeni-hek
Tipe verblyf: B&B
Ingesluit: Ontbyt
Doendinge: Voëlkyk, wildritte, wildkyk en swem
Geriewe: Gratis WiFi, restaurant op die perseel, swembad, rolstoelvriendelik, wildritte en lughawe-pendeldiens

Bundox Safari Lodge

Hierdie safari-lodge in ’n klein bewarea naby Hoedspruit is ideaal vir paartjies wat op soek is na ’n romantiese wegbreek naby die Krugerwildtuin. Daar is twee chalets en sewe permatente, en ’n paar van die eenhede het hulle eie bomas waar julle ’n vleisie oor die kole kan gooi terwyl julle na die bos se naggeluide luister. Julle kan ook lekker in die gemeenskaplike swembad afkoel, maaltye in die kombuis voorberei en op die dek met ’n drankie in die hand agteroorsit.

Naaste hek: sowat 15 kilometer vanaf die Orpen-hek
Tipe verblyf: Wildsplaas
Ingesluit: Ontbyt en aandete
Doendinge: Voëlkyk, begeleide staproetes, wildkyk en swem
Geriewe: Gratis WiFi, braaigeriewe, swembad, lughawe-pendeldiens, wildritte, spa-behandelinge en kroeg

Hippo’s Haven

Hippo’s Haven is ’n selfsorghuis op die Hans Merensky Gholflandgoed in Phalaborwa. Dié luukse huis het slaapplek vir agt gaste en ’n grasdakdek met ’n uitsig oor ’n dam ─ die perfekte plek om skemerkelkies met sonsondergang te geniet. Die gholflandgoed spog met ’n wêreldberoemde gholfbaan met agtien putjies waar wild soms kom gesigwys, so hou maar ’n oog oop vir kameelperde, sebras, bokke, krokodille en seekoeie voor jy die bal ’n hou gee!

Naaste hek: Sowat 4 kilometer vanaf die Phalaborwa-hek
Tipe verblyf: Lodge
Ingesluit: Selfsorg
Doendinge: Voëlkyk, wildkyk en gholfspeel
Geriewe: Gratis WiFi en braaigeriewe

Lekke’der verblyf nader aan die Krugerwildtuin sal jy nie sommer kry nie! Het jy al by een van hierdie verblyfopsies gekuier? Laat ons in die kommentaarblokkie hieronder weet.

Hooffoto: Bundox Safari Lodge (LekkeSlaap)
Alle ander foto’s: LekkeSlaap